JAKOBUS 3:3-11
JAKOBUS 3:3-11 Bybel vir almal (ABA)
As ons 'n stang in 'n perd se bek sit sodat hy moet doen wat ons wil hê, dan kan ons die hele perd stuur met die stang. Dit is dieselfde met seilskepe: Seilskepe is baie groot, en die sterk winde laat hulle seil op die water. Maar die kaptein gebruik net 'n baie klein roer om die skip te stuur waarnatoe hy wil gaan. Dit is dieselfde met die tong: Die tong is 'n klein deeltjie van die liggaam, maar hy spog dat hy groot dinge kan doen. 'n Klein vuurvlammetjie kan 'n groot bos aan die brand steek! Die tong is soos 'n vuur wat brand. Die tong is een van die dele van die liggaam, maar dit is ook soos 'n hele wêreld vol verkeerde dinge. Dit maak die hele liggaam vuil. Dit steek 'n mens se hele lewe aan die brand, van die begin tot die einde, en die tong se vuur kom reguit van die hel. Want 'n mens kan al die verskillende soorte wilde diere en voëls mak maak, ook diere wat kruip en seediere. Die mense hét hulle al klaar mak gemaak. Maar niemand kan die tong mak maak en oor hom regeer nie. Die tong sê slegte dinge en niemand kan dit stilmaak nie. Die tong is so gevaarlik soos gif wat mense kan doodmaak. Ons prys die Here en Vader met die tong, maar met dieselfde tong vloek ons mense, en God het daardie mense gemaak om te regeer in sy plek. Ons prys die Here en ons vervloek mense met dieselfde mond. My vriende, dit moenie so wees nie. Julle weet dat daar nie uit dieselfde fontein soet water én bitter water kom nie.
JAKOBUS 3:3-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Kyk, ons sit stange in die perde se bekke, sodat hulle ons gehoorsaam kan wees, en ons stuur hulle hele liggaam daarmee. Kyk, ook die skepe, alhoewel hulle so groot is en deur hewige winde voortgedryf word, word gestuur deur 'n baie klein roer net waarheen die stuurman wil. Net so is die tong ook 'n klein lid en beroem hom op groot dinge — kyk hoe 'n groot hoop hout steek 'n klein vuurtjie aan die brand. Die tong is ook 'n vuur, die wêreld van ongeregtigheid. Net so 'n plek neem die tong onder ons lede in; dit besmet die hele liggaam en steek die hele lewensloop aan die brand en word uit die hel aangesteek. Want elke soort natuur van wilde diere en voëls en kruipende sowel as seediere word getem en is getem deur die menslike natuur. Maar die tong kan geen mens tem nie; dit is 'n onbedwingbare kwaad, vol dodelike gif. Daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie. 'n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en bitter water opborrel nie?
JAKOBUS 3:3-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Vir perde sit ons 'n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer. Dink ook maar aan skepe: al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle aandryf, baie sterk, word hulle tog met 'n baie klein roertjie gestuur net waarheen die stuurman wil. So is die tong ook maar 'n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. 'n Klein vuurtjie kan 'n groot bos aan die brand steek. Die tong is ook 'n vuur, 'n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek. Alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier word en is al deur die mens getem, maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is 'n rustelose kwaad, vol dodelike gif. Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie. 'n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie.
JAKOBUS 3:3-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ons sit stange in perde se bekke, sodat hulle ons gehoorsaam, en daarmee stuur ons hulle hele liggaam. Kyk, selfs skepe, hoewel hulle so groot is en deur hewige winde aangedryf word, word met 'n baie klein roer gestuur na waar die stuurman wil. So is die tong ook 'n klein ledemaat wat op groot dinge roem. Kyk watter klein vuurtjie steek 'n groot hoop hout aan die brand! Die tong is ook 'n vuur, 'n wêreld van ongeregtigheid. Die tong is deel van ons ledemate, maar besoedel die hele liggaam. Dit steek die hele lewensloop aan die brand, en word uit Gehenna aangesteek. Want elke soort wilde dier en voël, en kruipende dier en seedier, word en is getem deur die mensdom. Maar geen mens kan die tong tem nie; dit is 'n onbestendige kwaad, vol dodelike gif. Daarmee loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskep is. Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broers, behoort nie so te wees nie. 'n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars én bitter water uitborrel nie?
JAKOBUS 3:3-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Kyk, ons sit stukke in die perde se bekke, sodat hulle ons gehoorsaam kan wees; en ons draai om hulle hele liggaam. Kyk ook na die skepe, wat alhoewel hulle so groot is en deur woeste winde gedryf word, maar tog met 'n baie klein roer omgedraai word, waar die goewerneur ook al wil. Net so is die tong 'n klein lid en spog met groot dinge. Kyk, hoe groot steek 'n klein vuurtjie aan die brand! En die tong is 'n vuur, 'n wêreld van ongeregtigheid; so is die tong onder ons lede, dat dit die hele liggaam verontreinig en die loop van die natuur aan die brand steek; en dit word aan die brand gesteek van die hel. Want alle soorte diere en voëls en slange en dinge in die see word getem en is deur die mensdom mak gemaak. Maar die tong kan niemand tem nie; dit is 'n weerbarstige euwel, vol dodelike gif. Daarmee loof ons God, ja, die Vader; en daarmee vervloek ons mense wat na die gelykenis van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom seën en vloek. My broers, hierdie dinge behoort nie so te wees nie. Stuur 'n fontein op dieselfde plek soet en bitter water?
JAKOBUS 3:3-11 Die Boodskap (DB)
Dit werk soos die stuurwiel waarmee ek ’n hele kar beheer. As ek die stuurwiel draai, draai die hele kar. Of kom ons neem ’n skip as voorbeeld. ’n Skip is massief, maar die roer waarmee die kaptein die hele skip stuur, is baie klein. Net so is die tong maar baie klein in vergelyking met die res van die liggaam. As ’n mens egter begin praat, kom jy agter wat daar regtig in die tong steek. Die tong is soos ’n klein vuurhoutjie wat ’n groot bos aan die brand kan steek. As jy lelik praat, vloek, skinder of so iets, hoef jy niks anders te doen om te wys hoe sleg jy is nie. Deur net na die tong te luister sien ’n mens sommer hoe sleg die hele mens is. Dit beduiwel jou hele lewe en alles wat jy doen. Dit help nie eintlik eens om goeie dinge te probeer doen as jou tong lelike dinge sê nie. Jou tong is soos ’n vuur wat jou hele lewe laat uitbrand. En die ergste is dat dit die duiwel is wat die vuur in jou mond kom aansteek wat jou hele lewe kan vernietig. Die mens kan baie dinge regkry. Hy kan en het al allerhande diere mak gemaak, byvoorbeeld voëls of slange of selfs dolfyne of ander visse. Maar een ding kan hy nie regkry nie. Hy kan nie sy tong mak maak om net die regte dinge te sê en te keer voordat die lelike en verkeerde dinge uitglip nie. Dis of die tong altyd soek om iets verkeerds te sê. Dit is soos ’n slang met dodelike gif, reg om te pik. Hoe is dit moontlik dat ons met dieselfde tong baie mooi dinge van ons Here en Vader sê, maar omdraai en dan iemand so slegsê dat die see hom nie kan afwas nie? Is daardie persoon nie ook deur God gemaak nie? Moet ons hom nie ook met respek behandel nie?Dink net, uit dieselfde mond, met dieselfde tong, kom daar die een oomblik mooi woorde en die volgende oomblik ’n gevloek. My liewe vriende, dit behoort tog nie so te wees nie. Het jy al ’n kraan oopgedraai waar daar terselfdertyd vuil en skoon water uitloop?
JAKOBUS 3:3-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Net as ons stange in hulle bek gesit het, gehoorsaam perde ons en het ons die hele dier onder beheer. En ’n klein roertjie maak dat ’n groot skip draai net waarheen die stuurman wil, selfs wanneer sterk winde waai. So is die tong ook iets kleins, en tog kry dit groot dinge reg. ’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek. Die tong is ook ’n vuur. Dit is vol dinge wat jou verhouding met God kan bederf. Dit kan jou hele lewe in vlamme laat opgaan, want die duiwel steek dit aan. Die mens kan elke soort dier, voël, reptiel en seedier mak maak, maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is ’n onbeheerbare kwaad, vol dodelike gif. Partykeer loof daardie tong ons Here en Vader, en ander kere vloek dieselfde tong mense wat na die beeld van God gemaak is. Dit beteken dat lof en vloek uit dieselfde mond kom. Dit kan tog nie so wees nie, my broers en susters! Kan ’n fontein uit dieselfde oog soet en bitter water laat opborrel?