JOHANNES 5:24-27
JOHANNES 5:24-27 Bybel vir almal (ABA)
“Ek sê vir julle, en dit is seker: Die mense wat luister na wat Ek, die Seun, sê, en wat glo in God wat My gestuur het, daardie mense het klaar die ewige lewe. Hulle is nie meer geestelik dood nie, hulle lewe. Ek sê vir julle, en dit is seker: Daar sal iets gebeur, ja, dit het al klaar begin gebeur: Die mense wat geestelik dood is, sal nou die stem van die Seun van God hoor. Almal wat dit hoor en glo, sal geestelik weer begin lewe. “Die Vader lewe en Hy laat mense lewe. Hy het hierdie lewe ook vir die Seun gegee sodat die Seun ook mense kan laat lewe. Die Vader het ook gesê die Seun mag oordeel, want Hy is die Seun van die mens.
JOHANNES 5:24-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe. Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê. En Hy het Hom mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is.
JOHANNES 5:24-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan. Ek verseker julle: Daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor gee, sal lewe. Soos die Vader die lewe in Homself het, het Hy die lewe ook aan die Seun gegee om dit in Homself te hê. Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is.
JOHANNES 5:24-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en vir hom is daar geen veroordeling nie, maar hy het uit die dood na die lewe oorgegaan. Amen, amen, Ek sê vir julle: Daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die •Seun van God sal hoor, en dié wat hoor, sal lewe. Want soos die Vader lewe in Homself het, so het Hy dit ook aan die Seun gegee om lewe in Homself te hê. Hy het aan Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die •Seun van die Mens is.
JOHANNES 5:24-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en sal nie in die oordeel kom nie; maar gaan oor van die dood in die lewe. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die uur kom, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit hoor, sal lewe. Want soos die Vader lewe in Homself het; so het Hy aan die Seun gegee om lewe in homself te hê; En Hy het Hom mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is.
JOHANNES 5:24-27 Die Boodskap (DB)
“Sowaar, die persoon wat luister na wat Ek sê en daarom glo in Hom wat My gestuur het, het nou reeds die lewe saam met God wat nooit einde sal kry nie. Dié persoon hoef nie bang te wees dat hy met die finale oordeel weer voor die regterstoel van God sal hoef te verskyn nie. Die besluit oor hom is klaar geneem. Hy het mos nou reeds uit die kloue van die geestelike dood oorgegaan in die wonderlike lewe wat God gee. Luister nou mooi. Die oomblik waarop almal gewag het, is hier. Geestelik dooie mense sal die boodskap van die Seun van God hoor. Wie na hierdie boodskap luister en dit aanvaar, sal vir altyd saam met God lewe. Hierdie lewe is natuurlik die tipe lewe wat die Vader self het. Dit is ook die lewe wat Hy aan sy Seun gegee het. Daarmee saam het die Vader ook die Seun gevra om die Regter by die finale oordeel te wees.
JOHANNES 5:24-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Dit verseker Ek julle, wie my woorde hoor en wie vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe. Ek verseker julle, daar breek ’n uur aan, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor en dié wat dit gehoorsaam, sal lewe. Soos die Vader lewe in Homself het, só het Hy dit ook aan die Seun gegee om lewe in Homself te hê. Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel omdat Hy die Seun van die Mens is.