RIGTERS 4:1-24

RIGTERS 4:1-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ná Ehud se dood het die Israeliete weer begin doen wat verkeerd is vir die HERE. Die HERE het hulle uitgelewer aan die mag van Jabin. Hy was die Kanaänitiese koning in Hasor. Die aanvoerder van sy leër was Sisera van Garoset-Gojim. Hy het 900 ysterstrydwaens onder sy bevel gehad. Hy het die Israeliete twintig jaar lank swaar onderdruk. Maar Israel het by die HERE gepleit om hulle hiervan te bevry. Debora was ’n vroulike profeet. Sy was die vrou van Lappidot. Sy was op daardie stadium die leier van die Israeliete. Sy het onder die Deborapalm in die heuwels van Efraim, tussen Rama en Bet-El, gewoon. Die Israeliete het vir regsake na haar toe gekom. Sy het Barak, die seun van Abinoam uit Kedes in Naftali laat roep en vir hom gesê: “Die HERE, die God van Israel, het ’n opdrag vir jou: ‘Trek met 10 000 man uit Naftali en Sebulon saam op na Taborberg toe. Ek sal vir Sisera, die aanvoerder van Jabin se leër, met sy oorlogwaens en sy weermag laat optrek na die Kisonspruit toe. Ek sal hulle in jou mag oorgee.’” Barak antwoord haar: “Ek sal net gaan as jy saam met my gaan.” “Goed,” het sy vir hom gesê. “Ek sal wel saam met jou gaan, maar omdat dit jou voorwaarde is, sal jy geen eer vir die veldtog kry nie. Die HERE sal Sisera deur ’n vrou oorwin.” Debora het klaargemaak en sy is saam met Barak na Kedes toe. Barak het Sebulon en Naftali by Kedes bymekaargebring vir die oorlog. Barak het 10 000 manskappe gelei. Debora was saam met hulle. Geber was ’n Keniet uit die nageslag van Moses se skoonpa Gobab. Geber het weggetrek van die Keniete af. Hy het sy tente by die eikeboom van Saänannim naby Kedes opgeslaan. Sisera het berig gekry dat Barak, die seun van Abinoam, op Taborberg saamgetrek het. Sisera het toe sy 900 strydwaens en al sy manskappe bymekaargekry en van Garoset-Gojim af na Kisonspruit toe begin marsjeer. Debora beveel toe vir Barak: “Maak jou reg. Die HERE gaan vandag Sisera aan jou uitlewer. Die HERE sal voor jou uit marsjeer.” Barak het toe sy 10 000 man van Tabor af gelei om te gaan veg. Die HERE het Sisera en sy oorlogwaens en al sy manskappe holderstebolder voor Barak laat vlug. Sisera het van sy wa af gespring en te voet verder gevlug. Barak het die oorlogwaens en hulle bemanning agtervolg tot by Garoset-Gojim. Al Sisera se soldate is doodgemaak. Nie een van hulle het die geveg oorleef nie. Sisera het te voet gevlug na die tent van Jael, die vrou van Geber die Keniet. Daar was ’n goeie vriendskapsverhouding tussen koning Jabin van Hasor en die familie van Geber die Keniet. Jael het uitgekom om Sisera te ontvang. Sy het vir hom gesê: “Kom hiernatoe, Meneer! Kom na my toe. Moenie bang wees nie!” Hy gaan toe in haar tent in. Sy het hom onder ’n deken weggesteek. “Gee tog vir my ’n bietjie water om te drink,” het hy vir haar gevra. “Ek is dors.” Sy het hom toe melk uit die melksak laat drink. Sy het hom weer onder die deken toegemaak. Hy sê toe vir haar: “Staan by die ingang van die tent. As hier iemand kom wat vir jou vra: ‘Is hier dalk ’n man by jou?’ moet jy vir hom sê: ‘Nee!’” Sisera was moeg en het aan die slaap geraak. Geber se vrou Jael het toe een van die tentpenne gevat en met ’n hamer in haar hand stilletjies na Sisera gesluip. Sy het die tentpen dwarsdeur sy slaap gedryf tot in die grond sodat hy gesterf het. Barak was op soek na Sisera. Jael het uitgekom na hom toe. Sy sê toe vir hom: “Kom hier, ek sal jou wys waar is die man na wie jy soek.” Barak het agter haar aan gegaan. Hy kry toe vir Sisera wat dood daar lê met ’n tentpen deur sy slaap. God het op daardie dag vir koning Jabin van Kanaän voor die Israeliete verneder. Die Israeliete het al sterker en sterker teen Jabin geword en hom uiteindelik vernietig.

RIGTERS 4:1-24 Bybel vir almal (ABA)

Die Israeliete het weer dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Ná die dood van Ehud het die Here vir koning Jabin van Kanaän gehelp om die Israeliete te oorwin. Koning Jabin se paleis was in die stad Hasor. Sisera was die hoof van sy leër, en hy het gewoon in Garoset-Gojim. Jabin het 900 oorlogkarre van yster gehad, en hy het die Israeliete 20 jaar lank verdruk. Die Israeliete het tot die Here gebid en gevra dat Hy hulle moet help. In daardie tyd was Debora die leier van die Israeliete. Sy was 'n profeet en sy was getroud met Lappidot. Sy het altyd onder 'n palmboom gesit, die Debora-palm, en die Israeliete het na haar toe gegaan wanneer hulle probleme gehad het. Die Debora-palm was in die Efraim-berge tussen Gorma en Bet-El. Debora het vir Barak in Kedes-Naftali laat roep. Hy was die seun van Abinoam. Sy het vir hom gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Jy moet 10 000 manne van die Naftali-mense en die Sebulon-mense saam met jou neem en op Tabor-berg gaan wag. Ek sal Sisera, die hoof van Jabin se leër, vir jou laat wag by die Kison-rivier. Hy sal sy oorlogkarre en sy manne by hom hê, maar Ek sal jou laat wen teen hom.’ ” Barak het vir Debora gesê: “Ek sal gaan as jy saam met my gaan, maar as jy nie saam met my gaan nie, dan sal ek nie gaan nie.” Debora het gesê: “Ja, ek sal saam met jou gaan, maar onthou, wanneer julle die vyand oorwin, dan sal jy nie die eer kry nie, want die Here sal 'n vrou gebruik om Sisera dood te maak.” Debora het saam met Barak na Kedes gegaan. Barak het die manne van Sebulon en Naftali na Kedes laat kom. Saam met hom het 10 000 manne gegaan, en Debora het ook saamgegaan. Geber was 'n Keniet en hy was van die nageslag van Gobab, die skoonpa van Moses. Geber het weggetrek van die Keniete en hy het sy tent gaan opslaan by die groot boom in Saänannim naby Kedes. Sisera het gehoor Barak het teen Tabor-berg opgegaan. Sisera het sy 900 oorlogkarre van yster en ook al sy soldate uit Garoset-Gojim laat kom na die Kison-rivier. Debora sê toe vir Barak: “Maak oorlog teen hulle, want die Here sal jou vandag laat wen teen Sisera. Onthou, die Here gaan voor jou, Hy sal jou help.” Barak het afgegaan van Tabor-berg, en die 10 000 manne het saam met hom gegaan. Die Here het Sisera en al sy manne op die oorlogkarre en al sy soldate baie groot laat skrik vir Barak. Sisera self het van sy oorlogkar afgespring en gevlug. Barak en sy manne het die oorlogkarre en die leër van Sisera gevolg en gejaag tot by Garoset-Gojim, en hulle het al die soldate doodgemaak, nie een het aangehou lewe nie. Sisera het gehardloop en gevlug na die tent van Jael, die vrou van die Keniet Geber. Daar was vrede tussen die familie van die Keniet Geber en koning Jabin van Hasor. Jael het vir Sisera gaan ontmoet. Sy het vir hom gesê: “Kom, Meneer, kom na my toe. Moenie bang wees nie.” Sisera het na haar tent gekom, en sy het hom laat wegkruip onder 'n kombers. Hy het vir haar gesê: “Ek is dors. Gee vir my asseblief 'n bietjie water om te drink.” Sy het die melksak oopgemaak en vir hom melk gegee om te drink. Daarna het sy hom weer toegemaak. Hy het vir haar gesê: “Jy moet by die tentdeur staan, en as iemand vir jou vra of hier iemand is, dan moet jy sê: ‘Nee.’ ” Sisera was moeg en hy het aan die slaap geraak. Geber se vrou Jael het toe 'n tentpen en 'n hamer gevat en saggies na Sisera toe gegaan. Sy het die pen deur sy kop geslaan tot in die grond. Hy het gesterf. Barak het vir Sisera kom soek, en Jael het na Barak toe gegaan. Sy het vir hom gesê: “Kom, ek sal vir jou die man wys wat jy soek.” Barak het na haar tent gekom, en toe lê Sisera daar dood. Die tentpen was deur sy kop. Ja, die Here het daardie dag vir koning Jabin van Kanaän verneder. Die Israeliete het gewen. Die Israeliete het 'n sterker volk geword en hulle het koning Jabin van Kanaän verdruk, totdat hulle hom heeltemal oorwin het.

RIGTERS 4:1-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MAAR ná die dood van Ehud het die kinders van Israel weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE. Daarom het die HERE hulle verkoop in die hand van Jabin, die koning van Kanaän, wat in Hasor geregeer het; en sy leërowerste was Sísera, 'n inwoner van Haróset van die heidene. En die kinders van Israel het die HERE aangeroep; want hy het negehonderd ysterwaens gehad en die kinders van Israel twintig jaar lank swaar verdruk. En Debóra, 'n profetes, die vrou van Láppidot, het in dié tyd Israel gerig; en sy het gesit onder die palm van Debóra, tussen Rama en Bet-el, op die gebergte van Efraim; en die kinders van Israel het na haar opgegaan vir regspraak. Toe laat sy Barak, die seun van Abinóam, uit Kedes in Náftali, roep en sê vir hom: Het die HERE, die God van Israel, nie bevel gegee nie: Gaan, trek na die berg Tabor, en neem tienduisend man van die kinders van Náftali en van die kinders van Sébulon met jou saam? dan sal Ek Sísera, die leërowerste van Jabin, met sy strydwaens en sy menigte na jou, na die spruit Kison trek, en Ek sal hom in jou hand gee. Maar Barak sê vir haar: As u met my saamtrek, sal ek gaan; maar as u nie met my saamtrek nie, gaan ek nie. Toe sê sy: Ek sal sekerlik met jou saamtrek, maar die eer sal nie joue wees op die pad wat jy sal gaan nie; want die HERE sal Sísera in die hand van 'n vrou verkoop; en Debóra het opgestaan en saam met Barak na Kedes getrek. Daarop het Barak Sébulon en Náftali bymekaargeroep na Kedes toe, en tienduisend man het op sy voetspore opgetrek, en Debóra het saam met hom opgetrek. En Heber, die Keniet, het hom afgeskei van Kain, van die kinders van Hobab, die swaer van Moses, en het sy tente opgeslaan tot by die terpentynboom by Saänáim, naby Kedes. En toe hulle aan Sísera berig bring dat Barak, die seun van Abinóam, na die berg Tabor opgetrek het, het Sísera al sy strydwaens, negehonderd ysterwaens, en al die manskappe wat by hom was, uit Haróset van die heidene na die spruit Kison bymekaargeroep. Daarop sê Debóra vir Barak: Maak jou klaar, want dit is die dag waarop die HERE Sísera in jou hand gee. Trek die HERE nie voor jou uit nie? Toe trek Barak van die berg Tabor af, en tienduisend man agter hom aan. En die HERE het Sísera met al die waens en die hele leër deur die skerpte van die swaard in verwarring gebring voor Barak uit, en Sísera het van sy wa afgeklim en te voet gevlug. Maar Barak het die waens en die leër agternagejaag tot by Haróset van die heidene, en die hele leër van Sísera het deur die skerpte van die swaard geval; daar het selfs nie een oorgebly nie. Toe vlug Sísera te voet na die tent van Jael, die vrou van Heber, die Keniet; want daar was vrede tussen Jabin, die koning van Hasor, en die huis van Heber, die Keniet. En Jael het uitgegaan Sísera tegemoet en vir hom gesê: Draai uit, my heer, draai uit na my! Moenie bang wees nie! En hy het na haar uitgedraai, na die tent, en sy het hom met 'n kombers toegemaak. Daarop sê hy vir haar: Gee my tog 'n bietjie water om te drink, want ek het dors; sy maak toe die melksak oop en laat hom daaruit drink en maak hom weer toe. En hy sê vir haar: Gaan staan by die tentdeur, en as iemand kom en jou vra en sê: Is hier iemand? antwoord dan: Nee. Toe neem Jael, die vrou van Heber, 'n tentpen en vat die hamer in haar hand en gaan stilletjies na hom en dryf die pen terwyl hy vas aan die slaap was dwarsdeur die slaap van sy hoof, sodat dit in die grond indring. So het hy dan bewusteloos geword en gesterwe. En kyk, terwyl Barak Sísera agtervolg, gaan Jael uit hom tegemoet en sê vir hom: Kom, en ek sal u die man wys wat u soek; en toe hy by haar inkom, lê Sísera daar dood, met die pen deur die slaap van sy hoof! So het God dan op dié dag Jabin, die koning van Kanaän, voor die kinders van Israel onderwerp. En die hand van die kinders van Israel het al swaarder gaan druk op Jabin, die koning van Kanaän, totdat hulle Jabin, die koning van Kanaän, uitgeroei het.

RIGTERS 4:1-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

Na Ehud se dood het die Israeliete weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Die Here het hulle oorgegee in die mag van koning Jabin van Kanaän wat in Hasor geregeer het. Sisera uit Garoset-Gojim was die hoof van Jabin se weermag. Hy het nege honderd ysterstrydwaens gehad en hy het die Israeliete twintig jaar lank verdruk. Daarom het hulle tot die Here geroep om hulp. In daardie tyd was Debora, die vrou van Lappidot, die leier van die Israeliete. Sy was 'n profetes. Sy het altyd onder die Deborapalm in die Efraimsberge tussen Rama en Bet-El gesit, en die Israeliete het daarheen gekom sodat sy hulle geskille kon bylê. Sy het vir Barak seun van Abinoam uit Kedes in Naftali laat roep en vir hom gesê: “Die Here die God van Israel beveel jou: Trek met tien duisend man uit Naftali en Sebulon op na Taborberg toe. Ek sal vir Sisera, die hoof van Jabin se leër, met sy strydwaens en sy leër na jou toe laat optrek tot by Kisonspruit en Ek sal hulle in jou mag oorgee.” Barak het haar geantwoord: “As u saamgaan, sal ek optrek, maar as u nie saamgaan nie, gaan ek nie.” Sy het vir hom gesê: “Goed, ek sal saamgaan, maar jy sal nie die eer vir die veldtog kry nie: die Here sal vir Sisera aan 'n vrou uitlewer.” Toe het Debora klaargemaak en saam met Barak na Kedes toe gegaan. Barak het vir Sebulon en Naftali daarheen ontbied. Tien duisend man het vir Barak gevolg, en Debora het saam met hom opgetrek. In daardie gebied was daar 'n man met die naam Geber, 'n Keniet uit die nageslag van Moses se skoonpa Gobab. Geber het weggetrek van die Keniete af en sy tent opgeslaan by die groot boom in Saänannim naby Kedes. Daar is aan Sisera vertel dat Barak seun van Abinoam na Taborberg toe opgetrek het. Sisera het toe sy nege honderd strydwaens en al sy manskappe van Garoset-Gojim af laat kom na Kisonspruit toe. Toe sê Debora vir Barak: “Trek op, want vandag gee die Here vir Sisera in jou mag oor. Die Here gaan voor jou uit.” Barak het toe van Taborberg af afgegaan, en die tien duisend man het hom gevolg. Die Here het Sisera en sy strydwabemanning en sy hele leër baie bang laat word vir Barak en sy mag, en Sisera het van sy strydwa af afgespring en te voet gevlug. Barak het die strydwaens en die leër agternagesit tot by Garoset-Gojim, en die hele leër van Sisera is afgemaai: daar het nie een van hulle oorgebly nie. Sisera het te voet gevlug na die tent van Jael, die Keniet Geber se vrou, want koning Jabin van Hasor en die familie van Geber die Keniet het op goeie voet verkeer. Jael het vir Sisera tegemoet gegaan en vir hom gesê: “Kom hierheen, Meneer! Kom na my toe, moenie bang wees nie!” Toe gaan hy na haar toe in die tent en sy het hom agter 'n gordyn weggesteek. Hy sê toe vir haar: “Ek is dors, gee my 'n bietjie water om te drink.” Sy het die melksak oopgemaak en hom melk laat drink. Toe het sy hom weer toegemaak. Hy het vir haar gesê: “Staan by die tentdeur, en as daar iemand kom wat vir jou vra: ‘Is hier dalk iemand by jou?’ moet jy vir hom sê: Nee!” Jael die vrou van Geber het toe 'n tentpen gevat en met 'n hamer in haar hand is sy suutjies na Sisera toe. Hy was moeg en het vas geslaap. Toe slaan sy die tentpen deur die slaap van sy kop, sodat sy hom in die grond vasslaan, en so is hy dood. Barak was besig om vir Sisera te agtervolg, en Jael het na Barak toe gegaan. Toe sê sy vir hom: “Kom hier! Ek sal vir jou die man wys wat jy soek.” Toe Barak by haar kom, lê Sisera daar dood met 'n tentpen deur sy slaap. Daardie dag het God vir koning Jabin van Kanaän voor die Israeliete verneder en hulle het al hoe meer die oorhand oor hom gekry totdat hulle hom vernietig het.

RIGTERS 4:1-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ná Ehud se dood het die Israeliete weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE. Die HERE het hulle toe oorgelewer in die hand van Jabin, die koning van Kanaän, wat in Gasor regeer het, en in die hand van Sisera, die bevelvoerder van sy leër. Hy was gesetel in Garoset-Gojim. Die Israeliete het na die HERE om hulp geroep, want Sisera het negehonderd ysterstrydwaens gehad en hy het die Israeliete twintig jaar lank wreed mishandel. Debora, 'n profetes, die vrou van Lappidot, het in daardie tyd vir Israel as rigter opgetree. Sy het altyd onder die palm van Debora gesit, tussen Rama en Bet-El in die heuwelland van Efraim , en die Israeliete het na haar opgegaan vir beslissings. Sy het Barak, seun van Abinoam, uit Kedes in Naftali ontbied en vir hom gesê: “Het die HERE, die God van Israel, nie hierdie opdrag gegee nie? ‘Gaan, trek saam op die berg Tabor! Neem tienduisend man uit die nageslag van Naftali en Sebulon saam met jou; dan sal Ek vir Sisera, die bevelvoerder van Jabin se leër, met sy strydwaens en troepe na jou lok, na die Kisonspruit. Ek gee hom in jou hand.’ ” Maar Barak het vir haar gesê: “As jy met my saamgaan, sal ek gaan; maar as jy nie met my saamgaan nie, sal ek nie gaan nie.” Sy sê toe: “Ek sal beslis met jou saamgaan. Dit sal egter nie tot jou eer strek op die pad waarop jy gaan nie, want in die hand van 'n vrou sal die HERE Sisera oorlewer.” Debora staan toe op en gaan saam met Barak na Kedes. Barak het Sebulon en Naftali na Kedes opgeroep. Tienduisend man het in sy voetspore opgetrek, en Debora het saam met hom opgetrek. Geber, die Keniet, het van die Keniete afgeskei, van die nageslag van Gobab, Moses se skoonvader. Hy het sy tent opgeslaan by die akkerboom in Saänannim wat naby Kedes is. Toe hulle vir Sisera berig bring dat Barak, seun van Abinoam, na die berg Tabor opgetrek het, het Sisera sy hele strydwamag, negehonderd ysterstrydwaens, en al die manskappe wat by hom was, opgeroep uit Garoset-Gojim na die Kisonspruit. Toe sê Debora vir Barak: “Maak gereed, want vandag is die dag waarop die HERE Sisera in jou hand gee. Trek die HERE self nie voor jou uit nie?” Daarop het Barak van die berg Tabor afgetrek met tienduisend man agter hom. Die HERE het Sisera, sy hele strydwamag en sy hele leër voor Barak in verwarring gebring deur die skerpte van die swaard. Sisera het van sy strydwa afgeklim en te voet gevlug. Barak het egter die strydwamag en leër agtervolg tot by Garoset-Gojim. Sisera se hele leër het deur die skerpte van die swaard geval; nie een het oorgebly nie. Sisera het te voet gevlug na die tent van Jael, die vrou van Geber, die Keniet, want daar was 'n vredesooreenkoms tussen Jabin, die koning van Gasor, en die huis van Geber, die Keniet. Jael het uit die tent gekom, Sisera tegemoet, en vir hom gesê: “Draai af, my heer, draai af na my. Moenie bang wees nie!” Hy het na haar, na die tent afgedraai en sy het hom met 'n deken toegemaak. Hy sê toe vir haar: “Gee my asseblief 'n bietjie water om te drink, want ek is dors.” Sy maak toe die leersak met melk oop, en laat hom drink. Sy het hom weer toegemaak. Hy het vir haar gesê: “Staan by die opening van die tent en as hier iemand aankom en vir jou vra, ‘Is daar iemand hier?’ moet jy sê, ‘Nee!’ ” Maar Jael, die vrou van Geber, het 'n tentpen gevat en met die hamer in haar hand het sy stilletjies ingegaan na hom toe. Sy het die tentpen in sy slaap ingeslaan, sodat dit in die grond ingegaan het. Hy was vas aan die slaap van uitputting, en het gesterf. Juis toe Barak besig was om Sisera te agtervolg, kom Jael uit die tent, hom tegemoet, en sê vir hom: “Kom, ek sal jou die man wys wat jy soek.” Hy het saam met haar ingegaan, en kyk, daar lê Sisera dood met die tentpen deur sy slaap! So het God op daardie dag vir Jabin, die koning van Kanaän, die knie laat buig voor die Israeliete. Die hand van die Israeliete het algaande swaarder gedruk op Jabin, die koning van Kanaän, totdat hulle Jabin, die koning van Kanaän, vernietig het.

RIGTERS 4:1-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die kinders van Israel het weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE toe Ehud gesterf het. En die HERE het hulle verkoop in die hand van Jabin, die koning van Kanaän, wat in Hasor geregeer het; wie se leërowerste Sisera was, wat in Haroset van die heidene gewoon het. En die kinders van Israel het die HERE aangeroep, want hy het nege honderd ysterwaens gehad; en twintig jaar lank het hy die kinders van Israel baie verdruk. En Debora, 'n profetes, die vrou van Lapidot, sy het Israel in dié tyd gerig. En sy het gewoon onder die palmboom van Debóra tussen Rama en Bet-el op die gebergte van Efraim, en die kinders van Israel het na haar opgetrek vir oordeel. En sy het gestuur en Barak, die seun van Abinoam, uit Kedesnaftali laat roep en vir hom gesê: Het die HERE, die God van Israel, nie bevel gegee nie: Gaan trek na die berg Tabor en neem tienduisend man van die kinders van Naftali saam met jou en van die kinders van Sébulon? En Ek sal Sisera, die owerste van die leër van Jabin, met sy strydwaens en sy menigte na jou toe trek na die rivier Kison; en Ek sal hom in jou hand gee. Toe sê Barak vir haar: As jy saam met my wil gaan, sal ek gaan; maar as jy nie saam met my gaan nie, sal ek nie gaan nie. En sy sê: Ek sal sekerlik saam met jou gaan; want die HERE sal Sisera in die hand van 'n vrou verkoop. En Debora het klaargemaak en saam met Barak na Kedes gegaan. En Barak het Sébulon en Náftali na Kedes geroep; en hy het opgetrek met tienduisend man aan sy voete, en Debóra het saam met hom opgetrek. En Heber, die Keniet, wat uit die kinders van Hobab, die skoonvader van Moses, was, het hom van die Keniete afgeskei en sy tent opgeslaan tot by die vlakte van Saanaim wat by Kedes is. En hulle het vir Sisera te kenne gegee dat Barak, die seun van Abinoam, opgegaan het na die berg Tabor. En Sísera het al sy strydwaens, negehonderd ysterwaens, en al die mense wat by hom was, bymekaargemaak, van Haroset van die heidene af tot by die Kisonrivier. Toe sê Debóra vir Barak: Staan op! want dit is die dag waarop die HERE Sísera in jou hand gee. Het die HERE nie voor jou uit gegaan nie? En Barak het van die berg Tabor afgegaan, en tienduisend man agter hom aan. En die HERE het Sísera en al sy strydwaens en sy hele leër in verwarring gebring met die skerpte van die swaard voor Barak; sodat Sisera van sy strydwa afgesteek en op sy voete weggevlug het. Maar Barak het die strydwaens en die leër agternagejaag tot by Haroset van die heidene, en die hele leër van Sísera het op die skerpte van die swaard geval; en daar was geen man oor nie. Maar Sisera het op sy voete weggevlug na die tent van Jael, die vrou van Heber, die Keniet, want daar was vrede tussen Jabin, die koning van Hasor, en die huis van Heber, die Keniet. En Jael het uitgegaan Sisera tegemoet en vir hom gesê: Kom, my heer, kom na my toe; Moet nie vrees nie. En toe hy by haar in die tent ingaan, het sy hom met 'n mantel toegemaak. En hy sê vir haar: Gee my tog 'n bietjie water om te drink; want ek is dors. En sy het 'n bottel melk oopgemaak en hom laat drink en hom toegemaak. Weer sê hy vir haar: Staan by die ingang van die tent, en dit sal gebeur as iemand kom en jou raadpleeg en sê: Is hier iemand? dat jy sal sê: Nee. Toe neem Jael Heber se vrou 'n spyker van die tent en neem 'n hamer in haar hand en gaan saggies na hom en slaan die spyker in sy slape en steek dit in die grond vas, want hy was vas aan die slaap en moeg. So het hy gesterf. En kyk, terwyl Barak Sisera agtervolg, het Jael uitgegaan hom tegemoet en vir hom gesê: Kom, ek sal jou die man wys wat jy soek. En toe hy in haar tent kom, kyk, Sisera lê dood, en die spyker was in sy slape. En God het Jabin, die koning van Kanaän, op daardie dag voor die kinders van Israel onderwerp. En die hand van die kinders van Israel was voorspoedig en het oorwin teen Jabin, die koning van Kanaän, totdat hulle Jabin, die koning van Kanaän, vernietig het.

RIGTERS 4:1-24 Die Boodskap (DB)

Na Ehud se dood het die Israeliete weer dinge gedoen waarvan die Here niks gehou het nie. Die Here het hulle in koning Jabin, ’n Kanaänitiese koning, se mag oorgegee. Hy het in Hasor regeer. Sisera, sy weermaghoof, het in Garoset-Hagojim gewoon. Jabin het 900 ysterstrydwaens gehad. Hy het die Israeliete twintig jaar lank genadeloos onderdruk. Daarom het hulle by die Here hulp gaan soek. Debora, die vrou van Lappidot, was op daardie stadium die leier van die Israeliete. Sy was ook ’n profeet. Sy het altyd onder die palmboom van Debora tussen Rama en Bet-El in die berge van Efraim gesit. Daar het die Israeliete na haar toe gekom om raad te vra en om hulle te help om hulle probleme op te los. Op ’n dag het sy vir Barak uit Kedes in Naftali laat roep. Hy was Abinoam se seun. Sy sê toe vir hom: “Hierdie opdrag kom van die Here die God van Israel: Maak vir jou 10 000 soldate bymekaar uit die stamme van Naftali en Sebulon en trek met hulle na die berg Tabor toe. Ek sal Sisera, die hoof van Jabin se weermag, met al sy strydwaens en sy soldate teen jou laat uittrek om teen jou te kom oorlog maak by die spruit Kison, maar Ek sal hom in jou mag oorgee.” Toe het Barak haar geantwoord: “Ek sal op een voorwaarde gaan, en dit is dat jy saam met my gaan. So nie, bly ek net hier!” “Dit is goed so,” het sy gesê, “ek sal saam met jou gaan. Maar aangesien dit jou keuse is, sal jy nie die eer vir die oorwinning kry nie. Die Here sal Sisera in ’n vrou se hande oorgee.” Debora is toe saam met Barak daar weg na Kedes toe. Barak het met 10 000 soldate uit die stamme van Naftali en Sebulon na Kedes toe opgeruk en Debora het saam met hulle gegaan. Geber die Keniet, ’n afstammeling van Moses se swaer Gobab, het weggetrek van die ander Keniete af. Hy het sy kamp by die eikeboom in Saänannim in die omgewing van Kedes opgeslaan. Toe Sisera hoor dat Barak besig is om na die berg Tabor toe op te ruk, het hy sy 900 ysterstrydwaens en al sy soldate van Garoset-Hagojim af na die spruit Kison toe laat kom. Toe sê Debora vir Barak: “Maak jou reg! Vandag gee die Here Sisera in jou mag oor, want die Here self trek voor jou uit!” Barak en sy 10 000 soldate is toe teen berg Tabor af om te gaan oorlog maak. Toe Barak en sy soldate hulle aanval, het die Here vir Sisera en sy hele leër, die voetsoldate en dié in die strydwaens, paniekbevange gemaak. Sisera het van sy strydwa afgespring en te voet weggehardloop. Barak het die soldate en die strydwaens in die rigting van Garoset-Hagojim agternagesit en hulle almal sonder uitsondering doodgemaak. Intussen het Sisera na Jael, Geber die Keniet se vrou, toe gevlug, want koning Jabin van Hasor en Geber se familie was vriende. Jael het vir hom gesê: “Kom hiernatoe, Meneer, kom hier in my tent in, moenie bang wees nie!” Hy is toe daar in en sy het hom met ’n kombers toegegooi. Hy sê toe vir haar: “Ek is dors, gee my ’n bietjie water om te drink.” Sy het dadelik vir hom ’n bietjie melk gegee om te drink en hom weer met die kombers toegemaak. Hy sê toe vir haar: “Staan by die tentdeur, en as iemand hiernatoe kom en vra of hier iemand by jou is, moet jy nee sê!” Sisera was so moeg dat hy net daar aan die slaap geraak het. Jael het toe ’n hamer en ’n tentpen gevat en stilletjies na die slapende Sisera toe gegaan. Sy het die tentpen met die hamer deur sy kop tot in die grond ingeslaan. So is Sisera dood. Toe Barak daar aankom op soek na Sisera, het Jael na hom toe gegaan en vir hom gesê: “Kom hier, dan wys ek jou die man wat jy soek.” Hy het haar die tent in gevolg en daar het hy Sisera gekry met die tentpen deur sy slaap. Op daardie dag het die Israeliete gesien hoe God vir Jabin die koning van die Kanaäniete verneder. Van toe af het hulle al hoe meer die oorhand oor hom gekry totdat hulle hom uiteindelik heeltemal vernietig het.