JOHANNES 20:19-23
JOHANNES 20:19-23 Bybel vir almal (ABA)
Daardie selfde Sondagaand was die dissipels bymekaar. Al die deure was gesluit, want hulle was bang vir die Jode. Jesus het gekom en Hy het tussen hulle gaan staan. Hy het vir hulle gesê: “Ek gee vir julle my vrede!” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy vir hulle gewys hoe lyk sy hande en hoe lyk dit waar die soldaat Hom met die spies gesteek het. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien. Jesus het weer vir hulle gesê: “Ek gee vir julle my vrede. Die Vader het My gestuur. Nou stuur Ek julle ook.” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op hulle geblaas en gesê: “Ek gee vir julle die Heilige Gees. As julle ander mense se sondes vergewe, dan vergewe God ook hulle sondes. As julle nie hulle sondes vergewe nie, dan vergewe God ook nie hulle sondes nie.”
JOHANNES 20:19-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle! En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. En die dissipels was bly toe hulle die Here sien. Jesus sê toe weer vir hulle: Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees. As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou.
JOHANNES 20:19-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien. “Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”
JOHANNES 20:19-23 Die Boodskap (DB)
Laat daardie Sondagaand was Jesus se volgelinge nog bymekaar. Hulle was egter bang vir die Joodse leiers en het al die deure van die huis gesluit. Al was die deure gesluit, het Jesus skielik daar tussen hulle gestaan. “Vrede vir julle,” sê Hy. Met dié woorde wys Hy vir hulle sy hande en sy sy. Die dissipels was buite hulleself van blydskap om die Here te sien. Jesus praat toe verder: “Vrede vir julle. Julle weet die Vader het My met ’n boodskap na die wêreld toe gestuur. Net so stuur Ek julle nou.” Toe blaas Jesus oor sy volgelinge met die woorde: “Ontvang die Heilige Gees! Wanneer julle mense help om hulle verhouding met God reg te maak, sal hulle verhouding met God reg wees. God sal hulle sondes nie teen hulle hou nie. Maar as mense nie luister wanneer julle met hulle oor hulle sondes praat nie, kan julle maar hulle sondes teen hulle hou. God sal dit ook doen.”
JOHANNES 20:19-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Gedurende die vroeë aand, op daardie Sondag, terwyl die deure uit vrees vir die Jode gesluit was, het Jesus se dissipels bymekaargekom. Jesus het tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy aan hulle. Die dissipels was baie opgewonde om die Here te sien. “Vrede vir julle!” sê Jesus weer ’n keer. “Net soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy oor hulle geblaas en vir hulle gesê: “Ontvang die Heilige Gees! Wie se sondes julle ook al vergewe, God vergewe hulle dit; wie s’n julle ook al handhaaf, God handhaaf dit.”