JEREMIA 29:1-14

JEREMIA 29:1-14 Bybel vir almal (ABA)

Die profeet Jeremia was in Jerusalem en hy het 'n brief geskryf vir die leiers van die Judeërs wat in Babel was en vir die priesters en al die mense vir wie Nebukadnesar weggevat het uit Jerusalem na Babel. Hy het die brief geskryf vir almal wat nog gelewe het. Dit het gebeur toe koning Jojagin en sy ma na Babel moes gaan, en saam met hulle almal wat in die paleis gewerk het en die amptenare van Juda en Jerusalem en die ambagsmanne en die ander mense wat goed met hulle hande kon werk. Koning Sedekia het vir Elasa seun van Safan en Gemarja seun van Gilkija gestuur na koning Nebukadnesar van Babel, en Jeremia het die brief saam met hulle gestuur. Jeremia het geskryf: “Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê vir almal wat Hy laat wegvat het na Babel: Julle moet huise bou en tuinmaak en die vrugte en groente eet. Julle moet trou en kinders kry, en julle moet julle kinders laat trou sodat hulle kinders kan kry. Julle moet meer word, nie minder nie. En julle moet help dat dit goed gaan met die stad waarnatoe Ek julle laat wegvat het. Julle moet ook bid vir die mense van daardie stad, want as dit met hulle goed gaan, dan sal dit met julle ook goed gaan. “Ja, die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Julle moenie luister na die profete en waarsêers wat daar by julle is nie, en julle moenie luister na die mense wat sê hulle weet wat julle drome beteken nie, want hulle bring vals boodskappe en hulle sê Ek het hulle gestuur. Maar Ek het hulle nie gestuur nie. Ja, die Here sê: Babel sal 70 jaar lank sterk wees. Daardie 70 jaar moet eers verbygaan. Daarna sal Ek weer goed wees vir julle en doen wat Ek belowe het. Ek sal julle dan laat terugkom na Jerusalem. Ek weet wat Ek met julle wil doen. Ek wil hê dit moet goed gaan met julle in die jare wat sal kom, nie sleg nie. Julle moet kan hoop dat dit goed sal gaan met julle. Julle sal vra dat Ek julle moet help, julle sal aanhou bid tot My, en Ek sal julle hoor. Julle sal My soek en julle sal My kry, want julle sal My soek met julle hele hart. Ek sal julle help om My te kry, en Ek sal dit weer goed laat gaan met julle. Ek sal julle bymekaarmaak uit al die volke en uit al die plekke waarnatoe Ek julle laat gaan het, en Ek sal julle terugbring hier na die plek van waar Ek julle laat wegvat het. Dit sê die Here

JEREMIA 29:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN dit is die woorde van die brief wat die profeet Jeremia uit Jerusalem gestuur het na die nog lewende oudstes van die ballinge en na die priesters en die profete en na die hele volk wat Nebukadnésar uit Jerusalem in ballingskap weggevoer het na Babel toe — ná die uittog van die koning Jegónja en die gebiedster en die hofdienaars, die vorste van Juda en Jerusalem, en die smede en die slotmakers, uit Jerusalem — deur bemiddeling van Eleása, die seun van Safan, en Gemárja, die seun van Hilkía, wat Sedekía, die koning van Juda, na Nebukadnésar, die koning van Babel, na Babel gestuur het, naamlik: So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel, aan al die ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel in ballingskap weggevoer het: Bou huise en woon, en plant tuine aan en eet die vrugte daarvan; neem vroue en verwek seuns en dogters, en neem vroue vir julle seuns en gee julle dogters aan mans, dat hulle seuns en dogters baar; en vermenigvuldig daar, en moenie verminder nie; en soek die vrede van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, en bid daarvoor tot die HERE; want in die vrede daarvan sal julle vrede hê. Want so spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Laat julle profete en julle waarsêers wat onder julle is, julle nie bedrieg nie, en luister nie na julle dromers vir wie julle laat droom nie. Want hulle profeteer vir julle vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur nie, spreek die HERE. Want so sê die HERE: As eers sewentig jaar vir Babel verby is, sal Ek op julle ag gee en aan julle my goeie woord vervul om julle na hierdie plek terug te bring. Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee. Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart. En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die HERE, en julle lot verander en julle versamel uit al die nasies en uit al die plekke waarheen Ek julle verdryf het, spreek die HERE; en Ek sal julle terugbring na die plek vanwaar Ek julle in ballingskap weggevoer het.

JEREMIA 29:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dit is 'n afskrif van die brief wat die profeet Jeremia uit Jerusalem gestuur het na die leiers van die ballinge wat nog oor was, en na die priesters en die profete en die hele volk wat deur Nebukadnesar uit Jerusalem na Babel toe weggevoer is. Jeremia het die brief gestuur nadat koning Jojagin en die koninginmoeder, die paleispersoneel en die amptenare van Juda en Jerusalem, die ambagsmanne en die bouers uit Jerusalem weg is. Jeremia het die brief gestuur met Elasa seun van Safan en met Gemarja seun van Gilkija wat deur koning Sedekia van Juda na koning Nebukadnesar van Babel toe gestuur is. So sê Ek, die Here die Almagtige, die God van Israel, vir al die ballinge wat Ek uit Jerusalem in ballingskap na Babel toe weggevoer het: Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie. Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange. So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Moenie dat die profete en waarsêers daar by julle julle mislei nie. Moenie ag slaan op daardie drome wat julle so graag droom nie. Daardie mense tree sonder opdrag op as profete in my Naam. Ek het hulle nie gestuur nie, sê die Here. So sê die Here: Oor presies sewentig jaar sal Ek Babel straf en julle onder my sorg neem en dan sal Ek my belofte nakom om julle hier na Jerusalem toe terug te bring. Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting! Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra. Julle sal My ontmoet, sê die Here, en Ek sal julle terugbring uit die ballingskap uit. Ek sal julle bymekaarmaak tussen al die nasies uit en van al die plekke af waarheen Ek julle verstrooi het, sê die Here, en Ek sal julle terugbring na die plek toe waarvandaan Ek julle in ballingskap weggevoer het.

JEREMIA 29:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Dit is die woorde van die brief wat die profeet Jeremia uit Jerusalem gestuur het na die res van die oudstes in ballingskap en na die priesters, die profete en die hele volk wat Nebukadnesar uit Jerusalem in ballingskap weggevoer het na Babel, nadat koning Jegonja, die koninginmoeder en die eunugs, die •hoë amptenare van Juda en Jerusalem, die vakmanne en metaalwerkers reeds uit Jerusalem vertrek het, deur bemiddeling van Elasa, seun van Safan, en Gemarja, seun van Gilkija, hulle wat deur Sedekia, koning van Juda, na Babel, na Nebukadnesar, die koning van Babilonië, gestuur is: So sê die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel, aan al die ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel in ballingskap weggevoer het: “Bou huise en bewoon dit; plant tuine aan en eet die vrugte daarvan! Neem vroue en verwek seuns en dogters, en kry vir julle seuns vroue en gee julle dogters aan mans, sodat hulle seuns en dogters kan kry. Word daar meer en moenie minder word nie. Bevorder die voorspoed van die stad waarheen Ek julle in ballingskap laat gaan het, en bid tot die HERE vir die stad, want in sy voorspoed is daar ook voorspoed vir julle.” Ja, so sê die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel, ‘Moenie dat julle profete en die voorspellers in julle midde julle mislei nie, en moenie aandag gee aan die drome wat julle hulle laat droom nie. Want dit is leuens wat hulle vir julle profeteer in my Naam. Ek het hulle nie gestuur nie,’ is die uitspraak van die HERE. Ja, so sê die HERE: “As sewentig jaar vir Babel verloop het, sal Ek aan julle aandag gee en my goeie belofte aan julle gestand doen, om julle na hierdie plek toe terug te bring. Ja, Ek ken die planne wat Ek vir julle het,” is die uitspraak van die HERE. “Dit is planne van voorspoed, en nie teenspoed nie, om aan julle 'n toekoms en hoop te gee. Julle sal My aanroep, en kom en tot My bid, en Ek sal na julle luister. Julle sal My soek en vind as julle My met julle hele hart raadpleeg. Ek sal My deur julle laat vind,” is die uitspraak van die HERE, “en Ek sal julle lot verander en julle bymekaarmaak uit al die nasies en al die plekke waarheen Ek julle verdryf het,” is die uitspraak van die HERE, “en Ek sal julle terugbring na die plek waarvandaan Ek julle in ballingskap weggevoer het.”

JEREMIA 29:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En dit is die woorde van die brief wat die profeet Jeremia uit Jerusalem gestuur het aan die oorblyfsel van die oudstes wat weggevoer is, en aan die priesters en die profete en aan die hele volk wat Nebukadnésar uit Jerusalem as gevangenes weggevoer het na Babilon toe; (Daarna het koning Jekonja en die koningin en die eunugs, die vorste van Juda en Jerusalem, en die skrynwerkers en die smede, uit Jerusalem vertrek;) Deur die hand van Elasa, die seun van Safan, en Gemarja, die seun van Hilkía, wat Sedekia, die koning van Juda, na Babel gestuur het na Nebukadnésar, die koning van Babel, en gesê het: So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel, aan almal wat gevangenes weggevoer is, wat Ek van Jerusalem af na Babel laat wegvoer het; Bou huise en woon daarin; en plant tuine en eet die vrugte daarvan; Neem vroue en verwek seuns en dogters; en neem vir julle seuns vroue en gee julle dogters aan mans, dat hulle seuns en dogters kan baar; sodat julle daar vermeerder en nie verminder kan word nie. En soek die vrede van die stad waarheen Ek julle as gevangenes weggevoer het, en bid daarvoor tot die HERE; want in die vrede daarvan sal julle vrede hê. Want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Laat julle profete en julle waarsêers wat in julle midde is, julle nie mislei nie, en luister nie na julle drome wat julle laat droom nie. Want hulle profeteer vals vir julle in my Naam: Ek het hulle nie gestuur nie, spreek die HERE. Want so sê die HERE: Na sewentig jaar voleindig is in Babel, sal Ek na julle kyk en my goeie woord aan julle volbring deur julle na hierdie plek te laat terugkeer. Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n verwagting te gee. Dan sal julle My aanroep en gaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en My vind, wanneer julle My met julle hele hart soek. En Ek sal deur julle gevind word, spreek die HERE; en Ek sal julle gevangenskap afwend en julle versamel uit al die nasies en uit al die plekke waarheen Ek julle verdryf het, spreek die HERE; en Ek sal jou terugbring na die plek waar Ek jou in ballingskap weggevoer het.

JEREMIA 29:1-14 Die Boodskap (DB)

Jeremia het ’n brief geskryf terwyl hy in Jerusalem was. Hy het dit gestuur aan die senior leiers, die priesters, die profete en al die mense van Juda wat in Babel was. Koning Nebukadnesar het hulle uit hulle land weggevat Babel toe. Koning Jojagin en die koningin-moeder was toe alreeds as gevangenes uit Jerusalem weggevat. Saam met hulle was ook die amptenare van die koning, die leiers van Juda en al die mense wat goed met hulle hande kon werk. Dit was onder andere ambagsmense en mense wat met yster kon werk. Jeremia het die brief saam met Elasa, wat Safan se seun was, en ook saam met Gemarja, wat Gilkija se seun was, gestuur. Koning Sedekia het hulle Babel toe gestuur om hom by koning Nebukadnesar te verteenwoordig. Jeremia het in sy brief die volgende geskryf: Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel. Hy sê vir al die mense wat Hy uit Jerusalem uit laat wegvat het na Babel toe: “Bou vir julle huise in Babel om in te bly. Maak vir julle tuine en eet die kos wat uit die tuine kom. Julle moet ook trou en kinders hê. Sorg ook dat julle kinders maats kry om mee te trou. Mag hulle vir julle baie kleinkinders gee. Werk daaraan dat julle getalle meer word en nie minder nie. Doen ook julle deel dat daar vrede en voorspoed in Babel sal wees. Vra ook in gebed vir die Here dat dit goed sal gaan met die stad waar julle aangekom het toe julle uit julle land weggevat is. As dit met Babel goed gaan, sal dit ook met julle goed gaan.” Die Here wat die God van Israel is, sê: “Moenie toelaat dat die profete en die waarsêers wat daar by julle is, julle bedrieg nie. Julle moet julle ook nie steur aan hulle drome nie. Hulle vertel vir julle leuens en dan sê hulle nog dat hulle namens My praat. Ek het hulle beslis nie gestuur nie!” sê die Here. Die Here sê: “Die waarheid van die saak is, julle sal vir 70 jaar in Babel wees. Maar as die tyd verby is, sal Ek begin om al die goeie beloftes wat Ek gemaak het, waar te laat word. Ek sal julle na julle land toe laat terugkom. Ek weet wat Ek vir julle in gedagte het. Ek beplan dat goeie dinge met julle sal gebeur en nie slegte goed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê. Julle sal na My roep en kom bid. Ek sal na julle luister. As julle met alles in julle na My soek, sal julle by My uitkom. Julle sal julle doel bereik deurdat Ek die taal van julle hart sal verstaan. Ek verstaan wat julle graag wil hê. Ek sal sorg dat julle nie langer as gevangenes in ’n ander land sal bly nie. Ek sal julle wegvat tussen al die nasies waar julle nou is. Dit is so dat Ek die rede is dat julle daar in die vreemde sit, maar Ek sal julle na julle eie land toe terugbring,” sê die Here.

JEREMIA 29:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Wat volg, is die inhoud van ’n brief wat Jeremia in Jerusalem geskryf het. Hy het dit gestuur aan die oumense, priesters, profete en al die mense wat Nebukadnesar uit Jerusalem na Babel toe weggevoer het. Koning Jojagin en die koninginmoeder was toe alreeds uit Jerusalem weggevoer. Saam met hulle was ook die amptenare van die koning, die leiers van Juda, ambagsmense en smede. Jeremia het die brief saam met Elasa seun van Safan en Gemarja seun van Gilkija gestuur. Koning Sedekia van Juda het hulle as ambassadeurs na koning Nebukadnesar van Babel gestuur. Jeremia se brief was soos volg: Die HERE, die Almagtige, die God van Israel, sê vir al die mense wat Hy uit Jerusalem na Babel toe laat wegvoer het: “Bou huise en woon daarin. Plant tuine en eet die kos wat dit oplewer. Trou en verwek kinders. Sorg dat julle kinders ook trou sodat julle baie kleinkinders sal hê! Sorg dat julle getalle daar vermeerder en nie verminder nie. Dra ook julle deel by vir vrede in Babel waarheen Ek julle in ballingskap laat gaan het. Bid tot die HERE sodat dit goed sal gaan met die stad waarin julle bly. As dit met Babel goed gaan, sal dit ook met julle goed gaan.” Die HERE, die Almagtige, die God van Israel, sê: “Moenie toelaat dat die profete en die waarsêers by julle julle bedrieg nie. Julle moet julle ook nie aan hulle drome steur nie. Hulle verkondig leuens aan julle en sê hulle praat namens My. Ek het hulle beslis nie gestuur nie!” sê die HERE. So sê die HERE: “Julle sal 70 jaar lank in Babel wees. Maar as die tyd verstryk het, sal Ek al die goeie beloftes begin vervul. Ek sal julle na julle land toe terugbring. Ek weet wat Ek vir julle beplan het,” sê die HERE. “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê. Julle sal na My roep en bid, en Ek sal na julle luister. As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind. Julle sal My toeganklik vind,” sê die HERE. “Ek sal julle uit gevangenskap laat terugkeer. Ek sal julle versamel tussen al die nasies waar julle nou is en uit al die plekke waarheen Ek julle verban het,” sê die HERE. “Ek sal julle weer terugbring na die plekke waarvandaan Ek julle in ballingskap laat gaan het.”