JOHANNES 6:29-38
JOHANNES 6:29-38 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir hulle gesê: “As julle wil doen wat God wil hê, dan moet julle in My glo, want God het My na die wêreld gestuur.” Toe sê die mense vir Jesus: “Watter wonderteken sal jy doen sodat ons dit kan sien en in jou kan glo? Wat sal jy doen? Ons voorvaders het manna in die woestyn geëet. In die Ou Testament is geskryf: “ Hy het vir hulle brood gegee om te eet, die brood wat uit die hemel kom.” Jesus het vir die mense gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle dink dit is Moses wat vir julle die brood gegee het wat uit die hemel gekom het. Nee, dit is my Vader wat nou vir julle die regte brood gee wat uit die hemel kom. Die brood wat God gee, is Iemand wat uit die hemel kom om vir die mense van die wêreld die ware lewe te gee.” Die mense het vir Jesus gevra: “Meneer, jy moet altyd vir ons van hierdie brood gee.” Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die brood wat die lewe gee. Almal wat na My toe kom, sal nooit geestelik honger word nie. Almal wat in My glo, sal nooit geestelik dors word nie. Maar Ek het klaar vir julle gesê dat julle sien wat Ek doen, maar julle glo nie in My nie. Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom. Ek sal iemand wat na My toe kom, nooit wegjaag nie. Ek het uit die hemel gekom, nie om self te besluit wat Ek wil doen nie, maar om te doen wat die Vader wil hê Ek moet doen, die Vader wat My gestuur het.
JOHANNES 6:29-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het. En hulle sê vir Hom: Watter teken doen U dan, sodat ons kan sien en U glo? Wat werk U? Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos geskrywe is: Hy het brood uit die hemel aan hulle gegee om te eet. En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, dit is nie Moses wat die brood uit die hemel aan julle gegee het nie, maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel. Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee. Toe sê hulle vir Hom: Here, gee ons altyd hierdie brood. En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie. Maar Ek het vir julle gesê dat julle My gesien het, en tog glo julle nie. Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie. Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.
JOHANNES 6:29-38 Afrikaans 1983 (AFR83)
En Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.” Hulle sê toe vir Hom: “Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo? Wat gaan u doen? Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet. ” Jesus het hulle geantwoord: “Dít verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee. Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.” Hulle sê toe vir Hom: “Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.” Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie. Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie. “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie. Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.
JOHANNES 6:29-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En Jesus het hulle geantwoord: “Dít is die werk van God: Dat julle glo in die Een wat Hy gestuur het.” Hulle sê toe vir Hom: “Watter teken sal u doen sodat ons kan sien en u glo? Wat gaan u doen? Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos daar geskryf staan, ‘Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.’ ” Jesus sê toe vir hulle: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie – nee, my Vader gee vir julle die ware brood uit die hemel. Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld lewe gee.” Hulle sê toe vir Hom: “Here, gee ons altyd hierdie brood. ” Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie. Maar Ek het vir julle gesê, ‘Julle het My gesien, en tog glo julle nie.’ Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My kom, en Ek sal die een wat na My kom, nooit verstoot nie; want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil uit te voer nie maar die wil van Hom wat My gestuur het.
JOHANNES 6:29-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Jesus antwoord en sê vir hulle: Dit is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het. Hulle sê toe vir hom: Watter teken maak jy dan, dat ons kan sien en jou kan glo? wat werk jy? Ons vaders het manna in die woestyn geëet; soos geskrywe is: Hy het vir hulle brood uit die hemel gegee om te eet. Toe sê Jesus vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Moses het vir julle nie daardie brood uit die hemel gegee nie; maar my Vader gee vir julle die ware brood uit die hemel. Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee. Toe sê hulle vir Hom: Here, gee vir ons altyd hierdie brood. En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie. Maar Ek het vir julle gesê dat julle My ook gesien het en nie glo nie. Alles wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en hom wat na My toe kom, sal Ek nooit uitwerp nie. Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.
JOHANNES 6:29-38 Die Boodskap (DB)
Jesus sê toe vir hulle: “Wil julle weet wat God wil hê julle moet doen? Hy wil hê dat julle sy Seun wat Hy na julle toe gestuur het, met oop arms sal aanvaar en julle aan sy kant sal skaar.” “Nou toe, wys ons wat u kan doen,” sê hulle. “Die Seun van God moet mos wonderlike dinge kan doen. Laat ons sien wat u kan doen om ons te oortuig dat God aan u kant is. Wys ons wie u is. Dan eers sal ons glo wat u sê. Neem byvoorbeeld die wonderlike ding wat met ons voorouers gebeur het. In die woestyn het Moses vir hulle manna gegee om te eet. Daar staan geskryf: ‘Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.’” Jesus antwoord hulle: “Daardie woorde sê nie dat dit Moses was wat die brood uit die hemel gegee het nie. Dit is eintlik my Vader wat die brood uit die hemel vir julle gee. En dit is nie sommer gewone brood nie; dit is die ware brood. En weet julle wat is die ware brood? Dit is sy Seun wat uit die hemel kom en die ewige lewe vir mense gee.” Gretig sê hulle: “Gee ons asseblief van daardie brood, sommer nou en vir altyd!” Jesus antwoord hulle: “Ek is die brood van die lewe; Ek gee die ewige lewe vir mense. As iemand na My toe kom en vat wat Ek hom gee, sal hy geestelik heeltemal versadig word. As hy My vertrou, sal hy nooit weer geestelik dors kry nie. Ek noem dit omdat julle gesien het wat Ek doen, maar tog wil julle nie glo wat Ek vir julle sê nie. Die mense wat na My toe kom, is die mense wat God by My wil hê. As iemand eers eenmaal na My toe gekom het, kan Hy volledig op My staatmaak. Ek het mos van die hemel af gekom om te kom doen wat my Vader beplan het.
JOHANNES 6:29-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus het hulle geantwoord: “Dít is God se opdrag aan julle: Glo in Hom wat die Vader gestuur het.” Hulle sê vir Hom: “Watter wonderteken doen u dan sodat ons kan sien en tot geloof in u kan kom? Wat besonders doen u vir ons? Ons voorvaders het tog manna in die woestyn geëet soos daar geskryf staan: ‘Brood uit die hemel het Hy aan hulle gegee om te eet.’” Jesus het hulle daarop geantwoord: “Ek verseker julle, dis nie Moses wat aan julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar my Vader. En dit is Hy wat nou aan julle die ware brood uit die hemel gee. “Die brood van God is Hy wat uit die hemel kom en aan die mensheid lewe gee.” Hulle het toe vir Hom gesê: “Meneer, gee altyd vir ons hierdie brood.” Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger word nie; en wie op My vertrou, sal nooit weer dors kry nie. Ek het mos vir julle gesê dat julle My wel sien, en tog nie glo nie. Elkeen wat die Vader aan My gee, sal na My toe kom; en Ek sal dié persoon wat na My toe kom, nooit verstoot nie. Ek het van die hemel af gekom, nie om mý wil uit te voer nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.