JOHANNES 5:16-30

JOHANNES 5:16-30 Bybel vir almal (ABA)

Die Jode het begin om slegte dinge te doen aan Jesus omdat Hy die man op 'n Sabbatdag gesond gemaak het. Jesus het vir hulle gesê: “My Vader werk nog altyd, ook op die Sabbatdag. Daarom doen Ek dit ook.” Die Jode het van toe af hard probeer om Jesus dood te maak. Hulle wou Hom doodmaak omdat Hy nie gedoen het wat die wette oor die Sabbatdag sê nie, maar ook omdat Jesus gesê het God is sy Vader, en dit het beteken Jesus sê Hy is ook God. Jesus het vir die Jode gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek is die Seun, maar die Seun mag nie self besluit om iets te doen nie, Hy doen net wat Hy gesien het sy Vader doen. Alles wat die Vader doen, doen die Seun ook. Die Vader is lief vir die Seun en die Vader wys vir die Seun alles wat die Vader self doen. Die Vader sal vir die Seun dinge wys wat wonderliker is as om 'n siek man gesond te maak. Wanneer die Seun hierdie wonderlike dinge doen, dan sal julle verbaas wees. “Die Vader laat mense opstaan wat gesterf het, Hy laat hulle weer lewe. Die Seun doen dieselfde, Hy laat ook mense weer lewe, die mense wat Hy wil laat lewe. Die Vader oordeel niemand nie. Nee, Hy sê die Seun kan die mense oordeel. Daarom moet almal die Seun eer, soos hulle die Vader eer. As iemand die Seun nie eer nie, dan eer hy ook nie die Vader nie, die Vader wat die Seun na die wêreld gestuur het. “Ek sê vir julle, en dit is seker: Die mense wat luister na wat Ek, die Seun, sê, en wat glo in God wat My gestuur het, daardie mense het klaar die ewige lewe. Hulle is nie meer geestelik dood nie, hulle lewe. Ek sê vir julle, en dit is seker: Daar sal iets gebeur, ja, dit het al klaar begin gebeur: Die mense wat geestelik dood is, sal nou die stem van die Seun van God hoor. Almal wat dit hoor en glo, sal geestelik weer begin lewe. “Die Vader lewe en Hy laat mense lewe. Hy het hierdie lewe ook vir die Seun gegee sodat die Seun ook mense kan laat lewe. Die Vader het ook gesê die Seun mag oordeel, want Hy is die Seun van die mens. Julle moenie verbaas wees hieroor nie. Daar sal 'n tyd kom wanneer almal wat nou klaar dood is en in hulle grafte lê, sal hoor dat die Seun hulle roep. Almal wat reg gelewe het, sal uitkom uit hulle grafte. Hulle sal weer begin lewe sodat hulle die ewige lewe kan kry. Almal wat sleg gelewe het, sal weer begin lewe sodat die Seun hulle kan oordeel. Ek, die Seun, mag nie self besluit om iets te doen nie. Ek luister eers wat die Vader vir My sê, dan oordeel Ek. Ja, Ek oordeel regverdig, want dit is nie Ék wat besluit wat Ek moet doen nie. Ek doen net wat die Vader wil hê, Hy wat My na die wêreld gestuur het.”

JOHANNES 5:16-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN hieroor het die Jode Jesus vervolg en probeer om Hom dood te maak, omdat Hy dit op die sabbat gedoen het. En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook. Hieroor het die Jode toe nog meer probeer om Hom dood te maak, omdat Hy nie alleen die sabbat gebreek het nie, maar ook God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het. Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so. Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen. En groter werke as hierdie sal Hy Hom toon, sodat julle verwonderd kan wees. Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil. Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee, sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe. Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê. En Hy het Hom mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is. Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom 'n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling. Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.

JOHANNES 5:16-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Jode het toe teen Jesus te velde getrek omdat Hy dit op 'n sabbatdag gedoen het. Maar Jesus het Hom teen hulle verweer: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” Hieroor het die Jode nog des te meer probeer om Jesus dood te maak: Hy het nie net die sabbatdag ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem en Hom so met God gelyk gestel. Toe het Hy Hom verweer en vir hulle gesê: “Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so. Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy doen; en Hy sal Hom nog groter dade as hierdie wys, sodat julle verbaas sal staan. Soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil. Self veroordeel die Vader niemand nie, maar die oordeel het Hy geheel en al aan die Seun oorgelaat. Daarom moet almal die Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook nie die Vader wat Hom gestuur het nie. “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan. Ek verseker julle: Daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor gee, sal lewe. Soos die Vader die lewe in Homself het, het Hy die lewe ook aan die Seun gegee om dit in Homself te hê. Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is. Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom 'n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word.” “Uit my eie kan Ek niks doen nie: Ek oordeel soos Ek dit van die Vader hoor, en my oordeel is regverdig, omdat dit nie my wil is wat Ek nastrewe nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.

JOHANNES 5:16-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hieroor wou die Jode Hom vervolg, omdat Hy dit op 'n Sabbat gedoen het. Maar Jesus het hulle geantwoord: “My Vader is tot nou toe aan die werk, en Ek is ook aan die werk.” Om hierdie rede het die Jode nog harder probeer om Hom dood te maak – omdat Hy nie net die Sabbatsgebod verbreek het nie, maar boonop God sy eie Vader genoem en Hom so aan God gelykgestel het. Hierop het Jesus vir hulle gesê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie, behalwe wat Hy sien die Vader doen; want wat die Vader ook al doen, doen die Seun net so. Die Vader het immers die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen; en Hy sal Hom groter dade as dit wys, sodat julle verwonderd sal staan. Want soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil. Die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die volle oordeel aan die Seun oorgegee, sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie. Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en vir hom is daar geen veroordeling nie, maar hy het uit die dood na die lewe oorgegaan. Amen, amen, Ek sê vir julle: Daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die •Seun van God sal hoor, en dié wat hoor, sal lewe. Want soos die Vader lewe in Homself het, so het Hy dit ook aan die Seun gegee om lewe in Homself te hê. Hy het aan Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die •Seun van die Mens is. Moet julle nie hieroor verwonder nie, want daar kom 'n tyd wanneer almal in die grafte sy stem sal hoor en sal uitkom, dié wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, maar dié wat verkeerd gedoen het, tot die opstanding van veroordeling. “Uit Myself kan Ek niks doen nie. Ek oordeel volgens wat Ek hoor, en my oordeel is •regverdig, omdat Ek nie my wil nastreef nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. ”

JOHANNES 5:16-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En daarom het die Jode Jesus vervolg en probeer om Hom dood te maak, omdat Hy hierdie dinge op die sabbatdag gedoen het. Maar Jesus antwoord hulle: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk. Daarom het die Jode des te meer probeer om hom dood te maak, omdat hy nie alleen die sabbat verbreek het nie, maar ook gesê het dat God sy Vader is en homself aan God gelyk maak. Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit homself doen as wat Hy die Vader sien doen nie; want alles wat Hy doen, dit doen ook die Seun net so. Want die Vader het die Seun lief en maak Hom alles bekend wat Hy doen; en Hy sal Hom groter werke as hierdie toon, sodat julle julle kan verwonder. Want soos die Vader die dooies opwek en hulle lewend maak; so maak die Seun lewend wie Hy wil. Want die Vader oordeel niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun toevertrou. Dat alle mense die Seun moet eer, net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en sal nie in die oordeel kom nie; maar gaan oor van die dood in die lewe. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die uur kom, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit hoor, sal lewe. Want soos die Vader lewe in Homself het; so het Hy aan die Seun gegee om lewe in homself te hê; En Hy het Hom mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is. Moenie jou hieroor verwonder nie, want daar kom 'n uur waarin almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor, En sal uitkom; die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe; en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling. Ek kan uit my eie niks doen nie; soos ek hoor, oordeel ek; en my oordeel is regverdig; want Ek soek nie my wil nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.

JOHANNES 5:16-30 Die Boodskap (DB)

Daarna het die Jode begin kyk of hulle Jesus nie in die moeilikheid kon bring nie, want hulle was baie ontevrede omdat Hy hierdie tipe ding op die sabbat gedoen het. Jesus het Homself verdedig: “My Vader werk reg deur tot nou toe, sabbat of nie. Net so werk Ek ook.” Oor hierdie woorde was die Jode éérs ongelukkig. Veral twee dinge was vir hulle heeltemal te erg en dit was die manier waarop Jesus die sabbat so ongeërg gebreek het en dat Jesus sommer gesê het God is sy Vader. So maak Hy of Hy op gelyke voet met God staan. Daarom het hulle toe besluit om Jesus te probeer doodmaak. Jesus kap toe terug: “Julle kan My sowaar maar glo; die Seun kan niks uit sy eie sonder sy Vader doen nie. Soos ’n goeie Seun kyk Hy mooi wat sy Vader doen. Wat Hy sy Vader sien doen, doen Hy presies net so. Die Vader het die Seun lief. Daarom hou Hy niks vir Hom geheim nie, maar wys Hom alles wat Hy doen. Julle dink die lam man wat Ek gesond gemaak het, was iets besonders. Julle het eintlik nog niks gesien nie. Die Vader sal die Seun wys hoe om groter dinge as dit te doen. Julle sal julle oë nie kan glo nie. Soos die Vader dooie mense weer lewendig maak, so sal die Seun dit ook doen waar en wanneer Hy wil. En dit is nie al nie. Die Vader gaan self nie meer die Regter wees wat die oordeel oor mense gaan uitspreek nie. Hy het aan sy Seun die reg gegee om dit te doen. Daarom sal mense net soveel eer aan die Seun bewys as aan die Vader. Daar is egter ook ’n ander kant van die saak: wie nie die Seun respekteer nie, respekteer ook nie die Vader nie. Die Vader het immers die Seun gestuur om Hom te kom verteenwoordig. “Sowaar, die persoon wat luister na wat Ek sê en daarom glo in Hom wat My gestuur het, het nou reeds die lewe saam met God wat nooit einde sal kry nie. Dié persoon hoef nie bang te wees dat hy met die finale oordeel weer voor die regterstoel van God sal hoef te verskyn nie. Die besluit oor hom is klaar geneem. Hy het mos nou reeds uit die kloue van die geestelike dood oorgegaan in die wonderlike lewe wat God gee. Luister nou mooi. Die oomblik waarop almal gewag het, is hier. Geestelik dooie mense sal die boodskap van die Seun van God hoor. Wie na hierdie boodskap luister en dit aanvaar, sal vir altyd saam met God lewe. Hierdie lewe is natuurlik die tipe lewe wat die Vader self het. Dit is ook die lewe wat Hy aan sy Seun gegee het. Daarmee saam het die Vader ook die Seun gevra om die Regter by die finale oordeel te wees. Julle moenie verbaas wees hieroor nie. Daar kom ’n dag wanneer al die mense wat reeds begrawe is, sy stem sal hoor. Hulle sal uit die grafte uitkom. Die mense wat voorbeeldig en goed gelewe het, sal opstaan om vir ewig saam met God te leef. Aan die ander kant sal daardie mense wat hulle met verkeerde dinge besig gehou het, opstaan om te hoor dat hulle vir ewig en altyd verdoem is.” “Al hierdie dinge doen Ek egter nie op my eie nie. Ek het mooi geluister na wat die Vader sê. As Ek nou besluite oor mense neem, doen Ek dit soos my Vader dit sou doen. Daarom is Ek ook seker dat my besluite altyd reg en regverdig is. Mense kan nie sê dat dit sommer my eie idees is nie, want Ek wil nie my eie wil op mense afdwing nie.

JOHANNES 5:16-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daarom het die Jode Jesus probeer vervolg, net omdat Hy dit op ’n Sabbat gedoen het. Maar Jesus het teenoor hulle reageer: “My Vader werk tot nou toe, en ook Ek is aan die werk.” Daarom het die Jode hulle nog meer beywer om Hom dood te maak, want Hy het nie net die Sabbat ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem, en Homself só aan God gelykgestel. Jesus het daarop reageer: “Ek verseker julle, die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen. Wat die Vader ook al doen, dit doen die Seun net so. Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen; en Hy sal Hom nog groter dinge wys as hierdie sodat julle verstom sal staan. Soos die Vader die dooies opwek en weer lewend maak, só maak die Seun ook lewend wie Hy wil. Die Vader veroordeel niemand self nie; Hy het die volle oordeel aan die Seun oorgelaat. Daarom moet almal die Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook nie die Vader wat Hom gestuur het nie. “Dit verseker Ek julle, wie my woorde hoor en wie vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe. Ek verseker julle, daar breek ’n uur aan, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor en dié wat dit gehoorsaam, sal lewe. Soos die Vader lewe in Homself het, só het Hy dit ook aan die Seun gegee om lewe in Homself te hê. Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel omdat Hy die Seun van die Mens is. Moenie hieroor verwonderd wees nie: Daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal opstaan. Dié wat goedgedoen het, sal opstaan om vir altyd te lewe, en dié wat kwaad gedoen het, sal opstaan om veroordeel te word. Ek is nie daartoe in staat om enigiets uit my eie te doen nie. Soos Ek dit van die Vader hoor, oordeel Ek en my oordeel is billik omdat dit nie my wil is wat Ek najaag nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid