JOHANNES 15:17-19
JOHANNES 15:17-19 Bybel vir almal (ABA)
Ek sê vir julle: Julle moet lief wees vir mekaar.” Jesus het ook vir die dissipels gesê: “As die mense van die wêreld julle haat, dan moet julle onthou hulle het My gehaat voordat hulle julle gehaat het. As julle mense is wat lief is vir die wêreld, dan sal die ander mense van die wêreld lief wees vir julle, want dan is julle soos hulle. Maar julle is nie mense van die wêreld nie. Ek het julle gekies uit die mense van die wêreld. Daarom haat die mense van die wêreld julle.
JOHANNES 15:17-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê. As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.
JOHANNES 15:17-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!” “As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat. As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle.
JOHANNES 15:17-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê.” “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld julle as sy eie liefhê. Omdat julle egter nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, juis daarom haat die wêreld julle.
JOHANNES 15:17-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hierdie dinge beveel ek julle, dat julle mekaar moet liefhê. As die wêreld julle haat, weet julle dat hy my voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eie liefhê; maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.
JOHANNES 15:17-19 Die Boodskap (DB)
Onthou wat die verskil maak: julle moet mekaar liefhê.” Jesus het verder gegaan: “Mense wat nie Christene is nie, gaan die wêreld vir julle baie moeilik maak. Maar troos julle daaraan: hulle het dit al met My gedoen. Hulle hou net van mense wat soos hulle is en doen wat hulle doen. Julle is nie soos hulle nie. Julle behoort aan My. Ek het julle gekies om aan my kant te kom staan. Daarvan hou die ongelowiges niks en daarom gaan julle dit ontgeld.
JOHANNES 15:17-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek gee aan julle dié opdrag: julle moet mekaar liefhê.” “As die wêreld julle haat, weet net dat hy My voor julle reeds gehaat het. As julle uit die wêreld ontstaan het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie uit die wêreld ontstaan het nie, maar Ek julle uitgekies het uit die wêreld – daarom haat die wêreld julle.