JAKOBUS 3:17-18
JAKOBUS 3:17-18 Bybel vir almal (ABA)
Nee, die wysheid wat God gee, is rein. Daardie wysheid maak vrede tussen mense, dit is vriendelik en dit luister na die dinge wat ander mense vra. Wysheid is goed vir mense, dit is soos 'n boom wat goeie vrugte dra. Wysheid dink nie dat een mens belangriker is as 'n ander mens nie, dit is nie skynheilig nie. Mense wat reg doen, maak vrede tussen mense, en hulle lewe self ook in vrede.
JAKOBUS 3:17-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. En die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak.
JAKOBUS 3:17-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.
JAKOBUS 3:17-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar die wysheid van bo is in die eerste plek suiwer, en verder ook vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. En die vrug van •geregtigheid word in vrede gesaai vir hulle wat vrede maak.
JAKOBUS 3:17-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar die wysheid wat van bo is, is eers rein, daarna vredeliewend, sagmoedig en maklik om te doen, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en sonder huigelary. En die vrug van geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak.
JAKOBUS 3:17-18 Die Boodskap (DB)
Maar as ’n mens leef soos God dit in sy wysheid bedoel het, sal jou lewe heeltemal anders lyk. Dit sal ’n lewe wees waarop die sonde geen houvas het nie. So iemand sal in vrede met ander mense saamleef; hy trap nie op ander nie, maar neem hulle gevoelens in ag; so ’n persoon is ook nie dwarstrekkerig en moeilik om mee saam te werk nie; hy vergewe ander maklik en doen graag dinge vir ander sonder om iets terug te verwag; wat hy doen, sal altyd net goed vir ander wees. Hy sal nie op ’n onregverdige manier kant kies nie. Jy sal altyd weet waar jy met hom staan. Soos hy voor jou is, so is hy ook agter jou rug. Dit is belangrik om in vrede met mekaar te leef. Sorg dat waar jy gaan, vrede jou soos ’n skaduwee sal volg. Om in vrede met mekaar te leef is reg en mooi voor God.
JAKOBUS 3:17-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om ontferming te betoon, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg. Die vredemakers saai saad van vrede; hulle oes omdat hulle reg lewe voor God.