JOHANNES 17:1-8
JOHANNES 17:1-8 Die Boodskap (DB)
So het Jesus met sy dissipels gepraat. Daarna het Hy sy oë toegemaak en gebid: “Vader, dis tyd! Laat die wêreld nou sien hoe belangrik u Seun regtig is. Op dié manier sal hulle ook agterkom hoe belangrik U is. U het mos vir My volle beheer gegee oor elke mens. Maar U het ook sekere mense spesiaal op my pad gebring. Vir hulle het Ek die lewe gegee wat ewig duur. So moet ’n mens hierdie ewige lewe verstaan. Dit behels dat jy ’n lid word van die familie van die enigste ware God. Jesus Christus, vir wie God gestuur het om mens te wees, is ook lid van dié familie. In die familie van God leer ’n mens God en Jesus baie goed ken, met alles wat dit vir jou beteken. Mense kan sien hoe groot en belangrik U is, Vader, deur te kyk na wat Ek doen. Ek het alles presies gedoen soos U gevra het. Nou is Ek klaar daarmee. Vader, laat My asseblief weer in belangrikheid staan waar Ek hoort, by U. Daardie belangrike plek by U was Myne nog voor die aarde daar was. “Ek het vir die mense duidelik kom uitspel wie U is. Ek praat van die mense wat eintlik nog van altyd af u s’n was. U het hulle nou vir My gegee om na te kyk. Hulle is baie ernstig oor wat U vir hulle wil sê. Hulle besef ook baie goed dat U en Ek in ’n span saamwerk en Ek weet wat U alles vir My gegee het. Toe Ek met hulle praat, het hulle dadelik geweet dat dit u boodskap is wat hulle hoor. Daarom het hulle dit aangegryp. Daar was toe geen twyfel meer by hulle dat Ek van U af kom nie. Hulle weet dat U My na hulle toe gestuur het.”
JOHANNES 17:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus het hierdie dinge gesê, en toe sy oë hemelwaarts gerig en gesê: “Vader, die uur het aangebreek. Verheerlik u Seun sodat die Seun U kan verheerlik. U het aan die Seun volmag gegee oor die hele mensdom om aan almal wat U aan Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En die inhoud van die ewige lewe is dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat U gestuur het. Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U My gegee het om te doen. Verheerlik My dan nou ook by Uself, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het nog voordat die wêreld bestaan het. “Ek het u Naam bekendgemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle was U s’n en U het hulle aan My toevertrou en hulle het u boodskap gehoorsaam uitgevoer. Hulle besef nou dat alles wat U My gegee het van U af kom, want die woorde wat U My gegee het, het Ek net so aan hulle oorgedra. Hulle het dit aanvaar en besef dat Ek regtig van U af gekom het en hulle het vas geglo dat U My gestuur het.
JOHANNES 17:1-8 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het dit alles vir die dissipels gesê, en daarna het Hy opgekyk na die hemel en gebid. Hy het gebid: “Vader, die tyd het nou gekom. Nou moet U vir die mense wys dat Ek ook God is. Dan kan Ek ook weer vir die mense wys dat U God is. U het gesê Ek regeer oor al die mense. Daarom kan Ek die ewige lewe gee vir die mense wat U vir My gegee het. As hulle die ewige lewe het, dan beteken dit hulle ken U, die enigste ware God, en hulle ken My, Jesus Christus, U het My na die wêreld gestuur. “Toe Ek op die aarde was, het Ek vir die mense gewys dat U God is, want U het vir My werk gegee om te doen, en Ek het die werk klaar gedoen. Vader, nou moet U My na U toe neem. Dit sal vir die mense wys dat Ek ook God is. U moet vir hulle wys dat Ek by U was en dat Ek ook God was voordat die wêreld daar was. “U het party van die mense in die wêreld vir My gegee, en Ek het vir hulle vertel van U. Hulle was u mense. U het hulle vir My gegee, en hulle het gedoen wat U gesê het hulle moet doen. Hulle weet nou dat alles wat U vir My gegee het, van U kom. Wat U vir My gesê het, het Ek vir hulle gesê. Hulle het dit gehoor en hulle het geweet dit is waar dat Ek van U kom. Ja, hulle het geglo dat U My na die wêreld gestuur het.
JOHANNES 17:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIT het Jesus gespreek, en Hy het sy oë na die hemel opgehef en gesê: Vader, die uur het gekom; verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik — soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee. En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het. Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring. En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was. Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar. Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom. Want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee; en hulle het dit ontvang en waarlik erken dat Ek van U uitgegaan het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.
JOHANNES 17:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen. Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het. “Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord ter harte geneem. Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom; want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee. Hulle het dit aangeneem en tot die oortuiging gekom dat Ek waarlik van U gekom het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.
JOHANNES 17:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jesus het hierdie dinge gesê, en toe sy oë na die hemel opgerig en gesê: “Vader, die uur het aangebreek. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik – net soos U aan Hom gesag oor die hele mensdom gegee het, sodat Hy aan elkeen wat U aan Hom gegee het, die ewige lewe kan gee. En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het – Jesus Christus. Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U aan My gegee het om te doen. En nou, Vader, verheerlik My by U met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het. “Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord gehoorsaam. Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom. Die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee, en hulle het dit aanvaar en werklik besef dat Ek van U af gekom het. En hulle het geglo dat U My gestuur het.
JOHANNES 17:1-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hierdie woorde het Jesus gespreek en sy oë na die hemel opgeslaan en gesê: Vader, die uur het gekom; verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik. Soos U hom mag gegee het oor alle vlees, sodat hy die ewige lewe kan gee aan almal as wat U hom gegee het. En dit is die ewige lewe, dat hulle U kan ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat U gestuur het. Ek het U op die aarde verheerlik; Ek het die werk voltooi wat U My gegee het om te doen. En nou, o Vader, verheerlik U My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het. Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het; en hulle het u woord bewaar. Nou het hulle geweet dat alles wat U My gegee het, van U is. Want Ek het aan hulle die woorde gegee wat U My gegee het; en hulle het hulle aangeneem en sekerlik geweet dat Ek van U uitgegaan het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.