JOHANNES 1:1-8
JOHANNES 1:1-8 Bybel vir almal (ABA)
Die Woord was daar voor alles begin het. Die Woord was by God en die Woord was self God. Hy was in die begin by God. God en die Woord het alles gemaak. God het niks alleen gemaak nie. Hy en die Woord het alles gemaak. Die Woord het die lewe gebring, en hierdie lewe was die lig vir die mense. Hierdie lig skyn in die donker, en die donker kon nie die lig doodmaak nie. God het 'n man gestuur, sy naam was Johannes. Hy het gekom om vir die mense te vertel van die lig, sodat almal wat dit hoor, kon glo. Johannes was nie self die lig nie, maar hy moes vir die mense kom vertel van die lig.
JOHANNES 1:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
IN die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie. Daar was 'n man van God gestuur, wie se naam Johannes was. Hy het tot 'n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo. Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.
JOHANNES 1:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie. Daar was 'n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.
JOHANNES 1:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie. In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie. Daar was 'n man, gestuur deur God, wie se naam Johannes was. Hy het tot 'n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom kon glo. Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.
JOHANNES 1:1-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Dieselfde was in die begin by God. Alle dinge is deur Hom gemaak; en sonder Hom is niks gemaak wat gemaak is nie. In Hom was lewe; en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis; en die duisternis het dit nie begryp nie. Daar was 'n man wat van God gestuur is, wie se naam Johannes was. Hy het gekom as 'n getuienis om van die Lig te getuig, sodat alle mense deur Hom sou glo. Hy was nie daardie Lig nie, maar is gestuur om van daardie Lig te getuig.
JOHANNES 1:1-8 Die Boodskap (DB)
Die Woord, deur wie ons God leer ken, was reg aan die begin reeds daar. Die Woord was by God en die Woord was God. Voor enigiets nog gemaak was, was Jesus al by God. Hy het alles in die skepping gemaak. Niks het op ’n ander manier ontstaan nie. Hy het alles gemaak. Jesus het ook lewe aan die skepping gegee. Omdat Jesus mense lewe gegee het, kon hulle die regte besluite neem, soos iemand wat ’n lig het om in die donker mee te loop. Mense wat reg lewe, het soos ’n helder lig in die donker, sondige wêreld ingeskyn. Hierdie donker wêreld wou niks met hulle te doen hê nie, maar kon hulle ook nie keer nie. Johannes het ook op die toneel verskyn. God het hom gestuur om vir almal te kom vertel van Jesus wat soos ’n helder lig in die donker kom skyn het. Sy sterk boodskap oor die Lig moes mense oortuig om in die Lig te glo. Hy self was nie die Lig nie. Hy het maar net aan die mense kom vertel waar om die Lig te kry.
JOHANNES 1:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan. Die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding wat bestaan, ontstaan nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe het gedien as die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, ja – die duisternis het dit nie uitgedoof nie! Daar was ’n man, gestuur deur God, met die naam Johannes. Hy het gekom met die doel om ’n getuienis te lewer, om van die lig te getuig sodat alle mense op grond van sy getuienis sou glo. Hy was nie self die lig nie, maar het net kom getuig oor die lig.