JOHANNES 4:1-30
JOHANNES 4:1-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Fariseërs het gehoor dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes. – Eintlik was dit nie Jesus wat gedoop het nie, maar sy dissipels. – Toe Jesus dit verneem, het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe gegaan. Hy moes deur Samaria gaan. Hy kom toe by 'n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag. Daar kom toe 'n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My 'n bietjie water om te drink.” Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie. Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My 'n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, jy het nie eens 'n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry? Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie?” Maar Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom 'n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.” Hy sê toe vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.” Die vrou het Hom geantwoord: “Ek het nie 'n man nie.” En Jesus sê vir haar: “Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie 'n man nie.’ Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.” Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, ek sien dat u 'n profeet is. Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar 'n mens God moet aanbid, is in Jerusalem.” Jesus sê toe vir haar: “Glo My, Mevrou, daar kom 'n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode. Maar daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.” Die vrou het vir Hom gesê: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.” Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.” Net toe het sy dissipels teruggekom en hulle was verbaas dat Hy met 'n vrou praat. Tog het niemand vir haar gevra: “Wat wil jy hê?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie. Die vrou het toe haar waterkruik net daar laat staan en na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: “Kom kyk, hier is 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?” Die mense het toe uit die dorp uit na Jesus toe begin kom.
JOHANNES 4:1-30 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het geweet dat die Fariseërs gehoor het dat Jesus meer dissipels kry as Johannes en dat Hy meer dissipels doop as Johannes. Maar Jesus het nie self mense gedoop nie, sy dissipels het hulle gedoop. Jesus het toe weggegaan uit die provinsie Judea en hy het teruggegaan na die provinsie Galilea. Hy moes deur die provinsie Samaria gaan. Hy kom toe by die stad Sigar in Samaria. Sigar was naby die stuk grond wat Jakob vir sy seun Josef gegee het. Die put van Jakob was daar. Jesus was moeg omdat hulle ver geloop het en Hy het by die put gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag. 'n Vrou uit Samaria het daar kom water skep. Jesus het vir haar gevra: “Gee asseblief vir my water om te drink.” Jesus was alleen, want sy dissipels het in die stad gaan kos koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Jesus: “Jy is 'n Jood! Hoekom vra jy vir my, 'n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Sy het dit gesê omdat die Jode nie saam met die Samaritane wou wees nie. Jesus het vir die vrou gesê: “Jy weet nie wat God vir die mense wil gee nie. Jy weet ook nie wie dit is wat nou vir jou water vra om te drink nie. Jy weet nie, en daarom vra jy nie vir My nie, en daarom kan Ek nie vir jou water gee nie, water wat 'n mens waarlik laat lewe.” Die vrou sê toe: “Meneer, jy het niks waarmee jy water kan skep nie, en hierdie put is diep. Waar sal jy die water kry wat 'n mens waarlik laat lewe? Jy is nie beter as ons voorvader Jakob nie. Hy en sy seuns en sy diere het almal hier water gedrink en hy het hierdie put vir ons gegee.” Jesus het vir haar gesê: “Elkeen wat van hierdie put se water drink, sal weer dors word. Maar wanneer iemand drink van die water wat Ek vir hom gee, dan sal hy nooit weer dors word nie. Die water wat Ek vir hom gee, sal binne-in hom word soos 'n fontein wat vir hom die ewige lewe gee.” Die vrou sê toe vir Jesus: “Meneer, gee vir my van daardie soort water. Dan sal ek nie weer dors word nie en dan sal ek nie weer hier water moet kom haal nie.” Jesus het vir haar gesê: “Gaan roep jou man en kom terug hiernatoe!” Die vrou het vir Hom gesê: “Ek het nie 'n man nie.” Toe sê Jesus: “Jy praat die waarheid, jy het nie 'n man nie. Jy het vyf mans gehad en die man by wie jy nou bly, is nie jou man nie. Jy praat die waarheid.” Die vrou sê toe vir Jesus: “Meneer, ek sien jy is 'n profeet. Ons voorvaders het God aanbid op hierdie berg, maar julle Jode sê Jerusalem is die regte plek waar ons God moet aanbid.” Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, glo My, daar sal 'n tyd kom wanneer mense die Vader nie hier op die berg sal aanbid nie, en ook nie in Jerusalem nie. Julle Samaritane aanbid God, maar julle ken Hom nie. Ons Jode ken Hom, want die Redder is 'n Jood. Ek het gesê daar sal 'n tyd kom, en die tyd is nou hier. Nou sal die Heilige Gees die mense help om God reg te aanbid. Die Vader wil graag mense hê wat Hom so aanbid. God is Gees. Daarom moet die mense wat Hom aanbid, vra dat die Gees hulle moet help om God reg te aanbid.” Die vrou sê toe: “Ek weet daar sal 'n Messias kom. Die mense noem Hom ook die Christus. Wanneer Hy hier is, dan sal Hy vir ons alles vertel wat ons moet weet.” Jesus sê toe vir haar: “Dit is Ek, Ek wat nou met jou praat.” Jesus se dissipels het teruggekom. Hulle het gesien Jesus praat met 'n vrou en hulle was verbaas. Maar nie een van hulle het vir Hom gevra wat Hy van haar wil hê of hoekom Hy met haar praat nie. Die vrou het haar waterkruik daar gelos en sy het teruggegaan na die stad. Sy het vir die mense gaan sê: “Julle moet kom kyk! Daar is 'n Man wat vir my alles vertel het wat ek gedoen het. Ek wonder of Hy die Christus is.” Die mense het uit die stad na Jesus toe gekom.
JOHANNES 4:1-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE die Here dan verneem dat die Fariseërs gehoor het dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes — alhoewel Jesus self nie gedoop het nie, maar sy dissipels — het Hy Judéa verlaat en weer na Galiléa gegaan. En Hy moes deur Samaría gaan. Hy kom toe by 'n stad van Samaría wat Sígar genoem word, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. En die fontein van Jakob was daar. Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent die sesde uur. Daar kom 'n vrou uit Samaría om water te skep. Jesus sê vir haar: Gee vir My water om te drink — want sy dissipels het na die stad gegaan om voedsel te koop. En die Samaritaanse vrou sê vir Hom: Hoe is dit dat U wat 'n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek 'n Samaritaanse vrou is? Want die Jode hou geen gemeenskap met die Samaritane nie. Jesus antwoord en sê vir haar: As jy die gawe van God geken het en geweet het wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het. Die vrou sê vir Hom: Here, U het nie eens 'n skepding nie, en die put is diep; waarvandaan kry U dan die lewende water? U is tog nie groter as ons vader Jakob nie, wat die put aan ons gegee het en self daaruit gedrink het, en sy seuns en sy vee? Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word 'n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe. Die vrou sê vir Hom: Here, gee my daardie water, sodat ek nie dors kry en hier hoef te kom skep nie. Jesus sê vir haar: Gaan roep jou man en kom hier. Die vrou antwoord en sê: Ek het nie 'n man nie. Jesus sê vir haar: Jy het reg gesê: Ek het nie 'n man nie; want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Dit het jy met waarheid gesê. Die vrou sê vir Hom: Here, ek sien dat U 'n profeet is. Ons vaders het op hierdie berg aanbid, en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is. Jesus sê vir haar: Vrou, glo My, daar kom 'n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode. Maar daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. Die vrou sê vir Hom: Ek weet dat die Messías kom, Hy wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy ons alles verkondig. Jesus sê vir haar: Dit is Ek wat met jou spreek! En op dié oomblik het sy dissipels gekom en hulle verwonder dat Hy met 'n vrou in gesprek was. Tog het niemand gesê: Wat verlang U nie? of: Waarom spreek U met haar? Die vrou het toe haar waterkan laat staan en na die stad gegaan en vir die mense gesê: Kom kyk 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie? Hulle het toe uit die stad gegaan en na Hom gekom.
JOHANNES 4:1-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Fariseërs het gehoor dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes. – Eintlik was dit nie Jesus wat gedoop het nie, maar sy dissipels. – Toe Jesus dit verneem, het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe gegaan. Hy moes deur Samaria gaan. Hy kom toe by 'n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag. Daar kom toe 'n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My 'n bietjie water om te drink.” Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie. Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My 'n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, jy het nie eens 'n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry? Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie?” Maar Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom 'n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.” Hy sê toe vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.” Die vrou het Hom geantwoord: “Ek het nie 'n man nie.” En Jesus sê vir haar: “Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie 'n man nie.’ Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.” Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, ek sien dat u 'n profeet is. Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar 'n mens God moet aanbid, is in Jerusalem.” Jesus sê toe vir haar: “Glo My, Mevrou, daar kom 'n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode. Maar daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.” Die vrou het vir Hom gesê: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.” Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.” Net toe het sy dissipels teruggekom en hulle was verbaas dat Hy met 'n vrou praat. Tog het niemand vir haar gevra: “Wat wil jy hê?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie. Die vrou het toe haar waterkruik net daar laat staan en na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: “Kom kyk, hier is 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?” Die mense het toe uit die dorp uit na Jesus toe begin kom.
JOHANNES 4:1-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Jesus verneem dat die •Fariseërs gehoor het Hy werf en doop meer dissipels as Johannes – hoewel Jesus self nie gedoop het nie, maar sy dissipels – het Hy Judea verlaat en weer na Galilea vertrek. Hy moes egter deur Samaria gaan. Hy kom toe by 'n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. Dit is waar die fontein van Jakob was. Uitgeput van die reis, het Jesus net daar by die fontein gaan sit. Dit was ongeveer die sesde uur. Daar kom toe 'n vrou uit Samaria om water te skep, en Jesus sê vir haar: “Gee vir My water om te drink.” Sy dissipels was reeds weg dorp toe om kos te koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe is dit moontlik dat u wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water vra om te drink?” Jode meng immers nie met Samaritane nie. Jesus het haar geantwoord: “As jy van die gawe van God geweet het, en wie dit is wat vir jou vra, ‘Gee vir My water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het. ” Die vrou sê vir Hom: “Meneer, u het nie eers 'n skepding nie, en die put is diep. Waarvandaan kry u dan die lewende water? U is tog nie belangriker as ons vader Jakob nie, hy wat die put aan ons gegee het, en self daaruit gedrink het, en ook sy seuns en sy vee?” Jesus het haar geantwoord: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry, maar wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom 'n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe. ” Die vrou sê vir Hom: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie dors word en hierheen hoef te kom om te skep nie.” Hy sê vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.” Die vrou het Hom geantwoord: “Ek het nie 'n man nie.” Jesus sê vir haar: “Jy sê tereg, ‘'n Man het ek nie,’ want jy het vyf mans gehad en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.” Die vrou sê vir Hom: “Meneer, ek sien dat u 'n profeet is. Ons voorvaders het op hierdie berg aanbid, maar julle sê, ‘Jerusalem is die plek waar aanbid moet word.’ ” Jesus sê vir haar: “Vrou, glo My, daar kom 'n tyd dat julle die Vader nóg op hierdie berg, nóg in Jerusalem sal aanbid. Julle aanbid dit wat julle nie verstaan nie; ons aanbid dit wat ons verstaan, want die verlossing kom uit die Jode. Daar kom egter 'n tyd, en dit is nou, dat die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis sulke aanbidders hê. God is Gees, en wie Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. ” Die vrou sê vir Hom: “Ek weet die Messias kom wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak. ” Jesus sê vir haar: “Ek Is, is die Een wat met jou praat.” Juis op daardie oomblik het sy dissipels teruggekom, en hulle was verbaas, omdat Hy besig was om met 'n vrou te praat. Tog het niemand gevra: “Wat wil U van haar hê?” of “Waarom praat U met haar?” nie. Die vrou het toe haar waterkruik daar gelos, na die dorp gegaan en vir die mense gesê: “Kom kyk, hier is 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Hierdie man is tog nie die Christus nie, of hoe? ” Hulle het uit die dorp gegaan en was op pad na Hom toe.
JOHANNES 4:1-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe die Here dan weet hoe die Fariseërs gehoor het dat Jesus meer dissipels gemaak en gedoop het as Johannes, (Alhoewel Jesus self nie gedoop het nie, maar Sy dissipels,) Hy het Judéa verlaat en weer na Galilea vertrek. En hy moet deur Samaria gaan. Toe kom hy by 'n stad van Samaria, wat Sigar genoem word, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. En Jakob se put was daar. Toe Jesus dan moeg was vir sy reis, het Hy so op die put gaan sit; en dit was omtrent die sesde uur. Daar kom 'n vrou uit Samaria om water te skep; Jesus sê vir haar: Gee My om te drink. (Want sy dissipels het na die stad gegaan om vleis te koop.) Toe sê die vrou van Samaría vir hom: Hoe is dit dat jy, wat 'n Jood is, vir my, wat 'n vrou van Samaría is, om te drink vra? want die Jode het geen omgang met die Samaritane nie. Jesus antwoord en sê vir haar: As jy die gawe van God geken het en wie dit is wat vir jou sê: Gee My om te drink; jy sou van hom gevra het, en hy sou vir jou lewende water gegee het. Die vrou sê vir Hom: Meneer, jy het niks om mee te put nie, en die put is diep; waarvandaan het jy dan die lewende water? Is jy groter as ons vader Jakob, wat vir ons die put gegee en self daaruit gedrink het, en sy kinders en sy vee? Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry. Maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal nooit dors kry nie; maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom 'n fontein wees van water wat opspring tot in die ewige lewe. Die vrou sê vir Hom: Meneer, gee my hierdie water, dat ek nie dors het nie en nie hierheen kom om te skep nie. Jesus sê vir haar: Gaan roep jou man en kom hierheen. Die vrou antwoord en sê: Ek het geen man nie. Jesus sê vir haar: Jy het goed gesê: Ek het geen man nie. Want jy het vyf mans gehad; en hy wat jy nou het, is nie jou man nie; daarmee het jy waarlik gesê. Die vrou sê vir Hom: Meneer, ek sien dat u 'n profeet is. Ons vaders het op hierdie berg aanbid; en julle sê dat in Jerusalem die plek is waar die mense moet aanbid. Jesus sê vir haar: Vrou, glo My, daar kom 'n uur wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. Julle aanbid, julle weet nie wat nie; ons weet wat ons aanbid, want die saligheid is uit die Jode. Maar die uur kom, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek sulkes om Hom te aanbid. God is 'n Gees, en die wat Hom aanbid, moet Hom in gees en waarheid aanbid. Die vrou sê vir Hom: Ek weet dat die Messias kom, wat Christus genoem word; wanneer Hy kom, sal Hy ons alles vertel. Jesus sê vir haar: Dit is Ek wat met jou spreek. En hierop het sy dissipels gekom en hulle verwonder dat Hy met die vrou gepraat het; maar niemand het gesê: Wat soek jy? of: Waarom praat jy met haar? Die vrou het toe haar waterpot verlaat en na die stad gegaan en vir die manne gesê: Kom kyk na 'n man wat my alles vertel het wat ek ooit gedoen het: is Hy nie die Christus nie? Toe het hulle uit die stad gegaan en na hom gekom.
JOHANNES 4:1-30 Die Boodskap (DB)
Jesus het geweet dat die Fariseërs gehoor het dat Hy gewild begin raak het en dat Hy meer mense doop as Johannes. Daarom is Hy weer van Judea af terug Galilea toe. (Eintlik het Jesus nie self gedoop nie. Sy volgelinge het dit namens Hom gedoen.) ’n Mens kan deur Samaria na Galilea toe gaan. Op pad het Jesus besluit om by Sigar in Samaria te gaan rus. Sigar het naby die stuk grond gelê wat Jakob destyds aan sy seun Josef gegee het. Dit was juis ook die plek waar ’n put oor die fontein van Jakob gebou is. Jesus het sommer by die put gaan uitspan, moeg van die lang pad. Dit was omtrent twaalfuur die middag. ’n Samaritaanse vrou kom toe daar aan om water te skep. Jesus vra haar toe: “Gee My asseblief ’n bietjie water om te drink.” (Sy dissipels was toe reeds dorp toe om kos te gaan koop.) “Verskoon my,” sê sy, “maar waarom vra jy my water om te drink? Is jy nie ’n Joodse man en ek ’n Samaritaanse vrou nie?” (Sy het dit gevra omdat die Jode normaalweg niks met die Samaritane te doen wou hê nie.) “As jy geweet het wat God vir mense wil gee en besef het wie vir jou water vra, sou jy nie so ’n vraag gevra het nie. Jy sou eerder vir Hom water gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het, het Jesus gesê.” “Meneer, hierdie put is diep en jy het nie eens ’n emmer en tou nie. Waar dink jy gaan jy daardie vars water vandaan kry?” vra sy. “Jy is tog sekerlik nie beter as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons nagelaat het nie. Hy self het water uit hierdie put gedrink, soos sy kinders en diere ook.” “Wel, elkeen wat van hierdie put se water drink, sal na ’n rukkie weer dors word,” antwoord Jesus. “Wie egter van die water drink wat Ek hom sal gee, sal nooit ooit weer dors word nie. Daar sal iets in daardie persoon gebeur. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal in ’n fontein binne-in hom verander. Hierdie borrelende, lewende water sal maak dat hy vir ewig sal lewe.” “Meneer, gee my asseblief van daardie water,” vra sy dadelik. “Dink net, ek sal dan nooit weer dors word nie en ook nooit weer die moeite hoef te doen om hier te kom water haal nie.” Hy vra haar toe: “Gaan roep gou jou man en kom hier.” “Ek het nie ’n man nie,” sê sy. “Dit is ’n eerlike antwoord,” sê Jesus. “Jy was voorheen al vyf maal getroud. Boonop is jy nie eens getroud met die man met wie jy nou saambly nie. Ja, jy het die waarheid gepraat.” “Meneer, jy is sowaar ’n profeet. Kom, sê my ’n bietjie, ons voorvaders het God op hierdie berg aanbid. Julle Jode sê weer dat Jerusalem die regte plek is om God te aanbid. Wat sê jy daarvan?” vra sy. “Mevrou,” sê Jesus, “dit is nie meer lank nie, dan gaan julle die Vader nie meer hier op hierdie berg of in Jerusalem aanbid nie. Julle Samaritane ken nie regtig die God wat julle aanbid nie. Ons Jode ken daardie God. Geen wonder nie, want God se stroom van redding borrel eers in die Jodedom op en vloei dan na almal. Die tyd is nou ryp! Opregte gelowiges sal nie meer na ’n spesiale heilige plek hoef te gaan om die Vader daar te dien nie. Tye verander. Hulle sal nou op enige plek met God kan praat, net solank hulle dit opreg met die hulp van die Heilige Gees doen. Die Vader self het besluit dat dit so moet wees. Immers, God is Gees. Daarom is dit verstaanbaar en nodig dat die Heilige Gees die gelowiges moet help om Hom opreg te dien soos Hy daarvan hou.” Die vrou sê toe weer: “Ek weet dat die Messias kom. Die Grieke praat mos van Hom as ‘Christus’. Nou ja, wanneer Hy kom, sal Hy vir ons van al die nuwe dinge kom vertel.” Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die Redder, die Messias, wat nou met jou praat.” Net toe kom sy dissipels daar aan. Hulle was nogal verbaas toe hulle Jesus met die vrou sien gesels, maar het nie ’n woord gesê nie. Nie een het eens vir haar gevra: “Wat soek jy?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie. Die vrou is toe terug dorp toe, sonder haar waterkruik. “Kom gou!” het sy die mense geroep. “Ek het ’n vreemde man raakgeloop wat my hele lewensverhaal vir my vertel het. Kom kyk, is Hy nie dalk die Christus nie?” Die mense het nie op hulle laat wag nie, maar is inderhaas uit die dorp uit na Hom toe.
JOHANNES 4:1-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus het uitgevind dat die Fariseërs gehoor het dat Hy meer dissipels werf en doop as Johannes. (Jesus het nie eintlik self gedoop nie, maar sy dissipels.) Dus het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe vertrek. Hy moes deur Samaria reis. Hy kom toe in ’n dorp in Samaria wat Sigar genoem word. Dit was naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. Die put van Jakob was daar geleë. Jesus het toe, omdat Hy regtig uitgeput was van die reis, sommer by die put gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag. ’n Samaritaanse vrou kom toe daar aan om water te skep. Jesus vra haar: “Gee vir My asseblief water om te drink.” Sy dissipels was toe nog in die dorp om kos te gaan koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe op aarde vra jy wat ’n Jood is, van my wat ’n Samaritaanse vrou is, water om te drink?” Jode wou immers niks met Samaritane te doen hê nie. Jesus het daarop reageer: “As jy maar net hierdie gawe van God vir jou geken het, en geweet het wie dit is wat vir jou vra: ‘Gee vir My water om te drink,’ sou jy Hóm gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” Die vrou sê vir Jesus: “Meneer, jy het nie eers ’n skepding nie, en die put is diép. Van waar kry jy dié lewende water? Jy is beslis nie belangriker as ons vader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie.” Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word. Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word nie. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal ’n fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel.” Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, gee my van hierdie water sodat ek nie weer dors word en hierheen hoef te kom om water te skep nie.” Hy sê vir haar: “Gaan roep jou man en kom dan terug hiernatoe.” Die vrou het dadelik reageer: “Ek het nie ’n man nie.” Jesus beaam dit toe: “Jy het tereg gesê: ‘Ek het nie ’n man nie.’ Want jy het reeds vyf mans gehad en die een wat jy nou het, is eintlik nie jou man nie. Dit wat jy gesê het, is die waarheid.” Die vrou sê vir Hom: “Meneer, ek sien dat u ’n profeet is. Ons voorouers het op hierdie berg aanbid, maar julle sê die plek waar ’n mens moet aanbid, is in Jerusalem.” Jesus merk toe op: “Glo My, Vrou, daar kom ’n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. Júlle aanbid wat julle nie ken nie; ons aanbid wat ons ken, want die verlossing is uit die geledere van die Jode. Daar kom egter ’n tyd, en dit het reeds aangebreek, wanneer die egte aanbidders die Vader vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader verkies dat die mense Hom só aanbid. God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid aanbid.” Die vrou sê vir Jesus: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat die Christus genoem word. Wanneer Hy ook al kom, sal Hy ons oor alles inlig.” Toe sê Jesus vir haar: “Ék is Hy – Ek wat nou met jou praat!” Op daardie oomblik het sy dissipels teruggekom. Hulle was verstom dat Jesus besig was om met ’n vrou te praat. Nietemin het niemand haar gevra: “Wat wil jy nou eintlik hê?” of vir Hom: “Waarom knoop U ’n gesprek met haar aan?” nie. Die vrou het haar waterkruik net daar gelos, na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: “Kom kyk self – ’n man het my alles vertel wat ek al gedoen het. Is hy nie dalk die Messias nie?” Die inwoners het toe van die dorp af na Jesus toe begin stroom.