JOHANNES 15:12-15
JOHANNES 15:12-15 Bybel vir almal (ABA)
Ek het vir julle gewys hoe lief Ek vir julle is. Nou gee Ek vir julle 'n wet: Julle moet ook so lief wees vir mekaar. Die beste bewys van liefde is wanneer iemand vir sy vriende sterf sodat sy vriende kan lewe. Julle is my vriende as julle doen wat Ek sê. Ek noem julle nie meer slawe nie, want 'n slaaf weet nie wat sy eienaar doen nie. Ek noem julle vriende, want Ek het vir julle alles vertel wat Ek by my Vader gehoor het.
JOHANNES 15:12-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het. Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee. Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.
JOHANNES 15:12-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want 'n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.
JOHANNES 15:12-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit is my gebod: Julle moet mekaar liefhê, net soos Ek julle liefgehad het. Groter liefde as dit het niemand nie, dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende. Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer slawe nie, omdat 'n slaaf nie weet wat sy eienaar doen nie. Ek het julle egter vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.
JOHANNES 15:12-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê soos Ek julle liefgehad het. Niemand het groter liefde as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende aflê. Julle is my vriende, as julle alles doen wat Ek julle beveel. Van nou af noem ek julle nie diensknegte nie; want die dienskneg weet nie wat sy heer doen nie; maar ek het julle vriende genoem; want alles wat Ek van my Vader gehoor het, het Ek aan julle bekend gemaak.
JOHANNES 15:12-15 Die Boodskap (DB)
Ek wil hê dat julle mekaar moet liefhê, net soos Ek julle liefhet. En hierdie liefde is nie net iets oppervlakkigs nie. As jy regtig jou liefde wil ‘toets’, toets dit hieraan: liefde beteken om bereid te wees om doodgemaak te word ter wille van jou vriende, net omdat hulle jou vriende is. Julle is my vriende; julle almal wat leef soos Ek van julle verwag. Ons verhouding is nie soos die een tussen ’n werker en sy baas nie. Die werker ken mos normaalweg nie die baas persoonlik so goed dat hy alles weet wat die baas dink of beplan nie. Nee, ons verhouding is baie anders. Ons is soos vriende onder mekaar. Vriende steek niks vir mekaar weg nie. Daarom het Ek alles wat die Vader vir My gesê het net so vir julle vertel. Dit is belangrik om te weet hoe Ek oor ons verhouding voel.
JOHANNES 15:12-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het. Niemand het ’n groter liefde as hierdie nie: dat iemand sy lewe opoffer ter wille van sy vriende. Julle is my vriende as julle doen wat Ek aan julle opdra. Ek noem julle nie meer slawe nie, want ’n slaaf weet nie wat sy eienaar doen nie. Julle noem Ek lankal vriende, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle verduidelik het.