JAKOBUS 3:1-18
JAKOBUS 3:1-18 Bybel vir almal (ABA)
My vriende, julle moenie almal probeer om vir ander mense te leer nie. Julle weet dat God swaarder sal oordeel oor ons wat vir ander mense leer. Ons almal doen baie maal iets wat verkeerd is. As iemand nooit iets verkeerd sê nie, dan lewe so 'n mens soos God wil hê. Dan kan hy ook sy hele lewe bestuur soos 'n mens 'n perd stuur met 'n stang. As ons 'n stang in 'n perd se bek sit sodat hy moet doen wat ons wil hê, dan kan ons die hele perd stuur met die stang. Dit is dieselfde met seilskepe: Seilskepe is baie groot, en die sterk winde laat hulle seil op die water. Maar die kaptein gebruik net 'n baie klein roer om die skip te stuur waarnatoe hy wil gaan. Dit is dieselfde met die tong: Die tong is 'n klein deeltjie van die liggaam, maar hy spog dat hy groot dinge kan doen. 'n Klein vuurvlammetjie kan 'n groot bos aan die brand steek! Die tong is soos 'n vuur wat brand. Die tong is een van die dele van die liggaam, maar dit is ook soos 'n hele wêreld vol verkeerde dinge. Dit maak die hele liggaam vuil. Dit steek 'n mens se hele lewe aan die brand, van die begin tot die einde, en die tong se vuur kom reguit van die hel. Want 'n mens kan al die verskillende soorte wilde diere en voëls mak maak, ook diere wat kruip en seediere. Die mense hét hulle al klaar mak gemaak. Maar niemand kan die tong mak maak en oor hom regeer nie. Die tong sê slegte dinge en niemand kan dit stilmaak nie. Die tong is so gevaarlik soos gif wat mense kan doodmaak. Ons prys die Here en Vader met die tong, maar met dieselfde tong vloek ons mense, en God het daardie mense gemaak om te regeer in sy plek. Ons prys die Here en ons vervloek mense met dieselfde mond. My vriende, dit moenie so wees nie. Julle weet dat daar nie uit dieselfde fontein soet water én bitter water kom nie. My vriende, 'n vyeboom kan nie olywe dra nie en 'n wingerdstok kan ook nie vye dra nie, dit is seker. Dit is dieselfde: Daar kan nie soet water kom uit 'n fontein wanneer sy water sout is nie. Wanneer een van julle dink dat hy wysheid het en verstandig is, dan moet hy wys dat hy verstandig is. Hy moet reg lewe en hy moet doen wat die Here wil hê, hy moet nederig wees soos 'n wyse mens moet wees. Maar as julle baie jaloers is en as julle altyd alles vir julleself wil hê, dan moet julle nie spog en sê dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie. Daardie wysheid kom nie van God nie. Dit is die wysheid van mense wat net oor die dinge van hierdie wêreld dink, dit is nie geestelik nie, dit kom van die duiwel. Want wanneer mense jaloers is en altyd alles vir hulleself wil hê, dan maak hulle probleme en hulle doen al die slegte dinge. Nee, die wysheid wat God gee, is rein. Daardie wysheid maak vrede tussen mense, dit is vriendelik en dit luister na die dinge wat ander mense vra. Wysheid is goed vir mense, dit is soos 'n boom wat goeie vrugte dra. Wysheid dink nie dat een mens belangriker is as 'n ander mens nie, dit is nie skynheilig nie. Mense wat reg doen, maak vrede tussen mense, en hulle lewe self ook in vrede.
JAKOBUS 3:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MOENIE baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons 'n groter oordeel sal ondergaan. Want ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy 'n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou. Kyk, ons sit stange in die perde se bekke, sodat hulle ons gehoorsaam kan wees, en ons stuur hulle hele liggaam daarmee. Kyk, ook die skepe, alhoewel hulle so groot is en deur hewige winde voortgedryf word, word gestuur deur 'n baie klein roer net waarheen die stuurman wil. Net so is die tong ook 'n klein lid en beroem hom op groot dinge — kyk hoe 'n groot hoop hout steek 'n klein vuurtjie aan die brand. Die tong is ook 'n vuur, die wêreld van ongeregtigheid. Net so 'n plek neem die tong onder ons lede in; dit besmet die hele liggaam en steek die hele lewensloop aan die brand en word uit die hel aangesteek. Want elke soort natuur van wilde diere en voëls en kruipende sowel as seediere word getem en is getem deur die menslike natuur. Maar die tong kan geen mens tem nie; dit is 'n onbedwingbare kwaad, vol dodelike gif. Daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie. 'n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en bitter water opborrel nie? 'n Vyeboom, my broeders, kan tog nie olywe voortbring, of 'n wingerdstok vye nie? So kan geen fontein brak en vars water voortbring nie. WIE is wys en verstandig onder julle? Laat hom uit sy goeie lewenswandel sy werke in sagmoedige wysheid toon. Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie. Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels; want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade. Maar die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. En die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak.
JAKOBUS 3:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word. Ons struikel almal in baie opsigte. As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak, by magte om ook sy hele liggaam in toom te hou. Vir perde sit ons 'n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer. Dink ook maar aan skepe: al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle aandryf, baie sterk, word hulle tog met 'n baie klein roertjie gestuur net waarheen die stuurman wil. So is die tong ook maar 'n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. 'n Klein vuurtjie kan 'n groot bos aan die brand steek. Die tong is ook 'n vuur, 'n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek. Alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier word en is al deur die mens getem, maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is 'n rustelose kwaad, vol dodelike gif. Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie. 'n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie. 'n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra nie, of 'n druiwestok vye nie. 'n Brak fontein kan mos nie vars water gee nie! Is daar 'n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig. Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie. Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies, want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade. Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.
JAKOBUS 3:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Moenie almal leermeesters wil wees nie, my broers, omdat julle weet dat ons strenger geoordeel sal word. Almal van ons struikel tog dikwels. As iemand nie met woorde struikel nie, is hy 'n volmaakte man, en ook daartoe in staat om sy hele liggaam in toom te hou. Ons sit stange in perde se bekke, sodat hulle ons gehoorsaam, en daarmee stuur ons hulle hele liggaam. Kyk, selfs skepe, hoewel hulle so groot is en deur hewige winde aangedryf word, word met 'n baie klein roer gestuur na waar die stuurman wil. So is die tong ook 'n klein ledemaat wat op groot dinge roem. Kyk watter klein vuurtjie steek 'n groot hoop hout aan die brand! Die tong is ook 'n vuur, 'n wêreld van ongeregtigheid. Die tong is deel van ons ledemate, maar besoedel die hele liggaam. Dit steek die hele lewensloop aan die brand, en word uit Gehenna aangesteek. Want elke soort wilde dier en voël, en kruipende dier en seedier, word en is getem deur die mensdom. Maar geen mens kan die tong tem nie; dit is 'n onbestendige kwaad, vol dodelike gif. Daarmee loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskep is. Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broers, behoort nie so te wees nie. 'n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars én bitter water uitborrel nie? 'n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra, of 'n druiwestok vye nie? 'n Brak fontein kan ook nie soet water gee nie. Wie onder julle is wys en verstandig? Laat hy deur goeie gedrag sy dade met sagmoedige wysheid toon. Maar as daar bittere afguns en selfsug in julle harte is, moet julle dan nie op wysheid beroem, en teen die waarheid lieg nie. Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar aards, nie-geestelik en demonies. Want waar afguns en selfsug heers, kom wanorde en allerlei gemene dade voor. Maar die wysheid van bo is in die eerste plek suiwer, en verder ook vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. En die vrug van •geregtigheid word in vrede gesaai vir hulle wat vrede maak.
JAKOBUS 3:1-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
My broers, wees nie baie meesters nie, omdat jy weet dat ons die groter veroordeling sal ontvang. Want in baie dinge laat ons almal struikel. As iemand nie aanstoot neem in woord nie, is hy 'n volmaakte man en in staat om ook die hele liggaam in toom te hou. Kyk, ons sit stukke in die perde se bekke, sodat hulle ons gehoorsaam kan wees; en ons draai om hulle hele liggaam. Kyk ook na die skepe, wat alhoewel hulle so groot is en deur woeste winde gedryf word, maar tog met 'n baie klein roer omgedraai word, waar die goewerneur ook al wil. Net so is die tong 'n klein lid en spog met groot dinge. Kyk, hoe groot steek 'n klein vuurtjie aan die brand! En die tong is 'n vuur, 'n wêreld van ongeregtigheid; so is die tong onder ons lede, dat dit die hele liggaam verontreinig en die loop van die natuur aan die brand steek; en dit word aan die brand gesteek van die hel. Want alle soorte diere en voëls en slange en dinge in die see word getem en is deur die mensdom mak gemaak. Maar die tong kan niemand tem nie; dit is 'n weerbarstige euwel, vol dodelike gif. Daarmee loof ons God, ja, die Vader; en daarmee vervloek ons mense wat na die gelykenis van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom seën en vloek. My broers, hierdie dinge behoort nie so te wees nie. Stuur 'n fontein op dieselfde plek soet en bitter water? Kan die vyeboom, my broers, olyfbessies dra? óf 'n wingerdstok, vye? so kan geen fontein beide soutwater en vars lewer nie. Wie is 'n wyse man en toegerus met kennis onder julle? laat hom uit 'n goeie gesprek sy werke met sagmoedigheid van wysheid openbaar. Maar as julle bittere afguns en twis in julle harte het, moet julle nie roem nie en lieg nie teen die waarheid nie. Hierdie wysheid kom nie van bo af nie, maar is aards, sensueel, duiwels. Want waar afguns en twis is, daar is verwarring en elke bose werk. Maar die wysheid wat van bo is, is eers rein, daarna vredeliewend, sagmoedig en maklik om te doen, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en sonder huigelary. En die vrug van geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak.
JAKOBUS 3:1-18 Die Boodskap (DB)
My vriende, daar moenie te veel van julle wees wat die ander in die gemeente wil leer nie. Dit is ’n verantwoordelike werk. God stel strenger eise aan sulke mense. Wanneer Hy ons finaal oordeel, sal Hy dié wat ander geleer het volgens daardie strenger eise beoordeel. Ons almal maak foute en sê verkeerde dinge. As iemand nooit ’n skewe woord sê nie, is hy volmaak. Hy sal geen probleem hê om ook in ander dinge wat hy doen, reg op te tree nie. Dit werk soos die stuurwiel waarmee ek ’n hele kar beheer. As ek die stuurwiel draai, draai die hele kar. Of kom ons neem ’n skip as voorbeeld. ’n Skip is massief, maar die roer waarmee die kaptein die hele skip stuur, is baie klein. Net so is die tong maar baie klein in vergelyking met die res van die liggaam. As ’n mens egter begin praat, kom jy agter wat daar regtig in die tong steek. Die tong is soos ’n klein vuurhoutjie wat ’n groot bos aan die brand kan steek. As jy lelik praat, vloek, skinder of so iets, hoef jy niks anders te doen om te wys hoe sleg jy is nie. Deur net na die tong te luister sien ’n mens sommer hoe sleg die hele mens is. Dit beduiwel jou hele lewe en alles wat jy doen. Dit help nie eintlik eens om goeie dinge te probeer doen as jou tong lelike dinge sê nie. Jou tong is soos ’n vuur wat jou hele lewe laat uitbrand. En die ergste is dat dit die duiwel is wat die vuur in jou mond kom aansteek wat jou hele lewe kan vernietig. Die mens kan baie dinge regkry. Hy kan en het al allerhande diere mak gemaak, byvoorbeeld voëls of slange of selfs dolfyne of ander visse. Maar een ding kan hy nie regkry nie. Hy kan nie sy tong mak maak om net die regte dinge te sê en te keer voordat die lelike en verkeerde dinge uitglip nie. Dis of die tong altyd soek om iets verkeerds te sê. Dit is soos ’n slang met dodelike gif, reg om te pik. Hoe is dit moontlik dat ons met dieselfde tong baie mooi dinge van ons Here en Vader sê, maar omdraai en dan iemand so slegsê dat die see hom nie kan afwas nie? Is daardie persoon nie ook deur God gemaak nie? Moet ons hom nie ook met respek behandel nie?Dink net, uit dieselfde mond, met dieselfde tong, kom daar die een oomblik mooi woorde en die volgende oomblik ’n gevloek. My liewe vriende, dit behoort tog nie so te wees nie. Het jy al ’n kraan oopgedraai waar daar terselfdertyd vuil en skoon water uitloop? Vriende, het julle al na ’n perskeboom geloop om te gaan druiwe pluk, of na ’n vyeboom om perskes te soek? Net so min kan daar vuil en skoon water tegelyk uit ’n kraan loop. Dit geld vir die tong ook. Wie van julle het die lewenswysheid om te verstaan hoe ’n mens die spel van die lewe sinvol en reg moet speel? Laat hy dit wys deur die manier waarop hy hom gedra. Nederig en op sy plek moet hy doen wat God wil hê ’n mens moet doen om sinvol te leef. As die een onder julle egter vir die ander een niks gun nie en altyd beter wil wees as die ander een, moet julle nie maak of julle weet wat ’n sinvolle lewe is nie. Julle jaloesie onder mekaar wys dan dat julle lieg. “Lewenswysheid” wat die taal van jaloesie en selfsug praat en mense gedurig wil hap of seermaak, kom nie van God af nie. Nee, dit kom van die duiwel af. Iemand wat optree volgens die maatstawwe wat mense stel, dink dit is hoe ’n mens behoort te leef. Dit is egter nie wat God dink nie. Want waar daar jaloesie is, of iemand wat net in homself belangstel en ander niks gun nie, kan mense nie in vrede saamleef nie. Hulle is gedurig aanmekaar. Dit pla hulle ook nie om sommer die lelikste goed aan mekaar te doen nie. Maar as ’n mens leef soos God dit in sy wysheid bedoel het, sal jou lewe heeltemal anders lyk. Dit sal ’n lewe wees waarop die sonde geen houvas het nie. So iemand sal in vrede met ander mense saamleef; hy trap nie op ander nie, maar neem hulle gevoelens in ag; so ’n persoon is ook nie dwarstrekkerig en moeilik om mee saam te werk nie; hy vergewe ander maklik en doen graag dinge vir ander sonder om iets terug te verwag; wat hy doen, sal altyd net goed vir ander wees. Hy sal nie op ’n onregverdige manier kant kies nie. Jy sal altyd weet waar jy met hom staan. Soos hy voor jou is, so is hy ook agter jou rug. Dit is belangrik om in vrede met mekaar te leef. Sorg dat waar jy gaan, vrede jou soos ’n skaduwee sal volg. Om in vrede met mekaar te leef is reg en mooi voor God.
JAKOBUS 3:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
My broers en susters, julle moenie almal leermeesters wil word nie, want julle weet dat God ons wat leermeesters is, strenger as ander sal beoordeel. Ons maak almal baie foute. Maar ’n mens wat sy tong in toom kan hou, kan dit ook met sy hele liggaam regkry. Net as ons stange in hulle bek gesit het, gehoorsaam perde ons en het ons die hele dier onder beheer. En ’n klein roertjie maak dat ’n groot skip draai net waarheen die stuurman wil, selfs wanneer sterk winde waai. So is die tong ook iets kleins, en tog kry dit groot dinge reg. ’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek. Die tong is ook ’n vuur. Dit is vol dinge wat jou verhouding met God kan bederf. Dit kan jou hele lewe in vlamme laat opgaan, want die duiwel steek dit aan. Die mens kan elke soort dier, voël, reptiel en seedier mak maak, maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is ’n onbeheerbare kwaad, vol dodelike gif. Partykeer loof daardie tong ons Here en Vader, en ander kere vloek dieselfde tong mense wat na die beeld van God gemaak is. Dit beteken dat lof en vloek uit dieselfde mond kom. Dit kan tog nie so wees nie, my broers en susters! Kan ’n fontein uit dieselfde oog soet en bitter water laat opborrel? Kan jy olywe van ’n vyeboom afpluk, of vye van ’n druiwestok? Net so min as wat ’n brak bron vars water kan voortbring! Aangesien julle wys is en verstaan wat God wil hê, moet julle sorg dat julle leefstyl goed is. Julle wysheid moet juis in nederige gedrag sigbaar word. As julle bitter jaloers is en selfsugtige ambisie in julle harte het, moenie dan spog dat julle wysheid het nie. Dis om teen die waarheid in te lieg! Jaloesie en selfsug is nie wysheid wat van God af kom nie. Dit is eerder aards, tipies van iemand se sondige natuur. Eintlik is dit demonies, want waar jaloesie en selfsugtige ambisie is, dáár sal jy ook wanorde en allerhande gemene dade kry. Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om ontferming te betoon, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg. Die vredemakers saai saad van vrede; hulle oes omdat hulle reg lewe voor God.