JEREMIA 31:23-25
JEREMIA 31:23-25 Bybel vir almal (ABA)
Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: “Wanneer Ek dit weer goed laat gaan met die mense van Juda, dan sal hulle in die land Juda en in sy stede weer sê: ‘ Gewyde berg, die Here sal jou seën, jy is die berg waar die mense woon wat reg doen.’ Al die mense van Juda en sy stede sal saam in Jerusalem woon, die mense wat in die grond werk en ook die wagters wat met hulle skape en bokke na ander plekke trek. Ja, Ek gee nuwe krag vir elkeen wat moeg is, Ek laat elkeen wat honger is, meer as genoeg kos kry.
JEREMIA 31:23-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Weer sal hulle hierdie woord sê in die land Juda en in die stede daarvan, as Ek hulle lot verander: Mag die HERE jou seën, o woning van geregtigheid, heilige berg! En Juda en al sy stede sal daarin woon, almal saam; die landbouers en die wat met troppe vee rondtrek. Want Ek verkwik die vermoeide siel en elke kwynende siel versadig Ek.
JEREMIA 31:23-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Wanneer Ek hulle lot verander, sal hulle weer in Juda en in sy stede sê: Die Here sal jou seën, regmatige woonplek, heilige berg! Mense sal saam woon in Juda en in sy stede, boere en veewagters wat rondtrek. Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is, Ek maak die moedelose weer vol moed.
JEREMIA 31:23-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“So sê die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Hulle sal weer hierdie woorde sê in die land Juda en in sy dorpe wanneer Ek hulle lot verander: “Mag die HERE jou seën, woonplek van geregtigheid, heilige berg!” Juda en al sy dorpe sal saam daar woon, landbouers en hulle wat met kuddes kleinvee rondtrek. “ ‘Want Ek verkwik 'n dors mens, en aan elkeen wat versmag, gee Ek genoeg.’ ”
JEREMIA 31:23-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Nogtans sal hulle hierdie spraak gebruik in die land van Juda en in die stede daarvan, wanneer Ek hulle ballingskap terugbring; Die HERE seën jou, o woning van geregtigheid en berg van heiligheid! En daar sal in Juda self woon en in al die stede daarvan saam landbouers en die wat met kleinvee uittrek. Want Ek het die vermoeide siel versadig, en elke bedroefde siel het Ek gevul.
JEREMIA 31:23-25 Die Boodskap (DB)
Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel en Hy sê: “As Ek Israel se omstandighede verander in Juda en in al hulle stede, sal hulle weer sê: ‘Mag die Here jou voorspoedig maak, Jerusalem!’ Jerusalem is die Here se spesiale woonplek. Al die mense in die stede en in die gebied van Juda, die boere en die herders, sal in rus en vrede saambly. Want Ek sal rus gee aan al die mense wat moeg is. En as daar mense is wat honger is, sal Ek vir hulle kos gee.”
JEREMIA 31:23-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE, die Almagtige, die God van Israel, sê: “As Ek hulle terugbring uit hulle ballingskap, sal die mense in Juda en in hulle dorpe weer sê: ‘Die HERE seën jou, tuiste van geregtigheid, heilige berg!’ Al die mense in die dorpe en in die gebied van Juda, die boere en die herders, sal in rus en vrede saambly. Want Ek sal nuwe krag gee aan dié wat moeg is en die swakkes versterk.”