JOHANNES 20:24-27
JOHANNES 20:24-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!” Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”
JOHANNES 20:24-27 Bybel vir almal (ABA)
Tomas was een van die twaalf dissipels. Die mense het hom “Tweeling” genoem. Hy was nie by die ander dissipels toe Jesus aan hulle verskyn het nie. Hulle het vir Tomas gesê: “Ons het die Here gesien.” Tomas het vir hulle gesê: “Nee, ek glo dit nie. Ek sal dit net glo as ek die plekke in sy hande sien waar die spykers was en as ek my vinger daar kan indruk. Ek sal dit net glo as ek my hand kan indruk in die gat in Jesus se sy.” 'n Week later was die dissipels weer bymekaar. Tomas was ook by hulle. Die deure was gesluit, maar Jesus het gekom en Hy het tussen hulle gaan staan. Hy het vir hulle gesê: “Ek gee vir julle my vrede!” Toe sê Hy vir Tomas: “Kom, druk jou vinger hier in my hande en kyk, en kom druk jou hand in die gat in my sy. Jy moenie ongelowig wees nie, jy moet glo!”
JOHANNES 20:24-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Thomas wat genoem word Dídimus, een van die twaalf, was nie saam met hulle toe Jesus gekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: Ons het die Here gesien! Maar hy het vir hulle gesê: As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie. En agt dae daarna was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. En Jesus het gekom terwyl die deure gesluit was, en het in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle! Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig.
JOHANNES 20:24-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar Thomas, een van die twaalf, wat bekend gestaan het as Didimus, was nie by hulle toe Jesus gekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy het vir hulle gesê: “As ek nie die merke sien van die spykers in sy hande en my vinger nie steek in die spykermerke, en my hand nie in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” Agt dae later was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. Terwyl die deure gesluit was, het Jesus gekom en in hulle midde gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!” Daarna sê Hy vir Thomas: “Bring jou vinger hier, en kyk na my hande, en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar gelowig.”
JOHANNES 20:24-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar Tomas, een van die twaalf, wat Didimus genoem word, was nie by hulle toe Jesus gekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir Hom: Ons het die Here gesien. Maar hy sê vir hulle: As ek nie in sy hande die teken van die spykers sien en my vinger in die teken van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nie glo nie. En ná agt dae was sy dissipels weer binne, en Tomas saam met hulle; Jesus het toe gekom, terwyl die deure gesluit was, en in die midde gestaan en gesê: Vrede vir julle! Toe sê hy vir Thomas: Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en steek jou hand hier en steek dit in my sy; en wees nie ontrou nie, maar gelowig.
JOHANNES 20:24-27 Die Boodskap (DB)
Tomas was een van Jesus se twaalf getrouste volgelinge. (Party het hom “Tweeling” genoem.) Hy was nie by die ander toe Jesus na hulle toe gekom het nie. Die ander sê toe vir hom: “Ons het die Here lewendig gesien!” “Nee wat, ek glo dit nie,” was Tomas se reaksie. “As ek nie self die seerplekke in sy hande kan sien waar hulle die spykers ingeslaan het en met my vinger daaroor kan streel en my hand op die wond in sy sy kan sit nie, glo ek eenvoudig nie wat julle vir my sê nie.” Omtrent ’n week later was Jesus se getrouste vriende weer almal bymekaar. Hierdie keer was Tomas ook daar. Hulle het weer seker gemaak dat al die deure gesluit was. Skielik was Jesus weer daar by hulle. Net soos die vorige keer groet Hy hulle: “Vrede vir julle.” Hy sê toe vir Tomas: “Bring jou vinger. Kyk na my hande. Kom, sit jou hand hier op die wond in my sy. Moenie twyfel dat dit regtig Ek is nie. Aanvaar dit!”
JOHANNES 20:24-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Tomas, ook genoem Didimus, een van die twaalf, was nie saam met die ander dissipels toe Jesus daar aangekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy het vir hulle gesê: “As ek nie die merk van die spykers in sy hande sien en my vinger in die spykermerke steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nóóit glo nie.” Agt dae later was Jesus se dissipels weer saam, en Tomas was by hulle. Die deure was op slot en grendel, maar Jesus het tussen hulle kom staan en aan hulle gesê: “Vrede vir julle!” Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande, en bring jou hand en steek dit in my sy; en hou op ongelowig wees, maar word gelowig!”