JOHANNES 15:13-16
JOHANNES 15:13-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want 'n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra.
JOHANNES 15:13-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Niemand het ’n groter liefde as hierdie nie: dat iemand sy lewe opoffer ter wille van sy vriende. Julle is my vriende as julle doen wat Ek aan julle opdra. Ek noem julle nie meer slawe nie, want ’n slaaf weet nie wat sy eienaar doen nie. Julle noem Ek lankal vriende, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle verduidelik het. Dit is nie julle wat My uitgekies het nie, maar Ek wat julle uitgekies het om julle in staat te stel om te gaan vrugte dra, vrugte wat sal hou. Só sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra.
JOHANNES 15:13-16 Bybel vir almal (ABA)
Die beste bewys van liefde is wanneer iemand vir sy vriende sterf sodat sy vriende kan lewe. Julle is my vriende as julle doen wat Ek sê. Ek noem julle nie meer slawe nie, want 'n slaaf weet nie wat sy eienaar doen nie. Ek noem julle vriende, want Ek het vir julle alles vertel wat Ek by my Vader gehoor het. Julle het My nie gekies nie, Ek het julle gekies. Ja, Ek het julle gekies en aangestel om vrugte te dra, vrugte wat nie sleg word nie. Dan sal die Vader vir julle alles gee as julle dit vra omdat julle aan My behoort.
JOHANNES 15:13-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee. Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.
JOHANNES 15:13-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Groter liefde as dit het niemand nie, dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende. Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer slawe nie, omdat 'n slaaf nie weet wat sy eienaar doen nie. Ek het julle egter vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrug te dra, vrug wat blywend is, sodat, wat julle die Vader in my Naam vra, Hy dit aan julle mag gee.
JOHANNES 15:13-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Niemand het groter liefde as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende aflê. Julle is my vriende, as julle alles doen wat Ek julle beveel. Van nou af noem ek julle nie diensknegte nie; want die dienskneg weet nie wat sy heer doen nie; maar ek het julle vriende genoem; want alles wat Ek van my Vader gehoor het, het Ek aan julle bekend gemaak. Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en julle vrug kan bly; sodat alles wat julle van die Vader in my Naam vra, Hy dit vir julle kan gee.
JOHANNES 15:13-16 Die Boodskap (DB)
As jy regtig jou liefde wil ‘toets’, toets dit hieraan: liefde beteken om bereid te wees om doodgemaak te word ter wille van jou vriende, net omdat hulle jou vriende is. Julle is my vriende; julle almal wat leef soos Ek van julle verwag. Ons verhouding is nie soos die een tussen ’n werker en sy baas nie. Die werker ken mos normaalweg nie die baas persoonlik so goed dat hy alles weet wat die baas dink of beplan nie. Nee, ons verhouding is baie anders. Ons is soos vriende onder mekaar. Vriende steek niks vir mekaar weg nie. Daarom het Ek alles wat die Vader vir My gesê het net so vir julle vertel. Dit is belangrik om te weet hoe Ek oor ons verhouding voel. Julle het Mý nie gekies nie. Dit was Ek wat julle gekies het. En Ek het julle met ’n doel gekies: julle moet ’n vrugbare lewe vir God gaan leef. Ja, julle moet ’n permanente verskil in hierdie wêreld gaan maak. Vra God om julle daarmee te help en Hy sal dit doen.