JOHANNES 1:12-16
JOHANNES 1:12-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar aan almal wat Hom aanvaar het, het Hy die reg gegee om kinders van God te word – hulle wat in sy Naam glo. Hulle is nie uit bloed nie, ook nie uit liggaamlike drang nie, ook nie uit die wil van 'n man nie, maar uit God gebore. En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid. Johannes getuig oor Hom en roep uit: “Hý is die Een van wie ek gesê het, ‘Hy wat ná my kom, is my voor, omdat Hy die eerste was.’ ” Uit sy volheid het ons almal genade ontvang – ja, genade op genade.
JOHANNES 1:12-16 Die Boodskap (DB)
Daar was egter uitsonderings. Daar was mense wat Hom met oop arms ontvang het. Hulle het Hom en dit waarvoor Hy staan ten volle in geloof aanvaar. Omdat hulle so op Hom vertrou, het Jesus alles vir hulle gedoen wat nodig was om God se kinders te word. God self het daarvoor gesorg dat hulle as sy kinders gebore word. En dit is iets heeltemal anders as om die kind van ’n gewone aardse pa te wees wat bloot besluit het dat hy ’n kind wil hê. Jesus het toe as mens aarde toe gekom. ’n Mens kan sê Hy het onder ons kom huis opsit. Ons het gesien hoe belangrik en wonderlik Hy is. Net die unieke Seun van die Vader is so groot en belangrik. Hy was soos ’n fontein van die goeie dinge wat God vir ons so onverdiend wil gee. By Hom kon ons ontdek wat regtig waar en eg is. Daarom vertel Johannes dit vir almal wat hy kan: “Jesus is die Een van wie ek gepraat het. Hy verskyn wel na my op die toneel, maar Hy is baie belangriker as ek. Voor ek nog gebore was, het Hy alreeds bestaan.” Hy het ’n oorvloed van geskenke van God af wat Hy vir ons wil gee. Daar is geen keer aan al die goeie dinge wat God vir ons gee nie, al verdien ons dit nie.
JOHANNES 1:12-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is nie deur ’n natuurlike proses gebore nie, en ook nie na aanleiding van die wilsbesluit van ’n man nie. Hulle is uit God gebore. En die Woord het mens geword en by ons kom woon. Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ’n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid. Johannes getuig oor Hom en roep uit: “Hy is die Een wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Hy wat ná my kom, het reeds voor my bestaan omdat Hy groter is as ek.’” Uit sy volheid het ons almal ’n oorvloed genade ontvang.
JOHANNES 1:12-16 Bybel vir almal (ABA)
Party mense het Hom aanvaar en hulle het in Hom geglo. Hy het vir hulle gesê hulle mag kinders van God wees. Elke mens het 'n pa, maar die kinders van God het nóg 'n pa. Hulle Vader is God self. Die Woord het mens geword en Hy het by ons kom woon. Toe ons die wonderlike dinge sien wat Hy doen, het ons geweet dat Hy God is. Niemand anders was soos die Woord nie, net Hy het van die Vader gekom. Hy het vir ons gewys dat God altyd genadig is. Johannes het vir die mense vertel van die Woord. Hy het gesê: “Hy is die Een, ek het van Hom gepraat toe ek vir julle gesê het: ‘Iemand sal kom nadat ek gekom het. Maar Hy is belangriker as ek, want Hy was daar lank voor my.’ ” Die Woord is vol genade. Ons het genade gekry van Hom, baie genade.
JOHANNES 1:12-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van 'n man nie, maar uit God gebore is. En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon — en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom — vol van genade en waarheid. JOHANNES getuig van Hom en roep en sê: Dit was Hy van wie ek gesê het: Hy wat ná my kom, het voor my geword, want Hy was eerder as ek. En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.
JOHANNES 1:12-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van 'n mens of die besluit van 'n man nie, maar hulle is uit God gebore. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. Johannes getuig van Hom en roep uit: “Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar.” Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.
JOHANNES 1:12-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo. Wat nie uit bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van 'n mens gebore is nie, maar uit God. En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon (en ons het sy heerlikheid aanskou, die heerlikheid van die Eniggeborene van die Vader) vol genade en waarheid. Johannes het van hom getuig en uitgeroep en gesê: Dit was hy van wie ek gespreek het: Hy wat ná my kom, is voor my verkies, want hy was voor my. En uit sy volheid het ons alles ontvang, en genade op genade.