RIGTERS 11:29-40

RIGTERS 11:29-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe het die Gees van die Here op Jefta gekom, en hy het deur Gilead en Manasse getrek en verbygetrek tot by Mispa in Gilead, en van daar af het hy teen die Ammoniete opgetrek. Jefta het 'n gelofte teenoor die Here afgelê en gesê: “As U die Ammoniete vandag heeltemal oorgee in my mag, sal dié een wat my uit my huis uit tegemoet kom wanneer ek behoue terugkom van die Ammoniete af, aan die Here behoort: ek sal hom as brandoffer offer.” Jefta het na die Ammoniete toe getrek om teen hulle te veg, en die Here het hulle in sy mag oorgegee. Jefta het hulle van Aroër af verslaan tot waar 'n mens kom by Minnit, twintig stede. By Abel-Keramim was daar 'n groot veldslag. Die Ammoniete is voor die Israeliete verneder. Jefta het in Mispa by sy huis gekom, en toe kom sy dogter hom tegemoet met tamboeryne en koordanse. Sy was sy enigste kind. Hy het nie nog 'n seun of 'n dogter gehad nie. Toe hy haar sien, het hy sy klere geskeur en gesê: “Ag, my dogter, jy het my gebreek en in die ellende gedompel: ek het my woord aan die Here gegee en ek kan dit nie terugtrek nie.” Jefta se dogter het hom geantwoord: “Pa, Pa het Pa se woord aan die Here gegee. Doen met my wat Pa gesê het nou dat die Here vir Pa gehelp het om Pa se vyande, die Ammoniete, te straf.” Sy het verder vir hom gesê: “Bewys my net hierdie guns: gee my twee maande uitstel om berge toe te gaan en daar saam met my vriendinne te gaan treur oor my lewe as jongmeisie.” Hy het vir haar gesê: “Gaan gerus maar!” Hy het haar twee maande vrygelaat, en sy en haar vriendinne het berge toe gegaan en gaan treur oor haar lewe as jongmeisie. Na die twee maande het sy teruggekom na haar pa toe en hy het met haar gehandel volgens sy gelofte wat hy afgelê het. Sy het nooit gemeenskap met 'n man gehad nie. Dit het 'n gewoonte in Israel geword: dat die Israelitiese meisies elke jaar vier dae lank gaan treur oor die dogter van Jefta die Gileadiet.

RIGTERS 11:29-40 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die Gees van die HERE het oor Jefta gekom en hy het deur Gilead en Manasse getrek. Hy het na Mispa in Gilead opgetrek, en van Mispa in Gilead het hy oorgetrek na die Ammoniete. Jefta het toe 'n gelofte aan die HERE afgelê. Hy het gesê: “As U werklik die Ammoniete in my hand gee, dan sal die een wat uitkom, wat by die deur van my huis uitkom om my te ontmoet wanneer ek behoue van die Ammoniete af terugkeer, aan die HERE behoort. Ek sal hom as •brandoffer offer.” Jefta het oorgetrek na die Ammoniete om teen hulle oorlog te voer, en die HERE het hulle in sy hand gegee. Hy het hulle verslaan, hulle 'n baie groot nederlaag toegedien van Aroër af tot by Minnit, twintig dorpe, ja, tot by Abel-Keramim. En die Ammoniete moes die knie buig voor die Israeliete. Toe Jefta in Mispa by sy huis aankom – kyk, toe was dit sy dogter wat met tamboeryne en kringdanse uitkom om hom te ontmoet! Sy was die enigste kind; hy het nie enige ander seun of dogter gehad nie. Die oomblik toe hy haar sien, skeur hy sy klere en sê: “Ag, my dogter, ek is heeltemal verpletter oor jou! Dat jy nou een van hulle moet wees wat my in die ellende dompel! Ek het met my mond 'n gelofte aan die HERE afgelê en ek kan dit nie terugtrek nie.” Sy het hom geantwoord: “Pa, jy het met jou mond aan die HERE 'n gelofte afgelê. Maak dan met my soos wat jy gesê het nadat die HERE vir jou die geleentheid vir wraak op jou vyande, op die Ammoniete, gegee het.” Verder het sy vir haar vader gesê: “Laat my dit nog gegun word: Gee my vryheid vir twee maande, sodat ek in die berge kan ronddwaal. Ek wil gaan treur oor my maagdelikheid, ek en my vriendinne.” “Gaan,” het hy gesê, en haar weggestuur vir twee maande. Sy het gegaan, sy en haar vriendinne, en op die berge getreur oor haar maagdelikheid. Ná twee maande het sy teruggekeer na haar vader. Hy het sy gelofte nagekom en met haar gedoen wat hy beloof het. Sy het nooit met 'n man intiem verkeer nie. Dit het 'n vaste reël geword in Israel: Jaar vir jaar gaan die jongmeisies van Israel vir vier dae per jaar om die dogter van Jefta, die man uit Gilead, te gedenk.

RIGTERS 11:29-40 Bybel vir almal (ABA)

Toe het die Gees van die Here in Jefta gekom, en Jefta het deur Gilead en Manasse gegaan tot by die stad Mispa in Gilead, en van daar het hy na die Ammoniete toe gegaan. Jefta het vir die Here belowe en gesê: “As U my laat wen teen die Ammoniete, en ek lewe nog en ek kom terug by my huis, dan sal die eerste persoon wat by my huis se deur uitkom, aan U behoort. Ek sal hom vir U gee, en hy sal my brand-offer wees.” Daarna het Jefta na die Ammoniete toe gegaan om oorlog te maak teen hulle, en die Here het hom laat wen teen die Ammoniete. Jefta het die Ammoniete oorwin, dit was 20 stede van Aroër tot by Minnit en tot by Abel-Keramim. Jefta het ver gewen. Die Israeliete het die Ammoniete verneder. Toe Jefta terugkom by sy huis in Mispa, was dit sy eie dogter wat eerste uitgekom het om hom te ontmoet. Sy het 'n tamboeryn gespeel en gedans. Hierdie dogter was sy enigste kind. En toe Jefta haar sien, het hy sy klere geskeur en hy het gesê: “My kind, ek is baie hartseer. Jy het 'n slegte ding met my laat gebeur, want ek het vir die Here belowe dat die eerste persoon wat by my huis se deur uitkom om my te ontmoet, aan Hom sal behoort, en nou moet ek doen wat ek belowe het.” Sy dogter het vir hom gesê: “Pa, jy het belowe om my vir die Here te gee, en die Here het jou gehelp om jou vyande, die Ammoniete, te straf. Nou moet jy met my doen wat jy belowe het.” Sy het ook vir haar pa gesê: “Ek vra net een ding: Los my twee maande lank sodat ek en my vriendinne na die berge kan gaan. Ons wil daar gaan huil omdat ek moet sterf, ek wat 'n jongmeisie is.” Jefta het vir haar gesê: “Goed, jy mag gaan.” Hy het haar laat gaan vir die twee maande, en sy en haar vriendinne het in die berge gaan huil omdat sy moes sterf, sy wat 'n jongmeisie was. Toe die twee maande verby was, het sy teruggekom na haar pa toe. En hy het met haar gedoen soos hy vir die Here belowe het. Sy het nooit by 'n man geslaap nie. Van toe af het die Israelitiese dogters elke jaar vier dae lank gaan huil en treur oor die dogter van Jefta, die Gilead-man.

RIGTERS 11:29-40 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe het die Gees van die HERE op Jefta gekom, en hy het oorgetrek na Gílead en Manasse en verder deur na Mispe in Gílead; en van Mispe in Gílead het hy deurgetrek na die kinders van Ammon. En Jefta het aan die HERE 'n gelofte gedoen en gesê: As U werklik die kinders van Ammon in my hand gee, dan sal wat uitkom, wat uit die deure van my huis uitkom my tegemoet, as ek in vrede terugkom van die kinders van Ammon, aan die HERE behoort, en ek sal dit as 'n brandoffer bring. Daarop het Jefta deurgetrek na die kinders van Ammon om teen hulle te veg, en die HERE het hulle in sy hand gegee. En hy het hulle verslaan van Ároër af in die rigting na Minnit, twintig stede, en tot by Abel-Kerámim — 'n baie groot slag; sodat die kinders van Ammon verneder is voor die kinders van Israel. En toe Jefta in Mispa by sy huis kom, gaan sy dogter juis uit hom tegemoet met tamboeryne en koordanse; en sy was die enigste kind: hy het geen seun of dogter buiten haar gehad nie. En net toe hy haar sien, skeur hy sy klere en sê: Ag, my dogter, jy druk my heeltemal neer, en jý stort my in die ongeluk! Want ek het my mond geopen teenoor die HERE, en ek kan nie terugtrek nie. En sy antwoord hom: My vader, as u u mond geopen het teenoor die HERE, maak met my soos uit u mond uitgegaan het nadat die HERE u volkome wraak verskaf het op u vyande, op die kinders van Ammon. Verder het sy vir haar vader gesê: Laat dít my toegestaan word: laat my twee maande vry, dat ek kan weggaan en afdaal na die berge en my maagdelike staat beween, ek en my vriendinne. En hy sê: Gaan! En hy het haar vir twee maande laat gaan. Sy het toe weggegaan met haar vriendinne en haar maagdelike staat op die berge beween. En aan die end van twee maande het sy na haar vader teruggekom, en hy het die gelofte wat deur hom gedoen is, aan haar voltrek; en sy het geen man beken nie. En dit het 'n gewoonte geword in Israel dat die dogters van Israel jaar vir jaar heengaan om die dogter van Jefta, die Gileadiet, te besing, vier dae in die jaar.

RIGTERS 11:29-40 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe het die Gees van die HERE oor Jefta gekom, en hy het deur Gílead en Manasse getrek en deur Mispa in Gílead getrek, en van Mispa in Gílead oorgetrek na die kinders van Ammon. En Jefta het 'n gelofte aan die HERE gedoen en gesê: As jy die kinders van Ammon sonder versuim in my hand gee, Dan sal alles wat uit die deure van my huis uitgaan my tegemoetgaan, as ek in vrede terugkeer van die kinders van Ammon af, sekerlik aan die HERE behoort, en ek sal dit as brandoffer bring. Jefta het toe oorgetrek na die kinders van Ammon om teen hulle te veg; en die HERE het hulle in sy hand gegee. En hy het hulle verslaan van Aroër af tot by Minnit, twintig stede, en tot by die wingerdevlakte, met 'n baie groot slagting. So is die kinders van Ammon voor die kinders van Israel onderwerp. En Jefta het in Mispa in sy huis gekom, en kyk, sy dogter het uitgegaan hom tegemoet met tamboere en danse; en sy was sy enigste kind; by haar het hy geen seun of dogter gehad nie. En toe hy haar sien, skeur hy sy klere en sê: Ag, my dogter! U het my baie verneder, en U is een van die wat my verskrik, want ek het my mond tot die HERE oopgemaak en kan nie teruggaan nie. En sy sê vir hom: My vader, as jy jou mond vir die HERE oopgemaak het, doen met my soos wat uit jou mond uitgegaan het; omdat die HERE vir jou wraak geneem het oor jou vyande, die kinders van Ammon. En sy sê vir haar vader: Laat hierdie ding vir my gebeur: laat my staan twee maande, dat ek op en af kan gaan op die berge en my maagdelikheid kan beween, ek en my maats. En hy sê: Gaan! En hy het haar twee maande lank weggestuur, en sy het saam met haar metgeselle gegaan en haar maagdelikheid op die berge beween. En aan die einde van twee maande het sy na haar vader teruggekeer, wat met haar gedoen het volgens sy gelofte wat hy beloof het; en sy het niemand geken nie. En dit was 'n gewoonte in Israel, dat die dogters van Israel jaarliks gegaan het om die dogter van Jefta, die Gileadiet, vier dae in 'n jaar te betreur.

RIGTERS 11:29-40 Die Boodskap (DB)

Toe het die Gees van die Here oor Jefta gekom en hy het deur die gebiede van Gilead en Manasse getrek, verby tot by Mispa in Gilead. Van daar af het hy sy weermag teen die Ammoniete uitgelei. Jefta het ’n plegtige belofte aan die Here gemaak en gesê: “As U vandag vir my ’n oorwinning oor die Ammoniete gee, sal ek die eerste persoon wat my uit my huis tegemoetkom ná my oorwinning oor die Ammoniete as ’n brandoffer aan U offer.” Jefta het die rivier oorgesteek om teen die Ammoniete te veg. Die Here het hom laat wen. Hy het hulle verslaan van Aroër af tot by ’n gebied naby Minnit; twintig stede altesaam. Ook by Abel-Keramim was daar ’n groot geveg totdat die Israeliete uiteindelik die Ammoniete totaal verslaan het. Toe Jefta by sy huis in Mispa aankom, het sy dogter, sy enigste kind, hom al dansende tegemoetgekom terwyl sy op die tamboeryn speel. Toe hy haar sien, het hy van angs sy klere van sy lyf afgeskeur. “Ag, my dogter!” het hy gekerm. “Jy breek my hart! Hoekom moet dit juis jy wees wat my hierdie smart veroorsaak? Ek het ’n gelofte aan die Here gemaak en ek kan nie nou op my woord teruggaan nie.” Sy sê toe vir hom: “As Pa Pa se woord vir die Here gegee het, moet Pa doen wat Pa belowe het, want die Here het Pa gehelp om Pa se vyande, die Ammoniete, te verslaan. Maar bewys my net een guns,” het sy gevra. “Laat my toe om twee maande lank berge toe te gaan om daar saam met my vriendinne te gaan treur dat ek as ’n maagd gaan sterf.” “Gaan gerus,” het hy gesê. Sy en haar vriendinne is toe daar weg berge toe om te gaan treur oor die feit dat sy ongetroud en kinderloos sou sterf. Na twee maande het sy teruggekom na haar pa toe en hy het sy gelofte teenoor die Here nagekom. Sy het as ’n maagd gesterf. So het die gebruik in Israel ontstaan dat jong Israelitiese meisies elke jaar vier dae lank gaan treur oor Jefta die man van Gilead se dogter.

RIGTERS 11:29-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Gees van die HERE het op Jefta gekom. Hy het deur Gilead en Manasse getrek tot by Mispa in Gilead. Van daar af het hy teen die Ammoniete gaan veg. Jefta het ’n gelofte aan die HERE gemaak. Hy het beloof: “As U my vandag die oorwinning oor die Ammoniete gee, en as ek behoue van die Ammoniete af terugkom, sal ek die persoon wat van my huis af kom om my te groet, aan die HERE afstaan. Ek sal hom as brandoffer offer.” Jefta het teen die Ammoniete gaan veg. Die HERE het vir hom die oorwinning gegee. Jefta het die Ammoniete verpletterend verslaan van Aroër af tot waar ’n mens by Minnit kom, altesaam twintig stede. By Abel-Keramim was daar ’n groot slagting. Die Ammoniete is aan die Israeliete onderwerp. Jefta is terug na sy huis in Mispa. Sy enigste dogter het hom met tamboeryne en koordanse kom ontmoet. Hy het nie nog ander kinders gehad nie. Toe hy haar sien, het hy sy klere geskeur. Hy het uitgeroep: “Ag tog, my dogter, my hart is stukkend. Jy het my in die ellende gedompel. Ek het aan die HERE ’n gelofte gemaak en ek kan dit nie terugtrek nie.” Sy het vir hom gesê: “Pa, jy het ’n gelofte aan die HERE gemaak. Doen met my wat Pa beloof het. Die HERE het vir Pa ’n oorwinning oor jou vyande, die Ammoniete, gegee.” Sy het ook vir hom gevra: “Laat my asseblief toe om vir twee maande na die heuwels toe te gaan. Ek wil daar saam met my vriendinne gaan treur omdat ek as ’n maagd moet sterf.” Hy het vir haar gesê: “Jy kan gaan.” Hy het haar twee maande lank weggestuur. Sy het saam met haar vriendinne die heuwels ingegaan en daar gaan treur omdat sy nooit kinders sou hê nie. Aan die einde van die twee maande het sy teruggekom na haar pa toe. Hy het met haar gemaak soos hy belowe het. Sy het nooit aan ’n man behoort nie. Dit het in Israel ’n instelling geword dat die Israelitiese meisies elke jaar vir vier dae lank oor die dogter van Jefta die Gileadiet treur.