JOHANNES 15:6-15
JOHANNES 15:6-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos 'n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.” “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly. “Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want 'n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.
JOHANNES 15:6-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
As iemand nie in My bly nie, word hy soos 'n loot buite uitgegooi, en verdroog. Hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. As julle in My bly, en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur. Hierdeur word my Vader verheerlik, dat julle baie vrug dra en my dissipels kan wees.” “Net soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Bly dan in my liefde. As julle my gebooie onderhou, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader gehoorsaam het en in sy liefde bly. Dit het Ek vir julle gesê, sodat my blydskap in julle kan wees, en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my gebod: Julle moet mekaar liefhê, net soos Ek julle liefgehad het. Groter liefde as dit het niemand nie, dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende. Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer slawe nie, omdat 'n slaaf nie weet wat sy eienaar doen nie. Ek het julle egter vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.
JOHANNES 15:6-15 Bybel vir almal (ABA)
As mense nie by My bly nie, dan sal met hulle gebeur wat met lote gebeur wat nie vrugte dra nie. Die mense gooi daardie lote weg, en dit word droog. Later vat hulle dit en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. Julle moet by My bly, en die dinge wat Ek vir julle sê, moet in julle harte bly. Dan kan julle vir My vra wat julle wil hê en Ek sal dit vir julle gee. As julle baie vrugte dra, en as julle my dissipels is, dan sal die mense weet my Vader is God. “Die Vader is lief vir My. So is Ek ook lief vir julle. Julle moet vashou aan my liefde, my liefde moet vir julle baie belangrik wees. Ek het vasgehou aan my Vader se liefde, want Ek het gedoen wat Hy gesê het. Julle moet dieselfde doen. As julle wil doen wat Ek sê, dan moet julle vashou aan my liefde. Ek sê dit vir julle, want Ek wil hê julle moet so bly wees soos Ek. Dan sal julle regtig baie bly wees. Ek het vir julle gewys hoe lief Ek vir julle is. Nou gee Ek vir julle 'n wet: Julle moet ook so lief wees vir mekaar. Die beste bewys van liefde is wanneer iemand vir sy vriende sterf sodat sy vriende kan lewe. Julle is my vriende as julle doen wat Ek sê. Ek noem julle nie meer slawe nie, want 'n slaaf weet nie wat sy eienaar doen nie. Ek noem julle vriende, want Ek het vir julle alles vertel wat Ek by my Vader gehoor het.
JOHANNES 15:6-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry. Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees. Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My. As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly. Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word. Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het. Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee. Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.
JOHANNES 15:6-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos 'n loot en verdroog; en mense maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en hulle word verbrand. As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra wat julle wil, en julle sal dit kry. Hierin word my Vader verheerlik, dat julle baie vrug dra; so sal julle my dissipels wees. Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad: bly in my liefde. As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly; net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar het en in sy liefde bly. Hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê soos Ek julle liefgehad het. Niemand het groter liefde as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende aflê. Julle is my vriende, as julle alles doen wat Ek julle beveel. Van nou af noem ek julle nie diensknegte nie; want die dienskneg weet nie wat sy heer doen nie; maar ek het julle vriende genoem; want alles wat Ek van my Vader gehoor het, het Ek aan julle bekend gemaak.
JOHANNES 15:6-15 Die Boodskap (DB)
Iemand wat op sy eie, sonder My, wil leef, sal uitvind dat hy dit nie kan doen nie. Hy sal soos ’n los, afgesnyde takkie in die vuur gegooi word. Saam met die ander takkies soos hy sal hulle daar tot as verbrand. “Maar julle, as julle altyd naby aan My bly soos ’n takkie wat aan ’n druiwestok vasgegroei is en getrou doen wat Ek vra, is daar vir julle regtig goeie nuus. “Julle kan maar in gebed vra wat julle nodig het om goeie, vrugbare takkies te wees, want julle sal dit kry. “En wat van my Vader, die boer? Wel, as my invloed net al meer in julle lewe gesien kan word, sal Hy tevrede wees.” “As julle My getrou volg, sal die wêreld God werklik raaksien vir wie Hy is. “Ek het julle net so lief soos die Vader My liefhet. Wikkel julle elke oomblik van die dag in hierdie liefde van My toe. Julle vra: Hoe kry ’n mens dit reg? As julle doen wat Ek vra en dit goed doen, wys julle hoe julle my liefde vir julle waardeer en geniet. Ek doen dit self. Ek doen wat my Vader vra omdat Ek sy liefde vir My so waardeer. “Weet julle hoekom sê Ek al hierdie dinge vir julle? Ek wil hê julle moet dieselfde vreugde en genot hê as Ek. Daar moet geen einde aan wees nie. Die geheim daarvoor is dit: Ek wil hê dat julle mekaar moet liefhê, net soos Ek julle liefhet. En hierdie liefde is nie net iets oppervlakkigs nie. As jy regtig jou liefde wil ‘toets’, toets dit hieraan: liefde beteken om bereid te wees om doodgemaak te word ter wille van jou vriende, net omdat hulle jou vriende is. Julle is my vriende; julle almal wat leef soos Ek van julle verwag. Ons verhouding is nie soos die een tussen ’n werker en sy baas nie. Die werker ken mos normaalweg nie die baas persoonlik so goed dat hy alles weet wat die baas dink of beplan nie. Nee, ons verhouding is baie anders. Ons is soos vriende onder mekaar. Vriende steek niks vir mekaar weg nie. Daarom het Ek alles wat die Vader vir My gesê het net so vir julle vertel. Dit is belangrik om te weet hoe Ek oor ons verhouding voel.
JOHANNES 15:6-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wie nie aan My verbind bly nie, word weggegooi soos ’n loot en verdroog. Hulle maak gewoonlik sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur en dit verbrand. As julle aan My verbind bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. Dit is juis hierin dat my Vader verheerlik word, dat julle baie vrugte oplewer en my dissipels is. “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet aan my liefde verbonde bly. As julle my opdragte gehoorsaam, sal julle aan my liefde verbonde bly, net soos Ek ook die opdragte van my Vader gehoorsaam het en aan sy liefde verbonde gebly het. Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het. Niemand het ’n groter liefde as hierdie nie: dat iemand sy lewe opoffer ter wille van sy vriende. Julle is my vriende as julle doen wat Ek aan julle opdra. Ek noem julle nie meer slawe nie, want ’n slaaf weet nie wat sy eienaar doen nie. Julle noem Ek lankal vriende, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle verduidelik het.