JOHANNES 17:20-24
JOHANNES 17:20-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde in My glo, dat hulle almal een kan wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, en dat hulle ook in Ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. En Ek het die heerlikheid wat U aan My gegee het, aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is: Ek in hulle en U in My, sodat hulle volledig een kan wees en die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefgehad het, net soos U My liefgehad het. Vader, Ek wil hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My kan wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het, omdat U My van voor die grondlegging van die wêreld liefgehad het.
JOHANNES 17:20-24 Die Boodskap (DB)
“Ek bid nie net vir hierdie volgelinge van My nie. Ek stuur hulle mos om met mense oor My te gaan praat. Van daardie mense sal my volgelinge se boodskap aanvaar en hulle aan my kant kom skaar. Vir hulle bid Ek ook! Vader, gee dat hulle in lojaliteit teenoor mekaar soos een man sal saamstaan. Vader, U weet hoe heg en intiem ons verhouding met Mekaar is. Ons belange, denke en dade is totaal een. Gee asseblief dat hulle verhouding onder mekaar en veral met Ons net so heg en intiem sal wees. As die mense in hierdie wêreld sien hoe die gelowiges saamstaan en saamwerk, sal hulle oë daarvoor begin oopgaan dat U My na hulle toe gestuur het. Ek sal vir hierdie volgelinge van My dieselfde status gee as wat U vir My gegee het. Dit sal hulle in ’n span saamsnoer net soos Ons in ’n span saamwerk. My verhouding met hulle sal My op ’n baie hegte manier deel maak van die eenheid wat onder hulle bestaan. Ek sal so lojaal teenoor hulle wees as wat U teenoor My is. Dit alles beteken dat hulle foutloos, ja, volmaak, in hierdie eenheid saamgesnoer sal wees. Gevolglik sal die mense besef dat U My gestuur het. Hulle sal sien dat U my volgelinge net so liefhet soos U My liefhet. “Vader, Ek wil so graag my volgelinge hier by My hê. Hulle moet wees waar Ek is. U het mos gesê dat Ek na hulle moet kyk. Laat hulle tog sien watter wonderlike en belangrike status U My gegee het. U het dit gedoen omdat U My liefgehad het nog voordat die aarde gemaak is.
JOHANNES 17:20-24 Bybel vir almal (ABA)
“Ek bid nie net vir hierdie mense nie. Ek bid ook vir die ander mense wat in My sal glo omdat hierdie mense vir hulle sal vertel van My. Vader, Ek bid dat hulle almal sal saamwerk. Dan sal hulle by Ons wees soos U by My is en soos Ek by U is. Dan sal die mense van die wêreld glo dat U My na die wêreld gestuur het. U het gesê Ek is God, en so het Ek ook vir hulle die ewige lewe gegee. Daarom kan hulle saamwerk, soos Ons saamwerk. Ek sal by hulle wees en U sal by My wees. Dan sal hulle waarlik saamwerk en die mense van die wêreld sal weet U het My na die wêreld gestuur. Hulle sal ook weet U is lief vir die mense wat U vir My gegee het, U is lief vir hulle, soos U lief is vir My. “Vader, Ek gaan nou na die hemel. Ek wil graag hê die mense wat U vir My gegee het, moet ook daar saam met My wees. Dan kan hulle sien Ek is God. U het vir My hierdie eer gegee, want U was lief vir My, ook voordat die wêreld daar was.
JOHANNES 17:20-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo — dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is. Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het. Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.
JOHANNES 17:20-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet. “Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het.
JOHANNES 17:20-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek bid ook nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo; Sodat hulle almal een mag wees; soos U, Vader, in My is en Ek in U, sodat hulle ook in ons een kan wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. En die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee; sodat hulle een kan wees, net soos ons een is: Ek in hulle, en jy in My, sodat hulle in een volmaak kan word; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefgehad het soos U My liefgehad het. Vader, Ek wil dat hulle wat U My gegee het, ook by My sal wees waar Ek is; dat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, want U het My liefgehad voor die grondlegging van die wêreld.
JOHANNES 17:20-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat op grond van hulle boodskap nog in My sal glo. Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in ’n hegte verhouding met My en Ek met U is; dat hulle ook in ’n hegte verhouding met Ons mag leef sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. En Ek het die heerlikheid wat U aan My gegee het, ook aan hulle gegee sodat hulle een kan wees net soos Ons een is. Dit beteken dat Ek in ’n hegte verhouding met hulle en U met My moet leef, sodat hulle ten volle een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en dat U hulle liefhet net soos U My liefhet. “Vader, Ek wil graag hê dat dié mense wat U aan My gegee het, ook saam met My moet wees waar Ek is sodat hulle my heerlikheid kan sien, dié heerlikheid wat U aan My gegee het omdat U My voor die skepping van die wêreld liefgehad het.