JOHANNES 13:31-38
JOHANNES 13:31-38 Bybel vir almal (ABA)
Nadat Judas uitgegaan het, het Jesus gesê: “Nou wys God dat Ek, die Seun van die mens, ook God is. God gebruik My om te wys Hy is God. Ja, God gebruik My om te wys Hy is God. God self sal wys dat Ek ook God is. Hy sal nie lank wag nie, dan sal Hy dit doen. My liewe vriende, Ek sal nog net 'n kort tydjie by julle wees. Julle sal My soek, maar Ek sê nou vir julle wat Ek vir die Jode gesê het: Ek gaan na 'n plek, julle kan nie daarnatoe gaan nie. Ek gee nou vir julle 'n nuwe wet: Julle moet lief wees vir mekaar. Julle het gesien hoe lief Ek vir julle is. Daarom moet julle ook so lief wees vir mekaar. As julle lief is vir mekaar, dan sal al die mense weet julle is my dissipels.” Toe sê Simon Petrus vir Jesus: “Here, waarnatoe gaan U?” Jesus het vir hom gesê: “Jy kan nie nou saam met My kom nie. Jy sal later kom.” Petrus vra toe vir Hom: “Here, hoekom kan ek nie nou saam met U gaan nie? Ek sal sterf om U te beskerm!” Jesus het vir hom gesê: “Nee, Petrus, jy sê jy sal sterf om My te beskerm, maar Ek sê vir jou, en dit is seker: Voordat die haan môre-oggend kraai, sal jy drie maal sê jy ken nie vir My nie.”
JOHANNES 13:31-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe hy buite was, sê Jesus: Nou is die Seun van die mens verheerlik, en God is in Hom verheerlik. As God in Hom verheerlik is, sal God Hom ook in Homself verheerlik en Hy sal Hom dadelik verheerlik. My kinders, nog 'n klein tydjie is Ek by julle. Julle sal My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het: Waar Ek heengaan, kan julle nie kom nie — so sê Ek nou ook vir julle. 'n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het. Simon Petrus sê vir Hom: Here, waar gaan U heen? Jesus antwoord hom: Waar Ek heengaan, kan jy My nou nie volg nie, maar later sal jy My volg. Petrus sê vir Hom: Here, waarom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U gee. Jesus antwoord hom: Sal jy jou lewe vir My gee? Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, die haan sal sekerlik nie kraai voordat jy My drie maal verloën het nie.
JOHANNES 13:31-38 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Judas uit is, sê Jesus: “Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik. En aangesien God deur Hom verheerlik word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik. My kinders, Ek is nog net 'n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie. Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” Simon Petrus vra toe vir Hom: “Here, waarheen gaan U?” Jesus het hom geantwoord: “Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy My volg.” Toe sê Petrus vir Hom: “Here, hoekom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U aflê.” “Sal jy jou lewe vir My aflê?” vra Jesus. “Dít verseker Ek jou: Nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën.”
JOHANNES 13:31-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Nadat Judas uitgegaan het, het Jesus gesê: “Nou is die •Seun van die Mens verheerlik, en God is deur Hom verheerlik. As God deur Hom verheerlik is, sal God Hom ook in Homself verheerlik, en Hy sal Hom dadelik verheerlik. My kinders, Ek is nog net 'n kort tydjie by julle. Julle sal My soek, maar soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek ook nou vir julle: Waarheen Ek gaan, kan julle nie gaan nie. Ek gee julle 'n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het.” Simon •Petrus vra Hom toe: “Here, waarheen gaan U?” Jesus het hom geantwoord: “Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy volg.” Maar Petrus sê vir Hom: “Here, waarom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U aflê.” Toe antwoord Jesus: “Sal jy jou lewe vir My aflê? Amen, amen, Ek sê vir jou: Die haan sal beslis nie kraai voordat jy My drie keer verloën het nie.”
JOHANNES 13:31-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom, toe Hy uitgegaan het, sê Jesus: Nou is die Seun van die mens verheerlik, en God is in Hom verheerlik. As God in Hom verheerlik word, sal God Hom ook in Homself verheerlik en Hom dadelik verheerlik. Kindertjies, nog 'n klein rukkie is Ek by julle. Julle sal My soek, en soos Ek aan die Jode gesê het: Waar Ek gaan, kan julle nie kom nie; so nou sê ek vir jou. 'n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het. Simon Petrus sê vir Hom: Here, waar gaan U heen? Jesus antwoord hom: Waar Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie; maar jy sal my daarna volg. Petrus sê vir Hom: Here, waarom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe aflê ter wille van U. Jesus antwoord hom: Sal jy jou lewe ter wille van My aflê? Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, die haan sal nie kraai voordat jy My drie maal verloën het nie.
JOHANNES 13:31-38 Die Boodskap (DB)
Toe Judas by die deur uit is, sê Jesus: “Nou gaan die dinge begin gebeur. Julle sal sien hoe belangrik die Seun regtig is. Dan sal julle ook sien hoe groot en belangrik God is. Hierdie groot God gaan self vir julle wys hoe belangrik sy Seun is. En julle sal nie meer lank hoef te wag om dit te sien nie. My liewe vriende, my tydjie by julle raak nou min. Ek gaan weg en julle sal My soek, maar My nie kry nie. Julle sal nie kan kom waar Ek gaan nie. Ek het dit mos al vir die Jode gesê. Nou sê Ek dit vir julle ook. “Julle moet mekaar liefhê. Dit verwag Ek van julle. Kyk hoe lief het Ek julle. Laat dit vir julle die voorbeeld wees van hoe lief julle mekaar moet hê. “Hierdie liefde van julle moet as’t ware hard en duidelik ‘praat’. Mense moet daarna kyk en sê: ‘Kyk net, daar’s ’n volgeling van Jesus.’” Iets het Simon Petrus nog gepla. “Here, waarheen gaan U?” vra hy. “Petrus, jy kan nie nou al saam met My kom nie, maar wel later,” troos Jesus hom. Petrus was nie tevrede nie. “Here, hoekom kan ek nie nou al saamkom nie?” wou hy weet. “U weet U is vir my alles. Selfs al moet ek my lewe vir U gee, sal ek dit doen.” “Wat, Petrus? Sê jy jy is bereid om jou lewe vir My te gee? Ek het vir jou ’n verrassing. Voor die haan môreoggend vroeg kraai, sal jy al drie maal vurig ontken het dat jy iets van My weet, wat nog te sê dat jy my vriend is.”
JOHANNES 13:31-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Judas vertrek het, merk Jesus op: “Nou is Ek, die Seun van die Mens, verheerlik, en God is deur My verheerlik. As God deur My verheerlik is, sal God self My ook verheerlik; en Hy sal My binnekort verheerlik. Kinders, Ek is nog net vir ’n kort tydjie by julle. Julle sal My soek, maar soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou weer vir julle: Daar waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie. Ek gee julle ’n nuwe opdrag: Julle moet mekaar liefhê; soos Ek julle liefhet, net só moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal daaraan sien dat julle my dissipels is.” Simon Petrus vra Hom: “Here, waarheen gaan U?” Jesus het geantwoord: “Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy My wel volg.” Petrus sê toe vir Jesus: “Here, waarom kan ek U nie nou reeds volg nie? Ek sal my lewe ter wille van U opoffer.” “Sal jy regtig jou lewe ter wille van My opoffer?” vra Jesus. “Ek verseker jou, voordat die haan môre-oggend kraai, sal jy drie maal ontken het dat jy My ken.”