JOHANNES 19:31-42

JOHANNES 19:31-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Aangesien dit die voorbereiding vir die Sabbat was, wou die Jode nie hê dat die liggame op die Sabbat aan die kruis moes bly hang nie, want daardie spesifieke Sabbat was ’n belangrike een. Hulle het Pilatus toe gaan vra dat die kruiselinge se bene gebreek en die liggame verwyder moes word. Die soldate het toe gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die ander een wat saam met Jesus gekruisig was. Toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy alreeds gesterf het, het hulle nie sy bene gebreek nie. Een van die soldate het egter sy spies in Jesus se sy gesteek en daar het dadelik bloed en water uitgevloei. Hy wat dit aanskou het, vertel dit gesaghebbend, en sy getuienis is waar. Hy weet ook dat hy die waarheid praat sodat ook julle tot geloof moet kom. Want hierdie dinge het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” Verder sê die Skrif: “Hulle sal Hom aanskou vir wie hulle deurboor het.” Hierna het Josef wat van Arimatea afkomstig was – omdat hy vir die Joodse leiers bang was, was hy ’n geheime dissipel van Jesus – Pilatus gaan vra of hy die liggaam van Jesus kon kry. Pilatus het dit toegestaan. Josef het toe die liggaam gaan haal. Nikodemus, wat Jesus die eerste keer gedurende die nag besoek het, het ook gekom en ’n mengsel van ongeveer 50 liter mirre en aalwyn gebring. Hulle het toe Jesus se liggaam geneem en dit in linnedoeke saam met die speserye toegevou soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir ’n begrafnis voor te berei. Op die plek waar Jesus gekruisig is, was ’n tuin en in die tuin ’n nuwe graf waarin nog niemand begrawe was nie. Met die oog op die Joodse dag van voorbereiding, en omdat die graf naby was, het hulle Jesus daar neergelê.

JOHANNES 19:31-42 Bybel vir almal (ABA)

Dit was die dag toe die Jode alles gereedgemaak het vir die Sabbatdag, 'n baie belangrike Sabbatdag. Die Jode wou nie hê Jesus en die ander twee mans se liggame moet op die Sabbatdag aan die kruise hang nie. Daarom het die Jode vir Pilatus gevra dat sy soldate eers hulle bene moet breek voordat die soldate die liggame van die kruise afhaal. Die soldate het gegaan en hulle het die eerste man se bene gebreek. Toe het hulle ook die bene gebreek van die ander man wat saam met Jesus gekruisig is. Toe die soldate by Jesus kom, sien hulle Jesus is klaar dood. Daarom het hulle nie sy bene gebreek nie, maar een van die soldate het 'n spies in Jesus se sy gesteek en dadelik het daar bloed en water uitgekom. Die man wat dit alles sien gebeur het, het dit vertel. Wat hy vertel het, is die waarheid. Hy weet dat hy die waarheid praat. Hy doen dit sodat julle kan glo. Dit alles het gebeur sodat dit waar kon word wat in die Ou Testament geskryf is: “ Die mense sal nie sy bene breek nie.” Op 'n ander plek in die Ou Testament is geskryf: “ Hulle sal Hom sien, Hy is die Een, hulle het Hom met 'n spies gesteek.” Josef van die stad Arimatea was 'n dissipel van Jesus, maar dit was 'n geheim, want hy was bang vir die Jode. Nadat Jesus gesterf het, het Josef vir Pilatus gevra of hy Jesus se liggaam mag wegneem. Pilatus het gesê hy mag dit doen. Toe het Josef gegaan en hy het Jesus se liggaam gaan afhaal van die kruis. Nikodemus, wat voorheen in die nag na Jesus toe gekom het, het ook kom help. Hy het 'n groot klomp mirre en aalwyn gemeng en hy het dit saamgebring. Josef van Arimatea en Nikodemus het Jesus se liggaam geneem en hulle het dit met lappe toegedraai saam met die mirre en aalwyn. Die Jode het dit altyd gedoen voordat hulle iemand begrawe het. Op die plek waar die soldate vir Jesus gekruisig het, was daar 'n tuin. In die tuin was daar 'n nuwe graf. Die mense het nog nooit iemand in daardie graf begrawe nie. Josef van Arimatea en Nikodemus het Jesus se liggaam in daardie graf gaan sit, want die graf was daar naby en dit was die dag voor die Sabbatdag, die dag wanneer die Jode alles moes gereedmaak vir die Sabbatdag.

JOHANNES 19:31-42 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was — want die dag van daardie sabbat was groot — het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word. Die soldate het toe gekom en die bene van die eerste een gebreek en van die ander een wat saam met Hom gekruisig was; maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy al dood was, het hulle sy bene nie gebreek nie. Maar een van die soldate het met 'n spies in sy sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom. En hy wat dit gesien het, het dit getuig, en sy getuienis is waaragtig; en hy weet dat hy die waarheid spreek, sodat julle kan glo. Want hierdie dinge het gebeur, dat die Skrif vervul sou word: Geen been van Hom sal gebreek word nie. En weer sê 'n ander Skrif: Hulle sal sien in wie hulle gesteek het. EN ná hierdie dinge het Josef van Arimathéa, wat 'n dissipel van Jesus was, maar in die geheim, uit vrees vir die Jode, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag wegneem. En Pilatus het dit toegelaat. Hy het toe gegaan en die liggaam van Jesus weggeneem. En Nikodémus, wat die eerste maal in die nag na Jesus gegaan het, het ook gekom met 'n mengsel van mirre en alewee van omtrent honderd pond gewig. En hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit in doeke toegedraai saam met die speserye, soos die gewoonte van die Jode is om te begrawe. En daar was op die plek waar Hy gekruisig is, 'n tuin, en in die tuin 'n nuwe graf waar nog nooit iemand in neergelê was nie. Daar het hulle Jesus toe neergelê weens die voorbereiding van die Jode, omdat die graf naby was.

JOHANNES 19:31-42 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie sabbatdag was 'n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is. Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie. Maar een van die soldate het met 'n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom. Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” En verder sê die Skrif op 'n ander plek: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.” Hierna het Josef van Arimatea, wat 'n dissipel van Jesus was maar in die geheim, omdat hy vir die Jode bang was, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag neem. Pilatus het sy toestemming gegee. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. Nikodemus, wat 'n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en 'n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring. Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê. By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar 'n tuin en in die tuin 'n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. Daar het hulle Jesus begrawe, omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die graf daar naby was.

JOHANNES 19:31-42 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Aangesien dit die Voorbereidingsdag was, en sodat die liggame nie aan die kruis sou bly op die Sabbat nie – want daardie Sabbat was 'n belangrike dag – het die Jode vir •Pilatus gevra dat die bene gebreek en die liggame verwyder moet word. Die soldate het toe gekom en die eerste een se bene gebreek, en ook dié van die ander een wat saam met Jesus gekruisig is. Maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy reeds dood was, het hulle nie sy bene gebreek nie. Een van die soldate het egter met 'n spies in Jesus se sy gesteek, en onmiddellik het daar bloed en water uitgekom. Hy wat dit gesien het, het daarvan getuig, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat ook julle tot geloof kan kom. Want hierdie dinge het plaasgevind sodat die Skrif vervul sou word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” En 'n ander Skrifdeel sê weer: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.” Hierna het Josef van Arimatea, wat uit vrees vir die Jode in die geheim 'n dissipel van Jesus was, •Pilatus gaan vra of hy die liggaam van Jesus mag wegneem. Pilatus het dit toegestaan. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. Nikodemus, wat voorheen gedurende die nag na Jesus gegaan het, het ook gekom en 'n mengsel van ongeveer 'n honderd litra mirre en adelhout gebring. Hulle het toe Jesus se liggaam geneem en dit saam met geurige speserye in linnedoeke toegedraai, soos dit die Jode se gebruik is by 'n begrafnis. By die plek waar Hy gekruisig is, was daar 'n tuin, en in die tuin 'n nuwe graf waarin niemand nog ooit neergelê is nie. Daar het hulle Jesus toe neergelê, omdat dit die Voorbereidingsdag van die Jode was, en aangesien die graf daar naby was.

JOHANNES 19:31-42 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Die Jode het dan, omdat dit die voorbereiding was, dat die liggame nie op die sabbatdag aan die kruis sou bly nie, (want daardie sabbatdag was 'n hoë dag), Pilatus gesmeek dat hulle bene gebreek moes word en hulle geneem moes word weg. Toe kom die soldate en breek die bene van die eerste en van die ander wat saam met Hom gekruisig is. Maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy reeds dood was, het hulle sy bene nie gebreek nie. Maar een van die soldate het met 'n spies sy sy deurboor, en dadelik het bloed en water daar uitgekom. En hy wat dit gesien het, het getuig, en sy getuienis is waar; en hy weet dat hy die waarheid sê, sodat julle kan glo. Want hierdie dinge het gebeur, dat die Skrif vervul sou word: Geen been van Hom sal gebreek word nie. En weer sê 'n ander Skrif: Hulle sal Hom aansien vir wie hulle deurboor het. En hierna het Josef van Arimathéa, wat 'n dissipel van Jesus was, maar in die geheim uit vrees vir die Jode, Pilatus gesmeek dat hy die liggaam van Jesus moes wegneem; en Pilatus het hom verlof gegee. Hy het toe gekom en die liggaam van Jesus geneem. En Nikodemus het ook gekom, wat eers in die nag na Jesus gekom het en 'n mengsel van mirre en aalwyn gebring het, omtrent 'n honderd pond gewig. Toe het hulle die liggaam van Jesus geneem en dit in linneklere toegedraai met die speserye, soos die Jode se manier is om te begrawe. En op die plek waar Hy gekruisig is, was daar 'n tuin; en in die tuin 'n nuwe graf waarin nog nooit 'n mens gelê is nie. Daar het hulle Jesus dan neergelê vanweë die voorbereidingsdag van die Jode; want die graf was naby.

JOHANNES 19:31-42 Die Boodskap (DB)

Dit het op die Vrydag gebeur. Mense was besig om alles reg te kry vir die paasfees. Dit was vir hulle ’n baie belangrike dag, want daardie jaar het die fees en die sabbat saamgeval. Die Jode se godsdienstige reëls het dit verbied dat Jode op die sabbat nog aan ’n kruis mag hang. Hulle is toe na Pilatus toe en het hom gevra om die mense wat aan die kruis gehang het se bene te breek. Die skok sou help dat hulle gouer doodgaan. Dan kon hulle hulle van die kruis afhaal voor die sabbat begin. Pilatus het gesê hulle kon dit laat doen. Die soldate het toe die bene gebreek van die twee mans wat saam met Jesus daar gehang het. Toe hulle by Jesus kom, sien hulle dat Hy klaar dood was. Dit was toe nie nodig om sy bene te breek nie. Om seker te maak dat Jesus dood was, steek een van die soldate Jesus in sy sy met ’n spies. Daar het bloed en water uit die wond geloop. Dit is nie sommer stories dié nie. Dit het regtig gebeur. Daardie man het dit met sy eie oë gesien. Hy praat die waarheid en sal nie lieg nie. Julle kan maar glo wat hy vertel. Die Skrif het mos lankal gesê dit sou gebeur. Luister net: “Hulle sal nie ’n enkele been van Hom breek nie,” staan daar op een plek, en op ’n ander plek: “Hulle sal kyk na die Een wat hulle met die spies gesteek het.” Josef wat uit Arimatea gekom het, was ook ’n volgeling van Jesus. Hy het dit egter probeer stilhou, want hy was bang dat die Jode hom iets sou aandoen as hulle dit uitvind. Toe alles verby was, is hy na Pilatus toe. Hy vra Pilatus toe reguit of hy maar Jesus se liggaam kon gaan begrawe. (As niemand die lyke gevat het nie, het die soldate dit gewoonlik sommer eenkant in ’n vlak graf gegooi.) Pilatus het vir Josef gesê hy kon dit maar doen. Hy het toe Jesus se liggaam van die kruis afgehaal en weggevat. Nikodemus het ook bygekom. (Dit was mos hy wat destyds in die nag na Jesus toe gekom het.) Hy het ’n klomp mirre en aalwyn by hom gehad om Jesus se liggaam vir die graf reg te kry. Altesaam het dit so 33 kilogram geweeg. Hulle het Jesus se liggaam mooi in linne toegedraai. Die linne was deurweek van die mirre en aalwyn. Dit is wat die Jode destyds gedoen het as hulle iemand begrawe het. Jesus se kruis het in ’n tuin gestaan. In die tuin was daar ook ’n graf wat pas klaar uit die rots gekap was. Dit het soos ’n kamer gelyk. Hulle het Jesus net daar begrawe. Hy was die eerste een wat in dié grafkamer begrawe is. Dit was gerieflik en naby, want die tyd was min. Hulle moes ook nog alles vir die Jode se fees gaan regkry voor die son gesak en die sabbat begin het.