JAKOBUS 2:2-4
JAKOBUS 2:2-4 Bybel vir almal (ABA)
Miskien kom daar in julle vergadering 'n man wat 'n goue ring aan sy vinger het en wat mooi klere dra. En miskien kom daar ook 'n arm man wat vuil en stukkende klere dra. As julle dink die man wat die mooi klere dra, is belangrik en julle sê vir hom: “Kom sit hier op die goeie sitplek,” maar julle sê vir die arm man: “Gaan staan daar agter” of “Sit hier by my voete,” dan dink julle dat die een persoon belangriker is as die ander persoon. Dan is julle soos regters wat verkeerd besluit omdat hulle verkeerd dink.
JAKOBUS 2:2-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want as daar in julle vergadering 'n man inkom met goue ringe aan die vingers, met 'n pragtige kleed aan, en daar kom ook 'n arm man in met vuil klere aan; en as julle opsien na hom wat die pragtige kleed dra, en vir hom sê: Gaan u op hierdie goeie plek sit, en vir die arme sê julle: Gaan jy daar staan of hier onder my voetbank sit — het julle dan nie by julleself onderskeid gemaak en regters met verkeerde oorlegginge geword nie?
JAKOBUS 2:2-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Sê nou daar kom in julle samekoms 'n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook 'n brandarm man in met ou klere aan, en sê nou julle maak 'n ophef van die man met die deftige klere en julle sê vir hom: “Kom sit u hier gemaklik,” maar vir die arm man sê julle: “Gaan staan jy daar anderkant” of: “Kom sit hier by my voete,” het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?
JAKOBUS 2:2-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
As daar 'n man met goue ringe en pragtige klere by julle samekoms aankom, en daar kom ook 'n arm man met vuil klere aan, en julle kyk na die een met die pragtige klere en sê, “Sit u hier op 'n goeie plek,” en vir die arm man sê julle, “Staan jy daar!” of, “Sit jy hier onder by my voetbank!” het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak, en regters met slegte oorwegings geword nie?
JAKOBUS 2:2-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want as daar 'n man met 'n goue ring na julle vergadering kom, in mooi kleed, en daar kom ook 'n arm man in met gemene klere; En julle moet ag gee op hom wat die vrolike klere dra, en sê vir hom: Sit hier op 'n goeie plek; en sê vir die armes: Staan daar of sit hier onder my voetbank. Is julle dan nie partydig in julleself en het regters van bose gedagtes geword nie?
JAKOBUS 2:2-4 Die Boodskap (DB)
Veronderstel twee mans kom by julle aan terwyl julle kerk hou. Die een man het geld soos bossies. Dit kan jy sommer aan sy klere sien. Hy is ook een van die belangrikste mense in die dorp. Die ander man is egter arm. Sy klere is oud en stukkend. Niemand in die dorp steur hulle aan hom nie. Nou kom die twee saam daar by julle aan. Vir die ryk, belangrike man sê julle: “Kom sit hier op die beste en lekkerste plek.” Vir die arm, onbelangrike man sê julle: “Sit sommer hier op die grond of kry maar vir jou ’n ander plekkie.” Wat dink julle het julle dan gedoen? Het julle dan nie eintlik gesê dat party mense (oor wat hulle besit of wie hulle is) belangriker as ander is nie? Dis tog verkeerd! As julle party beter as ander behandel omdat hulle vir julle ryker of belangriker lyk, tree julle nie soos Jesus op nie. Dan doen julle presies wat ’n klomp slegte mense sou doen.
JAKOBUS 2:2-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Gestel daar kom iemand in julle samekoms in met duur juwele en baie mooi klere aan, en daar kom terselfdertyd ook iemand in wat brandarm is en verslete klere aanhet. As julle dan ’n ophef maak van die persoon met die deftige klere, en julle sê vir hom: “U moet asseblief hier gemaklik kom sit,” maar vir die arm man sê julle: “Jy kan maar daar anderkant gaan sit,” of: “Kom sit hier op die vloer,” sal julle nie toegee dat julle diskrimineer en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?