JOHANNES 20:30-31
JOHANNES 20:30-31 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het nog baie ander wondertekens gedoen wat die dissipels gesien het, maar julle lees nie van daardie wondertekens in hierdie boek nie. Maar die wondertekens waarvan julle in hierdie boek lees, is geskryf sodat julle kan glo Jesus is die Christus, die Seun van God. Dit is geskryf sodat julle die ewige lewe kan kry omdat julle aan Hom behoort.
JOHANNES 20:30-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.
JOHANNES 20:30-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.
JOHANNES 20:30-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jesus het nog baie ander tekens voor sy dissipels gedoen wat nie in hierdie boekrol geskryf staan nie. Hierdie dinge is egter neergeskryf sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die •Seun van God, en dat julle deur te glo, die lewe in sy Naam kan hê.
JOHANNES 20:30-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En baie ander tekens het Jesus waarlik in die teenwoordigheid van sy dissipels gedoen, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie: Maar dit is geskrywe, sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in Sy Naam.
JOHANNES 20:30-31 Die Boodskap (DB)
Nie alles wat Jesus gedoen het, is hier neergeskryf nie. Hy het nog baie ander en verskillende wonderlike dinge gedoen om te wys wie Hy regtig is. Sy volgelinge het dit alles gesien. Dit wat in hierdie boek geskryf is, is met ’n spesifieke doel gedoen. Dit is geskryf sodat julle geen oomblik hoef te twyfel dat Jesus die Redder, ja, die Seun van God is nie. Julle kan dit maar volledig aanvaar. En hierdie woorde wil julle ook oortuig dat julle vir ewig gaan leef omdat Jesus dit vir julle moontlik gaan maak.
JOHANNES 20:30-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus het nog baie ander wondertekens voor sy dissipels gedoen. Daardie tekens is nie opgeskryf in hierdie boek nie. Hierdie tekens is wel opgeskryf sodat julle tot die geloof kan kom dat Jesus die Messias is, die Seun van God, en sodat julle deur aan te hou glo, in sy Naam die lewe kan hê.