JOHANNES 19:14-18
JOHANNES 19:14-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit het saamgeval met die voorbereiding van die Paasfees, ongeveer twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Dáár is julle koning!” Hulle het net geskree: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!” Pilatus sê vir hulle: “Moet ek julle kóning kruisig?” Die priesterhoofde het geantwoord: “Ons het nie ’n koning nie, ons het slegs die keiser.” Pilatus het Jesus toe oorgegee om gekruisig te word. Daarop het hulle Jesus weggelei. Jesus het self die kruis gedra en uitgegaan na wat genoem is Kopbeenplek, in Aramees “Golgota”. Daar het hulle Hom gekruisig, en saam met Hom ook twee ander, aan weerskante van Jesus, met Hom in die middel.
JOHANNES 19:14-18 Bybel vir almal (ABA)
Dit was die dag voor die Paasfees, die dag waarop die Jode alles gereedgemaak het vir die Paasfees. Dit was omtrent twaalfuur die middag. Pilatus het vir die Jode gesê: “Kyk, hier is julle koning!” Hulle het hard geskree: “Jy moet vir Jesus wegvat! Jy moet hom wegvat! Jy moet hom laat kruisig!” Pilatus het vir hulle gevra: “Moet ek vir Jesus, julle koning, laat kruisig?” Die priesterleiers het vir Pilatus gesê: “Jesus is nie ons koning nie! Ons het net een koning, en dit is die keiser!” Toe het Pilatus gesê die priesterleiers mag vir Jesus vat en Hom laat kruisig. Die soldate het vir Jesus weggevat om Hom te kruisig. Jesus het self sy kruis gedra en Hy het uit die stad gegaan, na die Kopbeenplek. Die Hebreeuse naam van die plek is Golgota. Daar het die soldate vir Jesus gekruisig. Hulle het twee ander mans saam met Hom gekruisig, een links langs Jesus en een regs langs Hom.
JOHANNES 19:14-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En dit was die voorbereiding vir die pasga en omtrent die sesde uur. Toe sê hy vir die Jode: Dáár is julle Koning! Maar hulle skreeu: Neem weg, neem weg, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Moet ek julle Koning kruisig? Die owerpriesters antwoord: Ons het geen koning behalwe die keiser nie. Toe het hy Hom dan aan hulle oorgegee om gekruisig te word. En hulle het Jesus geneem en Hom weggelei. EN Hy het sy kruis gedra en uitgegaan na die sogenaamde Hoofskedelplek, in Hebreeus Gólgota, waar hulle Hom gekruisig het en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, en Jesus in die middel.
JOHANNES 19:14-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit was die voorbereiding vir die paasfees, en dit was omtrent twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Hier is julle koning!” Maar hulle skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!” Toe vra Pilatus vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?” Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie 'n koning nie; ons het net die keiser.” Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem. Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota. Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.
JOHANNES 19:14-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit was die Voorbereidingsdag vir die Pasga, ongeveer die sesde uur. Toe sê Pilatus vir die Jode: “Kyk, daar is julle koning!” Hulle het egter geskreeu: “Weg, weg met hom! Kruisig hom!” Pilatus sê vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?” Die leierpriesters het geantwoord: “Ons het nie 'n koning nie, slegs die keiser.” Toe lewer hy Hom aan hulle uit om gekruisig te word. En hulle het Jesus weggelei. Jesus het self die kruis gedra, en het uitgegaan na die sogenaamde ‘Kopbeenplek’, in Hebreeus Golgota genoem. Daar het hulle Hom gekruisig, en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.
JOHANNES 19:14-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dit was die voorbereiding van die pasga en omtrent die sesde uur, en hy sê vir die Jode: Hier is julle Koning! Maar hulle het uitgeroep: Weg met Hom, weg met Hom, kruisig Hom. Pilatus sê vir hulle: Moet ek julle Koning kruisig? Die owerpriesters antwoord: Ons het geen koning behalwe die keiser nie. Toe het Hy Hom dan aan hulle oorgegee om gekruisig te word. En hulle het Jesus geneem en Hom weggelei. En hy het sy kruis gedra en uitgegaan na 'n plek wat die plek van 'n skedel genoem word, wat in die Hebreeus Golgota genoem word. Waar hulle Hom gekruisig het, en twee ander saam met Hom, aan weerskante een, en Jesus in die middel.
JOHANNES 19:14-18 Die Boodskap (DB)
Pilatus het Jesus ook laat kom. Dit was omtrent twaalfuur op die dag waarop die Jode alles reggemaak het vir die paasfees. Pilatus kondig toe plegtig aan: “Kyk, hier staan julle koning.” Toe skree die Jode eers: “Weg met hom! Weg met hom! Kruis toe!” Pilatus vra hulle toe: “Bedoel julle dit regtig? Moet ek regtig julle koning aan ’n kruis laat hang tot hy dood is?” Die leiers onder die priesters sê toe: “Hierdie man is g’n ons koning nie. Ons het net een koning: die keiser van Rome.” Pilatus het die Jode hulle sin gegee. Hy het hulle toegelaat om Jesus te gaan kruisig. So het dit dan gebeur dat hulle met Jesus kon doen wat hulle so lankal beplan het. Jesus het van die vesting van Pilatus af gestap met die kruis oor sy skouer. Hy, met die klomp mense, is na die “Plek van die Kopbeen” toe (in Hebreeus het die mense van Golgota gepraat). Daar het hulle Hom aan die kruis opgehang om dood te gaan. Saam met Hom het hulle nog twee gekruisig, een aan elke kant, met Hom in die middel.