JOHANNES 17:6-10
JOHANNES 17:6-10 Die Boodskap (DB)
“Ek het vir die mense duidelik kom uitspel wie U is. Ek praat van die mense wat eintlik nog van altyd af u s’n was. U het hulle nou vir My gegee om na te kyk. Hulle is baie ernstig oor wat U vir hulle wil sê. Hulle besef ook baie goed dat U en Ek in ’n span saamwerk en Ek weet wat U alles vir My gegee het. Toe Ek met hulle praat, het hulle dadelik geweet dat dit u boodskap is wat hulle hoor. Daarom het hulle dit aangegryp. Daar was toe geen twyfel meer by hulle dat Ek van U af kom nie. Hulle weet dat U My na hulle toe gestuur het.” “Ek bid vir hulle! Ek bid vir elkeen wat U vir My gegee het om na te kyk. Hulle behoort immers aan U. Oor hulle wil Ek nou met U praat en nie oor al die ander mense in die wêreld nie. Ons is mos soos een groot familie. Hulle lê My net so na aan die hart as vir U en U gee net soveel om vir hulle as Ek. Hulle sal vir mense vertel hoe belangrik Ek is.
JOHANNES 17:6-10 Bybel vir almal (ABA)
“U het party van die mense in die wêreld vir My gegee, en Ek het vir hulle vertel van U. Hulle was u mense. U het hulle vir My gegee, en hulle het gedoen wat U gesê het hulle moet doen. Hulle weet nou dat alles wat U vir My gegee het, van U kom. Wat U vir My gesê het, het Ek vir hulle gesê. Hulle het dit gehoor en hulle het geweet dit is waar dat Ek van U kom. Ja, hulle het geglo dat U My na die wêreld gestuur het. “Ek bid vir die mense wat U vir My gegee het, Ek bid nie vir die mense van die wêreld nie. Ja, Ek bid vir die mense wat U vir My gegee het, want hulle behoort aan U. Alles en almal wat aan My behoort, behoort ook aan U. Alles en almal wat aan U behoort, behoort ook aan My. Hulle wys dat Ek God is.
JOHANNES 17:6-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar. Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom. Want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee; en hulle het dit ontvang en waarlik erken dat Ek van U uitgegaan het, en hulle het geglo dat U My gestuur het. Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. En alles wat myne is, is uwe; en wat uwe is, is myne; en Ek is in hulle verheerlik.
JOHANNES 17:6-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord ter harte geneem. Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom; want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee. Hulle het dit aangeneem en tot die oortuiging gekom dat Ek waarlik van U gekom het, en hulle het geglo dat U My gestuur het. “Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik.
JOHANNES 17:6-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord gehoorsaam. Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom. Die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee, en hulle het dit aanvaar en werklik besef dat Ek van U af gekom het. En hulle het geglo dat U My gestuur het. “Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir hulle wat U aan My gegee het, omdat hulle aan U behoort. En alles wat myne is, behoort aan U, en wat aan U behoort, is myne, en in hulle is Ek verheerlik.
JOHANNES 17:6-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het; en hulle het u woord bewaar. Nou het hulle geweet dat alles wat U My gegee het, van U is. Want Ek het aan hulle die woorde gegee wat U My gegee het; en hulle het hulle aangeneem en sekerlik geweet dat Ek van U uitgegaan het, en hulle het geglo dat U My gestuur het. Ek bid vir hulle: Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het; want hulle is joune. En alles wat myne is, is joune, en joune is myne; en Ek is in hulle verheerlik.
JOHANNES 17:6-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Ek het u Naam bekendgemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle was U s’n en U het hulle aan My toevertrou en hulle het u boodskap gehoorsaam uitgevoer. Hulle besef nou dat alles wat U My gegee het van U af kom, want die woorde wat U My gegee het, het Ek net so aan hulle oorgedra. Hulle het dit aanvaar en besef dat Ek regtig van U af gekom het en hulle het vas geglo dat U My gestuur het. Ek tree vir hulle in. Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir dié mense wat U aan My gegee het omdat hulle U s’n is. Alles wat Myne is, is ook U s’n, en wat U s’n is, behoort ook aan My, en Ek is deur hulle verheerlik.