JOHANNES 1:29-34
JOHANNES 1:29-34 Bybel vir almal (ABA)
Die volgende dag het Johannes gesien Jesus kom na hom toe. Johannes sê toe hard: “Kyk, daar is die Lam wat God vir ons gee! Hy sal die sonde van die wêreld wegneem. Ek het van Hóm gepraat toe ek gesê het: ‘Ek het gekom, en ná my sal 'n Man kom. Hy is belangriker as ek, want Hy was daar lank voor my.’ Ek het Hom nie geken nie, maar ek het gekom om die mense van Israel met water te doop sodat hulle sal weet wie Hy is.” Johannes het ook gesê: “Ek het gesien die Heilige Gees kom soos 'n duif uit die hemel en bly op Hom. Ek het Hom nie geken nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Jy sal sien die Gees kom af en bly op Hom. Dit is Hy wat die mense met die Heilige Gees sal doop.’ Ek het dit self gesien. Daarom sê ek vir julle: Hierdie Man is die Seun van God.”
JOHANNES 1:29-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Dit is Hy van wie ek gesê het: Ná my kom 'n man wat voor my geword het, want Hy was eerder as ek. En ek het Hom nie geken nie; maar dat Hy aan Israel openbaar sou word, daarom het ek gekom en met water gedoop. En Johannes het getuig en gesê: Ek het die Gees soos 'n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly. En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop. En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is.
JOHANNES 1:29-34 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Ná my kom daar 'n Man wat my vóór is, want Hy was voor my reeds daar.’ Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar ek het gekom en ek doop met water sodat Hy aan Israel bekend gestel kan word.” Verder het Johannes getuig: “Ek het duidelik die Gees soos 'n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly. Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.”
JOHANNES 1:29-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Hy is die Een van wie ek gesê het, ‘Ná my kom 'n Man wat belangriker as ek is, omdat Hy voor my was.’ Ook ek het Hom nie geken nie, maar juis daarom het ek gekom en doop ek met water, sodat Hy aan Israel bekend gemaak kan word.” En Johannes het getuig: “Ek het die Gees uit die hemel sien neerdaal soos 'n duif, en Hy het op Hom gebly. Ook ek het Hom nie geken nie, maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het vir my gesê, ‘Hy op wie jy die Gees sien neerdaal en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ En ek het gesien en getuig, ‘Hy is die •Seun van God.’ ”
JOHANNES 1:29-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom en sê: Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Dit is hy van wie ek gesê het: Ná my kom 'n man wat voor my verkies is, want hy was voor my. En ek het hom nie geken nie, maar dat hy aan Israel openbaar gemaak sou word, daarom het ek gekom en met water gedoop. En Johannes het getuig en gesê: Ek het die Gees soos 'n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op hom gebly. En ek het Hom nie geken nie, maar Hy wat My gestuur het om met water te doop, Hy het vir my gesê: Op wie jy die Gees sal sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop. En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is.
JOHANNES 1:29-34 Die Boodskap (DB)
Die volgende dag het dit toe gebeur. Jesus het na Johannes toe gekom. “Kyk mooi! Daar is die Offerlam van God!” het Johannes uitgeroep. “Hy gaan die mag van die sonde in die wêreld finaal breek. Dit is van Hom wat ek gepraat het. Ek het mos gesê dat daar Iemand ná my gaan kom, maar dat Hy baie belangriker is as ek. Immers, voor ek nog gebore was, was Hy al daar. Julle het gevra hoekom ek doop. Wel, ek self het nie eens mooi geweet wie Hy presies is nie. Daarom doop ek met water, want so sal God se mense Hom kan herken.” Dit is nie al wat Johannes te sê gehad het nie, maar hy het met oortuiging die volgende vertel: “Die Gees het voor my oë soos ’n duif uit die hemel afgekom en op Jesus neergesak en op Hom gebly. Wel, soos ek gesê het, ek self het nie eens geweet wie hierdie belangrike Persoon sou wees nie. God wat my gestuur het om met water te doop, het egter vir my gesê: ‘Dit is jou teken: die Gees sal voor jou oë neersak op die Een wat mense met die Heilige Gees gaan doop.’ Presies so het dit gebeur. Daarom sal ek voor enige hof getuig: hierdie man, ja Hy, is die Seun van God!”
JOHANNES 1:29-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die volgende dag sien Johannes dat Jesus na hom toe aangestap kom. Hy sê toe: “Kyk, dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Dit is Hý van wie ek gesê het: ‘Ná my kom Iemand wat voor my reeds bestaan het. Hy is baie belangriker as ek.’ Ek was self ook nie daarvan bewus dat dit Hy is nie. Daarom het ek gekom, en doop ek met water om Hom aan Israel voor te stel.” Johannes het ook nog verder getuig: “Ek het duidelik gesien dat die Gees soos ’n duif uit die hemel neerkom en op Hom gaan sit. Ek het regtig nie geweet dat dit Hy was nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien neerdaal en bly sit, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ Ek het dit self sien afspeel voor my oë, en daarom getuig ek dat Hy werklik die Seun van God is.”