JEREMIA 31:7-14

JEREMIA 31:7-14 Bybel vir almal (ABA)

Ja, die Here sê: “Julle moet bly wees en sing, julle moet juig oor Jakob, die hoof van die volke. Julle moet hard sing en die Here prys sodat die mense dit kan hoor. Julle moet sê: ‘Here, red asseblief u volk, red die mense van Israel wat nog lewe.’ Ek sal my volk nou bring uit die land in die noorde, Ek sal hulle bymekaarmaak uit die ver plekke op die aarde. Daar sal blinde en kreupel mense tussen hulle wees, en ook vroue wat babas verwag en vroue wat besig is om babas te kry. Hulle sal huil en kom bid dat Ek hulle moet help, en Ek sal hulle lei, Ek sal hulle op 'n gelyk pad bring, by waterstrome. Hulle sal nie op die pad struikel en val nie. Ek het 'n Vader geword vir Israel, Efraim is my oudste seun.” Volke, julle moet hoor wat die Here sê, julle moet dit vertel in die lande ver langs die see, julle moet sê: “Hy wat die Israeliete gejaag het na al die kante toe, Hy sal hulle bymekaarmaak en Hy sal hulle oppas soos 'n herder die skape oppas wat aan hom behoort, want die Here het die nageslag van Jakob losgekoop en Hy het hulle vrygemaak van iemand wat sterker was as hulle. Die Israeliete sal kom en sing op die hoë Sionsberg. Hulle sal bly wees oor die goeie dinge wat die Here gee, oor die koring en die wyn en die olyf-olie, en oor die lammers en die kalwers. Hulle sal self wees soos tuine met baie water, hulle sal nie meer dors word nie. Dan sal die jong vroue weer bly wees en dans, en die jongmans en die ou mans sal saam met hulle dans. Ek sal hulle rou verander, en hulle sal vrolik wees, Ek sal hulle lewe verander, hulle was hartseer, maar Ek sal hulle bly maak. Ek sal die priesters wat nou honger is, lekker laat eet. Ek sal my volk genoeg laat eet van die goeie dinge wat Ek sal gee.”

JEREMIA 31:7-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

So sê die Here: Sing van blydskap oor Jakob, die leier onder die nasies, juig oor hom! Laat hoor julle loflied, en sê: Red u volk, Here, red wat van Israel oorgebly het! Ek laat kom hulle uit die land in die noorde, Ek vergader hulle van die uithoeke van die aarde af: onder hulle is blindes en kreupeles, swanger vrouens en vrouens in kraam. 'n Groot gemeente sal hiernatoe terugkom. In trane sal hulle kom, met smeekgebede, maar Ek sal hulle lei, Ek sal hulle by waterstrome bring, op 'n gelyk pad, niemand sal struikel nie, want Ek het Israel se Vader geword, Efraim is my eersgeborene. Hoor die woord van die Here, nasies, vertel dit aan die verste eilande! Julle moet sê: Hy wat vir Israel verstrooi het, sal hom bymekaarmaak. Die Here sal hom oppas soos 'n wagter sy trop skape oppas. Die Here het vir Jakob bevry, hulle gered uit die mag van een wat sterker as hulle is. Hulle sal kom en op die Sionshoogte sing, hulle sal straal van blydskap oor die goeie wat deur die Here gegee word: oor koring, wyn en olie, oor die aanteel van kleinvee en grootvee. Hulle sal floreer soos 'n tuin wat goed natgelei word, hulle sal nie meer na water smag nie. Dan sal die jong meisies dans van blydskap saam met die jong mans en die ou mans. Ek sal hulle droefheid in vreugde verander, Ek sal vir hulle uitkoms gee: Ek sal hulle bly maak, hulle sal geen kommer meer hê nie. Ek sal 'n oorvloed goeie kos vir die priesters gee, my volk sal oorgenoeg hê aan die goeie wat Ek gee, sê die Here.

JEREMIA 31:7-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ja, so sê die HERE, “Jubel met vreugde oor Jakob! Juig oor die hoof van die nasies. Verkondig dit! Sing lof en sê, ‘Verlos u volk, HERE, die oorblyfsel van Israel!’ Kyk, Ek gaan hulle bring uit 'n land in die noorde. Ek gaan hulle byeenbring vanaf die uithoeke van die aarde. Onder hulle sal blindes en kreupeles wees, vroue wat swanger is en wat geboorte gee – almal saam. As 'n groot geloofsgemeenskap gaan hulle hierheen terugkeer. Met 'n gehuil sal hulle kom, en onder smeekbedes sal Ek hulle begelei. Ek sal hulle bring by waterstrome, op 'n gelyk pad waarop hulle nie sal struikel nie. Want Ek het vir Israel 'n vader geword, Efraim is my eersgeborene. “Hoor die woord van die HERE, nasies! Maak dit bekend op die verste eilande, en sê, ‘Hy wat Israel verstrooi het, sal hulle bymekaarmaak en hulle oppas soos 'n herder sy kudde.’ Want die HERE het Jakob vrygekoop, hom losgekoop uit die hand van een wat sterker is as hy. Hulle sal kom en jubel op die hoogte by Sion; hulle sal van vreugde straal oor die goedheid van die HERE, oor koring, •nuwe wyn en olie, en oor lammers en beeste. Hulle sal wees soos 'n natgeleide tuin; hulle sal nie weer wegkwyn nie. Dan sal jongvroue vreugde vind in kringdanse, ook jong manne en ou manne saam met hulle. Ek sal hulle rou verander in vrolikheid; Ek sal hulle troos, en aan hulle vreugde gee in die plek van hulle droefheid. Ek sal die priesters verkwik met olie, en my volk sal met my goedheid versadig word,’ ” is die uitspraak van die HERE.

JEREMIA 31:7-14 Die Boodskap (DB)

Die Here sê: “Sing omdat julle bly is oor Israel. Israel is die gelukkigste volk van al die volke. Skree dit hard uit! Gee eer aan die Here. Vertel van alles wat Hy gedoen het. ’n Deel van die mense van Israel het die tyd wat hulle gevangenes in Babel was, oorleef. Dit is die Here wat sy mense weer vrygemaak het. Ek sal hulle uit die noorde terugbring na hulle eie land toe. Selfs al is hulle op die uithoeke van die aarde, sal Ek hulle bymekaarmaak en terugbring. Ek sal ook nie die blinde en kreupel mense vergeet nie. Ek sal ook nie van die vroue wat babas verwag of wat op die punt is om ’n baba te hê, vergeet nie. ’n Groot klomp mense sal terugkom na hulle land toe. Trane van blydskap sal oor hulle gesig loop. Ek sal hulle troos en hulle versigtig na hulle eie land toe teruglei. Ek sal hulle langs waterstrome lei. Hulle sal op paaie loop wat gelyk is sodat hulle nie sal val nie. Ek is Israel se pa. Efraim is my oudste kind.” Die Here het iets vir die nasies te sê wat Hy wil hê hulle moet hoor. Selfs lande wat baie ver is en by die see is, moet dit hoor: die Here het sy volk uitmekaar laat spat. Maar Hy sal hulle weer bymekaarmaak. Hy sal hulle oppas soos ’n herder sy skape oppas. Soos ’n mens ’n losprys moet betaal om iemand wat ontvoer is los te kry, so het die Here met Israel gemaak. Israel se vyande is baie sterk, maar die Here het hulle losgekry uit hulle mag. Hulle sal terugkom en op die hoogtes van Jerusalem sal hulle vrolike liedere sing. Hulle sal bly wees omdat die Here so goed vir hulle is. Hy het vir hulle graan, wyn en olie gegee. Verder het Hy ook vir hulle skape en beeste gegee. Dit sal goed met hulle gaan. Hulle lewe sal wees soos ’n tuin wat genoeg water kry. Hulle sal nie meer rede hê om hartseer te wees nie. Die meisies sal dans omdat hulle bly is. Die mans, of hulle nou oud of jonk is, sal deelneem aan hierdie vrolikheid. Die Here sê Hy sal hulle gehuil verander in blydskap. Hy sal hulle troos. Hy sal hulle depressiewe gevoel wegvat en in die plek daarvan vreugde gee. “Ek sal vir die priesters meer as genoeg gee om te offer. My volk sal tevrede voel oor al die goeie dinge wat Ek vir hulle sal gee.” Dit is wat die Here sê Hy sal doen.

JEREMIA 31:7-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE sê: “Sing van blydskap oor Israel! Roep uit vir die vernaamste van al die volke! Laat hulle julle lofprysing hoor en sê: ‘HERE, red u volk, die oorblyfsel van Israel.’ Kyk, Ek sal hulle uit die noorde terugbring. Ek sal hulle uit die uithoeke van die aarde bymekaarmaak. Onder hulle sal blindes en kreupeles wees, ook verwagtende moeders en vroue op die punt om geboorte te gee. ’n Groot getal mense sal hierheen terugkeer! Hulle sal al huilend terugkom, hulle sal bid terwyl Ek hulle teruglei. Ek sal hulle langs strome lei. Hulle sal op ’n reguit pad loop sodat hulle nie kan struikel nie. Ek is Israel se pa. Efraim is my oudste kind. “Nasies, luister na die woord van die HERE, vertel dit in veraf kuslande. Die HERE het Israel uitmekaar laat spat, Hy sal hulle weer byeenbring. Soos ’n herder sy skape oppas, so sal Hy hulle versorg. Die HERE het Israel vrygemaak, hulle losgekoop uit die mag van ’n vyand sterker as hulle. Hulle sal terugkom en vrolik sing op die hoogtes van Jerusalem. Hulle sal straal van blydskap oor die goedheid van die HERE. Hy gee graan, nuwe wyn, olie, lammers en beeste. Hulle lewens sal wees soos ’n tuin met volop water. Hulle sal nie meer rede hê om hartseer te wees nie. Dan sal die meisies van blydskap dans. Die mans, oud en jonk, sal deel in die vrolikheid. Ek sal hulle gehuil in blydskap verander. Ek sal hulle troos. Ek sal hulle vreugde gee in die plek van hartseer. Ek sal aan die priesters oorvloed gee om te offer. My volk sal tevrede voel oor die goeie dinge wat Ek vir hulle gee,” sê die HERE.