JOHANNES 11:1-54

JOHANNES 11:1-54 Afrikaans 1983 (AFR83)

'n Man met die naam Lasarus was siek. Hy was van Betanië, die dorp waar Maria en haar suster Marta gewoon het. Maria was die vrou wat met reukolie die Here gesalf en sy voete met haar hare afgedroog het. Dit was haar broer Lasarus wat siek was. Die susters het iemand na Jesus toe gestuur om te sê: “Here, hy vir wie U lief is, is siek.” Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.” Jesus het vir Marta en haar suster en Lasarus liefgehad. Nadat Hy gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. Eers daarna het Hy vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan terug na Judea toe.” Die dissipels sê toe vir Hom: “Rabbi, nou die dag nog wou die Jode U stenig, en gaan U weer daarheen?” Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf uur in 'n dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat hy nie die lig het nie.” Hierna het Hy vir hulle gesê: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.” Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.” Jesus het van Lasarus se dood gepraat, maar hulle het gedink Hy praat van die gewone slaap. Toe sê Jesus vir hulle reguit: “Lasarus is dood, en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.” Tomas, wat ook Didimus genoem is, sê toe vir die ander dissipels: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe.” Toe Jesus daar kom, het Hy gevind dat Lasarus al vier dae in die graf was. Betanië was naby Jerusalem, omtrent drie kilometer; en baie van die Jode het na Marta en Maria toe gekom om hulle oor hulle broer te troos. Toe Marta hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoet gegaan; maar Maria het in die huis bly sit. Marta sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.” Jesus sê toe vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.” Maar Marta sê vir Hom: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.” Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” “Ja, Here,” sê sy vir Hom, “ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” Nadat sy dit gesê het, het sy haar suster Maria gaan roep en saggies vir haar gesê: “Ons Leermeester is hier, en Hy roep jou.” Toe sy dit hoor, het sy gou opgestaan en na Hom toe gegaan. Jesus het nog nie in die dorp aangekom nie, maar was nog op die plek waar Marta Hom ontmoet het. Toe die Jode wat by Maria in die huis was en haar vertroos het, sien dat sy vinnig opstaan en uitgaan, het hulle agter haar aangegaan omdat hulle gedink het sy gaan na die graf toe om daar te huil. Toe Maria daar aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete gekniel en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.” Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. Hy vra toe: “Waar het julle hom begrawe?” Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk.” Jesus het gehuil. Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!” Party van hulle het ook gesê: “Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?” Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. Dit was 'n rotsgraf, en daar was 'n klip voor die ingang gerol. Jesus sê toe: “Rol die klip weg.” Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.” Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?” Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.” Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met 'n harde stem: “Lasarus, kom uit!” Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met 'n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.” Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom. Maar party van hulle het na die Fariseërs toe gegaan en vir hulle vertel wat Jesus gedoen het. Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe die Joodse Raad bymekaargeroep en gesê: “Wat gaan ons doen? Hierdie man doen baie wondertekens. As ons hom so laat aangaan, sal al die mense in hom glo, en dan kom verwoes die Romeine hierdie heilige plek en maak ons nasie tot niet.” Een van hulle, 'n sekere Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het egter vir hulle gesê: “Julle verstaan niks, en julle besef ook nie dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie verlore gaan nie.” Dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die nasie sou sterwe. En Hy sou nie net vir die nasie sterwe nie, maar ook om die kinders van God wat oor die hele aarde versprei is, tot een volk bymekaar te bring. Van daardie dag af was hulle vasbeslote om Jesus dood te maak. Daarom het Jesus nie meer in die openbaar onder die Jode rondgegaan nie, maar daarvandaan weggegaan na die streek naby die woestyn, na 'n dorp met die naam Efraim. Daar het Hy met sy dissipels 'n rukkie gebly.

JOHANNES 11:1-54 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

’n Sekere man met die naam Lasarus was siek. Hy was van Betanië, die tuisdorpie van Maria en haar suster, Marta. Dit was Maria wat die Here met aromatiese olie gesalf het en toe sy voete met haar hare afgedroog het. Dit is haar broer Lasarus wat siek was. Die susters het toe iemand na Jesus toe gestuur om te sê: “Here, kyk, hy vir wie U lief is, is siek.” Jesus het die boodskap gehoor en gesê: “Hierdie siekte gaan nie op die dood uitloop nie, maar vind plaas om die heerlikheid van God sigbaar te maak sodat die Seun van God daardeur verheerlik word.” Jesus was lief vir Marta, haar suster en vir Lasarus. Toe Jesus gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy nog twee dae oorgebly op die plek waar Hy was. Eers hierna het Hy vir sy dissipels gesê: “Laat ons weer ’n keer Judea toe gaan.” Die dissipels sê toe vir Jesus: “Rabbi, laas wou die Jode daar U nog stenig, en U gaan wéér soontoe?” Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf werksure gedurende ’n dag nie? As iemand in die daglig rondloop, struikel hy nie omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. As iemand egter in die nag rondloop, struikel hy maklik omdat hy nie lig het nie.” Hierdie dinge het Jesus gesê, en daarna bygevoeg: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.” Die dissipels het vir Jesus gesê: “Meneer, as hy slaap, sal hy mos gesond word.” Jesus het Lasarus se dood bedoel, maar hulle het gedink Hy praat van die natuurlike slaap. Toe sê Jesus reguit vir hulle: “Lasarus is dood, maar ter wille van julle is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle kan glo. Laat ons dan na hom toe gaan.” Tomas, wat ook Didimus genoem is, het vir die ander dissipels gesê: “Laat ons ook gaan sodat ons saam met Jesus kan sterf.” Toe Jesus daar aankom, het Hy uitgevind dat Lasarus al vier dae in die graf was. Betanië was naby Jerusalem, ongeveer drie kilometer daarvandaan. Baie van die Jode het by Marta en Maria opgedaag om hulle meegevoel oor hulle broer te betuig. Toe Marta hoor dat Jesus op pad is, het sy Hom gaan ontmoet. Maria het egter in die huis bly sit. Marta het vir Jesus gesê: “Here, as U maar net hier was, sou my broer nie gesterf het nie. Maar selfs nou nog weet ek dat God aan U sal gee wat U Hom ook al vra.” Jesus sê vir haar: “Jou broer sal weer opstaan.” Marta het dadelik reageer: “Ek weet dat hy weer sal opstaan met die opstanding op die laaste dag.” Jesus het vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterf hy ook. Elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit, Marta?” Sy sê vir Hom: “Ja, Here, ek is vas oortuig dat U die Messias is, die Seun van God, Hy wat na die wêreld toe sou kom.” Nadat sy dit gesê het, het sy teruggegaan en haar suster, Maria, gaan roep en stilletjies vir Maria gesê: “Die Leermeester is hier, en Hy roep jou.” Toe sy dit hoor, het Maria gou-gou opgestaan en na Jesus toe gegaan. Jesus het toe nog nie in die dorpie aangekom nie, maar was steeds op die plek waar Marta Hom ontmoet het. Die Jode wat saam met Maria in die huis was om met haar te simpatiseer, het gesien dat sy so vinnig opstaan en uitgaan. Hulle het haar gevolg omdat hulle gedink het sy is op pad graf toe om daar te gaan treur. Toe Maria aankom waar Jesus nog was, en sy Hom sien, het sy by sy voete neergeval en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie!” Toe Jesus sien dat sy huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het Hy bewoë geraak en was diep ontsteld. Hy sê toe: “Waar het julle hom neergelê?” Hulle antwoord: “Here, kom kyk.” Jesus begin toe huil. Die Jode sê toe: “Kyk net hoe lief was hy vir Lasarus!” Sommige van die omstanders het gesê: “Was hierdie man wat die oë van die blinde oopgemaak het, dan nie ook in staat om te keer dat Lasarus sterf nie?” Jesus het weer bewoë geword toe Hy by die graf kom. Die graf was ’n grot en ’n klip was voor die opening gerol. Jesus sê toe: “Rol die klip weg.” Maar Marta, Lasarus se suster, sê vir Jesus: “Meneer, hy ruik seker reeds, want dit is die vierde dag.” Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê dat as jy glo, jy die heerlikheid van God sal sien nie?” Daarop het hulle die klip weggerol. Jesus het sy oë hemelwaarts gerig en gesê: “Vader, Ek is dankbaar teenoor U dat U na My geluister het. Ek weet dat U altyd na My luister; tog het Ek dit gesê ter wille van die skare wat hier rondom ons staan, dat hulle kan glo dat U My gestuur het.” Nadat Hy dit gesê het, het Hy met ’n kragtige stem uitgeroep: “Lasarus, kom uit!” Die dooie het uitgekom, sy voete en hande nog toegedraai in doeke en sy gesig nog verbind met ’n kopdoek. Jesus sê vir hulle: “Maak die doeke los en laat hom gaan.” Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het in Hom begin glo. Sommige van hulle het egter na die Fariseërs toe gegaan en by hulle gaan skinder oor wat Jesus gedoen het. Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe die Sanhedrin bymekaargeroep en gesê: “Wat gaan ons doen? Hierdie man hou aan om baie wondertekens te doen. As ons hom maar net so laat begaan, sal almal in hom glo en dan sal die Romeine kom en die tempel en ons nasie tot niet maak.” Een van hulle, Kajafas, wat hoofpriester was gedurende daardie jaar, het opgemerk: “Julle is baie kortsigtig. Julle besef nie dat dit vir julle voordeliger is dat een mens vir die volk sterf en nie die hele volk tot niet gaan nie.” Dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar aangesien hy gedurende daardie jaar hoofpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus ter wille van die nasie sou sterf. En nie net ter wille van die nasie alleen nie, maar ook om die kinders van God wat oor die wêreld verspreid is, tot ’n eenheid bymekaar te bring. Van daardie dag af het hulle planne gesmee om Hom dood te maak. Gevolglik het Jesus nie meer openlik tussen die Jode rondbeweeg nie, maar van daar af vertrek na die gebied wat na aan die woestyn geleë was en Efraim genoem is. Daar het Hy saam met sy dissipels oorgebly.

JOHANNES 11:1-54 Bybel vir almal (ABA)

Lasarus was siek. Hy het in Betanië gewoon. Betanië was 'n dorpie waar Lasarus se susters Maria en Marta ook gewoon het. Dit was Maria wat lekkerruik-olie op die Here se voete uitgegooi het en toe sy voete met haar hare afgedroog het. Haar broer Lasarus was siek. Die twee susters het iemand gestuur om vir Jesus te sê dat Lasarus siek is, Lasarus vir wie Jesus lief was. Toe Jesus hoor dat Lasarus siek is, het Hy gesê: “Hierdie siekte sal nie vir Lasarus doodmaak nie. God sal sy siekte gebruik om te wys dat Hy God is. Dan sal die mense kan sien dat Ek, die Seun van God, ook God is.” Jesus was lief vir Marta en haar suster en vir Lasarus. Jesus het gehoor dat Lasarus siek is, maar Hy het nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan weer na Judea.” Sy dissipels het gesê: “ Rabbi, nie lank gelede nie wou die Jode U daar doodgooi met klippe. Hoekom wil U nou weer daarnatoe gaan?” Jesus het gesê: “'n Dag het twaalf ure. Wanneer 'n mens in die dag loop, dan val hy nie, want hy sien die lig van die son, die lig van hierdie wêreld. Maar wanneer iemand in die nag loop, dan val hy, want daar is nie lig nie.” Toe sê Jesus: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.” Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, dit is goed dat hy slaap. Dan sal hy gesond word.” Toe Jesus gesê het Lasarus slaap, het dit beteken Lasarus is dood. Die dissipels het gedink Jesus praat van slaap soos 'n mens in die nag slaap. Jesus het toe reguit vir hulle gesê: “Lasarus is dood. Ek is bly Ek was nie daar toe Lasarus gesterf het nie. Dit is goed vir julle, want wat Ek sal doen, sal julle help om te glo. Kom ons gaan nou na hom toe.” Tomas, sy ander naam was “Tweeling,” het vir die ander dissipels gesê: “Kom ons gaan saam met Jesus, sodat ons saam met Hom kan sterf.” Toe Jesus in Betanië aankom, het Hy gehoor dat Lasarus vier dae in die graf is. Betanië was naby Jerusalem, omtrent 15 stadioi van Jerusalem. Baie Jode het na Marta en Maria toe gekom om hulle te troos omdat hulle broer Lasarus dood is. Toe Marta hoor dat Jesus kom, gaan sy na Hom toe om Hom te verwelkom. Maria het in die huis bly sit. Marta het vir Jesus gesê: “Here, as U hier was, dan het my broer nie gesterf nie, maar ek weet dat God ook nou vir U alles sal doen wat U vir Hom vra.” Jesus het vir haar gesê: “Jou broer sal weer lewe.” Marta sê toe vir Jesus: “Ek weet hy sal weer lewe op die laaste dag wanneer God al die mense wat dood is, weer sal laat lewe.” Jesus het vir haar gesê: “Ek laat mense lewe, Ek laat hulle vir altyd lewe. Mense wat in My glo en sterf, sal lewe. Almal wat lewe en wat in My glo, sal nie dood bly nie. Glo jy wat Ek vir jou sê?” Marta het vir Hom gesê: “Ja, Here, ek glo U is die Christus, die Seun van God. Ek glo U is die Een, God het U na die wêreld gestuur.” Nadat Marta dit gesê het, het sy teruggegaan huis toe. Sy het haar suster Maria geroep en saggies vir haar gesê: “Die Rabbi is hier. Hy roep jou.” Toe Maria dit hoor, het sy vinnig opgestaan en na Jesus toe gegaan. Jesus het nog nie in die stad ingegaan nie. Hy was nog daar waar Marta met Hom gepraat het. Daar was Jode saam met Maria in die huis. Hulle het gekom om haar te troos. Hulle het gesien Maria staan vinnig op en gaan buitetoe. Hulle het gedink sy gaan na Lasarus se graf om daar te gaan huil. Daarom het hulle saam met haar gegaan. Maria het by die plek gekom waar Jesus gestaan het en sy het voor Hom gekniel. Sy het vir Hom gesê: “Here, as U hier was toe my broer siek was, dan het my broer nie gesterf nie.” Jesus het gesien Maria huil. Hy het gesien die Jode wat saam met haar gekom het, huil ook. Toe was Jesus baie hartseer en ontsteld. Hy het gevra: “Waar het julle vir Lasarus begrawe?” Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk, ons sal vir U gaan wys.” Jesus het gehuil. Die Jode het gesê: “Kyk, Jesus huil, hy was baie lief vir Lasarus.” Party Jode het gesê: “Jesus het die blinde man laat sien. Hoekom het hy vir Lasarus laat sterf?” Toe Jesus by die graf kom, het Hy weer baie hartseer geword. Die graf was 'n grot en daar was 'n klip voor die ingang. Jesus het gesê hulle moet die klip wegrol. Marta, die suster van Lasarus, het vir Jesus gesê: “Nee, Here, ons kan dit nie doen nie. Lasarus is vier dae in die graf en dit sal sleg ruik.” Jesus het vir haar gesê: “Ek het vir jou gesê jy moet glo, dan sal jy sien God sal wys dat Hy God is.” Die Jode het die klip weggerol. Jesus het na die hemel gekyk en gesê: “Vader, dankie dat U my gebed hoor. Ek sê dit sodat die mense wat hier rondom My staan, kan glo dat U My na die wêreld gestuur het. Ek weet U luister altyd na my gebed.” Toe Jesus klaar gebid het, het Hy hard geskree en gesê: “Lasarus, kom uit die graf!” Lasarus, die man wat gesterf het, het uit die graf gekom. Die grafdoeke was nog om sy voete en hande, en daar was 'n kopdoek oor sy gesig. Jesus het vir hulle gesê: “Haal die grafdoeke van Lasarus af sodat hy huis toe kan gaan.” Baie Jode wat na Maria toe gekom het, het gesien hoe Jesus vir Lasarus weer laat lewe het, en hulle het in Jesus geglo. Maar party Jode het na die Fariseërs toe gegaan en het vir hulle vertel wat Jesus gedoen het. Die priesterleiers en die Fariseërs het vergadering gehou. Hulle het gesê: “Jesus doen so baie wondertekens, ons weet nie wat ons moet doen nie. As ons niks aan Jesus doen nie, dan sal al die mense in hom glo. Dan sal die Romeine ons tempel afbreek en ons volk verwoes.” Kajafas was een van die mense wat by die vergadering was. Hy was daardie jaar die hoëpriester. Hy het vir hulle gesê: “Julle weet niks, julle verstaan nie dat dit beter is as een mens sterf en nie die hele volk nie. Dan sal die hele volk nie verlore gaan nie.” Kajafas se woorde het nie van homself gekom nie. Hy was daardie jaar hoëpriester, daarom het God hom laat sê wat sal gebeur. Kajafas het gesê Jesus sal sterf sodat die volk kan lewe. Maar Jesus het nie net gesterf sodat die volk kan lewe nie, Hy het ook gesterf om die kinders van God bymekaar te bring, God se kinders wat in baie lande van die wêreld woon. Van toe af het die Joodse leiers planne gemaak om Jesus dood te maak. In die provinsie Judea het die Jode almal geweet waar Jesus is. Daarom het Hy nie daar gebly nie, Hy het weggegaan na die stad Efraim. Efraim was in 'n deel van die land naby die woestyn. Hy het daar gaan bly saam met sy dissipels.

JOHANNES 11:1-54 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN daar was 'n man siek, Lasarus van Betánië, die dorp van Maria en haar suster Martha. En dit was Maria wat die Here gesalf het met salf en sy voete afgedroog het met haar hare, wie se broer, Lasarus, siek was. Die susters het toe na Hom gestuur en gesê: Here, hy vir wie U liefhet, is siek. En toe Jesus dit hoor, sê Hy: Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word. En Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad. En toe Hy hoor dat hy siek is, het Hy twee dae vertoef in die plek waar Hy was. Eers daarna sê Hy aan die dissipels: Laat ons weer na Judéa gaan. Die dissipels sê vir Hom: Rabbi, die Jode het onlangs probeer om U te stenig, en gaan U weer daarnatoe? Jesus antwoord: Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand in die dag wandel, stamp hy hom nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. Maar as iemand in die nag wandel, stamp hy hom, omdat die lig nie in hom is nie. Dit het Hy gespreek; en daarna sê Hy vir hulle: Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak. Sy dissipels sê toe: Here, as hy slaap, sal hy gesond word. Maar Jesus het gespreek van sy dood, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van die slaap spreek. En toe sê Jesus vir hulle ronduit: Lasarus is dood. En Ek is bly om julle ontwil dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar laat ons na hom toe gaan. En Thomas, wat Dídimus genoem word, sê vir sy mededissipels: Laat ons ook gaan om saam met Hom te sterwe. Toe Jesus dan gekom het, het Hy gevind dat hy al vier dae in die graf was. En Betánië was naby Jerusalem, omtrent twee myl daarvandaan. En baie van die Jode het al by Martha en Maria gekom om hulle oor hul broer te troos. En toe Martha hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoetgegaan. Maar Maria het in die huis bly sit. En Martha sê vir Jesus: Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie. Maar selfs nou weet ek dat alles wat U van God vra, God U sal gee. Jesus sê vir haar: Jou broer sal opstaan. Martha antwoord Hom: Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag. Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit? Sy antwoord Hom: Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom. En nadat sy dit gesê het, gaan sy en roep Maria, haar suster, stilletjies en sê: Die Meester is hier en Hy roep jou. Sy het, toe sy dit hoor, vinnig opgestaan en na Hom toe gegaan. En Jesus het nog nie in die dorp gekom nie, maar was op die plek waar Martha Hom tegemoetgegaan het. En toe die Jode wat by haar in die huis was en haar getroos het, sien dat Maria vinnig opstaan en uitgaan, het hulle haar gevolg en gesê: Sy gaan na die graf om daar te ween. En toe Maria kom waar Jesus was en Hom sien, val sy aan sy voete neer en sê vir Hom: Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie. Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, ook sien ween, het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel en gesê: Waar het julle hom neergelê? Hulle sê vir Hom: Here, kom kyk. Jesus het geween. Die Jode sê toe: Kyk, hoe lief Hy hom gehad het! En sommige van hulle sê: Kon Hy wat die oë van die blinde man geopen het, nie maak dat hierdie man ook nie gesterf het nie? En Jesus het weer in Homself geweldig bewoë geword en by die graf gekom. En dit was 'n spelonk, en 'n steen het daarteen gelê. Jesus sê: Neem die steen weg. Martha, die suster van die oorledene, sê vir Hom: Here, hy ruik al, want hy is al vier dae dood. Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie? Hulle neem toe die steen weg waar die oorledene lê. En Jesus het sy oë opgeslaan en gesê: Vader, Ek dank U dat U My verhoor het; en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het. En nadat Hy dit gesê het, het Hy met 'n groot stem geroep: Lasarus, kom uit! En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy gesig was toegedraai met 'n doek. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan. EN baie van die Jode wat na Maria gekom het en aanskouers was van wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo. Maar sommige van hulle het na die Fariseërs gegaan en hulle vertel wat Jesus gedoen het. En die owerpriesters en die Fariseërs het die Raad byeengeroep en gesê: Wat sal ons doen? — want hierdie man doen baie tekens. As ons Hom so laat begaan, sal almal in Hom glo; en die Romeine sal kom en ons land en ons nasie albei afneem. En een van hulle, Kájafas, wat daardie jaar hoëpriester was, sê vir hulle: Julle weet niks nie en dink nie daaraan dat dit vir ons voordelig is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie. En dit het hy nie uit homself gesê nie; maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die volk sou sterwe. En nie alleen vir die volk nie, maar ook om die verstrooide kinders van God tot 'n eenheid saam te voeg. Van dié dag af het hulle toe saam beraadslaag om Hom om die lewe te bring. Daarom het Jesus nie meer in die openbaar onder die Jode gewandel nie, maar daarvandaan weggegaan na die streek naby die woestyn, na 'n stad met die naam van Efraim. En daar het Hy vertoef met sy dissipels.

JOHANNES 11:1-54 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daar was 'n man met die naam Lasarus, wat siek was. Hy was van Betanië, die dorp van Maria en haar suster Martha. Dit was die Maria wat die Here met geurige olie gesalf en wat sy voete met haar hare afgedroog het, wie se broer Lasarus siek was. Die susters het toe iemand na Jesus gestuur om te sê: “Here, kyk, hy vir wie U lief is, is siek.” En toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte lei nie tot die dood nie, maar tot die verheerliking van God, sodat die •Seun van God daardeur verheerlik kan word. ” Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad. Toe Hy hoor van Lasarus se siekte, het Hy nog twee dae vertoef op die plek waar Hy was. Eers daarna sê Hy vir sy dissipels: “Kom ons gaan terug na Judea.” Die dissipels sê toe vir Hom: “Rabbi, onlangs nog het die Jode U probeer stenig, en U gaan weer daarheen?” En Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat die lig nie by hom is nie.” Nadat Hy dit gesê het, sê Hy vir hulle: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.” Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.” Maar Jesus het van sy dood gepraat, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van gewone slaap praat. Toe sê Jesus openlik vir hulle: “Lasarus het gesterf, en ter wille van julle is Ek bly dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.” Thomas, wat bekend staan as Didimus, het toe vir sy mededissipels gesê: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterf. ” Toe Jesus daar aankom, het Hy gevind dat Lasarus reeds vier dae in die graf was. Betanië was naby Jerusalem, ongeveer vyftien stadion ver, en baie van die Jode het na Martha en Maria gekom om hulle oor hulle broer te troos. Toe Martha hoor dat Jesus op pad is, het sy Hom tegemoetgegaan, maar Maria het in die huis bly sit. Martha sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie. Maar selfs nou weet ek dat wat U ook al van God vra, God vir U sal gee.” Jesus sê vir haar: “Jou broer sal opstaan.” Martha sê toe vir Hom: “Ek weet dat hy sal opstaan met die opstanding op die laaste dag.” Jesus het vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf; en elkeen wat leef en in My glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit?” Sy sê vir Hom: “Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die •Seun van God, Hy wat na die wêreld kom. ” En nadat Martha dit gesê het, het sy gegaan, haar suster Maria eenkant toe geroep, en vir haar gesê: “Die Leermeester is hier, en Hy roep jou.” Toe Maria dit hoor, het sy haastig opgestaan en na Hom gegaan. Jesus het nog nie in die dorpie aangekom nie, maar was steeds op die plek waar Martha Hom ontmoet het. Toe die Jode wat by haar in die huis was en haar vertroos het, sien dat Maria haastig opstaan en uitgaan, het hulle haar gevolg, omdat hulle gedink het sy gaan na die graf om daar te huil. Toe Maria aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete neergeval en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie.” Toe Jesus haar sien huil, en dat ook die Jode huil wat saam met haar gekom het, het dit Hom hewig ontstel, en Hy het diep bewoë geword. Hy sê toe: “Waar het julle hom neergelê?” Hulle sê vir Hom: “Here, kom kyk.” Jesus het begin huil. Daarop het die Jode gesê: “Kyk hoe lief het Hy hom gehad!” Maar sommige van hulle het gesê: “Kon Hy wat die oë van die blinde man oopgemaak het, tog nie voorkom het dat hierdie man sterf nie?” Jesus het toe, opnuut hewig ontsteld, na die graf gegaan. Dit was 'n rotsgraf en 'n groot klip het daarteen gelê. Jesus het gesê: “Vat die klip weg.” Martha, die suster van die oorledene, sê toe vir Hom: “Here, hy ruik reeds, want dit is al die vierde dag.” Jesus sê vir haar: “Het Ek dan nie vir jou gesê dat as jy glo, jy die heerlikheid van God sal sien nie?” Hulle het toe die klip weggeskuif. Jesus het sy oë opgehef na bo en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek het dit gesê ter wille van die skare wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het. ” En nadat Hy dit gesê het, roep Hy met 'n harde stem: “Lasarus, kom uit!” Die oorledene het uitgekom. Sy voete en hande was met grafdoeke vasgebind, en sy gesig met 'n kopdoek toegedraai. Jesus sê vir hulle: “Maak hom los en laat hom gaan.” Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo. Maar sommige van hulle het na die •Fariseërs gegaan en vir hulle vertel wat Jesus gedoen het. Gevolglik het die leierpriesters en die Fariseërs die Sanhedrin byeengeroep en gesê: “Wat gaan ons maak? Want hierdie man doen baie tekens. As ons hom so laat aangaan, sal almal in hom glo, en sal die Romeine kom en ons plek en ons volk vernietig.” En een van hulle, Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het vir hulle gesê: “Julle verstaan niks nie. Julle besef nie dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterf en die hele volk nie ondergaan nie.” En dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar, omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die volk sou sterf – en nie net vir die volk nie, maar ook om die kinders van God wat oral verstrooi is, te verenig. Van daardie dag af het hulle saam beraadslaag om Hom dood te maak. Daarom het Jesus nie meer openlik onder die Jode rondgegaan nie, maar daarvandaan vertrek na die streek naby die woestyn, na 'n dorp met die naam Efraim. En daar het Hy saam met sy dissipels vertoef.

JOHANNES 11:1-54 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En 'n sekere man was siek, met die naam van Lasarus, van Betanië, die stad van Maria en haar suster Marta. (Dit was daardie Maria wat die Here met salf gesalf en sy voete met haar hare afgedroog het, wie se broer Lasarus siek was.) Daarom het sy susters na Hom gestuur en gesê: Here, kyk, hy vir wie U lief is, is siek. Toe Jesus dit hoor, sê Hy: Hierdie siekte is nie tot die dood nie, maar tot eer van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word. En Jesus het Marta en haar suster en Lasarus liefgehad. Toe hy dan hoor dat hy siek was, het hy nog twee dae op dieselfde plek gebly waar hy was. Daarna sê Hy vir sy dissipels: Laat ons weer na Judéa gaan. Sy dissipels sê vir Hom: Meester, die Jode het onlangs probeer om U te stenig; en gaan jy weer daarheen? Jesus antwoord: Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand bedags wandel, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. Maar as iemand in die nag wandel, struikel hy, omdat daar geen lig in hom is nie. Dit het Hy gesê: en daarna sê Hy vir hulle: Ons vriend Lasarus slaap; maar ek gaan, dat ek hom uit die slaap kan wakker maak. Toe sê sy dissipels: Here, as hy slaap, sal hy goed doen. Maar Jesus het van sy dood gepraat, maar hulle het gedink dat Hy gespreek het van rus in die slaap. Toe sê Jesus reguit vir hulle: Lasarus is dood. En ek is om julle ontwil bly dat ek nie daar was nie, sodat julle kan glo; laat ons tog na Hom toe gaan. Toe sê Tomas, wat Didimus genoem word, vir sy mededissipels: Laat ons ook gaan, dat ons saam met hom kan sterwe. Toe Jesus toe kom, het Hy gevind dat Hy al vier dae in die graf gelê het. En Betanië was naby Jerusalem, omtrent vyftien kilometer daarvandaan; En baie van die Jode het na Marta en Maria gekom om hulle te troos oor hulle broer. En Marta, toe sy hoor dat Jesus kom, het Hom tegemoetgegaan; maar Maria het stil in die huis gesit. Toe sê Marta vir Jesus: Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie. Maar ek weet dat alles wat jy ook al van God vra, God dit vir jou sal gee. Jesus sê vir haar: Jou broer sal opstaan. Marta sê vir hom: Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding op die laaste dag. Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al was hy dood. En elkeen wat lewe en in My glo, sal in ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit? Sy sê vir hom: Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, wat na die wêreld sou kom. En toe sy dit gesê het, het sy weggegaan en haar suster Maria in die geheim geroep en gesê: Die Meester het gekom en jou geroep. Toe sy dit hoor, het sy vinnig opgestaan en na hom toe gekom. En Jesus het nog nie in die stad ingekom nie, maar was op die plek waar Marta Hom ontmoet het. En die Jode wat saam met haar in die huis was en haar getroos het, toe hulle Maria sien, dat sy haastig opgestaan en uitgegaan het, het haar gevolg en gesê: Sy gaan na die graf om daar te ween. Toe Maria toe kom waar Jesus was, en Hom sien, val sy voor sy voete neer en sê vir Hom: Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie. Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het ook ween, het Hy in die gees gekreun en was ontsteld. En gesê: Waar het julle hom neergelê? Hulle sê vir Hom: Here, kom kyk. Jesus het gehuil. Toe sê die Jode: Kyk hoe lief het hy hom gehad! En sommige van hulle het gesê: Kon hierdie man wat die oë van die blindes oopgemaak het, nie veroorsaak het dat selfs hierdie man nie gesterf het nie? Jesus kom dan weer in homself kreunend na die graf. Dit was 'n grot, en 'n klip het daarop gelê. Jesus sê: Neem die klip weg. Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: Here, hy stink teen hierdie tyd, want hy is al vier dae dood. Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê dat, as jy glo, jy die heerlikheid van God sou sien nie? Toe het hulle die klip weggeneem van die plek waar die dooies neergelê is. En Jesus het sy oë opgeslaan en gesê: Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. En ek het geweet dat U na my altyd luister, maar ter wille van die mense wat daarby staan, het ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U my gestuur het. En toe Hy dit gesê het, het Hy met 'n groot stem uitgeroep: Lasarus, kom uit! En die dooie het uitgekom, met grafdoeke aan hande en voete gebind, en sy gesig was met 'n doek omgebind. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan. En baie van die Jode wat na Maria gekom het en die dinge gesien het wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo. Maar sommige van hulle het na die Fariseërs gegaan en hulle vertel wat Jesus gedoen het. Toe het die owerpriesters en die Fariseërs 'n raad vergader en gesê: Wat doen ons? want hierdie man doen baie wonders. As ons hom so laat staan, sal almal in hom glo; en die Romeine sal kom en ons plek sowel as ons nasie wegneem. En een van hulle, met die naam van Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het vir hulle gesê: Julle weet hoegenaamd niks nie. Moenie dink dat dit vir ons nuttig is dat een man vir die volk moet sterf en dat die hele nasie nie omkom nie. En dit het hy nie uit homself gespreek nie, maar hy was daardie jaar hoëpriester en het geprofeteer dat Jesus vir daardie nasie sou sterf; En nie alleen vir daardie nasie nie, maar dat hy ook die kinders van God wat oor die wêreld verstrooi was, in een bymekaar sou bring. Toe het hulle van daardie dag af saam beraadslaag om Hom dood te maak. Jesus het dan nie meer openlik onder die Jode gewandel nie; maar daarvandaan na 'n land naby die woestyn gegaan, na 'n stad met die naam van Efraim, en daar gebly met sy dissipels.

JOHANNES 11:1-54 Die Boodskap (DB)

In Betanië, so drie kilometer van Jerusalem af, het Lasarus met sy twee susters, Marta en Maria, gebly. Dit was dieselfde Maria wat die duur olie oor Jesus uitgegooi en toe Jesus se voete met haar hare afgedroog het. Jesus het baie van hulle almal gehou. Hy het ’n baie spesiale plekkie vir hulle gehad. Lasarus word toe baie siek. Sy susters het Jesus dadelik daarvan laat weet. Toe Jesus die nuus hoor, sê Hy: “Hierdie siekte beteken nie Lasarus se einde nie. Dit beteken wel dat mense sal kan sien hoe sterk God regtig is. En as mense dit sien, sal hulle sommer ook besef hoe belangrik die Seun van God is.” Daarom het Jesus besluit om eers twee dae later Betanië toe te gaan. Na ’n paar dae sê Hy vir sy volgelinge: “Kom, ons gaan na Lasarus-hulle toe.” Sy dissipels het dadelik vasgeskop, want dit was naby Jerusalem. “U kan dit nie doen nie! Het U so gou vergeet dat die Jode U nog ’n paar dae gelede met klippe wou doodgooi? Wat wil U nou weer daar gaan soek?” Jesus maak hulle toe stil. “Daar is twaalf ure lig per dag. En dit moet ’n mens gebruik. Terwyl dit lig is, kan jy sien wat jy doen. Jy sal nie oor goed loop en val of rondstrompel nie. Maar in die nag is dit heeltemal anders. As dit donker is, val jy oor alles. In die donker kan jy mos nie sien wat jy doen nie. Dus: terwyl die kans daar is, moet ’n mens doen wat gedoen moet word. Nou ja, om terug te kom na ons vriend Lasarus toe,” gaan Jesus verder, “hy slaap. Ek moet hom gaan wakker maak.” Dit was maar net ’n ander manier om te sê dat Lasarus dood was. Sy dissipels het gedink Jesus bedoel dat Lasarus regtig slaap. “Los vir Lasarus, Here. As hy slaap, kan hy mos self wakker word,” stel hulle voor. Toe praat Jesus sommer reguit met hulle: “Lasarus is nie meer met ons nie, hy’s dood. Maar dit is nie slegte nuus nie. Ek is bly Ek was nie daar toe dit gebeur het nie. En weet julle hoekom? As ons nou gaan, gaan dit vir julle baie beteken. Kom, laat ons loop.” Tomas, vir wie party mense “Tweeling” genoem het, sê toe vir die ander dissipels: “Kom, laat ons maar saam met Hom in die kake van die dood instap.” Toe Jesus-hulle in Betanië aankom, hoor Hy dat Lasarus al vier dae tevore begrawe is. Daar was nog ’n klomp mense by Marta en Maria se huis om hulle te troos. Toe die mense vir Marta kom sê dat Jesus op pad is, is sy dadelik uit na Hom toe. Maria het in die huis bly sit. “Here,” begin Marta sommer dadelik toe sy Hom sien. “Waar was U al die tyd? As U betyds hier was, kon U nog my broer gesond gemaak het. Dan het hy nou nog geleef. Tog het ek al die tyd aan een ding bly vashou: ek weet God sal na U luister as U Hom iets vra.” Jesus stel haar toe gerus: “Moenie bekommerd wees nie. Jou broer sal weer lewendig word.” “Ek weet dit,” sê Marta. “Met die finale oordeel sal God ons almal mos weer lewendig maak.” “Dit is nie wat Ek bedoel nie,” sê Jesus. “Ek is die Een wat mense laat opstaan uit die dood en aan hulle die lewe gee wat nooit ophou nie. “As iemand waarlik ’n Christen is, kan hy mos nooit geestelik doodgaan nie. Al sterf sy liggaam, het hy nog die ewige lewe. Wie op My vertrou en die ewige lewe het, gaan nooit regtig dood nie. Aanvaar jy dit wat Ek vir jou sê, Marta?” “Natuurlik, Here,” sê sy dadelik. “Ek twyfel nie een oomblik dat U die Seun van God is nie. U is die Een vir wie God spesiaal aangestel het om die mense te kom red.” Marta is toe daar weg. Sy het stilletjies vir Maria gaan roep. “Die Here wag vir jou. Hy wil graag met jou praat.” Toe Maria dit hoor, spring sy op en loop haastig na Jesus toe. Jesus het buite die dorp vir haar gewag. Dit was op dieselfde plek waar Hy met Marta gepraat het. Die Jode in die huis het nie geweet waarom Maria so vinnig daar weg is nie. Hulle is toe agterna om haar te troos. Hulle het gedink sy voel hartseer en is daarom graf toe om daar te gaan huil. Toe Maria Jesus kry, gryp sy net sy voete vas. “Here,” stamel sy, “as U betyds hier was, sou my broer vandag nog geleef het.” Toe Jesus haar snikke hoor en ook hoor hoe die Jode huil wat saam met haar was, het Hy ’n knop in sy keel gekry. Hy het baie hartseer gevoel. “Waar is hy begrawe?” vra Jesus. “Kom saam, Here, ons gaan wys U,” sê hulle. Jesus kon sy trane nie meer keer nie. Hy het gehuil. “Kyk net! Hy moes Lasarus darem baie liefgehad het!” sê party Jode toe, terwyl ander sê: “Ons wonder darem. Julle weet, Hy het mos ’n blinde laat sien. Kon Hy nie dalk iets gedoen het sodat Lasarus nie doodgegaan het nie?” Jesus was nog steeds baie hartseer toe Hy by die graf kom. Lasarus se lyk was in ’n soort grot begrawe. Die ingang was met ’n groot rots toegemaak. “Vat weg die rots,” sê Jesus. Marta probeer nog keer: “Asseblief, Here! Hy lê al dae daar. ’n Mens kan al die liggaam ruik.” “Marta, Marta!” sê Jesus vir haar. “Vergeet jy so gou? Ek het netnou nog vir jou gesê dat as jy My vertrou, jy sal sien wat God regtig kan doen.” Hulle vat toe die rots weg. Jesus maak sy oë toe en bid: “Vader, dankie dat U altyd luister as Ek iets vra. Hier staan baie mense rond. Ter wille van hulle praat Ek so. Wanneer hulle My hoor bid en sien wat gebeur, sal hulle begin besef dat Ek van U af kom.” Toe roep Jesus hard uit: “Lasarus, kom uit!” Daar verskyn Lasarus toe in die ingang van die graf. Oomblikke tevore was hy nog dood. Nou staan hy daar, lewendig! Hy was van kop tot tone in linnelappe toegedraai. Selfs die lap wat oor sy gesig gesit is, was nog daar. Jesus sê toe: “Haal die lappe van hom af, sodat hy self hier kan wegstap.” Die Jode wat saam met Maria gekom het, het nog daar gestaan. Hulle het alles gesien wat Jesus gedoen het. Baie van hulle het daar en dan sy volgelinge geword. ’n Klompie het egter by die Fariseërs gaan nuus aandra. Hulle het hulle alles vertel wat Jesus gedoen het. Die leiers vra toe dat die Joodse Raad bymekaar moes kom. Die Raad was eintlik die godsdienstige parlement van die Jode. “Wat gaan ons nou doen?” vra hulle raadop. “Kyk net wat vang hierdie man alles aan. Kyk al die wonders! As ons hom toelaat om so aan te gaan, stroom al die mense netnou agter hom aan. En daarvan gaan die Romeine niks hou nie. Hulle sal weer dink dit is die een of ander opstand. Dan gaan hulle kom en alles met die grond gelykmaak - ons en al die ander mense inkluis.” Kajafas kry toe kans om iets te sê. Hy was nie net ’n lid van die Joodse Raad nie, maar ook daardie jaar die voorsitter daarvan. Hy begin toe so: “Van dié soort dinge weet julle net mooi niks. Maar luister, ek het ’n plan. Dink net hoe goed dit vir ons en die volk kan wees om van hierdie man ontslae te raak. Maak hom dood en dan sal die Romeine tevrede wees. So sal die hele volk nie hoef te sterf nie, maar net hierdie een man. Laat hy in plaas van hulle doodgemaak word.” Hoewel hy hierdie woorde gesê het, was dit eintlik nie regtig hy wat gepraat het nie. Onthou, hy was daardie jaar die voorsitter van die Joodse Raad, ja, hoëpriester! Dit was God wat deur hom gepraat het. Hy was eintlik ’n boodskapper van God toe hy gesê het dat Jesus moes sterf sodat die volk kon bly leef. En dit was nie net bedoel vir die klompie Jode wat in Jerusalem gebly het nie. Nee, dit was bedoel vir al God se kinders, waar hulle ook al in hierdie wêreld mag wees. Jesus het gesterf, sodat hulle ook die ewige lewe kan kry en so aan die een gesin van God kan behoort. Sommer op daardie vergadering het die Raad besluit om Jesus dood te maak. Jesus het toe besluit om maar vir eers weg te bly van daardie Jode af. Daarom het Hy koers gekies die droë platteland in. Hy is saam met sy dissipels na die plek met die naam Efraim toe, ’n dorpie aan die rand van die woestyn.