JOHANNES 4:4-9 - Compare All Versions
JOHANNES 4:4-9 ABA (Bybel vir almal)
Hy moes deur die provinsie Samaria gaan. Hy kom toe by die stad Sigar in Samaria. Sigar was naby die stuk grond wat Jakob vir sy seun Josef gegee het. Die put van Jakob was daar. Jesus was moeg omdat hulle ver geloop het en Hy het by die put gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag. 'n Vrou uit Samaria het daar kom water skep. Jesus het vir haar gevra: “Gee asseblief vir my water om te drink.” Jesus was alleen, want sy dissipels het in die stad gaan kos koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Jesus: “Jy is 'n Jood! Hoekom vra jy vir my, 'n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Sy het dit gesê omdat die Jode nie saam met die Samaritane wou wees nie.
JOHANNES 4:4-9 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En Hy moes deur Samaría gaan. Hy kom toe by 'n stad van Samaría wat Sígar genoem word, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. En die fontein van Jakob was daar. Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent die sesde uur. Daar kom 'n vrou uit Samaría om water te skep. Jesus sê vir haar: Gee vir My water om te drink — want sy dissipels het na die stad gegaan om voedsel te koop. En die Samaritaanse vrou sê vir Hom: Hoe is dit dat U wat 'n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek 'n Samaritaanse vrou is? Want die Jode hou geen gemeenskap met die Samaritane nie.
JOHANNES 4:4-9 AFR83 (Afrikaans 1983)
Hy moes deur Samaria gaan. Hy kom toe by 'n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag. Daar kom toe 'n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My 'n bietjie water om te drink.” Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie.
JOHANNES 4:4-9 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Hy moes egter deur Samaria gaan. Hy kom toe by 'n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. Dit is waar die fontein van Jakob was. Uitgeput van die reis, het Jesus net daar by die fontein gaan sit. Dit was ongeveer die sesde uur. Daar kom toe 'n vrou uit Samaria om water te skep, en Jesus sê vir haar: “Gee vir My water om te drink.” Sy dissipels was reeds weg dorp toe om kos te koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe is dit moontlik dat u wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water vra om te drink?” Jode meng immers nie met Samaritane nie.
JOHANNES 4:4-9 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En hy moet deur Samaria gaan. Toe kom hy by 'n stad van Samaria, wat Sigar genoem word, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. En Jakob se put was daar. Toe Jesus dan moeg was vir sy reis, het Hy so op die put gaan sit; en dit was omtrent die sesde uur. Daar kom 'n vrou uit Samaria om water te skep; Jesus sê vir haar: Gee My om te drink. (Want sy dissipels het na die stad gegaan om vleis te koop.) Toe sê die vrou van Samaría vir hom: Hoe is dit dat jy, wat 'n Jood is, vir my, wat 'n vrou van Samaría is, om te drink vra? want die Jode het geen omgang met die Samaritane nie.
JOHANNES 4:3-9 DB (Die Boodskap)
’n Mens kan deur Samaria na Galilea toe gaan. Op pad het Jesus besluit om by Sigar in Samaria te gaan rus. Sigar het naby die stuk grond gelê wat Jakob destyds aan sy seun Josef gegee het. Dit was juis ook die plek waar ’n put oor die fontein van Jakob gebou is. Jesus het sommer by die put gaan uitspan, moeg van die lang pad. Dit was omtrent twaalfuur die middag. ’n Samaritaanse vrou kom toe daar aan om water te skep. Jesus vra haar toe: “Gee My asseblief ’n bietjie water om te drink.” (Sy dissipels was toe reeds dorp toe om kos te gaan koop.) “Verskoon my,” sê sy, “maar waarom vra jy my water om te drink? Is jy nie ’n Joodse man en ek ’n Samaritaanse vrou nie?” (Sy het dit gevra omdat die Jode normaalweg niks met die Samaritane te doen wou hê nie.)
JOHANNES 4:4-9 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Hy moes deur Samaria reis. Hy kom toe in ’n dorp in Samaria wat Sigar genoem word. Dit was naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. Die put van Jakob was daar geleë. Jesus het toe, omdat Hy regtig uitgeput was van die reis, sommer by die put gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag. ’n Samaritaanse vrou kom toe daar aan om water te skep. Jesus vra haar: “Gee vir My asseblief water om te drink.” Sy dissipels was toe nog in die dorp om kos te gaan koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe op aarde vra jy wat ’n Jood is, van my wat ’n Samaritaanse vrou is, water om te drink?” Jode wou immers niks met Samaritane te doen hê nie.