JOHANNES 15:1-14

JOHANNES 15:1-14 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het ook vir sy dissipels gesê: “Ek is die ware wingerdstok. My Vader is die druiweboer. Daar is party lote wat uit My groei maar wat niks vrugte dra nie. My Vader knip daardie lote af. Maar die lote wat vrugte dra, knip Hy net skoon sodat hulle nog meer vrugte kan dra. Julle is klaar skoon. Wat Ek vir julle gesê het, het julle skoongemaak. Julle moet by My bly soos Ek by julle bly. Julle moet onthou 'n loot alleen kan nie vrugte dra nie, dit moet aan die wingerdstok vas bly. Julle kan ook nie vrugte dra as julle nie by My bly nie. Ek is die wingerdstok. Julle is die lote. As julle by My bly en as Ek by julle bly, dan sal julle baie vrugte dra. As Ek nie by julle is nie, dan kan julle niks doen nie. As mense nie by My bly nie, dan sal met hulle gebeur wat met lote gebeur wat nie vrugte dra nie. Die mense gooi daardie lote weg, en dit word droog. Later vat hulle dit en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. Julle moet by My bly, en die dinge wat Ek vir julle sê, moet in julle harte bly. Dan kan julle vir My vra wat julle wil hê en Ek sal dit vir julle gee. As julle baie vrugte dra, en as julle my dissipels is, dan sal die mense weet my Vader is God. “Die Vader is lief vir My. So is Ek ook lief vir julle. Julle moet vashou aan my liefde, my liefde moet vir julle baie belangrik wees. Ek het vasgehou aan my Vader se liefde, want Ek het gedoen wat Hy gesê het. Julle moet dieselfde doen. As julle wil doen wat Ek sê, dan moet julle vashou aan my liefde. Ek sê dit vir julle, want Ek wil hê julle moet so bly wees soos Ek. Dan sal julle regtig baie bly wees. Ek het vir julle gewys hoe lief Ek vir julle is. Nou gee Ek vir julle 'n wet: Julle moet ook so lief wees vir mekaar. Die beste bewys van liefde is wanneer iemand vir sy vriende sterf sodat sy vriende kan lewe. Julle is my vriende as julle doen wat Ek sê.

JOHANNES 15:1-14 Die Boodskap (DB)

“Laat Ek ’n beeld gebruik om die verhouding tussen My, my Vader en my volgelinge te verduidelik. Stel julle voor my Vader is ’n druiweboer. Ek kan dan vergelyk word met ’n spesiale druiwestok. My Vader bewerk die wingerd goed en hou die lote wat uit die druiwestok groei goed dop. As daar takkies is wat net groei, maar nie ’n enkele druiwetros dra nie, sny Hy dit af. Die takkies wat druiwetrossies maak, versorg Hy mooi. Hy snoei hulle en maak hulle skoon sodat daar baie plek vir die druiwetrossies is. Julle is soos daardie mooi versorgde takkies. My boodskap was soos ’n snoeiskêr wat julle mooi skoon gesny het. “Niks moet ons van mekaar skei nie! Julle moet baie naby aan My bly, soos takkies wat aan die druiwestok vasgegroei is. Ek sal net so naby aan julle bly  - soos ’n druiwestok wat vasgegroei is aan sy takkies. ’n Takkie kan mos nie druiwe dra as dit eenkant lê en nie aan die druiwestok vas is nie. Net so het julle My nodig om ’n goeie, vrugbare lewe te kan lei. “Stel julle dit goed voor: Ek is soos die druiwestok; julle is soos die takkies. Sonder die druiwestok beteken die takkies tog niks nie. Net so beteken julle ook niks sonder My nie. Leef elke oomblik van die dag in afhanklikheid van My. Ek sal dan elke oomblik by julle ook wees. So sal julle vir God ’n vrugbare lewe kan lei. Iemand wat op sy eie, sonder My, wil leef, sal uitvind dat hy dit nie kan doen nie. Hy sal soos ’n los, afgesnyde takkie in die vuur gegooi word. Saam met die ander takkies soos hy sal hulle daar tot as verbrand. “Maar julle, as julle altyd naby aan My bly soos ’n takkie wat aan ’n druiwestok vasgegroei is en getrou doen wat Ek vra, is daar vir julle regtig goeie nuus. “Julle kan maar in gebed vra wat julle nodig het om goeie, vrugbare takkies te wees, want julle sal dit kry. “En wat van my Vader, die boer? Wel, as my invloed net al meer in julle lewe gesien kan word, sal Hy tevrede wees.” “As julle My getrou volg, sal die wêreld God werklik raaksien vir wie Hy is. “Ek het julle net so lief soos die Vader My liefhet. Wikkel julle elke oomblik van die dag in hierdie liefde van My toe. Julle vra: Hoe kry ’n mens dit reg? As julle doen wat Ek vra en dit goed doen, wys julle hoe julle my liefde vir julle waardeer en geniet. Ek doen dit self. Ek doen wat my Vader vra omdat Ek sy liefde vir My so waardeer. “Weet julle hoekom sê Ek al hierdie dinge vir julle? Ek wil hê julle moet dieselfde vreugde en genot hê as Ek. Daar moet geen einde aan wees nie. Die geheim daarvoor is dit: Ek wil hê dat julle mekaar moet liefhê, net soos Ek julle liefhet. En hierdie liefde is nie net iets oppervlakkigs nie. As jy regtig jou liefde wil ‘toets’, toets dit hieraan: liefde beteken om bereid te wees om doodgemaak te word ter wille van jou vriende, net omdat hulle jou vriende is. Julle is my vriende; julle almal wat leef soos Ek van julle verwag.

JOHANNES 15:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Ek is die ware druiwestok en my Vader is die tuinier. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af. Elkeen wat egter vrugte oplewer, snoei Hy sodat dit nog meer vrugte kan dra. Julle is reeds skoon gesnoei deur die boodskap wat Ek met julle gedeel het. Julle moet aan My verbonde bly soos Ek aan julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as dit nie aan die druiwestok verbind bly nie, en só julle ook nie as julle nie aan My verbonde bly nie. “Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. Wie nie aan My verbind bly nie, word weggegooi soos ’n loot en verdroog. Hulle maak gewoonlik sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur en dit verbrand. As julle aan My verbind bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. Dit is juis hierin dat my Vader verheerlik word, dat julle baie vrugte oplewer en my dissipels is. “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet aan my liefde verbonde bly. As julle my opdragte gehoorsaam, sal julle aan my liefde verbonde bly, net soos Ek ook die opdragte van my Vader gehoorsaam het en aan sy liefde verbonde gebly het. Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het. Niemand het ’n groter liefde as hierdie nie: dat iemand sy lewe opoffer ter wille van sy vriende. Julle is my vriende as julle doen wat Ek aan julle opdra.

JOHANNES 15:1-14

JOHANNES 15:1-14 AFR83JOHANNES 15:1-14 AFR83