JOHANNES 19:1-16

JOHANNES 19:1-16 Bybel vir almal (ABA)

Toe het Pilatus vir die soldate gesê hulle moet vir Jesus met 'n sweep slaan. Die soldate het 'n kroon van dorings gevleg en hulle het dit op Jesus se kop gesit. Hulle het vir Jesus pers klere aangetrek. Toe het hulle weer en weer na Hom toe geloop en gesê: “Ons groet jou, Koning van die Jode!” Elke maal het hulle Hom geklap. Pilatus het weer buitetoe gegaan. Hy het vir die Jode gesê: “Kyk, ek sal nou vir Jesus buitetoe laat kom na julle toe, sodat julle kan weet ek dink Jesus het niks verkeerd gedoen nie.” Toe het Jesus buitetoe gekom. Die doringkroon was nog op sy kop en Hy het nog die pers klere aangehad. Pilatus het vir die Jode gesê: “Kyk hoe lyk die man nou!” Toe die priesterleiers en hulle wagte vir Jesus sien, skree hulle vir Pilatus: “Jy moet hom kruisig! Jy moet hom kruisig!” Pilatus het vir hulle gesê: “Nee, vat júlle hom en gaan kruisig hom. Ek dink hy het niks verkeerd gedoen nie.” Die Jode het vir Pilatus gesê: “Ons het wette en ons wette sê ons moet vir Jesus doodmaak, want hy het gesê hy is die Seun van God.” Toe Pilatus hoor wat die Jode sê, het hy nóg banger geword. Pilatus het weer ingegaan in sy huis. Hy het vir Jesus gesê: “Jy moet vir my sê van waar jy kom.” Maar Jesus het nie vir Pilatus geantwoord nie. Toe sê Pilatus vir Jesus: “Hoekom praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek kan besluit of jy vry sal wees en of die soldate jou sal kruisig nie?” Jesus het vir Pilatus gesê: “Nee, jy kan dit nie self besluit nie. God het besluit jy mag sê wat met My moet gebeur. Daarom doen die mense wat My na jou toe gebring het, groter sonde as jy.” Toe Pilatus hoor wat Jesus sê, het hy probeer om vir Jesus te laat gaan, maar die Jode het hard geskree: “As jy vir Jesus laat gaan, dan is jy nie die keiser se vriend nie. Jesus het gesê hy is 'n koning. Daarom is hy 'n vyand van die keiser.” Toe Pilatus hoor wat die Jode sê, het hy vir Jesus buitetoe laat bring. Pilatus het op die regterstoel gaan sit. Die plek waar die regterstoel gestaan het, se naam was die Klipstoep. Die Hebreeuse naam van die plek is Gabbata. Dit was die dag voor die Paasfees, die dag waarop die Jode alles gereedgemaak het vir die Paasfees. Dit was omtrent twaalfuur die middag. Pilatus het vir die Jode gesê: “Kyk, hier is julle koning!” Hulle het hard geskree: “Jy moet vir Jesus wegvat! Jy moet hom wegvat! Jy moet hom laat kruisig!” Pilatus het vir hulle gevra: “Moet ek vir Jesus, julle koning, laat kruisig?” Die priesterleiers het vir Pilatus gesê: “Jesus is nie ons koning nie! Ons het net een koning, en dit is die keiser!” Toe het Pilatus gesê die priesterleiers mag vir Jesus vat en Hom laat kruisig.

JOHANNES 19:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE neem Pilatus dan vir Jesus en laat Hom gésel. En die soldate het 'n kroon van dorings gevleg en dit op sy hoof gesit, en 'n purper kleed om Hom gewerp en gesê: Wees gegroet, Koning van die Jode! En hulle het Hom in die aangesig geslaan. Pilatus gaan toe weer buitentoe en sê vir hulle: Kyk, ek bring Hom vir julle uit buitentoe, sodat julle kan weet dat ek in Hom geen skuld vind nie. En Jesus het uitgekom buitentoe en die doringkroon en die purperkleed gedra. En Pilatus sê vir hulle: Dáár is die mens! En toe die owerpriesters en die dienaars Hom sien, skreeu hulle en sê: Kruisig, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Neem julle Hom en kruisig Hom, want ek vind geen skuld in Hom nie. Die Jode antwoord hom: Ons het 'n wet en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het. En toe Pilatus hierdie woord hoor, het hy nog meer bevrees geword en weer in die paleis ingegaan en vir Jesus gesê: Van waar is U? Maar Jesus het hom geen antwoord gegee nie. En Pilatus sê vir Hom: Praat U nie met my nie? Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie? Jesus antwoord: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde. Hierop het Pilatus probeer om Hom los te laat, maar die Jode het geskreeu en gesê: As u Hom loslaat, is u nie die keiser se vriend nie. Elkeen wat homself koning maak, kom in verset teen die keiser. En toe Pilatus hierdie woord hoor, het hy Jesus buitentoe gebring en op die regterstoel gaan sit in die plek wat Plaveisel genoem word, en in Hebreeus Gábbata. En dit was die voorbereiding vir die pasga en omtrent die sesde uur. Toe sê hy vir die Jode: Dáár is julle Koning! Maar hulle skreeu: Neem weg, neem weg, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Moet ek julle Koning kruisig? Die owerpriesters antwoord: Ons het geen koning behalwe die keiser nie. Toe het hy Hom dan aan hulle oorgegee om gekruisig te word. En hulle het Jesus geneem en Hom weggelei.

JOHANNES 19:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gesel. Die soldate het 'n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom 'n pers mantel aangetrek en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” En elke keer het hulle Hom geklap. Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.” Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!” Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: “Kruisig hom! Kruisig hom!” “Vat júlle hom en kruisig hom,” sê Pilatus daarop vir hulle, “want ék vind geen skuld in hom nie.” Die Jode sê toe vir hom: “Ons het 'n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.” Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword. Hy het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: “Waar kom jy vandaan?” Jesus het hom egter nie geantwoord nie. Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?” En Jesus antwoord hom: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.” Hieroor het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: “As u hom loslaat, is u nie 'n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser.” Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata. Dit was die voorbereiding vir die paasfees, en dit was omtrent twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Hier is julle koning!” Maar hulle skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!” Toe vra Pilatus vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?” Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie 'n koning nie; ons het net die keiser.” Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.

JOHANNES 19:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe het •Pilatus Jesus geneem en Hom laat gesel. Die soldate het 'n kroon van doringtakkies gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het ook 'n purperrooi mantel vir Hom omgehang en na Hom gegaan en aangehou sê: “Gegroet, koning van die Jode!” En hulle het Hom herhaaldelik geklap. Pilatus het weer uitgekom na buite en vir hulle gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle na buite, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.” Jesus het uitgekom na buite, met die doringkroon op sy kop en met die purperrooi mantel om. Pilatus sê toe vir hulle: “Kyk, die mens!” Toe die leierpriesters en die tempelwagte Hom sien, het hulle geskreeu: “Kruisig, kruisig!” Pilatus het vir hulle gesê: “Vat julle hom en kruisig hom, want ek vind geen skuld in hom nie.” Die Jode antwoord hom toe: “Ons het 'n wet, en volgens dié wet moet hy sterf, omdat hy homself •Seun van God gemaak het. ” Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy nog meer beangs geword. Hy het die pretorium weer binnegegaan en vir Jesus gesê: “Van waar is u?” Jesus het hom egter nie 'n antwoord gegee nie. Pilatus sê toe vir Hom: “Praat u nie met my nie? Weet u nie dat ek volmag het om u vry te laat, maar ook volmag om u te laat kruisig nie?” Jesus het hom geantwoord: “U sou geen volmag oor My gehad het as dit nie van bo aan u gegee is nie. Daarom is hy wat My aan u oorgelewer het, aan 'n groter sonde skuldig.” Van dié oomblik af het Pilatus aanhoudend probeer om Hom vry te laat, maar die Jode het geskreeu: “As u hierdie man vrylaat, is u nie 'n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself koning maak, verset hom teen die keiser.” Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy Jesus na buite gebring, en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipplaveisel genoem word – in Hebreeus Gabbata . Dit was die Voorbereidingsdag vir die Pasga, ongeveer die sesde uur. Toe sê Pilatus vir die Jode: “Kyk, daar is julle koning!” Hulle het egter geskreeu: “Weg, weg met hom! Kruisig hom!” Pilatus sê vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?” Die leierpriesters het geantwoord: “Ons het nie 'n koning nie, slegs die keiser.” Toe lewer hy Hom aan hulle uit om gekruisig te word. En hulle het Jesus weggelei.

JOHANNES 19:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Pilatus het toe vir Jesus geneem en Hom gegésel. En die soldate het 'n doringkroon gevleg en dit op sy hoof gesit, en hulle het hom 'n purper kleed aangetrek, en gesê: Wees gegroet, Koning van die Jode! en hulle het hom met hul hande geslaan. Pilatus het dan weer uitgegaan en vir hulle gesê: Kyk, ek bring hom na julle uit, sodat julle kan weet dat ek geen skuld by hom vind nie. Toe het Jesus uitgekom, met die doringkroon en die purper kleed gedra. En Pilatus sê vir hulle: Daar is die man! Toe die owerpriesters en die dienaars Hom dan sien, het hulle uitgeroep en gesê: Kruisig Hom, kruisig Hom. Pilatus sê vir hulle: Neem Hom en kruisig Hom, want ek vind geen skuld in Hom nie. Die Jode antwoord hom: Ons het 'n wet, en volgens ons wet behoort hy sterwe, omdat hy homself die Seun van God gemaak het. Toe Pilatus dan hierdie woord hoor, het hy nog banger geword; En hy het weer in die regslokaal gegaan en vir Jesus gesê: Waar is U vandaan? Maar Jesus het hom geen antwoord gegee nie. Toe sê Pilatus vir Hom: Spreek jy nie met my nie? Weet jy nie dat Ek mag het om jou te kruisig en mag het om jou vry te laat nie? Jesus antwoord: Jy sou hoegenaamd geen mag teen My kon hê as dit jou nie van bo gegee was nie; daarom het hy wat My aan jou oorgegee het, die groter sonde. En van nou af het Pilatus probeer om hom vry te laat, maar die Jode het uitgeroep en gesê: As jy hierdie man laat gaan, is jy nie die keiser se vriend nie; Toe Pilatus dan hierdie woord hoor, het hy Jesus na vore gebring en op die regterstoel gaan sit op 'n plek wat die plaveisel genoem word, maar in die Hebreeus Gabbata. En dit was die voorbereiding van die pasga en omtrent die sesde uur, en hy sê vir die Jode: Hier is julle Koning! Maar hulle het uitgeroep: Weg met Hom, weg met Hom, kruisig Hom. Pilatus sê vir hulle: Moet ek julle Koning kruisig? Die owerpriesters antwoord: Ons het geen koning behalwe die keiser nie. Toe het Hy Hom dan aan hulle oorgegee om gekruisig te word. En hulle het Jesus geneem en Hom weggelei.

JOHANNES 19:1-16 Die Boodskap (DB)

Pilatus sê toe vir sy soldate om Jesus met die sweep met stukkies yster in oor sy rug te slaan. Die soldate het nie op hulle laat wag nie. Hulle het sommer ook takkies gevat wat skerp dorings aan gehad het, ’n kroon daarmee gevleg en dit op sy kop gedruk. Hulle het ook ’n pers mantel oor Hom gegooi sodat Hy kamma soos ’n koning aangetrek was. Hulle het Hom begin spot. Hulle het kastig eerbiedig nader na Hom toe gekom en Hom dan ewe ernstig soos ’n koning gegroet. En dan het hulle Hom weer geklap. Intussen het Pilatus weer buite met die Jode gaan gesels. “Ek gaan Jesus buitetoe bring, hier na julle toe. Ek wil hê julle moet besef dat Jesus myns insiens onskuldig is.” Juis toe kom Jesus uitgestap. Hy het nog die kroon van dorings opgehad en die pers mantel gedra. Pilatus kondig toe aan: “Kyk, hier is die man.” “Kruisig hom!” gil die leiers van die priesters en die polisie toe hulle Hom sien. “Nou toe, vat julle hom en kruisig hom. Ek gaan dit nie doen nie, want ek dink nie hy is skuldig nie,” was Pilatus se reaksie. Die Jode reageer toe: “Volgens ons wet verdien hy nie om een oomblik langer te leef nie. Hy moet dood, want hy het mos kom maak of hy die Seun van God is.” Dit het Pilatus nogal laat skrik. Hy is dadelik weer die vesting in. (Jesus is intussen binnetoe gevat.) “Waar kom jy vandaan?” loop hy Jesus sommer trompop. Jesus het net stilgebly. “Vir wat praat jy nie met my nie?” sê Pilatus. “Het jy miskien vergeet dat ek jou hier vry kan laat uitstap as ek wil? Of as ek wil, kan ek jou hier buite aan ’n kruis laat ophang tot jy dood is.” Jesus sê toe: “Jy sou niks aan My kon doen as God dit nie so wou gehad het nie. Daarom het die een wat gesorg het dat Ek nou hier geboei staan, ’n baie groter flater in die oë van God gemaak as wat jy het.” Pilatus het toe allerhande planne begin maak om Jesus los te laat. Die Jode het agtergekom wat besig was om te gebeur. Hulle skree toe: “As jy dit waag om Jesus los te laat, bewys jy dat jy ook teen die keiser gedraai het. Dink net daaraan: hierdie man wil homself as koning op die troon sit. Daarmee wil hy die keiser aan die ander kant van die troon afstoot.” Hierdie woorde was vir Pilatus te veel. Hy gaan sit toe op sy stoel waarop hy gewoon-lik sy finale hofuitspraak gemaak het. Die mense het dit “die kliptrap” genoem. (In Hebreeus is dit Gabbata.) Pilatus het Jesus ook laat kom. Dit was omtrent twaalfuur op die dag waarop die Jode alles reggemaak het vir die paasfees. Pilatus kondig toe plegtig aan: “Kyk, hier staan julle koning.” Toe skree die Jode eers: “Weg met hom! Weg met hom! Kruis toe!” Pilatus vra hulle toe: “Bedoel julle dit regtig? Moet ek regtig julle koning aan ’n kruis laat hang tot hy dood is?” Die leiers onder die priesters sê toe: “Hierdie man is g’n ons koning nie. Ons het net een koning: die keiser van Rome.” Pilatus het die Jode hulle sin gegee. Hy het hulle toegelaat om Jesus te gaan kruisig.

JOHANNES 19:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe het Pilatus Jesus geneem en Hom laat gésel. En die soldate het ’n kroon van dorings gevleg en dit op Jesus se kop gesit. Hulle het ook vir Hom ’n pers kleed aangetrek, op Hom afgestorm en gesê: “Gegroet, Koning van die Jode!” Hulle het Hom aanhoudend met die vuis geslaan. Pilatus het weer ’n keer buitentoe gegaan en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe sodat julle kan besef dat ek hom onskuldig bevind.” Daarop het Jesus buitentoe gekom, met die kroon van dorings op sy kop en die pers mantel aan. Pilatus sê vir hulle: “Dáár is die mens!” Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, het hulle nog harder geskree: “Kruisig hom! Kruisig hom!” “Neem júlle hom en kruisig hom, want ek vind geen skuld in hom nie,” sê Pilatus daarop aan hulle. Die Jode het hom geantwoord: “Ons beskik oor ’n wet en daarvolgens moet hy sterf omdat hy homself as die Seun van God voorgehou het.” Toe Pilatus hierdie opmerking hoor, het hy nog banger geword, sy hoofkwartier binnegestap en weer vir Jesus gesê: “Waarvandaan kom jy?” Maar Jesus het hom nie geantwoord nie. Daarop reageer Pilatus toe: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die bevoegdheid het om jou vry te laat, en ook die bevoegdheid om jou te laat kruisig nie?” Jesus het hom geantwoord: “U sou geen bevoegdheid oor My hê as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, nog groter skuld.” Na aanleiding hiervan het Pilatus Jesus probeer vrylaat, maar die Jode het dit uitgeskreeu: “As u hom bevry, is u nie ’n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as ’n koning voorhou, is in konflik met die keiser!” Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy Jesus buitentoe gebring en self op die regterstoel gaan sit by ’n plek wat Klipterras genoem word, in Aramees “Gabbata”. Dit het saamgeval met die voorbereiding van die Paasfees, ongeveer twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Dáár is julle koning!” Hulle het net geskree: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!” Pilatus sê vir hulle: “Moet ek julle kóning kruisig?” Die priesterhoofde het geantwoord: “Ons het nie ’n koning nie, ons het slegs die keiser.” Pilatus het Jesus toe oorgegee om gekruisig te word. Daarop het hulle Jesus weggelei.