JOHANNES 14:1-12

JOHANNES 14:1-12 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het ook vir die dissipels gesê: “Julle moenie bekommerd wees nie! Julle moet in God glo en julle moet in My glo. Daar is baie plek om te woon in my Vader se huis. Ek praat die waarheid wanneer Ek sê Ek gaan na my Vader se huis om julle plek gereed te maak. Wanneer Ek gegaan het en julle plekke gereedgemaak het, dan sal Ek terugkom. Dan sal Ek julle saam met My neem sodat julle kan wees waar Ek is. Ek weet julle ken die pad na die plek waarnatoe Ek gaan.” Tomas het vir Hom gesê: “Here, ons weet nie waarnatoe U gaan nie. Daarom ken ons ook nie die pad daarnatoe nie.” Jesus sê toe vir Tomas: “Ek is die pad, Ek is die waarheid, Ek is die lewe. Niemand kan by die Vader kom as hy nie in My glo nie. Julle ken My, daarom sal julle ook my Vader ken. Ja, julle ken Hom nou. Julle het Hom gesien.” Filippus het vir Jesus gesê: “Here, U moet asseblief vir ons die Vader wys. Dan sal ons tevrede wees.” Jesus het vir hom gesê: “Filippus, Ek was 'n lang tyd saam met julle. Ken jy My nie? Jy moet onthou: Wanneer iemand My gesien het, dan het hy die Vader gesien. Hoekom vra jy Ek moet vir julle die Vader wys? Glo jy nie Ek is by die Vader en die Vader is by My nie? Die woorde wat Ek sê, kom nie van Myself nie. Dit kom van die Vader wat by My is. Ja, Hy is besig om sy werk te doen. Julle moet My glo wanneer Ek sê Ek is by die Vader en die Vader is by My. As julle nie wil glo wat Ek sê nie, dan moet julle glo omdat julle gesien het wat Ek doen. Ek sê vir julle, en dit is seker: Mense wat in My glo, sal dieselfde dinge doen wat Ek gedoen het. Ja, hulle sal meer doen, want Ek gaan nou na die Vader toe.

JOHANNES 14:1-12 Die Boodskap (DB)

“Moenie dat hierdie dinge julle te veel ontstel nie. Julle vertrou mos op God. Vertrou My ook. Skep moed! My Vader het ’n huis. Daar is meer as genoeg plek vir julle almal. Ek gaan om vir julle daar plek reg te maak. Dink julle een oomblik Ek sou dit gesê het as dit nie so was nie? As Ek alles vir julle reggekry het, kom Ek julle haal om by My te wees. Waar Ek is, sal julle dan ook wees. Julle weet eintlik goed waarheen Ek gaan en hoe om daar te kom.” “Met alle respek, Here,” sê Tomas, “ons ken nie eens die adres waarheen U gaan nie. Hoe op aarde sal ons dan weet watter pad om te vat?” Jesus sê toe: “Laat Ek dit so stel: Ek is die ‘pad’ en my Vader die ‘adres’. Wie hierdie pad loop, kom by die ware lewe uit. As iemand ’n ander pad loop, sal hy nooit by my Vader uitkom nie. “As julle regtig geweet het wie Ek is, sou julle ook geweet het wie my Vader is. Julle sal Hom nou leer ken en besef julle het Hom al gesien.” Filippus vra toe: “Here, waar’s die Vader? Wys Hom vir ons. Dan sal ons tevrede wees en niks verder vra nie.” “Ai, Filippus, Ek is al so lank by julle en nou nog weet julle nie wie Ek regtig is nie. Luister mooi. Wie My gesien het, het ook die Vader gesien. Hoe kan jy nou nog vra dat Ek julle die Vader moet wys? Glo julle nie dat Ek en die Vader soos een is nie? Waar Ek is, is Hy en waar Hy is, is Ek. Dink goed aan alles wat Ek al vir julle gesê het. Ek het dit nie so op my eie gesit en uitdink nie. Die Vader is by My en is deel van alles wat Ek doen. Wat Hy gedoen wil hê, doen Hy deur My. Dit moet julle aanvaar: Ek is in die Vader en die Vader is in My. Vind julle dit moeilik om te glo wat Ek sê? Wel, kyk dan na wat Ek doen. Oordeel maar self of dit van God af kom of nie. Glo dan op grond van wat julle sien. “Luister nou ’n bietjie hier: as iemand My vertrou, sal hy dieselfde dinge doen as wat Ek doen. Om die waarheid te sê, hy sal baie meer doen, want Ek gaan binnekort na my Vader toe.

JOHANNES 14:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Moenie ontsteld wees nie. Hou net aan om op God te vertrou en hou ook aan om op My te vertrou. In die huis van my Vader is daar baie kamers. As dit nie só was nie, sou Ek dit aan julle gesê het. Ek gaan soontoe om vir julle plek gereed te maak. En as Ek gegaan en vir julle plek ingerig het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is. Julle weet mos waarheen Ek gaan, en hoe om daar te kom.” Tomas sê vir Jesus: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die pad daarheen ken?” Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie. As julle My ken, sou julle my Vader ook geken het. Van nou af ken julle Hom en het julle Hom reeds gesien.” Toe sê Filippus: “Here, wys ons net die Vader en dit is vir ons genoeg.” Jesus antwoord hom só: “Ek is al vir só ’n lang tyd by julle, Filippus, en jy ken My nog nie? Wie My reeds gesien het, het ook reeds my Vader gesien. Hoe sê jy dan: ‘Wys ons die Vader’? Glo jy dan nie dat Ek in ’n hegte verhouding met die Vader leef en Hy met My nie? Die gedagtes wat Ek met julle deel, kom nie uit Myself nie, maar dit kom van die Vader wat in My bly en deur My sy werke uitvoer. Glo in My omdat Ek in ’n hegte verhouding leef met die Vader en Hy met My; so nie, glo dan net op grond van hierdie werke self. “Ek verseker julle, wie aanhou glo in My, sal ook die werke doen wat Ek doen; hy sal selfs nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe op pad is.

JOHANNES 14:1-12

JOHANNES 14:1-12 AFR83JOHANNES 14:1-12 AFR83JOHANNES 14:1-12 AFR83JOHANNES 14:1-12 AFR83JOHANNES 14:1-12 AFR83