JEREMIA 2:31-37
JEREMIA 2:31-37 Bybel vir almal (ABA)
Julle wat nou lewe, julle moet hoor wat sê die Here: “Was Ek vir die Israeliete soos 'n woestyn of soos 'n donker land? Hoekom sê my volk: ‘Ons het weggegaan van U, ons wil nie terugkom na U toe nie?’ 'n Jongmeisie vergeet nie haar juwele nie, 'n bruid vergeet nie haar trouklere nie. Maar my volk het My gou vergeet. Julle weet baie goed hoe om ontrou te wees, ook slegte vroue kan by julle leer. Julle het mense laat doodmaak wat nie verkeerd gedoen het nie. Hulle was arm mense wat nie gesteel het nie. Julle het dit alles gedoen, maar julle sê: ‘Ons het nie verkeerd gedoen nie, die Here is nie meer kwaad vir ons nie.’ Ek wil julle nou straf omdat julle gesê het julle het nie sonde gedoen nie. Julle vra vir die een volk om julle te help, en dan vir die ander volk, maar die Assiriërs het julle nie gehelp nie en die Egiptenaars sal julle ook nie help nie. Julle het mense na Egipte gestuur, maar hulle sal moedeloos terugkom uit Egipte, want vir die Here is daardie volke nie belangrik nie, hulle sal nie help dat dit met julle goed gaan nie.”
JEREMIA 2:31-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
O Geslag, verneem die woord van die HERE! Het Ek vir Israel 'n woestyn geword of 'n land van duisternis? Waarom sê my volk dan: Ons swerf vry rond, ons sal nie meer na U toe kom nie? Kan 'n jonkvrou haar versiersel vergeet, 'n bruid haar pronkgordel? Maar my volk het My vergeet, dae sonder getal. Hoe goed kry jy jou pad om liefde te soek! Daarom het jy ook jou weë aan die slegte dinge gewend gemaak. Ook is aan jou some die bloed gevind van die siele van onskuldige armes; nie by 'n plek waar ingebreek is, het Ek dit gevind nie, maar by hierdie almal. Nogtans het jy gesê: Ek is tog onskuldig; gewis het sy toorn hom van my afgewend. Kyk, Ek sal met jou na die gereg gaan, omdat jy sê: Ek het nie gesondig nie. Wat loop jy so baie weg om jou pad te verander? Jy sal ook deur Egipte in die skande kom soos jy deur Assur in die skande gekom het. Ook daarvan sal jy uitgaan met jou hande op jou hoof; want die HERE het hulle verwerp op wie jy vertrou, en jy sal met hulle geen voorspoed hê nie.
JEREMIA 2:31-37 Afrikaans 1983 (AFR83)
Slaan ag op die woord van die Here, my volk! Was Ek dan vir Israel soos 'n woestyn of soos 'n stikdonker land? Waarom het my volk dan gesê: “Ons rebelleer, ons wil U nie meer dien nie”? Vergeet 'n meisie haar juwele of 'n bruid haar trourok? Tog het my volk My jare gelede al vergeet. Hoe geoefen is jy in die kuns om minnaars te soek; jy het al so gewoond geraak aan die kwaad! Die some van jou klere is vol bloed, die bloed van arm en onskuldige mense, nie dié van mense wat jy op inbraak betrap het nie. En ten spyte van dit alles sê jy: “Ek is onskuldig; die Here is nie toornig op my nie.” Maar Ek gáán jou straf omdat jy gesê het: “Ek het nie gesondig nie.” Hoe laag het jy gedaal deur jou wispelturigheid! Egipte sal jou net so in die steek laat as wat Assirië jou in die steek gelaat het. Jy sal daarvandaan terugkom sonder dat jy jou sin gekry het, want Ek het almal verwerp op wie jy vertrou het; by hulle sal jy geen hulp kry nie.
JEREMIA 2:31-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Julle is daardie geslag. Slaan ag op die woord van die HERE! “Het Ek 'n woestyn geword vir Israel of 'n land van digte duisternis? Waarom sê my volk, ‘Ons loop vry rond; ons sal nie weer na U gaan nie?’ “Sal 'n jong meisie haar juwele vergeet, of 'n bruid haar lyfserpe? Tog het my volk My vergeet, ontelbare dae lank al. Hoe goed vind jy jou pad om liefde te gaan soek! Daarom kan jy ook die slegste vroue jou paaie leer! Selfs aan die some van jou klere word dit gevind – die bloed van mense, van onskuldige behoeftiges, wat jy nie by 'n inbraak betrap het nie. Maar teen dit alles in hou jy vol, ‘Ek is onskuldig; sy toorn is beslis van my afgewend.’ Kyk, Ek gaan met jou 'n regstryd voer, omdat jy volhou, ‘Ek het nie gesondig nie.’ Hoe uiters maklik verander jy van koers. Ook in Egipte sal jy bedroë daarvan afkom, net soos jy in Assirië bedroë daarvan afgekom het. Ook daarvandaan sal jy weggaan met jou hande op jou kop. Want die HERE het dit waarop jy jou vertroue plaas, verwerp. Jy sal nie slaag by hulle nie.”
JEREMIA 2:31-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
O geslag, sien die woord van die HERE. Was ek 'n woestyn vir Israel? 'n land van duisternis? Daarom sê my volk: Ons is HERE; sal ons nie meer na jou toe kom nie? Kan 'n diensmeisie haar versierings vergeet, of 'n bruid haar kleed? nogtans het my volk My vergeet dae sonder getal. Waarom snoei jy jou weg om liefde te soek? daarom het U ook die goddeloses u weë geleer. Ook in jou slip is die bloed van die siele van die arme onskuldiges gevind; Maar jy sê: Omdat ek onskuldig is, sal sy toorn sekerlik van my afwyk. Kyk, ek sal met jou stry, omdat jy sê: Ek het nie gesondig nie. Waarom is jy so gretig om jou weg te verander? ook sal jy jou beskaamd wees vir Egipte, soos jy jou geskaam het vir Assirië. Ja, jy moet van hom uitgaan, en jou hande op jou hoof, want die HERE het jou vertroue verwerp, en jy sal daarin nie voorspoedig wees nie.
JEREMIA 2:31-37 Die Boodskap (DB)
Israel, luister na wat die Here te sê het! Hy vra: Is Ek vir Israel so sleg dat dit vir hulle voel soos om in ’n woestyn te wees of in ’n pikdonker land? Hoekom sê my volk dan: ‘Uiteindelik is ons vry, ons wil nooit weer iets met Hom te doen hê nie’? Sê My, vergeet ’n meisie haar juwele? Sal ’n vrou vergeet hoe haar trourok gelyk het? Hoe is dit dan moontlik dat my mense My keer op keer vergeet? Julle is soos mense wat al die fyner kunsies ken om ander mans of vroue in die hande te kry. Julle is so goed met die verkeerde manier van doen dat hierdie mense by julle kan kom leer. Julle klere is gevlek met die bloed van onskuldige arm mense wat julle vermoor het. Julle kon nie eens sê dat julle hulle doodgemaak het omdat hulle by julle huise ingebreek het nie. Tog, ten spyte van alles sê julle: ‘Ons is onskuldig. Dit is regtig so, die Here is nie kwaad vir ons nie!’ Julle kan vir seker weet, Ek gaan julle swaar straf omdat julle doodgewoon maak of julle niks verkeerd gedoen het nie. Julle val lekker rond en dink vandag so en môre anders. Maar dit kan julle weet, julle vriende in Egipte sal julle in die steek laat net soos Assirië destyds gedoen het. Julle sal teleurgesteld van Egipte af terugkom, want Ek sal die mense op wie julle vertrou, afskryf. Dit sal nie met julle goed gaan nie, ook al help hulle julle.”
JEREMIA 2:31-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Israel, luister na die woord van die HERE! Hy vra: ‘Is Ek vir Israel soos die woestyn of ’n pikdonker land?’ Hoekom sê my volk: ‘Uiteindelik is ons vry, en ons wil nooit weer iets met Hom te doen hê nie’? Vergeet ’n meisie haar juwele? Sal ’n vrou vergeet hoe haar trourok gelyk het? Hoe kan my mense My dan dae aaneen vergeet? Jy ken al die fyner kunsies om minnaars te lok. Die mees ervare prostituut kan by jou kom leer. Jou klere is bevlek met bloed van onskuldige armes. Jy maak hulle dood selfs al het hulle nie by jou huis ingebreek nie. Tog sê jy: ‘Ek is onskuldig. Regtig, die HERE kan nie vir my kwaad wees nie!’ Weet dit: Ek gaan jou straf juis omdat jy sê: ‘Ek het nie gesondig nie!’ Jy flankeer van die een na die ander om jou te help. Maar soos Assirië jou in die steek gelaat het, so sal Egipte jou ook in die steek laat. Jy sal terugkom met jou hande op jou kop, en in ballingskap gaan, want die HERE het die nasies verwerp op wie jy vertrou het. Jy sal nie slaag nie, ondanks hulle hulp.”