JOHANNES 19:8-11
JOHANNES 19:8-11 Bybel vir almal (ABA)
Toe Pilatus hoor wat die Jode sê, het hy nóg banger geword. Pilatus het weer ingegaan in sy huis. Hy het vir Jesus gesê: “Jy moet vir my sê van waar jy kom.” Maar Jesus het nie vir Pilatus geantwoord nie. Toe sê Pilatus vir Jesus: “Hoekom praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek kan besluit of jy vry sal wees en of die soldate jou sal kruisig nie?” Jesus het vir Pilatus gesê: “Nee, jy kan dit nie self besluit nie. God het besluit jy mag sê wat met My moet gebeur. Daarom doen die mense wat My na jou toe gebring het, groter sonde as jy.”
JOHANNES 19:8-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe Pilatus hierdie woord hoor, het hy nog meer bevrees geword en weer in die paleis ingegaan en vir Jesus gesê: Van waar is U? Maar Jesus het hom geen antwoord gegee nie. En Pilatus sê vir Hom: Praat U nie met my nie? Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie? Jesus antwoord: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde.
JOHANNES 19:8-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword. Hy het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: “Waar kom jy vandaan?” Jesus het hom egter nie geantwoord nie. Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?” En Jesus antwoord hom: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.”
JOHANNES 19:8-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy nog meer beangs geword. Hy het die pretorium weer binnegegaan en vir Jesus gesê: “Van waar is u?” Jesus het hom egter nie 'n antwoord gegee nie. Pilatus sê toe vir Hom: “Praat u nie met my nie? Weet u nie dat ek volmag het om u vry te laat, maar ook volmag om u te laat kruisig nie?” Jesus het hom geantwoord: “U sou geen volmag oor My gehad het as dit nie van bo aan u gegee is nie. Daarom is hy wat My aan u oorgelewer het, aan 'n groter sonde skuldig.”
JOHANNES 19:8-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe Pilatus dan hierdie woord hoor, het hy nog banger geword; En hy het weer in die regslokaal gegaan en vir Jesus gesê: Waar is U vandaan? Maar Jesus het hom geen antwoord gegee nie. Toe sê Pilatus vir Hom: Spreek jy nie met my nie? Weet jy nie dat Ek mag het om jou te kruisig en mag het om jou vry te laat nie? Jesus antwoord: Jy sou hoegenaamd geen mag teen My kon hê as dit jou nie van bo gegee was nie; daarom het hy wat My aan jou oorgegee het, die groter sonde.
JOHANNES 19:8-11 Die Boodskap (DB)
Dit het Pilatus nogal laat skrik. Hy is dadelik weer die vesting in. (Jesus is intussen binnetoe gevat.) “Waar kom jy vandaan?” loop hy Jesus sommer trompop. Jesus het net stilgebly. “Vir wat praat jy nie met my nie?” sê Pilatus. “Het jy miskien vergeet dat ek jou hier vry kan laat uitstap as ek wil? Of as ek wil, kan ek jou hier buite aan ’n kruis laat ophang tot jy dood is.” Jesus sê toe: “Jy sou niks aan My kon doen as God dit nie so wou gehad het nie. Daarom het die een wat gesorg het dat Ek nou hier geboei staan, ’n baie groter flater in die oë van God gemaak as wat jy het.”
JOHANNES 19:8-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Pilatus hierdie opmerking hoor, het hy nog banger geword, sy hoofkwartier binnegestap en weer vir Jesus gesê: “Waarvandaan kom jy?” Maar Jesus het hom nie geantwoord nie. Daarop reageer Pilatus toe: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die bevoegdheid het om jou vry te laat, en ook die bevoegdheid om jou te laat kruisig nie?” Jesus het hom geantwoord: “U sou geen bevoegdheid oor My hê as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, nog groter skuld.”