JAKOBUS 3:4-12

JAKOBUS 3:4-12 Bybel vir almal (ABA)

Dit is dieselfde met seilskepe: Seilskepe is baie groot, en die sterk winde laat hulle seil op die water. Maar die kaptein gebruik net 'n baie klein roer om die skip te stuur waarnatoe hy wil gaan. Dit is dieselfde met die tong: Die tong is 'n klein deeltjie van die liggaam, maar hy spog dat hy groot dinge kan doen. 'n Klein vuurvlammetjie kan 'n groot bos aan die brand steek! Die tong is soos 'n vuur wat brand. Die tong is een van die dele van die liggaam, maar dit is ook soos 'n hele wêreld vol verkeerde dinge. Dit maak die hele liggaam vuil. Dit steek 'n mens se hele lewe aan die brand, van die begin tot die einde, en die tong se vuur kom reguit van die hel. Want 'n mens kan al die verskillende soorte wilde diere en voëls mak maak, ook diere wat kruip en seediere. Die mense hét hulle al klaar mak gemaak. Maar niemand kan die tong mak maak en oor hom regeer nie. Die tong sê slegte dinge en niemand kan dit stilmaak nie. Die tong is so gevaarlik soos gif wat mense kan doodmaak. Ons prys die Here en Vader met die tong, maar met dieselfde tong vloek ons mense, en God het daardie mense gemaak om te regeer in sy plek. Ons prys die Here en ons vervloek mense met dieselfde mond. My vriende, dit moenie so wees nie. Julle weet dat daar nie uit dieselfde fontein soet water én bitter water kom nie. My vriende, 'n vyeboom kan nie olywe dra nie en 'n wingerdstok kan ook nie vye dra nie, dit is seker. Dit is dieselfde: Daar kan nie soet water kom uit 'n fontein wanneer sy water sout is nie.

JAKOBUS 3:4-12 Die Boodskap (DB)

Of kom ons neem ’n skip as voorbeeld. ’n Skip is massief, maar die roer waarmee die kaptein die hele skip stuur, is baie klein. Net so is die tong maar baie klein in vergelyking met die res van die liggaam. As ’n mens egter begin praat, kom jy agter wat daar regtig in die tong steek. Die tong is soos ’n klein vuurhoutjie wat ’n groot bos aan die brand kan steek. As jy lelik praat, vloek, skinder of so iets, hoef jy niks anders te doen om te wys hoe sleg jy is nie. Deur net na die tong te luister sien ’n mens sommer hoe sleg die hele mens is. Dit beduiwel jou hele lewe en alles wat jy doen. Dit help nie eintlik eens om goeie dinge te probeer doen as jou tong lelike dinge sê nie. Jou tong is soos ’n vuur wat jou hele lewe laat uitbrand. En die ergste is dat dit die duiwel is wat die vuur in jou mond kom aansteek wat jou hele lewe kan vernietig. Die mens kan baie dinge regkry. Hy kan en het al allerhande diere mak gemaak, byvoorbeeld voëls of slange of selfs dolfyne of ander visse. Maar een ding kan hy nie regkry nie. Hy kan nie sy tong mak maak om net die regte dinge te sê en te keer voordat die lelike en verkeerde dinge uitglip nie. Dis of die tong altyd soek om iets verkeerds te sê. Dit is soos ’n slang met dodelike gif, reg om te pik. Hoe is dit moontlik dat ons met dieselfde tong baie mooi dinge van ons Here en Vader sê, maar omdraai en dan iemand so slegsê dat die see hom nie kan afwas nie? Is daardie persoon nie ook deur God gemaak nie? Moet ons hom nie ook met respek behandel nie?Dink net, uit dieselfde mond, met dieselfde tong, kom daar die een oomblik mooi woorde en die volgende oomblik ’n gevloek. My liewe vriende, dit behoort tog nie so te wees nie. Het jy al ’n kraan oopgedraai waar daar terselfdertyd vuil en skoon water uitloop? Vriende, het julle al na ’n perskeboom geloop om te gaan druiwe pluk, of na ’n vyeboom om perskes te soek? Net so min kan daar vuil en skoon water tegelyk uit ’n kraan loop. Dit geld vir die tong ook.