JOHANNES 12:23-26
JOHANNES 12:23-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar Jesus antwoord hulle: “Die uur het gekom dat die •Seun van die Mens verheerlik moet word. Amen, amen, Ek sê vir julle: As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit net een enkele korrel; maar as dit sterf, dra dit baie vrug. Wie sy lewe liefhet, verloor dit; maar wie sy lewe in hierdie wêreld gering ag, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand My wil dien, laat hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienskneg ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.
JOHANNES 12:23-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Jesus antwoord hulle en sê: Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as 'n koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit baie vrugte. Hy wat sy lewe liefhet, sal dit verloor; en hy wat sy lewe in hierdie wêreld haat, sal dit bewaar tot die ewige lewe. As iemand My dien, laat hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; as iemand My dien, hom sal my Vader eer.
JOHANNES 12:23-26 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir hulle gesê: “Die tyd het gekom. Nou sal God wys dat Ek, die Seun van die mens, ook God is. Ek sê vir julle, en dit is seker: Wanneer 'n mens 'n koringkorrel in die grond saai, dan gaan dit dood, en daarna groei die koring en dit dra baie koringkorrels. Maar as die koringkorrel nie in die grond val en doodgaan nie, dan word dit nie baie nie. As iemand dink sy eie lewe is baie belangrik, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand besef dat sy lewe op aarde nie belangrik is nie, dan sal hy sy lewe hou, hy sal altyd aanhou lewe. Almal wat My dien, moet doen wat Ek doen, en hulle moet aanhou om die dinge te doen wat Ek doen. My Vader sal sê almal wat My dien, is belangrik.”
JOHANNES 12:23-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar Jesus antwoord hulle en sê: Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug. Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe. As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer.
JOHANNES 12:23-26 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarop sê Jesus vir hulle: “Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. Dít verseker Ek julle: As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy 'n groot oes in. Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.
JOHANNES 12:23-26 Die Boodskap (DB)
Jesus sê toe vir hulle: “Die tyd kom nou vinnig nader dat julle sal sien hoe belangrik Ek regtig is. Laat Ek dit vir julle so verduidelik: ’n koringsaadjie wat jy nooit saai nie, sal maar net een saadjie bly. Maar as jy dit in die grond saai, verdwyn die saadjie ’n ruk lank. Dit is of dit doodgaan. Maar dan kom daar ’n plantjie op en dit dra honderde koringkorrels. ’n Selfsugtige mens wat niks vir ander voel nie omdat hy net heeltyd aan homself dink, is op die verloorpad. Hy gaan uiteindelik niks oorhou nie, nie eens sy eie lewe nie. “Wie egter ander in die lewe eerste stel en bereid is om opofferings te maak, al kos dit wat, leef soos God dit wil hê. Hulle sal alles wen, omdat God sal sorg dat hulle geestelik vir altyd sal leef. “Iemand wat My wil dien, moet dus bereid wees om my voorbeeld te volg. Hy moet in enige situasie presies doen wat Ek sou doen; ja, in hierdie lewe moet hy aan die werk wees op plekke waar Ek graag sou wou werk. God self sal iemand wat dít doen, prys.
JOHANNES 12:23-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus reageer toe daarop: “Die uur het aangebreek dat Ek, die Seun van die Mens, verheerlik moet word. Ek verseker julle, as ’n graankorrel nie in die grond val en sterf nie, bly hy net op sy eie bestaan; maar as hy sterf, lewer hy ’n groot opbrengs. Wie hulle eie lewe liefhet, verloor dit; maar wie hulle lewe in hierdie wêreld haat, sal dit met die oog op die ewige lewe behou. Iemand wat in my diens wil staan, moet My aanhou volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand in my diens staan, sal die Vader aan hom eer betoon.