JOHANNES 6:35-37
JOHANNES 6:35-37 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die brood wat die lewe gee. Almal wat na My toe kom, sal nooit geestelik honger word nie. Almal wat in My glo, sal nooit geestelik dors word nie. Maar Ek het klaar vir julle gesê dat julle sien wat Ek doen, maar julle glo nie in My nie. Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom. Ek sal iemand wat na My toe kom, nooit wegjaag nie.
JOHANNES 6:35-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie. Maar Ek het vir julle gesê dat julle My gesien het, en tog glo julle nie. Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.
JOHANNES 6:35-37 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie. Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie. “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.
JOHANNES 6:35-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie. Maar Ek het vir julle gesê, ‘Julle het My gesien, en tog glo julle nie.’ Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My kom, en Ek sal die een wat na My kom, nooit verstoot nie
JOHANNES 6:35-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie. Maar Ek het vir julle gesê dat julle My ook gesien het en nie glo nie. Alles wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en hom wat na My toe kom, sal Ek nooit uitwerp nie.
JOHANNES 6:35-37 Die Boodskap (DB)
Jesus antwoord hulle: “Ek is die brood van die lewe; Ek gee die ewige lewe vir mense. As iemand na My toe kom en vat wat Ek hom gee, sal hy geestelik heeltemal versadig word. As hy My vertrou, sal hy nooit weer geestelik dors kry nie. Ek noem dit omdat julle gesien het wat Ek doen, maar tog wil julle nie glo wat Ek vir julle sê nie. Die mense wat na My toe kom, is die mense wat God by My wil hê. As iemand eers eenmaal na My toe gekom het, kan Hy volledig op My staatmaak.
JOHANNES 6:35-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger word nie; en wie op My vertrou, sal nooit weer dors kry nie. Ek het mos vir julle gesê dat julle My wel sien, en tog nie glo nie. Elkeen wat die Vader aan My gee, sal na My toe kom; en Ek sal dié persoon wat na My toe kom, nooit verstoot nie.