JOHANNES 1:31-34
JOHANNES 1:31-34 Bybel vir almal (ABA)
Ek het Hom nie geken nie, maar ek het gekom om die mense van Israel met water te doop sodat hulle sal weet wie Hy is.” Johannes het ook gesê: “Ek het gesien die Heilige Gees kom soos 'n duif uit die hemel en bly op Hom. Ek het Hom nie geken nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Jy sal sien die Gees kom af en bly op Hom. Dit is Hy wat die mense met die Heilige Gees sal doop.’ Ek het dit self gesien. Daarom sê ek vir julle: Hierdie Man is die Seun van God.”
JOHANNES 1:31-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En ek het Hom nie geken nie; maar dat Hy aan Israel openbaar sou word, daarom het ek gekom en met water gedoop. En Johannes het getuig en gesê: Ek het die Gees soos 'n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly. En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop. En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is.
JOHANNES 1:31-34 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar ek het gekom en ek doop met water sodat Hy aan Israel bekend gestel kan word.” Verder het Johannes getuig: “Ek het duidelik die Gees soos 'n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly. Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.”
JOHANNES 1:31-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ook ek het Hom nie geken nie, maar juis daarom het ek gekom en doop ek met water, sodat Hy aan Israel bekend gemaak kan word.” En Johannes het getuig: “Ek het die Gees uit die hemel sien neerdaal soos 'n duif, en Hy het op Hom gebly. Ook ek het Hom nie geken nie, maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het vir my gesê, ‘Hy op wie jy die Gees sien neerdaal en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ En ek het gesien en getuig, ‘Hy is die •Seun van God.’ ”
JOHANNES 1:31-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En ek het hom nie geken nie, maar dat hy aan Israel openbaar gemaak sou word, daarom het ek gekom en met water gedoop. En Johannes het getuig en gesê: Ek het die Gees soos 'n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op hom gebly. En ek het Hom nie geken nie, maar Hy wat My gestuur het om met water te doop, Hy het vir my gesê: Op wie jy die Gees sal sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop. En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is.
JOHANNES 1:31-34 Die Boodskap (DB)
Wel, ek self het nie eens mooi geweet wie Hy presies is nie. Daarom doop ek met water, want so sal God se mense Hom kan herken.” Dit is nie al wat Johannes te sê gehad het nie, maar hy het met oortuiging die volgende vertel: “Die Gees het voor my oë soos ’n duif uit die hemel afgekom en op Jesus neergesak en op Hom gebly. Wel, soos ek gesê het, ek self het nie eens geweet wie hierdie belangrike Persoon sou wees nie. God wat my gestuur het om met water te doop, het egter vir my gesê: ‘Dit is jou teken: die Gees sal voor jou oë neersak op die Een wat mense met die Heilige Gees gaan doop.’ Presies so het dit gebeur. Daarom sal ek voor enige hof getuig: hierdie man, ja Hy, is die Seun van God!”
JOHANNES 1:31-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek was self ook nie daarvan bewus dat dit Hy is nie. Daarom het ek gekom, en doop ek met water om Hom aan Israel voor te stel.” Johannes het ook nog verder getuig: “Ek het duidelik gesien dat die Gees soos ’n duif uit die hemel neerkom en op Hom gaan sit. Ek het regtig nie geweet dat dit Hy was nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien neerdaal en bly sit, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ Ek het dit self sien afspeel voor my oë, en daarom getuig ek dat Hy werklik die Seun van God is.”