RIGTERS 6:11-24

RIGTERS 6:11-24 Bybel vir almal (ABA)

Die Engel van die Here het gekom en het gaan sit onder die groot boom by die stad Ofra. Die plek het behoort aan Joas, 'n man uit die familie Abiëser. Joas se seun Gideon was besig om koring uit te slaan binne-in 'n parskuip. Hy het dit daar gedoen sodat die Midianiete dit nie kon sien nie. Die Engel van die Here het na hom toe gekom en vir hom gesê: “Jy is 'n man wat kan oorlog maak, en die Here is by jou.” Gideon het vir die Engel van die Here gesê: “Asseblief, Meneer, as die Here by ons is, sê vir my hoekom gebeur al hierdie dinge met ons? Waar is al sy wonderwerke? Ons voorvaders het ons daarvan vertel. Hulle het altyd gesê: ‘Die Here het ons uit Egipte gebring.’ Maar nou het die Here ons gelos. Hy het die Midianiete gestuur om ons te verdruk.” Die Here het na Gideon gekyk en vir hom gesê: “Jy is sterk. Jy moet die Israeliete gaan red van die Midianiete. Ek stuur jou om dit te doen.” Toe sê Gideon vir Hom: “Asseblief, Here, ek kan nie die Israeliete red nie. My familie is die kleinste familie in die Manasse-stam, en ek is die jongste seun in my pa se huisgesin.” Die Here het vir Gideon gesê: “Jy sal dit doen omdat Ek by jou sal wees. Jy sal die Midianiete oorwin. Dit sal so maklik wees soos wanneer jy teen een man veg.” Toe sê Gideon vir Hom: “As U goed wil wees vir my, doen dan vir my 'n wonderwerk wat wys dat U met my gepraat het. Asseblief, moenie hier weggaan nie, ek wil eers na U toe kom en my present bring en voor U neersit.” Die Here het gesê: “Ek sal wag totdat jy kom.” Gideon het 'n bok-lam en 'n efa meel gaan haal en die vleis gekook en brood gebak. Daar was nie suurdeeg in die meel nie. Hy het die vleis in 'n mandjie gesit en die sous in die pot gehou en dit na die Here gebring onder die boom. Toe hy dit nader bring, het die Engel van God vir hom gesê: “Sit die vleis en die brood daar op die rots en gooi die sous daaroor.” Gideon het dit gedoen. Toe steek die Engel van die Here sy kierie uit en raak met die punt van die kierie aan die vleis en die brood. Daar het vuur uit die rots gekom en dit het die vleis en die brood verbrand. Toe het Gideon nie meer die Engel van die Here gesien nie. Gideon het besef dit is die Engel van die Here, en hy het gesê: “Ag, Here, my Here, ek sal sterf, want ek het regtig die Engel van die Here gesien, Hy was hier voor my.” Maar die Here het vir hom gesê: “Moenie bekommerd wees nie, moenie bang wees nie, jy sal nie sterf nie.” Gideon het daar 'n altaar gebou vir die Here. Hy het die altaar genoem: “Die Here het gesê ek moenie bekommerd wees nie.” Daardie altaar is nog in Ofra, die familie Abiëser woon daar.

RIGTERS 6:11-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe het die Engel van die HERE gekom en gaan sit onder die terpentynboom wat by Ofra staan, wat aan Joas, die Abiësriet, behoort het, terwyl sy seun Gídeon juis koring uitslaan in die parskuip om dit te beveilig teen die Midianiete. En die Engel van die HERE het aan hom verskyn en vir hom gesê: Die HERE is met jou, dapper held! Toe vra Gídeon Hom: Ag, my heer, as die HERE met ons is, waarom het al hierdie dinge ons dan oorgekom? En waar is al sy wonders waar ons vaders ons van vertel het, deur te sê: Het die HERE ons nie uit Egipte laat optrek nie? Maar nou het die HERE ons verwerp en ons oorgegee in die hand van die Midianiete. Toe draai die HERE na hom toe en sê: Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Is dit nie Ek wat jou stuur nie? Maar hy vra Hom: Ag, Here, waarmee sou ek Israel verlos? Kyk, my geslag is die swakste in Manasse, en ek self die geringste in my familie. Toe sê die HERE vir hom: Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan. En hy antwoord Hom: As ek dan guns in u oë gevind het, doen vir my 'n teken, dat U dit is wat met my spreek. Verwyder U tog nie hiervandaan voordat ek by U kom en my gawe uitbring en voor U neersit nie. Hy sê toe: Ek sal bly totdat jy terugkom. Toe het Gídeon ingegaan en 'n bokkie berei, en van 'n efa meel ongesuurde koeke; die vleis het hy in 'n mandjie gesit en die sous in 'n pot gegooi; en hy het dit na Hom uitgebring onder die terpentynboom en dit naby neergesit. Maar die Engel van God het vir hom gesê: Neem die vleis en die ongesuurde koeke, en sit dit op hierdie rots neer en gooi die sous daaroor uit. En hy het so gedoen. Daarop steek die Engel van die HERE die punt van die staf wat in sy hand was, uit en raak die vleis en die ongesuurde koeke aan; toe gaan daar vuur op uit die rots en verteer die vleis en die ongesuurde koeke. Intussen het die Engel van die HERE verdwyn uit sy oë. Toe Gídeon bemerk dat dit die Engel van die HERE was, sê Gídeon: Ag, Here HERE! want ek het die Engel van die HERE gesien van aangesig tot aangesig! Maar die HERE sê vir hom: Vrede vir jou! Vrees nie! Jy sal nie sterwe nie. Toe bou Gídeon daar 'n altaar vir die HERE en noem dit: Die HERE is vrede! Dit staan vandag nog daar by Ofra van die Abiësriete.

RIGTERS 6:11-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarna het 'n Engel van die Here gaan sit onder die groot boom in Ofra wat behoort het aan Joas die Abiësriet. Sy seun Gideon was besig om koring uit te slaan in 'n parskuip waar hy weggekruip het vir die Midianiete. Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!” Maar Gideon het vir die Engel gesê: “Ekskuus, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom kom al hierdie dinge oor ons? Waar is al sy magtige dade waarvan ons voorvaders ons vertel het toe hulle gesê het: ‘Het die Here ons nie uit Egipte bevry nie?’ Nou het die Here ons in die steek gelaat: Hy het ons oorgegee in die mag van die Midianiete.” Toe het die Here na Gideon toe gedraai en vir hom gesê: “Gaan met die krag wat jy het en gaan red die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Toe, Ek stuur jou!” Maar Gideon sê vir Hom: “Ekskuus, Meneer, waarmee sal ek die Israeliete gaan red? Die familie waaraan ek behoort, is die armste in die hele Manasse, en van my pa se kinders het ek die minste aansien.” Die Here het hom geantwoord: “Ek is by jou, en jy sal die Midianiete verslaan asof hulle nie meer as een is nie.” Gideon het vir Hom gesê: “As U so vriendelik wil wees, doen tog vir my 'n wonder dat ek seker kan wees dit is U, Here, wat met my praat! Moenie hiervandaan af padgee nie dat ek tog net gou 'n offer voor U kan kom neersit.” Toe sê die Here: “Ek sal wag tot jy terug is.” Gideon het toe 'n bokkie gaan gaar maak, en van sestien kilogram meel het hy brood sonder suurdeeg gebak. Hy het die vleis in 'n mandjie gepak en die sous in 'n pan gegooi en vir die Engel van die Here gebring onder die groot boom. Toe Gideon dit naderbring, sê die Engel van God vir Gideon: “Vat die vleis en die brood sonder suurdeeg en sit dit op hierdie rots en gooi die sous daaroor.” Hy het so gemaak, en toe raak die Engel van die Here met die punt van die stok in sy hand aan die vleis en die brood. 'n Vuur het uit die rots uit opgevlam en die vleis en die brood verteer. Daarna is Hy van Gideon af weg. Gideon het besef dat dit die Engel van die Here was, en hy het uitgeroep: “Ag, Here my God, ek het die Engel van die Here van aangesig tot aangesig gesien!” Toe sê die Here vir Gideon: “Wees gerus! Moenie bang wees nie! Jy sal nie sterf nie!” Gideon het net daar 'n altaar vir die Here gebou en dit genoem: “Die Here gee rus!” Die altaar staan vandag nog in Ofra van die Abiësriete.

RIGTERS 6:11-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daarna het die •Engel van die HERE gekom en gaan sit onder die terebintboom by Ofra, wat aan Joas van die familie van Abiëser behoort. Sy seun Gideon was juis besig om koring uit te slaan in die parskuip, om dit vinnig teen die Midianiete te beveilig. Die Engel van die HERE het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die HERE is met jou, dapper kryger!” Maar Gideon sê vir hom: “Asseblief, my Heer, as die HERE dan werklik met ons is, waarom tref al hierdie dinge ons? En waar is al sy wonderwerke waarvan ons voorouers ons vertel het toe hulle gesê het, ‘Het die HERE ons nie uit Egipte laat optrek nie?’ Maar nou het die HERE ons verstoot en ons oorgegee in die hand van die Midianiete.” Toe draai die HERE na hom en sê: “Gaan met die krag wat jy het, en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Het Ek jou nie gestuur nie?” Maar hy het Hom geantwoord: “Asseblief, my Heer! Hoe kan ek Israel verlos? Kyk, my familiegroep is die onbenulligste in Manasse, en ek is die jongste in my familie.” Die HERE sê toe vir hom: “Omdat Ek met jou sal wees, sal jy die Midianiete verslaan asof hulle net een man is.” Maar hy het vir die HERE gesê: “As ek dan guns gevind het in u oë, gee vir my 'n teken dat dit U is wat met my praat. Moet asseblief nie hiervandaan weggaan totdat ek by U terug is, my offer saamgebring en dit voor U neergesit het nie. ” Hy het geantwoord: “Goed, Ek sal bly totdat jy terugkom.” Gideon gaan toe en berei 'n boklam voor en ongesuurde brood van 'n efa meel. Die vleis het hy in 'n mandjie gesit en die sous het hy in 'n pot gegooi. Hy het dit na Hom uitgebring onder die terebintboom en dit aangebied. Daarop sê die Engel van God vir hom: “Neem die vleis en die ongesuurde brood, sit dit hier op die rots neer en gooi die sous daaroor.” Hy het toe so gemaak. Toe steek die Engel van die HERE die wandelstok in sy hand uit en raak met die punt aan die vleis en die ongesuurde brood. Vuur het uit die rots opgeslaan en die vleis en ongesuurde brood verteer. Die Engel van die HERE het voor sy oë verdwyn, en Gideon het besef dat dit die Engel van die HERE was. Toe sê Gideon: “Ag, HERE, my Heer! Want nou het ek die Engel van die HERE van aangesig tot aangesig gesien! ” Maar die HERE sê vir hom: “Vrede vir jou! Moenie bang wees nie; jy sal nie sterf nie! ” Gideon het toe daar 'n altaar vir die HERE gebou en dit genoem “Die HERE is vrede”. Tot vandag toe is dit nog daar in Ofra, wat aan die familie van Abiëser behoort.

RIGTERS 6:11-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En daar het 'n engel van die HERE gekom en gaan sit onder 'n terpentynboom wat in Ofra was, wat aan Joas, die Abiësriet, behoort; en sy seun Gídeon het koring by die parskuip gedors om dit vir die Midianiete weg te steek. En die Engel van die HERE het aan hom verskyn en vir hom gesê: Die HERE is met jou, dapper held! Toe sê Gideon vir hom: Ag, my Meester, as die HERE met ons is, waarom het dit alles dan oor ons gekom? en waar is al sy wondertekens waarvan ons vaders ons vertel het deur te sê: Het die HERE ons nie uit Egipte laat optrek nie? maar nou het die HERE ons verlaat en ons oorgegee in die hand van die Midianiete. En die HERE het hom aangekyk en gesê: Gaan in hierdie krag van jou, en jy sal Israel verlos uit die hand van die Midianiete. Het Ek jou nie gestuur nie? En hy sê vir hom: Ag, my HERE, waarmee sal ek Israel verlos? kyk, my familie is arm in Manasse, en ek is die geringste in die huis van my vader. Toe sê die HERE vir hom: Ek sal sekerlik met jou wees, en jy sal die Midianiete soos een man verslaan. En hy sê vir hom: As ek nou genade in u oë gevind het, gee my dan 'n teken dat U met my praat. Moenie hiervandaan weggaan nie, totdat ek na jou toe kom en my geskenk bring en dit voor jou neersit. En hy sê: Ek sal vertoef totdat jy terugkom. En Gideon het ingegaan en 'n bokkie berei en ongesuurde koeke van 'n efa meel; die vleis het hy in 'n mandjie gesit en die sous in 'n pot gegooi en dit na hom uitgebring onder die terpentynboom en dit gebring. En die engel van God sê vir hom: Neem die vleis en die ongesuurde koeke en lê dit op hierdie rots neer en giet die sous uit. En hy het so gedoen. Toe het die Engel van die HERE die punt van die staf wat in sy hand was, uitgesteek en die vleis en die ongesuurde koeke aangeraak; en daar het vuur uit die rots opgegaan en die vleis en die ongesuurde koeke verteer. Toe het die Engel van die HERE van sy oë weggegaan. Toe Gídeon bemerk dat hy 'n engel van die HERE was, het Gídeon gesê: Ag, HERE HERE! want omdat ek 'n engel van die HERE van aangesig tot aangesig gesien het. Toe sê die HERE vir hom: Vrede vir jou! wees nie bevrees nie: jy sal nie sterwe nie. Toe het Gídeon daar 'n altaar vir die HERE gebou en dit genoem: JaHWeH, vrede; tot vandag toe is dit nog in Ofra van die Abiësriete.

RIGTERS 6:11-24 Die Boodskap (DB)

Daarna het die Engel van die Here onder die eikeboom in Ofra gaan sit wat aan Joas die Abiësriet behoort het. Sy seun Gideon was besig om koring in die parskuip uit te slaan waar die Midianiete hom nie kon sien nie. Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!” Toe antwoord Gideon: “Verskoon my dat ek vra, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom gebeur al hierdie slegte goed met ons? Wat het van al die wonderlike dinge geword waarvan ons voorvaders ons vertel het? Het hulle nie gesê: ‘Die Here het ons uit Egipte gered’ nie? Maar nou het die Here ons aan ons eie lot oorgelaat en ons in die Midianiete se mag oorgegee.” Toe draai die Here na Gideon toe en sê vir hom: “Jy het die krag. Gaan bevry die Israeliete uit die Midianiete se mag! Gaan nou, Ek stuur jou!” “Ekskuus, Meneer,” sê Gideon, “maar waarmee moet ek die Israeliete red? My familie is die armste in die stam van Manasse en in my eie gesin is ek nie juis belangrik nie.” Toe sê die Here: “Jy kan hulle red, want Ek gaan jou help. Jy sal die Midianiete so maklik verslaan asof dit net een mens is teen wie jy baklei.” Toe sê Gideon: “Mag ek U ’n guns vra: doen asseblief vir my ’n wonderwerk dat ek seker kan wees dat U wel die Here is wat nou met my praat. Moet asseblief nie van hier af weggaan voordat ek terug is en vir U ’n offer kon bring nie.” “Ek sal wag tot jy terugkom,” het die Here geantwoord. Gideon is terug huis toe, waar hy ’n jong bokkie gaargemaak en ’n brood gebak het. Vir die brood het hy ongeveer sestien kilogram meel sonder suurdeeg gebruik. Hy het die vleis in ’n mandjie gesit en die sous in ’n bakkie gegooi. Toe gaan hy terug na die Engel onder die eikeboom. Toe hy daar kom, sê die Engel van God vir hom: “Sit die vleis en die brood op die rots neer en gooi die sous daaroor uit.” Gideon het dit gedoen. Die Engel van die Here raak toe met die punt van die stok wat Hy in sy hand gehad het aan die vleis en die brood. Skielik kom daar ’n vlam uit die rots uit wat die vleis en die brood heeltemal verbrand. Toe Gideon weer kyk, was die Engel van die Here weg. Toe Gideon agterkom dat hy die Engel van die Here gesien het, het hy baie benoud gesê: “O, Here my God, ek het die Engel van die Here met my eie oë gesien. Nou is ek in groot moeilikheid!” Toe sê die Here vir Gideon: “Toemaar, moenie bang wees nie, jy sal niks oorkom nie.” Gideon het daar op die plek vir die Here ’n altaar gebou. Hy het dit genoem: “Die Here gee vrede.” Die altaar staan nou nog daar in Ofra in die gebied van die Abiësriete.

RIGTERS 6:11-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Engel van die HERE het onder die eikeboom in Ofra kom sit. Dit het aan Joas van die Abiëserfamilie behoort. Sy seun Gideon was besig om onder op die vloer van ’n parskuip koring uit te slaan. Hy het daar vir die Midianiete weggekruip. Die Engel van die HERE het toe aan hom verskyn. Hy het vir hom gesê: “Die HERE is by jou, dapper man!” “Meneer,” het Gideon vir hom gesê, “as die HERE wel by ons is, waarom gebeur al hierdie dinge met ons? Waar is al die wonderlike dinge wat Hy gedoen het waarvan ons voorouers ons vertel het? Hulle het vertel: ‘Die HERE het ons uit Egipte bevry.’ Maar nou het die HERE sy rug op ons gedraai. Hy het ons uitgelewer aan die mag van die Midianiete.” Die HERE het toe na Gideon toe gedraai en vir hom gesê: “Gaan met hierdie krag wat jy het en gaan bevry die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Ek stuur jou.” Maar Gideon sê vir Hom: “Verskoon my, Meneer, maar hoe kan ek Israel red? My familie is een van die swakstes in Manasse. Ek is die onbelangrikste lid in my pa se familie.” “Ek is dan saam met jou!” het die HERE vir hom gesê. “Jy sal al die Midianiete verslaan asof jy net teen een man veg.” Gideon het vir Hom gesê: “As ek U nog net een ding kan vra: Gee tog vir my ’n teken waardeur ek seker kan wees dat dit U is, HERE, wat met my praat! Moet asseblief nie van hier af weggaan voordat ek na U teruggekom het om my offer hier voor U te kom neersit nie.” Die HERE sê toe: “Ek sal hier vir jou wag tot jy terug is.” Gideon is terug huis toe. Hy het ’n bokkie gaargemaak en uit sestien kilogram meel ’n ongesuurde brood gebak. Hy het die vleis in ’n mandjie gepak en die sous in ’n pot gegooi. Hy het daarmee teruggekom na die Engel onder die eikeboom en dit daar neergesit. God se Engel sê toe vir Gideon: “Vat die vleis en die brood en sit dit op hierdie rots neer. Gooi die sous daaroor uit.” Gideon het so gemaak. Die Engel van die HERE het toe met die punt van die stok in sy hand aan die vleis en die brood geraak. Vuur het uit die rots opgevlam en die vleis en die brood weggebrand. Die Engel van die HERE het toe verdwyn. Toe Gideon agterkom dat dit die Engel van die HERE was, het hy hardop uitgeroep: “Ag tog, oppermagtige HERE, ek het dan die Engel van die HERE in die oë gekyk!” “Dit is alles in orde,” het die HERE vir Gideon gesê. “Moenie bang wees nie! Jy sal nie sterf nie!” Gideon het net daar ’n altaar vir die HERE gebou. Hy het dit genoem “Die HERE is Vrede”. Die altaar is nog al die tyd daar in Ofra van die Abiësriete.