JAKOBUS 5:7-10
JAKOBUS 5:7-10 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, julle moet geduldig wag totdat die Here kom. Julle weet dat 'n boer geduldig wag om al die koring op die land af te sny. Hy moet geduldig wag totdat die vroeë reën en die laat reën geval het. Dit is dieselfde vir julle: Julle moet ook geduldig wees, julle moet aanhou hoop, want dit sal nie meer lank wees nie, dan sal die Here kom. Vriende, julle moenie kla oor mekaar nie. As julle kla, dan sal die Here julle oordeel. Julle moet dit weet: Daardie Regter is naby, so naby soos iemand wat voor die deur staan. Vriende, die profete het gesê wat die Here vir hulle gesê het, hulle is 'n voorbeeld vir julle, hulle is mense wat baie swaar gekry het en wat geduldig gewag het. Julle moet dieselfde doen soos hulle gedoen het.
JAKOBUS 5:7-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WEES dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat dit die vroeë en die laat reën ontvang het. Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die Here is naby. Moenie teen mekaar sug nie, broeders, sodat julle nie veroordeel word nie. Kyk, die Regter staan voor die deur. Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete wat in die Naam van die Here gespreek het.
JAKOBUS 5:7-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het. Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here. Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie veroordeel word nie. Die Regter staan al voor die deur. Broers, neem die profete wat in die Naam van die Here gepraat het, as voorbeelde van lyding en geduld.
JAKOBUS 5:7-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wees geduldig, broers, tot met die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag met geduld op die waardevolle opbrengs van die aarde, tot die vroeë en laatreëns geval het. Wees dan geduldig, staal julle harte, want die wederkoms van die Here is naby. Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie geoordeel word nie. Kyk, die Regter staan voor die deur. Neem as voorbeeld van lyding en geduld, broers, die profete wat in die Naam van die Here gepraat het.
JAKOBUS 5:7-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wees dan geduldig, broeders, met die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kosbare vrugte van die aarde, en hy is lankmoedig daarvoor, totdat hy die vroeë en laat reëns ontvang het. Wees ook geduldig; bevestig julle harte, want die wederkoms van die Here is naby. Moet julle nie teen mekaar haat nie, broeders, sodat julle nie veroordeel word nie; kyk, die regter staan voor die deur. Neem, my broeders, die profete wat in die Naam van die Here gespreek het, as 'n voorbeeld van lyding van verdrukking en van geduld.
JAKOBUS 5:7-10 Die Boodskap (DB)
Hou moed, my vriende, tot die Here terugkom. Soos ’n goeie boer moet julle nie dinge wil aanjaag nie. ’n Boer wag geduldig tot die oes vol op die lande staan. Hy wag maar vir die reën om te kom, vandat dit aan die begin van die seisoen begin val, totdat die laaste druppel klaar geval het aan die einde van die seisoen. Julle moet die geduld van daardie boer hê. Moenie dat iets julle van stryk bring nie. Die Here is op pad na ons toe. Liewe mede-Christene, moenie oor mekaar kla en stories oor mekaar aandra nie. Dit kan in God se oë tot julle nadeel wees. Die Here, wat uiteindelik ’n goeie of slegte oordeel oor julle lewe sal moet uitspreek, kan enige oomblik kom. Liewe broers en susters, die manne wat in die ou dae so getrou die woord van die Here aan almal vertel het, is vir ons ’n voorbeeld van mense wat nie moed verloor het nie. Hulle het soms baie swaargekry, maar hulle het aangehou.
JAKOBUS 5:7-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wees dan geduldig, broers en susters, totdat die Here weer hier is. Dink net hoe ’n boer uitkyk vir die herfs- en lentereën. Hy wag geduldig vir die kosbare oes wat die land oplewer. Net so moet julle geduldig wees. En skep moed, want die koms van die Here is naby. Moenie oor mekaar kla nie, broers en susters, anders sal God oor julle oordeel. Kyk, die Groot Regter kom. Hy staan al voor die deur! Broers en susters, neem die profete wat namens die Here gepraat het as ’n voorbeeld van geduld in swaarkry.