RIGTERS 4:17-21
RIGTERS 4:17-21 Bybel vir almal (ABA)
Sisera het gehardloop en gevlug na die tent van Jael, die vrou van die Keniet Geber. Daar was vrede tussen die familie van die Keniet Geber en koning Jabin van Hasor. Jael het vir Sisera gaan ontmoet. Sy het vir hom gesê: “Kom, Meneer, kom na my toe. Moenie bang wees nie.” Sisera het na haar tent gekom, en sy het hom laat wegkruip onder 'n kombers. Hy het vir haar gesê: “Ek is dors. Gee vir my asseblief 'n bietjie water om te drink.” Sy het die melksak oopgemaak en vir hom melk gegee om te drink. Daarna het sy hom weer toegemaak. Hy het vir haar gesê: “Jy moet by die tentdeur staan, en as iemand vir jou vra of hier iemand is, dan moet jy sê: ‘Nee.’ ” Sisera was moeg en hy het aan die slaap geraak. Geber se vrou Jael het toe 'n tentpen en 'n hamer gevat en saggies na Sisera toe gegaan. Sy het die pen deur sy kop geslaan tot in die grond. Hy het gesterf.
RIGTERS 4:17-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe vlug Sísera te voet na die tent van Jael, die vrou van Heber, die Keniet; want daar was vrede tussen Jabin, die koning van Hasor, en die huis van Heber, die Keniet. En Jael het uitgegaan Sísera tegemoet en vir hom gesê: Draai uit, my heer, draai uit na my! Moenie bang wees nie! En hy het na haar uitgedraai, na die tent, en sy het hom met 'n kombers toegemaak. Daarop sê hy vir haar: Gee my tog 'n bietjie water om te drink, want ek het dors; sy maak toe die melksak oop en laat hom daaruit drink en maak hom weer toe. En hy sê vir haar: Gaan staan by die tentdeur, en as iemand kom en jou vra en sê: Is hier iemand? antwoord dan: Nee. Toe neem Jael, die vrou van Heber, 'n tentpen en vat die hamer in haar hand en gaan stilletjies na hom en dryf die pen terwyl hy vas aan die slaap was dwarsdeur die slaap van sy hoof, sodat dit in die grond indring. So het hy dan bewusteloos geword en gesterwe.
RIGTERS 4:17-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Sisera het te voet gevlug na die tent van Jael, die Keniet Geber se vrou, want koning Jabin van Hasor en die familie van Geber die Keniet het op goeie voet verkeer. Jael het vir Sisera tegemoet gegaan en vir hom gesê: “Kom hierheen, Meneer! Kom na my toe, moenie bang wees nie!” Toe gaan hy na haar toe in die tent en sy het hom agter 'n gordyn weggesteek. Hy sê toe vir haar: “Ek is dors, gee my 'n bietjie water om te drink.” Sy het die melksak oopgemaak en hom melk laat drink. Toe het sy hom weer toegemaak. Hy het vir haar gesê: “Staan by die tentdeur, en as daar iemand kom wat vir jou vra: ‘Is hier dalk iemand by jou?’ moet jy vir hom sê: Nee!” Jael die vrou van Geber het toe 'n tentpen gevat en met 'n hamer in haar hand is sy suutjies na Sisera toe. Hy was moeg en het vas geslaap. Toe slaan sy die tentpen deur die slaap van sy kop, sodat sy hom in die grond vasslaan, en so is hy dood.
RIGTERS 4:17-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Sisera het te voet gevlug na die tent van Jael, die vrou van Geber, die Keniet, want daar was 'n vredesooreenkoms tussen Jabin, die koning van Gasor, en die huis van Geber, die Keniet. Jael het uit die tent gekom, Sisera tegemoet, en vir hom gesê: “Draai af, my heer, draai af na my. Moenie bang wees nie!” Hy het na haar, na die tent afgedraai en sy het hom met 'n deken toegemaak. Hy sê toe vir haar: “Gee my asseblief 'n bietjie water om te drink, want ek is dors.” Sy maak toe die leersak met melk oop, en laat hom drink. Sy het hom weer toegemaak. Hy het vir haar gesê: “Staan by die opening van die tent en as hier iemand aankom en vir jou vra, ‘Is daar iemand hier?’ moet jy sê, ‘Nee!’ ” Maar Jael, die vrou van Geber, het 'n tentpen gevat en met die hamer in haar hand het sy stilletjies ingegaan na hom toe. Sy het die tentpen in sy slaap ingeslaan, sodat dit in die grond ingegaan het. Hy was vas aan die slaap van uitputting, en het gesterf.
RIGTERS 4:17-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar Sisera het op sy voete weggevlug na die tent van Jael, die vrou van Heber, die Keniet, want daar was vrede tussen Jabin, die koning van Hasor, en die huis van Heber, die Keniet. En Jael het uitgegaan Sisera tegemoet en vir hom gesê: Kom, my heer, kom na my toe; Moet nie vrees nie. En toe hy by haar in die tent ingaan, het sy hom met 'n mantel toegemaak. En hy sê vir haar: Gee my tog 'n bietjie water om te drink; want ek is dors. En sy het 'n bottel melk oopgemaak en hom laat drink en hom toegemaak. Weer sê hy vir haar: Staan by die ingang van die tent, en dit sal gebeur as iemand kom en jou raadpleeg en sê: Is hier iemand? dat jy sal sê: Nee. Toe neem Jael Heber se vrou 'n spyker van die tent en neem 'n hamer in haar hand en gaan saggies na hom en slaan die spyker in sy slape en steek dit in die grond vas, want hy was vas aan die slaap en moeg. So het hy gesterf.
RIGTERS 4:17-21 Die Boodskap (DB)
Intussen het Sisera na Jael, Geber die Keniet se vrou, toe gevlug, want koning Jabin van Hasor en Geber se familie was vriende. Jael het vir hom gesê: “Kom hiernatoe, Meneer, kom hier in my tent in, moenie bang wees nie!” Hy is toe daar in en sy het hom met ’n kombers toegegooi. Hy sê toe vir haar: “Ek is dors, gee my ’n bietjie water om te drink.” Sy het dadelik vir hom ’n bietjie melk gegee om te drink en hom weer met die kombers toegemaak. Hy sê toe vir haar: “Staan by die tentdeur, en as iemand hiernatoe kom en vra of hier iemand by jou is, moet jy nee sê!” Sisera was so moeg dat hy net daar aan die slaap geraak het. Jael het toe ’n hamer en ’n tentpen gevat en stilletjies na die slapende Sisera toe gegaan. Sy het die tentpen met die hamer deur sy kop tot in die grond ingeslaan. So is Sisera dood.
RIGTERS 4:17-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Sisera het te voet gevlug na die tent van Jael, die vrou van Geber die Keniet. Daar was ’n goeie vriendskapsverhouding tussen koning Jabin van Hasor en die familie van Geber die Keniet. Jael het uitgekom om Sisera te ontvang. Sy het vir hom gesê: “Kom hiernatoe, Meneer! Kom na my toe. Moenie bang wees nie!” Hy gaan toe in haar tent in. Sy het hom onder ’n deken weggesteek. “Gee tog vir my ’n bietjie water om te drink,” het hy vir haar gevra. “Ek is dors.” Sy het hom toe melk uit die melksak laat drink. Sy het hom weer onder die deken toegemaak. Hy sê toe vir haar: “Staan by die ingang van die tent. As hier iemand kom wat vir jou vra: ‘Is hier dalk ’n man by jou?’ moet jy vir hom sê: ‘Nee!’” Sisera was moeg en het aan die slaap geraak. Geber se vrou Jael het toe een van die tentpenne gevat en met ’n hamer in haar hand stilletjies na Sisera gesluip. Sy het die tentpen dwarsdeur sy slaap gedryf tot in die grond sodat hy gesterf het.