JOHANNES 6:1-12
JOHANNES 6:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAARNA het Jesus na die oorkant van die see van Galiléa, dit is, van Tibérias, gegaan; en 'n groot menigte het Hom gevolg, omdat hulle sy tekens gesien het wat Hy aan die siekes doen. En Jesus het op die berg geklim en daar met sy dissipels gaan sit. En die pasga, die fees van die Jode, was naby. Toe Jesus dan sy oë opslaan en sien dat 'n groot menigte na Hom kom, sê Hy vir Filippus: Waarvandaan sal ons brood koop, sodat hierdie mense kan eet? Maar Hy het dit gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self geweet wat Hy wou doen. Filippus antwoord Hom: Brood vir tweehonderd pennings sal nie genoeg wees vir hulle, sodat elkeen van hulle 'n stukkie kan kry nie. Een van sy dissipels, Andréas, Simon Petrus se broer, sê vir Hom: Hier is 'n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het, maar wat is dit vir so baie mense? En Jesus sê: Laat die mense gaan sit. En daar was baie gras op dié plek. Die manne het toe gaan sit, omtrent vyfduisend in getal. En Jesus het die brode geneem, en nadat Hy gedank het, deel Hy dit uit aan die dissipels en die dissipels aan die wat daar sit; so ook van die vissies, soveel as hulle wou hê. En nadat hulle versadig was, sê Hy vir sy dissipels: Maak die brokstukke bymekaar wat oorgeskiet het, sodat niks verlore gaan nie.
JOHANNES 6:1-12 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het na die ander kant van die See van Galilea gegaan. Die mense het dit ook die See van Tiberias genoem. Baie mense het saam met Jesus gegaan, want hulle het die wondertekens gesien toe Hy siek mense gesond gemaak het. Jesus het teen die berg opgegaan en Hy en sy dissipels het daar gaan sit. Die Joodse Paasfees was naby. Jesus het gesien baie mense kom na Hom toe. Toe sê Hy vir Filippus: “Waar gaan ons brood koop vir al hierdie mense om te eet?” Jesus het dit gesê omdat Hy wou kyk wat Filippus gaan doen. Jesus het klaar geweet wat Hy gaan doen. Filippus het vir Jesus gesê: “As ons 200 silwer geldstukke het, sal dit te min wees om vir elkeen van hierdie mense 'n stukkie brood te koop.” Simon Petrus se broer, Andreas, was een van Jesus se dissipels. Hy het vir Jesus gesê: “Hier is 'n seuntjie wat vyf garsbrode en twee visse het, maar dit is te min vir so baie mense.” Jesus het vir die dissipels gesê: “Julle moet vir die mense sê hulle moet gaan sit.” Daar was genoeg gras waarop die mense kon sit. Daar was baie mense. Die mans was omtrent 5 000. Toe het Jesus die brood geneem. Hy het gebid en vir God dankie gesê vir die brood. Jesus het die brood gegee vir die mense wat daar sit. Hy het ook vir hulle van die vis gegee. Daar was baie kos, die mense kon genoeg eet. Toe die mense genoeg geëet het, sê Jesus vir sy dissipels: “Julle moet al die stukkies kos optel wat oorgebly het. Ons moet dit nie mors nie.”
JOHANNES 6:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hierna het Jesus na die oorkant van die See van Galilea toe gegaan, wat ook die See van Tiberias genoem word. 'n Groot klomp mense het agter Hom aan gekom omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het. Jesus het toe teen die berg opgegaan en met sy dissipels daar gaan sit. Die paasfees van die Jode was naby. Toe Jesus rondkyk en sien dat 'n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: “Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?” Dit het Hy net gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen. Filippus antwoord Hom toe: “Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle 'n stukkie brood te laat kry nie.” 'n Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom: “Hier is 'n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?” Toe sê Jesus: “Laat die mense gaan sit.” Daar was baie gras op daardie plek en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend. Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê. Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.”
JOHANNES 6:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hierna het Jesus na die oorkant van die See van Galilea, oftewel Tiberias, vertrek. 'n Groot skare het agter Hom aangekom, omdat hulle die tekens gesien het wat Hy vir die siekes verrig het. Jesus het toe teen die berg opgegaan en daar met sy dissipels gaan sit. Dit was kort voor die Joodse fees van die Pasga. Toe Jesus opkyk en sien dat daar 'n groot skare na Hom op pad is, sê Hy vir Filippus: “Waar sal ons brood te koop kry om hierdie mense te laat eet?” Hy het dit egter net gesê om hom te toets – self het Hy immers reeds geweet wat Hy wou doen. Filippus het Hom geantwoord: “Tweehonderd denarius se brood is nie genoeg om vir elkeen 'n stukkie te laat kry nie.” Een van sy dissipels, Andreas, die broer van Simon •Petrus, sê vir Hom: “Hier is 'n seun wat vyf garsbrode en twee visse het, maar wat is dit vir so baie mense?” Jesus het gesê: “Laat die mense sit.” Daar was baie gras op die plek. Toe het die mans gaan sit – hulle was ongeveer vyfduisend in getal. Toe het Jesus die brode geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, het Hy dit laat uitdeel aan dié wat daar gesit het, en ook van die visse laat uitdeel, soveel as hulle wou hê. En toe almal versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die brokstukke bymekaar wat oorgebly het, sodat niks vermors word nie.”
JOHANNES 6:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ná hierdie dinge het Jesus oor die see van Galilea gegaan, dit is die see van Tiberias. En 'n groot menigte het Hom gevolg, omdat hulle Sy wonders gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het. En Jesus het op die berg geklim en daar saam met sy dissipels gaan sit. En die pasga, 'n fees van die Jode, was naby. Toe Jesus toe sy oë opslaan en 'n groot menigte na Hom sien kom, sê Hy vir Filippus: Waar sal ons brood vandaan koop, dat hulle kan eet? En dit het hy gesê om hom te beproef, want hy het self geweet wat hy sou doen. Filippus antwoord hom: Brood van twee honderd pennies is vir hulle nie genoeg nie, sodat elkeen van hulle 'n bietjie kan neem. Een van sy dissipels, Andreas, Simon Petrus se broer, sê vir hom: Hier is 'n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het; maar wat is hulle onder so baie? En Jesus sê: Laat die manne gaan sit. Nou was daar baie gras in die plek. En die manne het gaan sit, omtrent vyfduisend in getal. En Jesus het die brode geneem; en nadat Hy gedank het, het Hy aan die dissipels uitgedeel en die dissipels aan die wat neergesit het; en so ook van die visse soveel as wat hulle wou. Toe hulle versadig was, sê Hy vir sy dissipels: Maak die brokstukke bymekaar wat oorbly, sodat niks verlore gaan nie.
JOHANNES 6:1-12 Die Boodskap (DB)
Daarna het Jesus die Meer van Galilea (ook bekend as die Meer van Tiberias) oorgesteek. Die mense het Hom nie gelos nie en het om Hom saamgedrom. Hulle het die wonderlike tekens gesien wat Hy gedoen het, soos die siekes wat Hy gesond gemaak het. Hulle het agter Jesus aan teen die berg op geloop, tot waar Hy met sy volgelinge gaan sit het. Die paasfees was naby. Dit was ’n belangrike fees vir die Jode. Jesus het na die groot klomp mense gekyk wat saam met Hom gekom het. Party was nog besig om teen die berg op te stap na Hom toe. Hy vra toe vir Filippus: “Is daar ’n winkel hier naby waar ons brood kan koop vir al hierdie mense?” Hy het dit vir Filippus gevra om te kyk wat Filippus sou sê. Hy het egter al klaar geweet hoe Hy die probleem sou oplos. “Al werk ek agt maande aanmekaar, sal ek nie eens genoeg geld hê om vir al hierdie mense iets te gee om te eet nie,” sê Filippus. Andreas, die broer van Simon Petrus, wat ook ’n getroue volgeling van Jesus was, sê toe vir Hom: “Wel, hier is darem ’n kind met so ’n ietsie. Hy het vyf klein garsbroodjies en twee vissies. Maar ek moet sê, ek weet nie hoe dit ons eintlik gaan help nie.” Jesus sê toe: “Sê vir die mense om vir hulle ’n plek te kry om te sit.” Daar was gras waar die mense hulle toe lekker tuis gemaak het. Net die mans alleen was omtrent 5 000. Daar was baie mense. Jesus het toe die garsbroodjies by die seuntjie gevat en vir God dankie gesê vir die kos. Hy het die broodjies toe onder die mense begin uitdeel. Hy het dieselfde met die vis gedoen. En die mense het geëet, soveel as wat hulle wou. Toe die mense genoeg gehad het om te eet, sê Jesus vir sy volgelinge: “Ek sien daar het heelwat kos oorgebly. Gaan maak dit bymekaar sodat niks gemors word nie.”
JOHANNES 6:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hierna het Jesus na die oorkant van die Meer van Galilea vertrek, wat ook die Meer van Tiberias genoem word. ’n Baie groot skare mense het Hom bly volg omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy gedoen het toe Hy die siekes genees het. Jesus het toe die berg uitgeklim en met sy dissipels op ’n plek daar gaan sit. Die Pasga was naby, dit is ’n fees van die Jode. Toe Jesus opkyk, sien Hy dat ’n baie groot skare mense na Hom toe aangestap kom. Hy sê daarop vir Filippus: “Waar moet ons brood gaan koop sodat die mense iets te ete kry?” Jesus het dit net gesê om hom te toets, want Hy het self geweet wat Hy sou doen. Filippus het Hom geantwoord: “Dit sal ’n klein fortuin kos om aan elkeen van hulle net ’n stukkie kos te gee.” Een van sy dissipels, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê vir Jesus: “Hier is ’n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het, maar wat is dit vir só baie mense?” Jesus het daarop reageer: “Reël dat die mense gaan sit.” Daar was baie gras op die plek en die mense het gaan sit. Die mans was ongeveer 5 000. Jesus het toe die brode geneem, ’n dankgebed gedoen en dit aan die mense wat daar gesit het, uitgedeel en ook soveel van die vissies as wat hulle wou hê. Nadat die skare mense versadig was, sê Jesus vir sy dissipels: “Maak die oorskietstukke bymekaar sodat daar niks vermors word nie.”