JOHANNES 14:6-11
JOHANNES 14:6-11 Bybel vir almal (ABA)
Jesus sê toe vir Tomas: “Ek is die pad, Ek is die waarheid, Ek is die lewe. Niemand kan by die Vader kom as hy nie in My glo nie. Julle ken My, daarom sal julle ook my Vader ken. Ja, julle ken Hom nou. Julle het Hom gesien.” Filippus het vir Jesus gesê: “Here, U moet asseblief vir ons die Vader wys. Dan sal ons tevrede wees.” Jesus het vir hom gesê: “Filippus, Ek was 'n lang tyd saam met julle. Ken jy My nie? Jy moet onthou: Wanneer iemand My gesien het, dan het hy die Vader gesien. Hoekom vra jy Ek moet vir julle die Vader wys? Glo jy nie Ek is by die Vader en die Vader is by My nie? Die woorde wat Ek sê, kom nie van Myself nie. Dit kom van die Vader wat by My is. Ja, Hy is besig om sy werk te doen. Julle moet My glo wanneer Ek sê Ek is by die Vader en die Vader is by My. As julle nie wil glo wat Ek sê nie, dan moet julle glo omdat julle gesien het wat Ek doen.
JOHANNES 14:6-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien. Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self.
JOHANNES 14:6-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.” Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’? Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen. Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self.
JOHANNES 14:6-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My leer ken het, sal julle ook my Vader ken. En van nou af ken julle Hom, en het Hom reeds gesien.” Filippus sê toe vir Hom: “Here, wys ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” Jesus sê vir hom: “Ek is al so 'n lang tyd by julle, en het jy My nie leer ken nie, Filippus? Wie My gesien het, het die Vader gesien. Waarom sê jy dan, ‘Wys ons die Vader?’ Glo jy dan nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek vir julle sê, sê Ek nie uit Myself nie, maar dit is die Vader wat in My bly en sy werke doen. Glo My dat Ek in die Vader en die Vader in My is; of glo dan op grond van die werke self.
JOHANNES 14:6-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Jesus sê vir hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het; en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien. Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. Jesus sê vir hom: Is Ek so lank by jou, en ken jy My nie, Filippus? wie My gesien het, het die Vader gesien; en hoe sê jy dan: Toon ons die Vader? Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. Glo My dat Ek in die Vader is en die Vader in My, anders glo My ter wille van die werke.
JOHANNES 14:6-11 Die Boodskap (DB)
Jesus sê toe: “Laat Ek dit so stel: Ek is die ‘pad’ en my Vader die ‘adres’. Wie hierdie pad loop, kom by die ware lewe uit. As iemand ’n ander pad loop, sal hy nooit by my Vader uitkom nie. “As julle regtig geweet het wie Ek is, sou julle ook geweet het wie my Vader is. Julle sal Hom nou leer ken en besef julle het Hom al gesien.” Filippus vra toe: “Here, waar’s die Vader? Wys Hom vir ons. Dan sal ons tevrede wees en niks verder vra nie.” “Ai, Filippus, Ek is al so lank by julle en nou nog weet julle nie wie Ek regtig is nie. Luister mooi. Wie My gesien het, het ook die Vader gesien. Hoe kan jy nou nog vra dat Ek julle die Vader moet wys? Glo julle nie dat Ek en die Vader soos een is nie? Waar Ek is, is Hy en waar Hy is, is Ek. Dink goed aan alles wat Ek al vir julle gesê het. Ek het dit nie so op my eie gesit en uitdink nie. Die Vader is by My en is deel van alles wat Ek doen. Wat Hy gedoen wil hê, doen Hy deur My. Dit moet julle aanvaar: Ek is in die Vader en die Vader is in My. Vind julle dit moeilik om te glo wat Ek sê? Wel, kyk dan na wat Ek doen. Oordeel maar self of dit van God af kom of nie. Glo dan op grond van wat julle sien.
JOHANNES 14:6-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie. As julle My ken, sou julle my Vader ook geken het. Van nou af ken julle Hom en het julle Hom reeds gesien.” Toe sê Filippus: “Here, wys ons net die Vader en dit is vir ons genoeg.” Jesus antwoord hom só: “Ek is al vir só ’n lang tyd by julle, Filippus, en jy ken My nog nie? Wie My reeds gesien het, het ook reeds my Vader gesien. Hoe sê jy dan: ‘Wys ons die Vader’? Glo jy dan nie dat Ek in ’n hegte verhouding met die Vader leef en Hy met My nie? Die gedagtes wat Ek met julle deel, kom nie uit Myself nie, maar dit kom van die Vader wat in My bly en deur My sy werke uitvoer. Glo in My omdat Ek in ’n hegte verhouding leef met die Vader en Hy met My; so nie, glo dan net op grond van hierdie werke self.