JOHANNES 10:14-18
JOHANNES 10:14-18 Bybel vir almal (ABA)
“Ek is die Goeie Herder. Ek ken my skape en my skape ken My, soos die Vader My ken en soos Ek die Vader ken. Ek sal sterf sodat my skape kan lewe. Ek het ook ander skape wat nie in hierdie kraal is nie. Ek moet ook voor hulle loop. Hulle sal ook na my stem luister. Al my skape sal eendag in een trop wees en Ek sal die hele trop se herder wees. Die Vader is lief vir My, want Ek sal sterf sodat my skape kan lewe. Ek sal sterf sodat Ek weer kan lewe. Dit is nie iemand anders wat besluit dat Ek moet sterf nie. Nee, Ek het self besluit dat Ek sal sterf. Ek kan self besluit dat Ek sal sterf en weer begin lewe. Dit is wat my Vader gesê het Ek moet doen.”
JOHANNES 10:14-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken. Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder. Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.
JOHANNES 10:14-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder. “Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.”
JOHANNES 10:14-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie, en my eie ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken. En Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het ook ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Hulle moet Ek ook lei, en hulle sal na my stem luister, en daar sal een kudde wees, en een herder. Om hierdie rede het die Vader My lief – omdat Ek my lewe aflê, sodat Ek dit weer kan opneem. Niemand neem dit van My weg nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het volmag om dit af te lê, en Ek het volmag om dit weer op te neem. Hierdie opdrag het Ek van my Vader ontvang. ”
JOHANNES 10:14-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek is die goeie herder, en ek ken my skape, en ek word deur myne geken. Soos die Vader My ken, so ken Ek die Vader, en Ek lê my lewe af vir die skape. En ek het ander skape wat nie van hierdie kraal is nie; hulle moet ek ook bring, en hulle sal my stem hoor; en daar sal een kraal en een herder wees. Daarom het my Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem. Niemand neem dit van my af nie, maar ek lê dit uit myself af. Ek het krag om dit neer te lê, en ek het krag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.
JOHANNES 10:14-18 Die Boodskap (DB)
“Ek is vir almal wat My volg soos die beste herder van wie hulle kan droom. Daar is ’n sterk verhouding tussen My en elke gelowige. Ons ken mekaar. Soos my Vader My ken en Ek Hom ken, so ken Ek en elke gelowige mekaar. Omdat ons vir mekaar omgee, sal Ék liewer sterf as om toe te laat dat my volgelinge iets oorkom. Die mense wat julle hier sien, is nie die enigstes wat My volg nie. Daar is baie ander ook, wat van ander plekke af kom. Ek sal ook vir hulle die beste herder wees waarvan hulle kan droom. Uiteindelik sal my volgelinge soos een groot skaaptrop wees met My as hulle enigste herder. My Vader het My lief, en met goeie rede ook. Ek is uit vrye wil bereid om doodgemaak te word. Die doel daarmee is om te wys dat Ek self weer uit die dood kan opstaan. Niemand sal My sommer kan kom doodmaak nie. Uit my eie sal Ek hulle toelaat om dit te doen. So sal Ek bewys hoe sterk Ek is. Ek kan, as Ek wil, sterf. En Ek kan, as Ek wil, ook weer lewendig word. My Vader het gesê dat Ek dit moet kom doen. Ek moet eers toelaat dat mense My doodmaak en dan moet Ek weer lewendig word.”
JOHANNES 10:14-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek is die Goeie Herder. Ek ken my skape en hulle herken My, net soos die Vader My ken en Ek ook die Vader ken. En Ek gee my lewe vir die skape. Ek besit ook nog ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook versorg. Hulle sal na my stem luister en hulle sal een trop wees met een herder. “Om hierdie rede het die Vader My lief omdat Ek my lewe gee om dit weer op te neem. Niemand ontneem My my lewe nie, maar Ek offer dit uit my eie op. Ek het die volmag om dit op te offer en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van die Vader ontvang het.”