RIGTERS 6:3-6
RIGTERS 6:3-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Telkens wanneer die Israeliete gesaai het, trek die Midianiete, die Amalekiete en mense uit die ooste op. Hulle trek teen Israel op, slaan by hulle kamp op en verwoes die opbrengs van die land tot by Gasa. Hulle laat dan geen lewensmiddele in Israel oorbly nie, ook nie 'n skaap, 'n bees of 'n donkie nie. Want hulle, met hulle veetroppe en tente, het opgetrek en soos groot swerms treksprinkane ingekom – hulle en hulle kamele was ontelbaar. Hulle het die land binnegeval om dit te verwoes. Israel het heeltemal verarm vanweë die Midianiete, en die Israeliete het na die HERE om hulp geroep.
RIGTERS 6:3-6 Die Boodskap (DB)
Elke keer as die Israeliete hulle oeste geplant het, het die Midianiete en die Amalekiete en van die ander mense uit die ooste hulle land binnegeval. Dan het hulle kamp opgeslaan en al die oeste verwoes tot so ver as by Gasa. Hulle het die Israeliete agterlaat met niks om te eet nie, want hulle het ook die skape, beeste en donkies saam met hulle gevat. Die soldate van Midian het met al hulle vee en tente gekom. Dit het soos ’n swerm sprinkane gelyk, so baie was hulle. Dit was onmoontlik om hulle en hulle kamele te probeer tel. Hulle het in die land gebly totdat hulle dit kaal gestroop het. Hulle het die Israeliete heeltemal laat verarm. Toe het die Israeliete by die Here hulp gaan soek.
RIGTERS 6:3-6 Bybel vir almal (ABA)
Hulle het dit gedoen omdat die Midianiete en die Amalekiete en die Oosmense elke maal gekom het wanneer die Israeliete klaar hulle koring gesaai het. Hulle het dan hulle tente opgeslaan en hulle het die hele land verwoes, tot by die stad Gasa. Hulle het niks laat oorbly wat die Israeliete kon eet nie, ook nie skape of beeste of donkies nie. Die Midianiete en die ander vyande het hulle eie skape en bokke en beeste en tente saamgebring. Hulle was so baie soos sprinkane. 'n Mens kon hulle en hulle kamele nie tel nie. Hulle het gekom en hulle het die land verwoes. Die Israeliete het baie arm geword omdat die Midianiete en die ander vyande altyd hulle goed gevat het. Die Israeliete het gebid en gevra dat die Here hulle moet help.
RIGTERS 6:3-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want as Israel gesaai het, dan trek die Midianiete en Amalekiete en die kinders van die Ooste uit, en trek teen hulle op: slaan laers teen hulle op en verwoes die opbrings van die land in die rigting na Gasa, en hulle laat geen lewensmiddele, geen skaap of bees of esel in Israel oorbly nie. Want hulle het met hul vee en hul tente opgetrek en gekom soos sprinkane in menigte, terwyl hulle en hul kamele ontelbaar was; so het hulle dan die land ingekom om dit te verwoes. En Israel het deur die Midianiete baie arm geword, maar die kinders van Israel het die HERE aangeroep.
RIGTERS 6:3-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wanneer die Israeliete iets gesaai het, het die Midianiete teen hulle opgetrek saam met die Amalekiete en ander mense uit die ooste. Dan slaan die Midianiete kamp op en vernietig die opbrengs van die land selfs tot by Gasa se wêreld. Hulle het nie 'n dier in Israel lewend agtergelaat nie, nie 'n skaap of 'n bees of 'n donkie nie. Die Midianiete het met hulle veetroppe gekom en kom tent opslaan. Hulle was so baie soos sprinkane: hulle en hulle kamele kon nie getel word nie. Hulle het die land kaalgestroop. Hulle het die Israeliete arm laat word, en toe het die Israeliete tot die Here geroep om hulp.
RIGTERS 6:3-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe Israel gesaai het, het die Midianiete opgetrek, en die Amalekiete en die kinders van die Ooste, hulle het teen hulle opgetrek; En hulle het laer opgeslaan teen hulle en die opbrings van die aarde vernietig totdat jy in Gasa kom, en vir Israel geen lewensmiddele nagelaat nie, geen kleinvee of bees of esel nie. Want hulle het opgetrek met hulle vee en hulle tente, en hulle het soos sprinkane in menigte gekom; want hulle sowel as hulle kamele was ontelbaar, en hulle het in die land ingegaan om dit te vernietig. En Israel was baie verarm vanweë die Midianiete; en die kinders van Israel het die HERE aangeroep.
RIGTERS 6:3-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Sodra hulle iets geplant het, het die Midianiete, Amalekiete en die ander mense uit die ooste op hulle toegesak en hulle aangeval. Hulle het daar kom kamp opslaan en alles wat in die grond was, vernietig, selfs so ver as tot by Gasa. Hulle het nie ’n ding agtergelaat waarvan Israel kon lewe nie, selfs nie eers ’n skaap of ’n bees of ’n donkie nie. Die hordes Midianiete het met hulle veetroppe gekom en soos ’n swerm sprinkane hulle tente oral opgeslaan. Hulle kamele kon nie eers getel word nie. Waar hulle ook al gekom het, het hulle die land kaalgestroop. As gevolg van die Midianiete was die Israeliete totaal teen die grond. Die Israeliete het toe by die HERE om hulp begin smeek.