JOHANNES 17:1-11

JOHANNES 17:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het dit alles vir die dissipels gesê, en daarna het Hy opgekyk na die hemel en gebid. Hy het gebid: “Vader, die tyd het nou gekom. Nou moet U vir die mense wys dat Ek ook God is. Dan kan Ek ook weer vir die mense wys dat U God is. U het gesê Ek regeer oor al die mense. Daarom kan Ek die ewige lewe gee vir die mense wat U vir My gegee het. As hulle die ewige lewe het, dan beteken dit hulle ken U, die enigste ware God, en hulle ken My, Jesus Christus, U het My na die wêreld gestuur. “Toe Ek op die aarde was, het Ek vir die mense gewys dat U God is, want U het vir My werk gegee om te doen, en Ek het die werk klaar gedoen. Vader, nou moet U My na U toe neem. Dit sal vir die mense wys dat Ek ook God is. U moet vir hulle wys dat Ek by U was en dat Ek ook God was voordat die wêreld daar was. “U het party van die mense in die wêreld vir My gegee, en Ek het vir hulle vertel van U. Hulle was u mense. U het hulle vir My gegee, en hulle het gedoen wat U gesê het hulle moet doen. Hulle weet nou dat alles wat U vir My gegee het, van U kom. Wat U vir My gesê het, het Ek vir hulle gesê. Hulle het dit gehoor en hulle het geweet dit is waar dat Ek van U kom. Ja, hulle het geglo dat U My na die wêreld gestuur het. “Ek bid vir die mense wat U vir My gegee het, Ek bid nie vir die mense van die wêreld nie. Ja, Ek bid vir die mense wat U vir My gegee het, want hulle behoort aan U. Alles en almal wat aan My behoort, behoort ook aan U. Alles en almal wat aan U behoort, behoort ook aan My. Hulle wys dat Ek God is. Ek sal nie meer lank op die aarde wees nie, maar hulle sal op die aarde wees, en Ek kom na U toe. “ Heilige Vader, U het u Naam vir My gegee. Daarom vra Ek dat U hulle moet beskerm met u Naam. Dan kan hulle saamwerk soos Ek en U saamwerk.

JOHANNES 17:1-11 Die Boodskap (DB)

So het Jesus met sy dissipels gepraat. Daarna het Hy sy oë toegemaak en gebid: “Vader, dis tyd! Laat die wêreld nou sien hoe belangrik u Seun regtig is. Op dié manier sal hulle ook agterkom hoe belangrik U is. U het mos vir My volle beheer gegee oor elke mens. Maar U het ook sekere mense spesiaal op my pad gebring. Vir hulle het Ek die lewe gegee wat ewig duur. So moet ’n mens hierdie ewige lewe verstaan. Dit behels dat jy ’n lid word van die familie van die enigste ware God. Jesus Christus, vir wie God gestuur het om mens te wees, is ook lid van dié familie. In die familie van God leer ’n mens God en Jesus baie goed ken, met alles wat dit vir jou beteken. Mense kan sien hoe groot en belangrik U is, Vader, deur te kyk na wat Ek doen. Ek het alles presies gedoen soos U gevra het. Nou is Ek klaar daarmee. Vader, laat My asseblief weer in belangrikheid staan waar Ek hoort, by U. Daardie belangrike plek by U was Myne nog voor die aarde daar was. “Ek het vir die mense duidelik kom uitspel wie U is. Ek praat van die mense wat eintlik nog van altyd af u s’n was. U het hulle nou vir My gegee om na te kyk. Hulle is baie ernstig oor wat U vir hulle wil sê. Hulle besef ook baie goed dat U en Ek in ’n span saamwerk en Ek weet wat U alles vir My gegee het. Toe Ek met hulle praat, het hulle dadelik geweet dat dit u boodskap is wat hulle hoor. Daarom het hulle dit aangegryp. Daar was toe geen twyfel meer by hulle dat Ek van U af kom nie. Hulle weet dat U My na hulle toe gestuur het.” “Ek bid vir hulle! Ek bid vir elkeen wat U vir My gegee het om na te kyk. Hulle behoort immers aan U. Oor hulle wil Ek nou met U praat en nie oor al die ander mense in die wêreld nie. Ons is mos soos een groot familie. Hulle lê My net so na aan die hart as vir U en U gee net soveel om vir hulle as Ek. Hulle sal vir mense vertel hoe belangrik Ek is. Ek gaan mos nou nie meer langer fisiek hier op die aarde bly nie. Ek is op pad terug na U toe, maar hulle gaan fisiek hier op die aarde agterbly. Vader, daar is niemand soos U nie.