JOHANNES 17:1-26

JOHANNES 17:1-26 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het dit alles vir die dissipels gesê, en daarna het Hy opgekyk na die hemel en gebid. Hy het gebid: “Vader, die tyd het nou gekom. Nou moet U vir die mense wys dat Ek ook God is. Dan kan Ek ook weer vir die mense wys dat U God is. U het gesê Ek regeer oor al die mense. Daarom kan Ek die ewige lewe gee vir die mense wat U vir My gegee het. As hulle die ewige lewe het, dan beteken dit hulle ken U, die enigste ware God, en hulle ken My, Jesus Christus, U het My na die wêreld gestuur. “Toe Ek op die aarde was, het Ek vir die mense gewys dat U God is, want U het vir My werk gegee om te doen, en Ek het die werk klaar gedoen. Vader, nou moet U My na U toe neem. Dit sal vir die mense wys dat Ek ook God is. U moet vir hulle wys dat Ek by U was en dat Ek ook God was voordat die wêreld daar was. “U het party van die mense in die wêreld vir My gegee, en Ek het vir hulle vertel van U. Hulle was u mense. U het hulle vir My gegee, en hulle het gedoen wat U gesê het hulle moet doen. Hulle weet nou dat alles wat U vir My gegee het, van U kom. Wat U vir My gesê het, het Ek vir hulle gesê. Hulle het dit gehoor en hulle het geweet dit is waar dat Ek van U kom. Ja, hulle het geglo dat U My na die wêreld gestuur het. “Ek bid vir die mense wat U vir My gegee het, Ek bid nie vir die mense van die wêreld nie. Ja, Ek bid vir die mense wat U vir My gegee het, want hulle behoort aan U. Alles en almal wat aan My behoort, behoort ook aan U. Alles en almal wat aan U behoort, behoort ook aan My. Hulle wys dat Ek God is. Ek sal nie meer lank op die aarde wees nie, maar hulle sal op die aarde wees, en Ek kom na U toe. “ Heilige Vader, U het u Naam vir My gegee. Daarom vra Ek dat U hulle moet beskerm met u Naam. Dan kan hulle saamwerk soos Ek en U saamwerk. Toe Ek by hulle was, het Ek u Naam gebruik om hulle te beskerm, die Naam wat U vir My gegee het. Ek het hulle opgepas en hulle het nie verlore gegaan nie. Net een van hulle het verlore gegaan, en hy móés verlore gaan. So het dit waar geword wat in die Ou Testament geskryf is. Nou gaan Ek na U toe. Ek bid al hierdie dinge terwyl Ek nog op die aarde is, want Ek wil die mense bly maak wat U vir My gegee het. Ek wil hulle regtig baie bly maak. “Ek het vir hulle vertel wat U vir My gesê het, en die mense van die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie aan die wêreld behoort nie. Ek behoort ook nie aan die wêreld nie. Ek vra nie dat U hulle moet wegneem uit die wêreld nie. Ek vra dat U hulle moet beskerm teen die duiwel. Hulle behoort nie aan die wêreld nie, soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie. “Wat U sê, is die waarheid. Gebruik die waarheid om hulle aan U te wy. U het My na die mense van die wêreld gestuur. So het Ek die mense wat U vir My gegee het, ook na die mense van die wêreld gestuur. Ek wy Myself aan U, Ek word 'n offer sodat die mense kan lewe wat U vir My gegee het. Dan kan U die waarheid gebruik om hulle aan U te wy. “Ek bid nie net vir hierdie mense nie. Ek bid ook vir die ander mense wat in My sal glo omdat hierdie mense vir hulle sal vertel van My. Vader, Ek bid dat hulle almal sal saamwerk. Dan sal hulle by Ons wees soos U by My is en soos Ek by U is. Dan sal die mense van die wêreld glo dat U My na die wêreld gestuur het. U het gesê Ek is God, en so het Ek ook vir hulle die ewige lewe gegee. Daarom kan hulle saamwerk, soos Ons saamwerk. Ek sal by hulle wees en U sal by My wees. Dan sal hulle waarlik saamwerk en die mense van die wêreld sal weet U het My na die wêreld gestuur. Hulle sal ook weet U is lief vir die mense wat U vir My gegee het, U is lief vir hulle, soos U lief is vir My. “Vader, Ek gaan nou na die hemel. Ek wil graag hê die mense wat U vir My gegee het, moet ook daar saam met My wees. Dan kan hulle sien Ek is God. U het vir My hierdie eer gegee, want U was lief vir My, ook voordat die wêreld daar was. Regverdige Vader, die mense van die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en die mense wat U vir My gegee het, weet U het My na die wêreld gestuur. Ek het vir hulle vertel van U en Ek sal vir hulle nog meer vertel van U. Dan sal u liefde in hulle harte wees, die liefde wat U vir My het, en Ek sal by hulle wees.”

JOHANNES 17:1-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DIT het Jesus gespreek, en Hy het sy oë na die hemel opgehef en gesê: Vader, die uur het gekom; verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik — soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee. En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het. Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring. En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was. Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar. Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom. Want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee; en hulle het dit ontvang en waarlik erken dat Ek van U uitgegaan het, en hulle het geglo dat U My gestuur het. Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. En alles wat myne is, is uwe; en wat uwe is, is myne; en Ek is in hulle verheerlik. En Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is in die wêreld; en Ek kom na U toe. Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons. Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word. Maar nou kom Ek na U toe; en Ek spreek hierdie dinge in die wêreld, sodat hulle my blydskap volkome in hulle kan hê. Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid. Soos U my gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur. En Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees. Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo — dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is. Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het. Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld. Regverdige Vader, al het die wêreld U nie geken nie, tog het Ek U geken, en hulle hier het erken dat U My gestuur het. En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.

JOHANNES 17:1-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen. Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het. “Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord ter harte geneem. Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom; want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee. Hulle het dit aangeneem en tot die oortuiging gekom dat Ek waarlik van U gekom het, en hulle het geglo dat U My gestuur het. “Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik. Ek bly nie langer in die wêreld nie, maar hulle bly nog in die wêreld. Ek kom na U toe. “Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees. Toe Ek by hulle was, het Ek hulle in u Naam bewaar, die Naam wat U My gegee het. Ek het hulle beskerm, en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die een wat verlore moet gaan sodat die Skrif vervul kan word. “Maar nou kom Ek na U toe. En Ek sê dit terwyl Ek nog in die wêreld is, sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê. Ek het u woord aan hulle gegee, en die wêreld haat hulle, omdat hulle nie tot die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar. Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid. Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur; en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees. “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet. “Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het. “Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle hier weet dat U My gestuur het. Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.”

JOHANNES 17:1-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Jesus het hierdie dinge gesê, en toe sy oë na die hemel opgerig en gesê: “Vader, die uur het aangebreek. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik – net soos U aan Hom gesag oor die hele mensdom gegee het, sodat Hy aan elkeen wat U aan Hom gegee het, die ewige lewe kan gee. En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het – Jesus Christus. Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U aan My gegee het om te doen. En nou, Vader, verheerlik My by U met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het. “Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord gehoorsaam. Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom. Die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee, en hulle het dit aanvaar en werklik besef dat Ek van U af gekom het. En hulle het geglo dat U My gestuur het. “Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir hulle wat U aan My gegee het, omdat hulle aan U behoort. En alles wat myne is, behoort aan U, en wat aan U behoort, is myne, en in hulle is Ek verheerlik. Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is nog in die wêreld, en Ek kom na U. Heilige Vader, bewaar hulle wat U aan My gegee het in u Naam, sodat hulle, net soos Ons, een kan wees. Toe Ek by hulle was, het Ek hulle wat U aan My gegee het, in u Naam bewaar. Ek het hulle ook beskerm; en niemand van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word. Maar nou kom Ek na U. Ek sê hierdie dinge terwyl Ek in die wêreld is, sodat hulle my blydskap volkome in hulle kan hê. Ek het aan hulle u woorde gegee; maar die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Heilig hulle deur die waarheid – u woorde is die waarheid. Net soos U My in die wêreld ingestuur het, so het Ek ook hulle in die wêreld ingestuur. En ter wille van hulle heilig Ek Myself, sodat hulle ook deur die waarheid geheilig kan wees. “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde in My glo, dat hulle almal een kan wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, en dat hulle ook in Ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. En Ek het die heerlikheid wat U aan My gegee het, aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is: Ek in hulle en U in My, sodat hulle volledig een kan wees en die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefgehad het, net soos U My liefgehad het. Vader, Ek wil hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My kan wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het, omdat U My van voor die grondlegging van die wêreld liefgehad het. •Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle weet dat U My gestuur het. En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.”

JOHANNES 17:1-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Hierdie woorde het Jesus gespreek en sy oë na die hemel opgeslaan en gesê: Vader, die uur het gekom; verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik. Soos U hom mag gegee het oor alle vlees, sodat hy die ewige lewe kan gee aan almal as wat U hom gegee het. En dit is die ewige lewe, dat hulle U kan ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat U gestuur het. Ek het U op die aarde verheerlik; Ek het die werk voltooi wat U My gegee het om te doen. En nou, o Vader, verheerlik U My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het. Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het; en hulle het u woord bewaar. Nou het hulle geweet dat alles wat U My gegee het, van U is. Want Ek het aan hulle die woorde gegee wat U My gegee het; en hulle het hulle aangeneem en sekerlik geweet dat Ek van U uitgegaan het, en hulle het geglo dat U My gestuur het. Ek bid vir hulle: Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het; want hulle is joune. En alles wat myne is, is joune, en joune is myne; en Ek is in hulle verheerlik. En nou is Ek nie meer in die wêreld nie, maar hulle is in die wêreld, en Ek kom na jou toe. Heilige Vader, bewaar in u Naam dié wat U My gegee het, sodat hulle net soos ons een kan wees. Terwyl Ek by hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar; die wat U My gegee het, het Ek bewaar, en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf; sodat die Skrif vervul kan word. En nou kom ek na jou toe; en hierdie dinge spreek Ek in die wêreld, sodat hulle my blydskap in hulleself vervul kan hê. Ek het u woord aan hulle gegee; en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die bose moet bewaar. Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Heilig hulle deur u waarheid; u woord is waarheid. Soos U My na die wêreld gestuur het, so het Ek hulle ook na die wêreld gestuur. En ter wille van hulle heilig Ek Myself, sodat hulle ook deur die waarheid geheilig kan word. Ek bid ook nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo; Sodat hulle almal een mag wees; soos U, Vader, in My is en Ek in U, sodat hulle ook in ons een kan wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. En die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee; sodat hulle een kan wees, net soos ons een is: Ek in hulle, en jy in My, sodat hulle in een volmaak kan word; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefgehad het soos U My liefgehad het. Vader, Ek wil dat hulle wat U My gegee het, ook by My sal wees waar Ek is; dat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, want U het My liefgehad voor die grondlegging van die wêreld. O regverdige Vader, die wêreld het U nie geken nie, maar Ek het U geken, en hulle het geweet dat U My gestuur het. En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit verkondig, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het in hulle kan wees, en Ek in hulle.

JOHANNES 17:1-26 Die Boodskap (DB)

So het Jesus met sy dissipels gepraat. Daarna het Hy sy oë toegemaak en gebid: “Vader, dis tyd! Laat die wêreld nou sien hoe belangrik u Seun regtig is. Op dié manier sal hulle ook agterkom hoe belangrik U is. U het mos vir My volle beheer gegee oor elke mens. Maar U het ook sekere mense spesiaal op my pad gebring. Vir hulle het Ek die lewe gegee wat ewig duur. So moet ’n mens hierdie ewige lewe verstaan. Dit behels dat jy ’n lid word van die familie van die enigste ware God. Jesus Christus, vir wie God gestuur het om mens te wees, is ook lid van dié familie. In die familie van God leer ’n mens God en Jesus baie goed ken, met alles wat dit vir jou beteken. Mense kan sien hoe groot en belangrik U is, Vader, deur te kyk na wat Ek doen. Ek het alles presies gedoen soos U gevra het. Nou is Ek klaar daarmee. Vader, laat My asseblief weer in belangrikheid staan waar Ek hoort, by U. Daardie belangrike plek by U was Myne nog voor die aarde daar was. “Ek het vir die mense duidelik kom uitspel wie U is. Ek praat van die mense wat eintlik nog van altyd af u s’n was. U het hulle nou vir My gegee om na te kyk. Hulle is baie ernstig oor wat U vir hulle wil sê. Hulle besef ook baie goed dat U en Ek in ’n span saamwerk en Ek weet wat U alles vir My gegee het. Toe Ek met hulle praat, het hulle dadelik geweet dat dit u boodskap is wat hulle hoor. Daarom het hulle dit aangegryp. Daar was toe geen twyfel meer by hulle dat Ek van U af kom nie. Hulle weet dat U My na hulle toe gestuur het.” “Ek bid vir hulle! Ek bid vir elkeen wat U vir My gegee het om na te kyk. Hulle behoort immers aan U. Oor hulle wil Ek nou met U praat en nie oor al die ander mense in die wêreld nie. Ons is mos soos een groot familie. Hulle lê My net so na aan die hart as vir U en U gee net soveel om vir hulle as Ek. Hulle sal vir mense vertel hoe belangrik Ek is. Ek gaan mos nou nie meer langer fisiek hier op die aarde bly nie. Ek is op pad terug na U toe, maar hulle gaan fisiek hier op die aarde agterbly. Vader, daar is niemand soos U nie. Daarom vra Ek U, kyk asseblief na hierdie mense wat Ek tot nou toe versorg het. U het die gesag om hulle te beskerm. Die gevolg sal wees dat hulle soos een man sal saamwerk, net soos U en Ek saamwerk. Toe Ek by hulle was, het Ek mooi gekyk na die mense wat U aan My gegee het om na te kyk. Ek het hulle soos goud opgepas. Nie een van hulle het die spoor byster geraak nie. (Ek praat natuurlik nie van Judas wat hand om die lyf met Satan loop nie. Dat hy sou afdwaal, het die Skrif lankal gesê.) Ek is nou op pad terug na U toe. Daarom gesels Ek met my volgelinge oor al hierdie dinge terwyl Ek nog by hulle is. Dan kan hulle saam met My bly wees oor alles wat gebeur. Ek het hulle alles vertel wat U wou gehad het hulle moet weet. Die ongelowige mense hou natuurlik niks van hulle nie. Gelowiges is mos nie soos ongelowiges nie. Hulle is anders as die sondige mense van hierdie wêreld, net soos Ek anders is. Ek vra nie dat U hulle van die sondige mense af weghou nie. Net so min as wat Ek my wil ophou met die dinge van die sondige mense, sal hulle dit wil doen. Hulle is nie soos die sondige mense nie. Wat Ek wel vra, is dat U hulle uit die grypende kloue van die duiwel en al sy boosheid sal hou. Laat hulle besef dat hulle spesiaal aan U behoort omdat hulle in niks anders as die waarheid belangstel nie. “Hulle weet wat die waarheid is, want hulle ken u boodskap. Daarom stuur Ek hulle na die sondige mense in die wêreld toe met daardie boodskap. “Ek stuur hulle met dieselfde doel en opdrag as waarmee U My gestuur het. Ek wy My nou geheel en al aan U toe sodat hulle daarby kan baat vind. Hulle sal dan ook geheel en al aan U toegewy wees omdat hulle hulle bes probeer vir wat waar en eg is.” “Ek bid nie net vir hierdie volgelinge van My nie. Ek stuur hulle mos om met mense oor My te gaan praat. Van daardie mense sal my volgelinge se boodskap aanvaar en hulle aan my kant kom skaar. Vir hulle bid Ek ook! Vader, gee dat hulle in lojaliteit teenoor mekaar soos een man sal saamstaan. Vader, U weet hoe heg en intiem ons verhouding met Mekaar is. Ons belange, denke en dade is totaal een. Gee asseblief dat hulle verhouding onder mekaar en veral met Ons net so heg en intiem sal wees. As die mense in hierdie wêreld sien hoe die gelowiges saamstaan en saamwerk, sal hulle oë daarvoor begin oopgaan dat U My na hulle toe gestuur het. Ek sal vir hierdie volgelinge van My dieselfde status gee as wat U vir My gegee het. Dit sal hulle in ’n span saamsnoer net soos Ons in ’n span saamwerk. My verhouding met hulle sal My op ’n baie hegte manier deel maak van die eenheid wat onder hulle bestaan. Ek sal so lojaal teenoor hulle wees as wat U teenoor My is. Dit alles beteken dat hulle foutloos, ja, volmaak, in hierdie eenheid saamgesnoer sal wees. Gevolglik sal die mense besef dat U My gestuur het. Hulle sal sien dat U my volgelinge net so liefhet soos U My liefhet. “Vader, Ek wil so graag my volgelinge hier by My hê. Hulle moet wees waar Ek is. U het mos gesê dat Ek na hulle moet kyk. Laat hulle tog sien watter wonderlike en belangrike status U My gegee het. U het dit gedoen omdat U My liefgehad het nog voordat die aarde gemaak is. Vader, U doen wat reg en regverdig is. Die ongelowige mense weet nie wie U is nie en steur hulle ook nie aan U nie. Dit is so anders as Ek wat U goed ken. My volgelinge weet dat U My na hulle toe gestuur het. Ek het hulle mooi vertel wie en hoe U presies is, en Ek is nog nie klaar nie; Ek sal nog verder met hulle daaroor praat. Dan sal hulle iets van u liefde begryp. Hulle sal verstaan hoe lief U My het en wat dit beteken. Dit alles sal deel word van hulle lewe soos Ek deel van hulle lewe is.”

JOHANNES 17:1-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus het hierdie dinge gesê, en toe sy oë hemelwaarts gerig en gesê: “Vader, die uur het aangebreek. Verheerlik u Seun sodat die Seun U kan verheerlik. U het aan die Seun volmag gegee oor die hele mensdom om aan almal wat U aan Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En die inhoud van die ewige lewe is dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat U gestuur het. Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U My gegee het om te doen. Verheerlik My dan nou ook by Uself, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het nog voordat die wêreld bestaan het. “Ek het u Naam bekendgemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle was U s’n en U het hulle aan My toevertrou en hulle het u boodskap gehoorsaam uitgevoer. Hulle besef nou dat alles wat U My gegee het van U af kom, want die woorde wat U My gegee het, het Ek net so aan hulle oorgedra. Hulle het dit aanvaar en besef dat Ek regtig van U af gekom het en hulle het vas geglo dat U My gestuur het. Ek tree vir hulle in. Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir dié mense wat U aan My gegee het omdat hulle U s’n is. Alles wat Myne is, is ook U s’n, en wat U s’n is, behoort ook aan My, en Ek is deur hulle verheerlik. Ek is nie langer in hierdie wêreld nie, maar hulle is nog in hierdie wêreld. Ek is op pad na U toe. Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam wat U aan My gegee het sodat hulle net soos Ons een kan wees. Toe Ek nog by hulle was, het Ek hulle in u Naam bewaar; dit is die Naam wat U aan My gegee het. Ek het hulle ook beskerm en niemand van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die één wat vir vernietiging bestem is, sodat die Skrif vervul sou word. “Ek is nou na U toe op pad. Ek sê hierdie dinge terwyl Ek nog in die wêreld is sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulleself kan ondervind. Ek het u boodskap aan hulle oorgedra, maar die wêreld het hulle gehaat omdat hulle nie aan die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie. Ek vra nie dat U hulle uit die wêreld verwyder nie, maar dat U hulle van die kwaad moet bewaar. Hulle behoort nie aan die wêreld nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie. Laat hulle aan U toegewy wees deur ’n hegte verbintenis aan die waarheid. U woord is die waarheid. Net soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur. En ter wille van hulle wy Ek Myself aan U toe sodat hulle ook deur ’n hegte verbintenis aan die waarheid aan U toegewy kan wees. “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat op grond van hulle boodskap nog in My sal glo. Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in ’n hegte verhouding met My en Ek met U is; dat hulle ook in ’n hegte verhouding met Ons mag leef sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. En Ek het die heerlikheid wat U aan My gegee het, ook aan hulle gegee sodat hulle een kan wees net soos Ons een is. Dit beteken dat Ek in ’n hegte verhouding met hulle en U met My moet leef, sodat hulle ten volle een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en dat U hulle liefhet net soos U My liefhet. “Vader, Ek wil graag hê dat dié mense wat U aan My gegee het, ook saam met My moet wees waar Ek is sodat hulle my heerlikheid kan sien, dié heerlikheid wat U aan My gegee het omdat U My voor die skepping van die wêreld liefgehad het. “Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U en hulle hier weet dat U My gestuur het. Ek het u Naam aan hulle bekendgemaak en Ek sal dit nog verder bekendmaak sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle mag leef en Ek ook in ’n hegte verhouding met hulle mag leef.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid