RIGTERS 6:12-16
RIGTERS 6:12-16 Bybel vir almal (ABA)
Die Engel van die Here het na hom toe gekom en vir hom gesê: “Jy is 'n man wat kan oorlog maak, en die Here is by jou.” Gideon het vir die Engel van die Here gesê: “Asseblief, Meneer, as die Here by ons is, sê vir my hoekom gebeur al hierdie dinge met ons? Waar is al sy wonderwerke? Ons voorvaders het ons daarvan vertel. Hulle het altyd gesê: ‘Die Here het ons uit Egipte gebring.’ Maar nou het die Here ons gelos. Hy het die Midianiete gestuur om ons te verdruk.” Die Here het na Gideon gekyk en vir hom gesê: “Jy is sterk. Jy moet die Israeliete gaan red van die Midianiete. Ek stuur jou om dit te doen.” Toe sê Gideon vir Hom: “Asseblief, Here, ek kan nie die Israeliete red nie. My familie is die kleinste familie in die Manasse-stam, en ek is die jongste seun in my pa se huisgesin.” Die Here het vir Gideon gesê: “Jy sal dit doen omdat Ek by jou sal wees. Jy sal die Midianiete oorwin. Dit sal so maklik wees soos wanneer jy teen een man veg.”
RIGTERS 6:12-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die Engel van die HERE het aan hom verskyn en vir hom gesê: Die HERE is met jou, dapper held! Toe vra Gídeon Hom: Ag, my heer, as die HERE met ons is, waarom het al hierdie dinge ons dan oorgekom? En waar is al sy wonders waar ons vaders ons van vertel het, deur te sê: Het die HERE ons nie uit Egipte laat optrek nie? Maar nou het die HERE ons verwerp en ons oorgegee in die hand van die Midianiete. Toe draai die HERE na hom toe en sê: Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Is dit nie Ek wat jou stuur nie? Maar hy vra Hom: Ag, Here, waarmee sou ek Israel verlos? Kyk, my geslag is die swakste in Manasse, en ek self die geringste in my familie. Toe sê die HERE vir hom: Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan.
RIGTERS 6:12-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!” Maar Gideon het vir die Engel gesê: “Ekskuus, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom kom al hierdie dinge oor ons? Waar is al sy magtige dade waarvan ons voorvaders ons vertel het toe hulle gesê het: ‘Het die Here ons nie uit Egipte bevry nie?’ Nou het die Here ons in die steek gelaat: Hy het ons oorgegee in die mag van die Midianiete.” Toe het die Here na Gideon toe gedraai en vir hom gesê: “Gaan met die krag wat jy het en gaan red die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Toe, Ek stuur jou!” Maar Gideon sê vir Hom: “Ekskuus, Meneer, waarmee sal ek die Israeliete gaan red? Die familie waaraan ek behoort, is die armste in die hele Manasse, en van my pa se kinders het ek die minste aansien.” Die Here het hom geantwoord: “Ek is by jou, en jy sal die Midianiete verslaan asof hulle nie meer as een is nie.”
RIGTERS 6:12-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die Engel van die HERE het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die HERE is met jou, dapper kryger!” Maar Gideon sê vir hom: “Asseblief, my Heer, as die HERE dan werklik met ons is, waarom tref al hierdie dinge ons? En waar is al sy wonderwerke waarvan ons voorouers ons vertel het toe hulle gesê het, ‘Het die HERE ons nie uit Egipte laat optrek nie?’ Maar nou het die HERE ons verstoot en ons oorgegee in die hand van die Midianiete.” Toe draai die HERE na hom en sê: “Gaan met die krag wat jy het, en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Het Ek jou nie gestuur nie?” Maar hy het Hom geantwoord: “Asseblief, my Heer! Hoe kan ek Israel verlos? Kyk, my familiegroep is die onbenulligste in Manasse, en ek is die jongste in my familie.” Die HERE sê toe vir hom: “Omdat Ek met jou sal wees, sal jy die Midianiete verslaan asof hulle net een man is.”
RIGTERS 6:12-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die Engel van die HERE het aan hom verskyn en vir hom gesê: Die HERE is met jou, dapper held! Toe sê Gideon vir hom: Ag, my Meester, as die HERE met ons is, waarom het dit alles dan oor ons gekom? en waar is al sy wondertekens waarvan ons vaders ons vertel het deur te sê: Het die HERE ons nie uit Egipte laat optrek nie? maar nou het die HERE ons verlaat en ons oorgegee in die hand van die Midianiete. En die HERE het hom aangekyk en gesê: Gaan in hierdie krag van jou, en jy sal Israel verlos uit die hand van die Midianiete. Het Ek jou nie gestuur nie? En hy sê vir hom: Ag, my HERE, waarmee sal ek Israel verlos? kyk, my familie is arm in Manasse, en ek is die geringste in die huis van my vader. Toe sê die HERE vir hom: Ek sal sekerlik met jou wees, en jy sal die Midianiete soos een man verslaan.
RIGTERS 6:12-16 Die Boodskap (DB)
Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!” Toe antwoord Gideon: “Verskoon my dat ek vra, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom gebeur al hierdie slegte goed met ons? Wat het van al die wonderlike dinge geword waarvan ons voorvaders ons vertel het? Het hulle nie gesê: ‘Die Here het ons uit Egipte gered’ nie? Maar nou het die Here ons aan ons eie lot oorgelaat en ons in die Midianiete se mag oorgegee.” Toe draai die Here na Gideon toe en sê vir hom: “Jy het die krag. Gaan bevry die Israeliete uit die Midianiete se mag! Gaan nou, Ek stuur jou!” “Ekskuus, Meneer,” sê Gideon, “maar waarmee moet ek die Israeliete red? My familie is die armste in die stam van Manasse en in my eie gesin is ek nie juis belangrik nie.” Toe sê die Here: “Jy kan hulle red, want Ek gaan jou help. Jy sal die Midianiete so maklik verslaan asof dit net een mens is teen wie jy baklei.”
RIGTERS 6:12-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die Engel van die HERE het toe aan hom verskyn. Hy het vir hom gesê: “Die HERE is by jou, dapper man!” “Meneer,” het Gideon vir hom gesê, “as die HERE wel by ons is, waarom gebeur al hierdie dinge met ons? Waar is al die wonderlike dinge wat Hy gedoen het waarvan ons voorouers ons vertel het? Hulle het vertel: ‘Die HERE het ons uit Egipte bevry.’ Maar nou het die HERE sy rug op ons gedraai. Hy het ons uitgelewer aan die mag van die Midianiete.” Die HERE het toe na Gideon toe gedraai en vir hom gesê: “Gaan met hierdie krag wat jy het en gaan bevry die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Ek stuur jou.” Maar Gideon sê vir Hom: “Verskoon my, Meneer, maar hoe kan ek Israel red? My familie is een van die swakstes in Manasse. Ek is die onbelangrikste lid in my pa se familie.” “Ek is dan saam met jou!” het die HERE vir hom gesê. “Jy sal al die Midianiete verslaan asof jy net teen een man veg.”